Ry jy Struisbaai op die R319 uit Bredasdorp se rigting binne, ontspan jou skouers dadelik. Op linkerhand waaier die see blinkblou uit; op regs is ’n pretpark (met ’n waterwurm en putt-putt-baan). Ruim vakansiehuise, ’n paar winkels en seekosrestaurante staan styf teen mekaar alkant van die hoofstraat. Oral adverteer borde vakansieverblyf.

Douvoordag woel Struisbaai se vissermanne in die hawe om hulle bakkies reg te kry vir die oopsee.

Kap jy aan verby die hawe en die winkelsentrum, swaai die pad na regs en word dan Marinerylaan. Die wêreld vou oop voor jou... Links lê ’n strook kusfynbos tussen jou en die diepblou see en regs kruip die huise teen Sandberg se helling uit. Daarna doem die rooi- en-wit vuurtoring in die verte op, met ’n paar winkeltjies en kuierplekke aan sy voet. Jy is nou op L’Agulhas, die mees suidelike dorp in Afrika. “Ja kyk, die twee dorpe grens só aan mekaar dat dit eintlik maar een plek is,” gesels Neels Grobler, die eienaar van die Three Oceans Pub, terwyl ons by die kroegtoonbank sit.

“Struisbaai is meer van ’n propperse dorp, terwyl jy op L’Agulhas daai village-gevoel kry.” Ek vra uit oor die kroeg se naam: ek weet die Indiese en Atlantiese Oseaan kom hier bymekaar, maar die derde? “Dis die kroeg,” sê hy en plak ’n yskoue bier voor my neer. “Hier’s genoeg om te drink, en dit raak nooit op nie.”

“Struisbaai is meer van ’n propperse dorp, terwyl jy op L’Agulhas daai village-gevoel kry.”

Neels vertel die meeste huise hierlangs is vakansieplekke wat die grootste deel van die jaar leegstaan en die permanente inwoners tel skaars by die 5 000. “Behalwe visvang en kuier is hier nie veel om te doen nie,” skerts hy.

Vakansietye is dit egter ’n ander saak; dan styg die inwonertal maklik tot by 50 000!

Die groot trekpleister is Struisbaai se lang strand (die oorspronklike baai het juis sy naam te danke aan die Ou-Hollandse “struis,” wat “groot” of “massief” beteken). Hier kan jy omtrént sandkastele bou: dit strek vir ’n allemintige 14 km wes in Waenhuiskrans se rigting en is die langste witsandstrand in die Suidelike Halfrond.

Vroegoggend is Struisbaai se strand verlate – net die plek vir ’n vredige stappie langs die water.

Hier lê juis meer as 20 skeepswrakke wat reeds eeue lank deur die kusstrook se verraderlike rotsriwwe gekelder is – die Portugese het dit nie verniet in die 1 500’s die Cabo das Agulhas – oftewel die Kaap van Naalde – gedoop nie. Dís om hierdie rede dat die ánder groot besienswaardigheid – die Agulhas-vuurtoring– in 1849 opgerig is.

En ’n klipgooi see se kant toe glip ’n beskeie handjie vol rotse tussen die Indiese en Atlantiese Oseaan in: die mees suidelike punt van Afrika. Die gedenkteken wat dié effe onopvallende kol merk, is gewild onder plaaslike en oorsese besoekers – álmal wil hier ’n selfie neem!

Daar is darem ook ’n paar meer onlangse gebeurtenisse wat gehelp het om die plek ’n bietjie op die map te sit. Etlike jare gelede is ’n paar tonele van die plaaslike TV-reeks Swartwater (SABC2) in die L’Agulhas Kafee & Superette geskiet, ’n plek waar jy van klere en kerrievis tot boeke en batterye kan koop. En Jan Braai se Braaitoer begin reeds die afgelope drie jaar by Sea Shack Struisbaai, ’n loslit eet- en kuierplek teen Struisbaai se strand.

Die ware siel van hierdie wêreld lê egter in die waters self. Omdat twee oseane – en ’n maalkolk van strome – hier ontmoet, het die water ’n baie hoë konsentrasie voedingstowwe. En dit beteken net een ding: vólop vis. Dit word onder die rykste vangwaters in die land gereken: Geelbek, geelstert, kabeljou, steenbras, galjoen...

Die ware siel van hierdie wêreld lê egter in die waters self.

“Geelstert se tyd is gewoonlik rondom September,” gesels Neels verder. “Dan kom die ouens van so ver as die Weskus en Port Elizabeth met hulle bote om hier te vang. En Struisbaai se hawe is klein. Net een boot kan op ’n slag by daai sloep launch. Ligdag reeds staan die treilers vir kilometers in die hoofstraat om by die hawe in te kom. Dan,” maak hy grootoog, “raak dinge interessant op hierdie dorp.”

Die wrak van die Meisho Maru, ’n Japannese vissersboot wat in 1982 net duskant die Agulhas- vuurtoring op die rotse geloop het, is al meer as 30 jaar ’n baken in dié geweste. Al 17 bemanningslede het oorleef.

Struisbaai se vissermanne, wat sedert toeka se dae hier woon en ’n bestaan uit hierdie waters maak, het volgens Neels nie dieselfde probleem nie. Dié gesoute manne weet presies watse vis wanneer loop, en doen dinge soos dit reeds donkiejare die geval is: Daar word in kleurvolle houtbootjies (bakkies) uitgeroei van Seekoeigat, die hawe se strandjie, af tot by die skuite, oftewel chuckies (so genoem oor die chug-chug-geluid wat die enjins maak) wat in die hawe vasgemeer lê. En dan is dit oopsee toe. “Dis nogal ’n belewenis om daai besigheid vroegoggend te bekyk,” sê Neels voordat ons groet.

Die vispraatjies het my behoorlik honger gemaak. Ek kies koers na L’Agulhas Seafoods af in die pad. Nadat ek kort werk van ’n lekker bord vis-en-tjips gemaak het, kom sit Lindie Snyman, die eienaar, by my. L’Agulhas Seafoods is 25 jaar al ’n instelling op die dorp, vertel sy. Die lynvis word direk by die skuite in die hawe aangekoop – varser kry jy nie. En die plek hou haar góéd besig.

“Tog kry ek tyd om te doen waarvoor ek lief is,” vertel sy. “Hierdie wêreld is die perfekte plek vir ’n natuurmens. Jy hoef nie geld te bestee om jouself te geniet nie.” Lindie het al ’n paar keer die 14 km strandlangs van Struisbaai af na die Heuningnesriviermonding, skuins duskant Waenhuiskrans, gestap.

“Hierdie wêreld is die perfekte plek vir ’n natuurmens. Jy hoef nie geld te bestee om jouself te geniet nie.”

“Jy moet net seker maak jy spring weg as die gety begin terugtrek. As die hoogwater jou vang en jy op nat sand moet sukkel, gaan jou kuite dit nie hou nie.”

Sy stap ook gereeld die ongeveer 2 km van die Agulhas-vuurtoring af kuslangs oos na die skeepswrak van die Meisho Maru, wat in 1982 hier op die rotse geloop het. Teen sononder verkleur die wrak skouspelagtig pienk. “Dis ’n gunsteling onder die mense hier,” vertel Lindie.

Die Meisho Maru lê in die Agulhas- nasionale park wat aan die dorp grens. “Jy sal nie glo nie, snags loop hier nog bokkies tussen die huise rond.”

Struisbaai se warm, helder water en wit strand is ’n wen-kombinasie wat elke jaar duisende besoekers oor vakansietye trek.

Die park strek oor sowat 200 km² van die vuurtoring kuswaarts tot by Quoinpunt. Steenbokke, ribbokke en bloukransvoëls wei tussen plate fynbos wat net hier voorkom. Wild mag dalk volop wees hierlangs, maar nadat ek by Lindie weg is, gaan soek ek Struisbaai se beroemdste wilde inwoner. En dié kêrel is nie ’n landloper nie.

Parrie, die pylstert, is ’n instelling by die hawe. Dié groot rogvis, wat so soos ’n swart vlinder onder die water sweef, is hondmak en doen al jare sy rondes wanneer die skuite uit die diepsee terugkeer.

Aanvanklik is hy aangetrek deur die afval van die sardiens wat op die bote skoongemaak word; vandag voer mense hom sommer blikkies-vis wanneer hy doodluiters tot teenaan hulle voete in die vlak water swem. En hy’s lank nie meer alleen nie – soms is hier tot 16 pylsterte op ’n slag.

“Lyk my ons luck is uit,” sê Ernest Lonsdale, wat gaaf genoeg was om my hier te ontmoet, waar ons op die hawemuur die water staan en fynkam vir ’n teken van Parrie. En hy behoort te weet: Ernest is Struisbaai se pylstert-whisperer.

“Dis al ses jaar dat ek hier met die pylsterte besig is. Aan die begin het ek hulle stukkies sardiens gevoer; later het hulle sommer net nader gekom as ek met my vingers in die water woel. Ek roep hulle, ek gesels met hulle, en as ek weer sien, is hulle hier. Ek weet nie presies hoe dit werk nie. Maar ek geniet dit om mense, veral kinders, van die pylsterte te leer.”

Ernest verduidelik afgehaal dat daar tans sand uit die hawe gepomp word, en dat Parrie en Kie. nie van die rumoer hou nie. “Maar hulle sal terug wees.”

Ernest is ’n selferkende sigeuner wat in ’n woonwa saam met Shadow, sy brakkie, op Struisbaai woon. Hy doen herstelwerkies aan yskaste en lugverkoelingstelsels om die pot aan die kook te hou. Hy het al die land deurkruis, maar meen die wêreld hierlangs is besonders.

“Dalk is dit die see, maar daar’s iets kalmerends aan die plek en sy mense. Dit sit ook nie op ’n deurpad nie; die pad loop mos anderkant die vuurtoring teen die park dood. Dis ’n bestemming, mense kom hierheen met ’n rede.”

Ons skud blad. Hy sê weer hoe jammer hy is dat ons nie vir Parrie kon opspoor nie. Ek sê nee, dis fyn, ek het mos nou ’n ánder soort wilde karakter ontmoet. Hy lag diep en lekker uit sy maag.

“Dalk is dit die see, maar daar’s iets kalmerends aan die plek en sy mense."

Teen sononder staan ek by die suidelikste punt van Afrika. Skuins na links begin die vuurtoring se reuse-oog gloei. Ek klouter oor die rotse duskant die gedenksteen dat ek my staan só kan kry dat daar geen meer vasteland voor my is nie. Die twee seë vloei wild en eindeloos in mekaar. Dis ’n aardige, eensame gevoel om te weet hier’s hoegenaamd níks meer voor jou nie – die volgende stop is die Suidpool.

Maar agter my, weet ek, vloei daar óók twee plekke in mekaar, wat eintlik maar een is. En daar’s dit gesellig, vriendelik, en ryk aan die sout van die aarde.

Wenk
Loer in by die Tip of Africa-toerismeburo by die Caltex op regterhand nes jy Struisbaai nader. Kontak 028 435 6700; tipofafricatourism.co.za

Doen dié 7 dinge

Die Agulhas-vuurtoring

1. Kyk wyd en syd

Vir ’n panoramiese uitsig kan jy die Agulhas-vuurtoring uitklim tot bo – dis die stéil 71 trappies se klim werd. Klou net vas aan alles van donkerbril tot kunstande wanneer die wind waai. Kyk in die museum na foto’s van hoe die vuurtoring oor meer as 150 jaar verander het.

Hiervandaan is dit ’n kort entjie se stap op ’n plankiespad tot by die gedenkteken op die suidelikste punt van Afrika. Op pad soontoe kry jy ook ’n yslike stuk landskapkuns, die Afrika-ikoon (sien inhoudsblad), wat in 2017 onder leiding van die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe opgerig is. Groot staalplate dui die vier kompasrigtings op ’n afbeelding van die vasteland aan, en sluit Afrika-bakens soos Kilimandjaro, die Drakensberg en Tafelberg in.

Koste (vir die museum en vuurtoring): R31,50 p.p. vir volwassenes en R15,50 p.p. vir kinders jonger as 12. Dis elke dag oop van 9 vm.-4.30 nm.

028 435 6078; sanparks.org

2. Verken die Agulhas- nasionale park

Hier’s twee staproetes: Die Rasperpunt-sirkelroete strek oor 5,5 km en begin by die Meisho Maru-skeepswrak duskant die vuurtoring. Die Two Oceans-roete bestaan uit drie sirkelroetes van 3 km, 4,5 km en 10,5 km en begin binne die park se ruskamp. Hier’s ook ’n verskeidenheid blyplek as jy in dié stuk uitgestrekte ongereptheid wil oornag. Chalets kos vanaf R1 231 p.n. vir twee mense, R132 per ekstra kind (slaapplek vir 4).

Koste: Bewaringstarief van R43 p.p. vir volwassenes, R22 p.p. vir kinders.

028 435 6078; sanparks.org

3. Klink ’n glasie

By Wine Boutique on The Shipwreck Coast in L’Agulhas se hoofstraat is hier ’n keurige versameling van die beste wyne uit die omgewing. Hier word ook elke maandeinde wynproeë deur verskeie kelders aangebied. Die dieprooi mure en keurige dekor sorg vir ’n seldsame atmosfeer. Jy gaan beslis uit voel in jou plakkies en sarong.

Oop: Oktober tot April: Maandag tot Vrydag 8 vm.-7 nm.; en Mei tot September: Maandag tot Vrydag 9 vm.-5 nm.; Saterdae 9 vm.-5 nm.; Sondae 11 vm.-3 nm.

028 435 7932; wineboutiqueagulhas.co.za

4. Kom op galop

Op Struisbaai se strand kan jy soos ’n wafferse cowboy te perd die sonsondergang binnery. Koste R500 p.p. vir 1½ uur se strandrit.

082 853 6732 

5. Snuffel na hartelus

Suidpunt Potpourri in L’Agulhas se hoofstraat is ’n biélie van ’n snuisterywinkel. Hier kan mens ’n dag lank verdwaal tussen ’n magdom fraaihede: houtproteas, hekelwerk, krale, emaljeware... Hier’s ook ’n oulike koffiewinkel en restaurant waar jy lekkernye soos gevulde pannekoek, gerooktesalmslaai, tuisgemaakte wildspastei en, natuurlik, vis-en-tjips kan kry.

Oop: Elke dag van 9 vm.-5 nm.

028 435 7378

Suidpunt Potpourri

6. Vet pret, my ou

By die Struisbaai Fun Park in die hoofstraat kan kinders (en grootmense) dit gate uit geniet. Aktiwiteite sluit in ’n waterwurm, putt-putt-baan, ten pin bowling, yslike klimrame, trampoliens en ’n verfbalskietbaan. Hier’s ook braai- en piekniekplekke, en jy kan selfs pizza bestel.

Koste: Die toegangstarief van R35 p.p. vir volwassenes en R25 p.p. vir kinders onder ses jaar sluit ’n gratis rondte putt-putt en toegang tot alle speelgebiede in. Vir R140 p.p. kry jy ’n gratis rondte putt-putt, ’n sak verfballe en oneindige ritte op die waterwurm vir die dag.

Oop: Maandae tot Saterdae: 9 vm.-7 nm.; Sondae tot 4 nm.

072 200 5530; 076 935 5537

7. Durf die oopsee aan

Jy kan op ’n bootrit van Struisbaai se hawe af uitvaar om in die diepsee te gaan lyn natmaak. Jou vangs is joune vir die braai. As visvang nie jou ding is nie, sit terug en geniet ’n plesierrit op die water teen sononder. Probeer so lank as moontlik vooraf bespreek, veral in vakansietyd.

Koste: Plesierritte duur ongeveer ’n halfuur en kos R150 p.p. en R75 p.p. per kind. ’n Hengelekspedisie: vanaf R950 p.p. en R500 p.p. per kind.

082 870 2783; awesomefishing.co.za

Struisbaaihawe. Foto: Esma Marnewick

EET HIER

L’Agulhas

Zuidste Kaap Pub & Restaurant

Dié gesellige restaurant is deel van die Three Oceans Pub, en behalwe vir seekos kan jy ook biefstuk, burgers en ’n paar vegetariese opsies bestel. Oop Elke dag van 11 vm.-10 nm. (Oktober tot April), en 12 nm.-10 nm. (Mei tot September).

Vakansietye: 9 vm.-10 nm.

Waar? Hoofstraat 99

028 435 7838

Crafty Pig

Hier oorheers die groot kroegbank die atmosfeer en spasie, maar in die knap eetruimte na agter kan jy behoorlik smul aan burgers, eisbein, ribbetjies en pizza. Ontbyt is ook beskikbaar. Oop Maandae 4 nm.-10 nm.; Dinsdag tot Vrydag 11 vm.-10 nm.; Saterdae 10 vm.-10 nm.; Sondae gesluit. Vakansietye elke dag van 10 vm. tot laat.

Waar? Hoofstraat 184

076 763 7956

L’Agulhas Seafoods

Lê weg aan heerlike seekos en sushi (aansit of wegneem). Hier’s ook ’n kroegie (met cocktail-opsies) en ruim sitplek op die boonste en onderste buitestoep. Jy het ook ’n mooi uitsig van die vuurtoring van die boonste vlak af.

Oop: Elke dag van 9 vm.-7 nm.

Waar? Hoofstraat 118

028 435 7207

Struisbaai

The Michael Collins

The Michael Collins

Hierdie tipiese Ierse pub het ’n lang kroegtoonbank en ruim eetgebiede – dis ’n gunsteling onder die plaaslike vissermanne. Die spyskaart sluit in ’n heeldag-ontbyt, tapas, burgers, seekos en biefstuk.

Oop: Maandae 4 nm.-10 nm.; Dinsdag tot Vrydae 11 vm.-10 nm.; Saterdae 10 vm.-10 nm.; Sondae gesluit. Vakansietye elke dag van 10 vm. tot laat. 

Waar? Malvernrylaan 21

028 435 7979

Pelican’s Harbour Cafe

Visplakkies en swembroeke is welkom by dié informele seekosrestaurant by die Struisbaaihawe, maar moenie kom as jy haastig is nie – die diens kan sloer. Bestel ’n plaaslike Frasers Folly-tapbier (R45) van die nabygeleë Black Oystercatcher-wynplaas. En kyk hoe die kleurryke visserskuite in die baai dobber terwyl jy weglê aan calamari in allerlei vorms: repe, ringe of steaks. Hier’s ook gewoonlik twee roomysstalletjies agter die restaurant – een met draairoomyse en een met gewone roomys.

Oop: Maandag tot Donderdag: 10 vm.-8 nm.; Vrydag en Saterdag van 9 vm.-9 nm.; Sondag: 9 vm.-4 nm. 

028 435 6526

Pelican’s Harbour Cafe

Sea Shack Struisbaai

Dié kuierplek vir die hele gesin sit reg op die strand – die vloer is seesand! Hier’s ’n ruim kroeg met ’n kleinerige spyskaart – daar’s seekosopsies en ’n biefburger, en jy kan ook draairoomys by ’n hokkie aan die voorkant bestel. Kom skop jou sandale uit. Oop Elke dag van 10 vm.-8 nm.

Waar? Minnetokkastraat 4

028 435 7096; seashackstruisbaai.co.za

55 Knots

Die spyskaart is wyd: Kies tussen seekos, pizza, pasta, hoender en varklies. Hier’s ook ontbyt beskikbaar. Van die buitestoep af kyk jy uit oor die hoofstraat en die see. Oop Elke dag van 9 vm.-9 nm.

Waar? Hoofstraat 55

028 435 7414

Sea Shack Struisbaai

BLY HIER

Agulhas Heights

Dié drie oulike selfsorgkothuise sit hoog teen Sandberg met mooi uitsigte oor die vuurtoring en die see. Hulle is nie te na aan mekaar nie; dus het jy darem privaatheid. Koste Vanaf R1 250 p.n. vir 4 mense

Waar? High Levelstraat 16

074 351 3879; agulhasheights.wordpress.com

Ocean House B&B

Hierdie vyf keurige en suite-dubbelkamers (in die eienaars se huis) lyk asof dit uit ’n dekortydskrif kom. Die gastehuis sit teenaan die see en die boonste kamers het uitsigte oor die water. Koste Vanaf R990 p.n., ontbyt ingesluit. Waar? Hoofstraat 4

028 435 6166; agulhasoceanhouse.co.za

Mermaid-gastehuis

Dié plek op Struisbaai is soos ’n fieterjasielose lodge. Daar’s agt en suite-dubbelkamers waarvan die boonste ses ’n see-uitsig het. Elke kamer het ’n skeepstema, en jy’s stapafstand van die strand. Koste Vanaf R1 350 p.n., ontbyt ingesluit.

Waar? Proteastraat 8

079 778 2685; mermaidguesthouse.com

Cape Agulhas Backpackers

Dié plek is ruim en skoon met ’n mooi tuin en hope karakter. Koste Die slaapsale het slaapplek vir tussen 4 en 8 mense teen R180 p.p; dubbelkamers met ’n gemeenskaplike badkamer kos R450 p.p., en en suite-dubbelkamers R500 p.p.

Waar? Hoek van Hoof- en Duikerstraat

082 372 3354; capeagulhasbackpackers.com

Cape Agulhas Backpackers
Martha Newman Kelnerin, 55 Knots, Struisbaai “Vakansietye raak dit besig hier. Eintlik te besig, maar ek geniet dit om al die nuwe mense te ontmoet en te bekyk.”