Roetes wat roep
Roetes wat roep
foto’s Evan Naudé

Die Sederberg is sinoniem met unieke rotsformasies, staproetes en rooibostee, maar het jy geweet in dié geweste is daar ook ’n paar wynplase, bierbrouerye, weggesteekte kampeerplekke en ’n hand vol riviere om te verken?

Ry uit vir die naweek of voeg ’n ekstra dag of twee by jou volgende vakansie en kom verken dié interessante deel van die wêreld, want tussen die bergspitse lê paaie wat net vir veldryers bedoel is. Boonop lei hierdie roete jou ook verder na die Sederberg se ewe interessante (dog aansienlik platter!) buurstreek die Tankwa-Karoo.

Só ry jy

Van Clanwilliam af kan jy reguit suid mik met die Ou Kaapse pad wat aan die oostekant van die dam buite die dorp verbyloop in die rigting van die Sederberg-wildernisgebied. Maar as jy met die N7 ry, wees op die uitkyk vir ’n afdraai sowat 28 km voor die dorp. Dié pad lei jou met ’n laagwaterbrug oor die Olifantsrivier na die Nieuwoudtspas. Vlak anderkant die bergpas lê die bekende Algeria, een van Kaapse Natuurbewaring se gewildste kampplekke.

Hou van Algeria af suidwes en ry oor die Uitkykpas. Anderkant die pas kry jy die afdraai na Driehoek, ’n gasteplaas met kampplekke op die oewer van die Sandrivier en ’n aantal lekker staproetes. Boonop word daar ook gawe wyn gemaak op dié plaas.

Altesame 10 km verder in die pad af lê Dwarsrivier. Hier is ’n sterrewag (Saterdae om 20:00 word hier sterre gekyk), ’n wynkelder én ’n brouery waar die Boggom- en Voertsek-biere gemaak word.

Oorkant die pad is die Sanddrif-vakansieoord met kampplekke, chalets en die wegspringpunt vir die bekende Wolfbergskeure. As jy die skeure, die Stadsaalgrotte of die Maltese Kruis wil besoek, moet jy seker maak jy kry ’n permit by Dwarsrivier se kantoor. Die indrukwekkende Stadsaalgrotte (7 km van Dwarsrivier af) is beslis ’n besoek werd, want jy hoef nie die berg uit te klim (soos by Wolfberg of die Maltese Kruis) om dit te bereik nie.

Skaars 3 km oos van die Stadsaalgrotte kry jy ’n T-aansluiting waar jy links draai. Hou noord vir 23 km tot by Eselbank en hou dan jou oë oop vir die waterval met ’n lekker swemgat net buite die nedersettinkie.

LEWE TUSSEN DIE PIEKE. Sodra jy die Sederberg se minder bekende grondpaaie van hoek tot kant verken, ontdek jy talle rivierkruisings, bekroonde wynplase, ’n Morawiese sendingstasie, sterrewag, watervalle en swemgate, skitterende berglandskappe en, natuurlik, ook hier en daar ’n plaashek.

Die Eselbankpas loop noordwaarts vir 10 km en die laaste 3 km is ’n steil betonspoor wat afsak tot op Wupperthal. Gaan neem ’n foto van die Morawiese kerk op dié beroemde dorpie voor jy met die Koubergpas verder ry.

Anderkant die Kouberg lê die Biedouwvallei, en dis hier (by die Mertenhof-gasteplaas) waar jy ’n afdraai na regs kry. Volg die Biedouwrivier vir sowat 29 km noordooswaarts tot by waar dit by die Doringrivier aansluit. Die pad kruis die Doringrivier met ’n laagwaterbrug. Wees gewaarsku: Ná swaar reën in die wintermaande  kan die rivier sy walle oorstroom en jou verhinder om oor te kom.

Van die Doringrivier af hou jy oos vir 33 km tot by die aansluiting met die bekende – en berugte! – R355. Dié allemintige stuk grondpad van 252 km tussen Ceres en Calvinia is een van die langste stukke ononderbroke pad in die land en een van die mees verlate en pragtigste landskappe wat jy ooit sal teëkom.

Hou egter jou oë op die pad, want die skalieklip op die R355 is lief daarvoor om bande flenters te kou. Omtrent elke tweede ou het ander raad vir jou banddruk hier, maar ons beveel aan jy blaas die bande nié tot onder 2 bar af nie en hou jou spoed onder 80 km/h.

Draai suid op die R355 – 38 km verder kry jy die afdraai na die Tankwa-tentekamp in die Stonehenge-natuurreservaat. Dié afgeleë kamp (7 km van die hoofpad af) is ’n heerlike kokon buite die gejaagde lewe, maar in April bars die plek uit sy nate wanneer die jaarlikse AfrikaBurn-fees hier gehou word. Hou dit in gedagte as jy jou besoek beplan.

Die interessante en eiesoortige Tankwa-padstal lê 65 km verder suid. Teen dié tyd is jy waarskynlik moeg van die stof en hitte – maak ’n draai vir ’n koue koeldrank en burger vóór jy verder ry. En as jy moeilikheid met ’n band gehad het, kan jy ook hier om hulp aanklop.

Van anderkant die padstal af is dit nog 50 km tot by die R355 se aansluiting met die R46 – hier moet jy besluit of jy aanhou tot op Ceres of afraai na die N1.

Wat jy moet weet

Hoe lank? 315 km (ongeveer 8 uur).

4x4 / Laestrek / Ewenaarslot? Jy sal regkom met slegs 4x4.

Maksimum aantal voertuie: Geen.

Kry ek ’n kaart? Nee, maar die roete is op Tracks4Africa en jy kan ’n algemene Sederberg-kaart by Algeria koop.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek my treeplanke afhaal? Nee.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Ja, en bring ’n hand vol snotproppe net ingeval jy ’n slagoffer van die R355 word.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Meestal, maar plek-plek in die berge en op die R355 verdwyn die sein.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? In die herfs en lente wanneer temperature matiger is.

Kan ek my gesin saamneem? Die Sederberg is ’n wonderlike gesinsbestemming, maar die jongspan kan verveeld raak op die lang R355.

Net vir die dag of die naweek? Kom vir die naweek, want die roete hou jou heeldag besig.

Is daar ablusiegeriewe op die roetes? Jy kan stilhou by Algeria, Dwarsrivier of die Tankwa-padstal.

Wat kos dit? Hierdie is openbare paaie en dus gratis.

Kontak: capenature.co.za (Algeria);  cederberg-accommodation.co.za (Driehoek;) sanddrif.com (Dwarsrivier en Sanddrif);  tankwa.net (Tankwa- tentekamp); hlange@breede.co.za (Tankwa-padstal)

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook