Dis drieuur op ’n Sondagmiddag. ’n Fluitjie blaas, en met ’n gerammel soos ’n gedierte wat ontwaak en hom lui uitstrek, begin kruip die trein se 19 waens uit die Johannesburg-stasie.

Vir die sowat 50 passasiers aan boord van die Shosoloza Meyl Premier Classe, die sogenaamde Perstrein, lê 1 800 km en sowat 25 uur se treinry voor. (Die trein het plek vir 75 mense.)

Ons volg die klassieke Trans-Karoo-roete tussen Johannesburg en Kaapstad – die hoofslagaar van ons spoorweë wat diagonaal deur Suid-Afrika sny, verby stasies soos Potchefstroom, Kimberley, De Aar, Beaufort-Wes. Hoe het Herman Holtzhauzen gesing? “Laat jou ysterwiele rol...” Matjiesfontein. Worcester. Wellington.

Die Premier Classe is Shosoloza Meyl se... wel, premierklas – ’n luukser en veral veiliger alternatief vir die ekonomiese of toeristeklas. Ja, dus ook ’n duurder alternatief, maar nie naastenby die Bloutrein of Rovos Rail se tariewe wat ’n mens skoon duiselig laat nie.

Tien jaar gelede het ek op ’n universiteitstoer dié roete van die Kaap se kant af met die Shosoloza Meyl gery. Die kompartement was so-so, ’n klasmaat se selfoon is in die nag gesteel, en die kafeteria was lae oktaan.

Maar die Premier Classe is ’n trein van ’n ander kleur. My kompartement is netjies en gerieflik: Daar’s ’n blokkie sjokolade op die bed; ’n handdoek en kamerjas; én ’n versoek dat jy die pantoffels huis toe vat. In die eetwa wag twee viergangetes en ontbyt, alles ingesluit by die prys. Jy betaal net vir jou eie drankies, en die pryse is billik – R15 vir ’n bier.

FOTO: Sam Reinders.

Die brosjure belowe selfs ’n spa – glo die eerste op ’n trein in Afrika – maar die masseuse het onlangs bedank en is nog nie vervang nie. En ek het nogal uitgesien na ’n massage duskant Makwassie.

‘Sorry, the aircon is not working’

’n Gawe kelner bedien gratis verwelkomingsvonkelwyn in die ruim en nogal deftige sitkamerwa. Deur die groot, reghoekige vensters sien ons helaas nou die minder vleiende aspekte van Jozi se middestad: plastieksakke, bottels, rommel.

“Die trein ry altyd op die slegste plekke verby,” hoor ek iemand sug. “Om te dink dit was altyd so smart hier; kyk hoe lyk dit nou!”

Ek dink dit is veilig om die passasiers ’n eklektiese groep te noem: Hier is blommekykers onderweg na Namakwaland, parate Wes-Kaapse DA-politici, verskeie paartjies, hier en daar ’n enkellopende, en ’n Franse gesin (wat beslis die gemiddelde ouderdom ’n bietjie laer maak).

Langs my klets drie vriendinne, ywerige blommekykers. “Ek was laas in 1953 op ’n trein,” vertel Petro Winterbach van Witbank. “Ek onthou nog my swaar tasse op Germiston se stasie...”

Dit is einde Julie, maar warm en bedompig in die sitkamerwa. “Sorry, the aircon in the lounge is not working,” kondig Amanda Khalo, die hoofkelner, aan. “It’s a challenge...”

Hmmm... die Premier Classe ís indrukwekkend, maar miskien mik hulle effens te hoog met die inligtingstuk in my kompartement wat praat van “the very ultimate in luxury train travel”. Heelwat mense is doenig met slimfone, en iemand neem foto’s met ’n iPad. Nou weet Facebook en Twitter ook van die Perstrein.

Gary Mars, die treinbestuurder, wapper verby, al pratend op ’n tweerigtingradio. Met sy swart pak, blinkgepoetste skoene en das lyk Gary meer na ’n waardige hoofouderling.

“Potchefstroom asseblief, Potchefstroom,” sê hy stellig. Dan, effens onrusbarend: “Jy wil nie dat die tegnikus daarna kyk nie?!” Hopelik verwys hy net na die lugreëling...

FOTO: Sam Reinders.

Is Trane al verby?

Die vensters in die sitkamerwa (dalk is “kuierwa” ’n meer raak beskrywing) is soos ’n screen saver: Jy sit terug op ’n gemaklike bank en kyk hoe dit gereeld van landskap verander.

Ná high tea om halfvier (“Ek proe mayonnaise...” is een ambivalente resensie oor ’n toebroodjie) sit net ek en Sam, die fotograaf, nog in die kuierwa. Die ander passasiers knip seker ’n uiltjie of sit in die rokerswa of een van die twee eetwaens.

Buiten dat dit sekerlik een van die meer ontspanne maniere van reis is, is treinry ook dinktyd. Ek dink terug aan Little Bess, die lokomotief met die twee trokkies wat oor naweke by die Willowdam op Uitenhage op ’n klein ovaalbaan gery het. Ek onthou foto’s waar ek as kind op die platform rondtrippel, mateloos opgewonde.

En ek onthou ’n rit op die legendariese Apple Express tussen Port Elizabeth en Loerie. My pa was ’n paar keer lid van een van die spanne wat jaarliks teen die Appeltrein resies gehardloop het (hy vertel graag Wilma van der Bijl, ’n gewese Mej. Suid-Afrika, was een jaar sy “pasaangeër”).

Deesdae loop nie een van hierdie treine meer nie.

Ons stop vir ’n paar minute op Germistonstasie. Vroeër jare was hierdie die grootste aansluitingstasie in die land. Dit is steeds bedrywig, met mense wat op die perronne staan en wag vir ander treine, ander mense... en dalk beter dae.

Treinry verskerp ook jou sintuie. Ek voel hoe die wa onder my wieg. Ek hoor die suis- en rammelgeluide, die geklingel van glase wat dalk ’n aks te na aan mekaar gepak is in die kroeg.

Die landskap begin oopmaak. Die screen saver wys nou die Hoëveld se vaal grasvelde, kragdrade, ou fabrieke en implemente. Ook ’n blokhuis, ’n tronk en graansilo’s.

FOTO: Sam Reinders.

By ’n plakkerskamp spring kinders sorgvry op ’n trampolien.

Ek wink vir Gary nader en vra hom oor sy lewe op die treine. “Ek is ’n treinman – ek is verskriklik lief vir treine,” verklaar hy amper formeel. “As jong perd het ek op Elsiesrivier se stasie gaan staan en kyk en begin in love raak met hierdie wiele. En die manier wat die kontroleurs aangetrek was – die ouens se skoene en trommels het so geblink.”

Sy loopbaan het in 1976 as kontroleur (kaartjieknipper) begin, in die apartheidsjare. “Ek het in April 1976 die eerste keer met die Trans Karoo gery om ’n kursus in Braamfontein te gaan doen,” vertel hy.

“Toe gee my baas vir my ’n brood en twee blikke pilchards vir padkos. My blanke kollegas kon in die eetsalon eet. En nou? Nou is ek treinbestuurder op die Premier Classe – en eet ek ook darem uit die wit borde uit!”

Wat hy van die ou Trans Karoo mis, is hoe elke eetsaal na ’n rivier genoem was, en die lekker koffie wat jy ’n wa weg al kon ruik.

“En ek mis die ou trein se wiele wat so getêk-têk het; met die nuwe tegnologie is alles nou vasgesweis en egalig. Ek het nooit ’n oog toegemaak as ek op daai treine gewerk het nie, want ek wou tel hoeveel keer hy so maak.”

Maar die ou Trans Karoo het steeds ’n mitiese teenwoordigheid, sê hy. “Die name het dalk verander, maar die naam Trans Karoo sal nooit uit mense se mond uit nie. As ek nóú op De Aar kom, vra die mense vir my ‘Meneer, waar’s Trane? Is Trane al verby?’ Die Trans Karoo sal altyd daar bly. Trane sal altyd daar bly.”

Die name het dalk verander, maar die naam Trans Karoo sal nooit uit mense se mond uit nie

By ’n tafel naby ons sit ’n bejaarde paartjie. Hulle praat nie veel nie, maar lyk gelukkig met mekaar en die twee drankies tussen hulle. Gary hou hulle dop.

“Dís vir my die lekker van treinry,” sê hy en wys na die paartjie. “Om mense te ontmoet, om te luister, om te sien hoe ’n ou oom en tannie mekaar in die oë kyk, of hande vat en bid.”

Treine maak selfs deel uit van Gary se planne as hy eendag nie meer daar is nie. “As ek doodgaan, wil ek graag hê my lykskis moet die vorm van ’n pers treinwa wees. Ek wil daar lê in my volle uniform.

“Hoe hulle dit gaan regkry, weet ek nie. Maar dis ’n opdrag aan my familie.” Hy lag hardop. “Maar my beste jare kom nog…”

FOTO: Sam Reinders.

Hoe werk ’n reël?

’n Paar passasiers is deftig uitgevat vir aandete. Die voorgereg is marogsop en ’n blokkie vis, gevolg deur boerekos: vleis, aartappels en groente. “Hier is meer silwer as in my huis!” laat val Sam iewers tussen die malvapoeding met vla en die kaasbord.

Dit is donker buite, maar die screen saver verander nog heeltyd: In die verte glinster die liggies van dorpies, soms ’n motor se hoofligte waar die spoor parallel met ’n pad is. Doer flits die blou ligte van ’n polisiekar, maar jy voel veilig en geborge, asof jy op ’n skerm na beelde van ’n ander wêreld kyk.

Ná aandete sit ek in die kuierwa, binne hoorafstand van die DA-politici. “In die politiek het jy wegbreeksessies nodig om naby aan die aarde te kom, soos nou. Om te kyk hoe dit met die spoorweë gaan,” mymer een van hulle met groot gesag.

Hulle beplan ’n bosberaad die volgende oggend, hier in die kuierwa, en iemand spreek die kommer uit dat high tea in die slag kan bly. Nou besin hulle plegtig oor wat ’n reël ’n reël maak:

DA 1: “Moet ’n nuwe reël deur die reëlskomitee gaan, of word dit onmiddellik ’n reël?”

DA 2: “Ja, dit word dan ’n reël.”

DA 3: “Is dit nie dan net ’n besluit nie?”

DA 2: “Maar funksioneel is dit ’n reël.

Dis te veel reëls na my sin, en ná ’n slaaptyddoppie keer ek bedwaarts.

In my kompartement maak ek die venster wyd oop: Die Vrystaatse vlaktes omsingel die trein. Die flou liggies van ’n dorpie doem regs op en die trein skuur verby ’n gebou met “Christiana” daarop geverf.

Soos Gary mis ek ook die ge-têk-têk van ouds, maar die trein se rammel bly ’n simpatieke, hipnotiese klankbaan. Binne minute slaap ek diep, asof ’n dokter my onder narkose gesit het.

Soos Gary mis ek ook die ge-têk-têk van ouds, maar die trein se rammel bly ’n simpatieke, hipnotiese klankbaan.

Tussen iewers en De Aar

Dit is net voor sonop op ’n kraakvars wintersoggend en die trein staan doodstil.

Sou ons nie gebrekfis het op Beaufort-Wes nie? Ek kyk by die venster uit. Hmmm, dit lyk nog gevaarlik baie na die Vrystaat. Wat gaan nou aan?

In die eetwaens sit ’n paar verwarde blommekykers en politici. Die kelners draf rond en bedien met ’n poker-gesig ontbyt. Ek verbeel my ’n kelner fluister iets oor ’n bus.

“Ek het drieuur wakker geword en dieselfde Vrystaatse landskap as nou gesien,” sê Sam. “Intussen het die son opgekom en ’n bakkie het verbygery. Verder het niks gebeur nie.” Ons is effe mismoedig, en wonder hardop waarom die Premier Classe net kitskoffie bedien.

Gary stap nader. Hy is die rustigheid vanself – ’n Boeddha in ’n baadjie. Hy vertel ons is sedert tweeuur die oggend gefnuik deur twee goederetreine wat voor ons onklaar geraak het.

Ons is tans tussen die Oranjerivier- en De Aar-stasie.

Die trein is reeds ses uur agter skedule en ons gaan waarskynlik eers teen middernag in die Kaap aankom. Vir passasiers met ’n vaste program het Gary ’n Plan B in plek: Hy reël ’n bus om diegene wat ’n paar uur móét wen, op Laingsburg op te laai. 

Teen halfnege begin die trein weer beweeg, en die kelners bring komberse waarin ons ons toewikkel in die kuierwa.

Ek knoop ’n geselsie aan met Elize Bezuidenhout van Rustenburg. Sy vertel sy het self in die jare sestig laas treingery. “Ek het al twee my ouers versorg tot op die laaste,” vertel Elize. “Ek is nooit getroud nie, want as jy getroud is, kan jy nie jou ouers oppas nie. Ná hulle dood het my vriende gesê ek moet nou begin leef. Dit is hoekom ek op die trein is en gaan blomme kyk.”

Ons ry nou oor die Oranjerivier en die Noord-Kaap binne. Koppies. Heuwels. Geel gras. Ons ry verby ou vervalle stasietjies. Poupan, Houtkraal, Deelfontein. Gary vertel daar is 235 stasies tussen Johannesburg en die Kaap, maar weinig toon nog tekens van lewe.

Gary vertel daar is 235 stasies tussen Johannesburg en die Kaap, maar weinig toon nog tekens van lewe.

“In die ou dae het die stasiemeester tuintjie gemaak, grassies geplant en bakstene aangery met sy motor,” vertel Gary. “Daar was ’n prys vir die stasie wat die mooiste versorg is. Dikwels ry hier omies op die trein wat met trane in hulle oë vir my sê: ‘Ek was stasiemeester dáár.’ Dan wonder ek: Wat gaan in sy kop en hart aan?”

Ons gesels oor die bloedlyn, die tradisie van spoorwegwerk, die feit dat die meeste masjiniste se pa en oupas ook masjiniste of stokers was. “Dis daai trots,” vertel Gary. “Jy kan dit sien as ’n ou na jou kyk en vertel hy was ook ’n railway-man. Dis die smile, maar ook die frons, want hy verlang.”

FOTO: Sam Reinders.

‘Dit was fantasmagories!’

Die screen saver bly ons boei: basaltkoppies op die horison; hier ’n windpomp, daar ’n uitgebrande kar. Die murasies van ou spoorweghuisies flits verby; selfs ’n kaktusoerwoud digby die spoorlyn. Drie bloukraanvoëls land in die middel van nêrens tussen kragmaste wat vreemd lyk – uit plek, soos buiteruimtelike wesens.

Duskant De Aar begin die DA se bosberaad in alle erns. Ek sit ’n paar tafels weg en gesels met Mike Spies, die blommekykers se toergids.

“Mense kyk my angsbevange aan as ek vertel ek ry trein,” vertel hy. “Hulle is glad nie bewus van die Premier Classe nie.”

Hy begin geesdriftig vertel van ’n enorme dasversameling in ’n kroeg op Vanrhynsdorp, maar een van die politici onderbreek ons. “ ’n Bietjie sagter, asseblief – ons hou bosberaad oor dinge wat belangrik is vir die land.” Gmf.

Pierneefagtige tonele rol verby – díep Noord-Kaap. “Hierdie landskap hét dit net, hoor,” sê Gary trots in die verbystap.

Op Beaufort-Wes se stasie eet ons middagete. Ek gesels met Willy Johnson van Kaapstad. “Ek dink toe ek laas in Suid-Afrika ver treingery het, was dit ’n troepetrein, tussen die Kaap en Grootfontein,” vertel Willy. “Treinry bly die beste manier om te reis as jy tyd op hande het.”

Die middag gaan sy gang in die kuierwa. In die verte is sneeu op die Swartberg sigbaar. Die N1 met sy lorries doem langs ons op, omsoom met Karoobossies en windpompe.

Treinry bly die beste manier om te reis as jy tyd op hande het.

Ons groet die blommekykers op Laingsburg; die busse wag al. “Soos Oubaas sê: Dit was fantasmagories!” borrel Veronica Jonker van Johannesburg toe sy afklim. “Ek het nie hierdie luxury by my huis nie; die ou mense kan ook gerieflik travel.”

Die landskap raak nou groener en weliger. De Doorns. Worcester. Wellington. Dit is al donker, maar Kaapstad is net om die draai. Die trein ry deur Bellville-stasie, verby Century City wat Las Vegas-agtig glimmer.

Ek stap vir oulaas na my kompartement. In een van die oop kompartementdeure op pad sien ek ’n paartjie sit, oorkant mekaar.

Ek dink aan iets wat Gary vroeër gesê het: “Wat wil mense hê van treine? Hulle soek daai silver service, hulle wil veilig wees, hulle wil ontspan. Dís die doel van hierdie trein.

“Dis hier waar die marriages en vows gerenew word, waar mense in mekaar se gesigte kyk en sê: ‘I still love you.’ ”

Weet voor jy waai

(Let wel: Die bygewerkte pryse was geldig op 23 Oktober 2017)

Wanneer? Die Premier Classe vertrek elke Donderdag om 10:00 uit Johannesburg na Kaapstad, en elke Dinsdag om 09:00 uit Kaapstad na Johannesburg. Die rit duur ongeveer 27 uur. 

Hoeveel kos dit? ’n Enkelkaartjie tussen Johannesburg en Kaapstad kos R3 120 p.p. buite spitsseisoen (Februarie tot November) en R3 510 p.p. in spitsseisoen (Desember en Januarie) Dit sluit alle etes in, maar nie drankies nie. Besoek die webwerf sodat jy nie spesiale aanbiedings misloop nie.

Nog roetes? Op Woensdae, Vrydae en Sondae ry die Premier Classe tussen Johannesburg en Durban. R1 120 p.p. (buite spitsseisoen) en R1 410 p.p. (spitsseisoen). 

Wat van my kar? Jy kan vooraf reël om jou voertuig saam op die Premier Classe te vervoer (tussen R2 660-R4 880).

Waar bespreek ek? Shosoloza Meyl se algemene besprekingsnommer (086 000 8888) gaan net jou bloeddruk opjaag – bespreek eerder by 011 773 8785 of by die stasies.

Nog inligting www.premierclasse.co.za.