FOTO’S: PIERRE JORDAAN 

Aurora borealis. Jy het dié woord waarskynlik op skool in die aardrykskundeklas gehoor: Groen ligpatrone wat soos kwashale in die donker lugruim bo die sneeulandskap van die poolstreke verskyn en verdwyn.

Een oggend hoor ek dié Latynse woord op die radio. ’n Reisagent vertel van ’n toer na die noorde van Skandinawië, na Samiland. ’n Streek wat ek as Lapland in die ou Afrikaanse Kinderensiklopedie leer ken het.

Die omroeper noem daar is nog twee plekke beskikbaar op die toer in Januarie 2020. Ek en my man, Thys, kyk na mekaar – dis ons s’n!

Een van die hoogtepunte van die toer was ’n (yskoue!) vier uur lange rit op ’n slee getrek deur poolhonde.

DAG 1: Stockholm

Die toer begin in Stockholm. Een aand in die “Stad van Stokke” is gans te kort. Die stad bestaan uit ’n klompie eilande en kry glo sy naam van die houtpale of stokke, wat die inwoners in die see geplant het om vyandige skepe te keer of tolgeld te eis.

Die stad smeek om verken te word. Veral as jy ’n aanhanger van Stieg Larsson se Girl with the Dragon Tattoo-reeks is. Elke tweede straatnaam diep ’n herinnering uit een van sy donker rillers op: Gamla Stan, Prästgatan, Tyska Stallplan...

Maar ons 15 toerlede moet tevrede wees met ’n begeleide stadstoer. In die Vasa-museum (vasamuseet.se) verken ons ’n gerestoureerde oorlogskip van hoek tot kant. Die Vasa-oorlogskip het in 1628 gesink in Stockholm se hawe enkele minute nadat dit die eerste keer ter see is. Die skip is 333 jaar later opgegrawe – dis die beste voorbeeld van ’n sewentiende eeuse skip ter wêreld.

Rondom ons is die plaaslike inwoners in rep en roer vanweë die “warm” winter wat tot dusver nog geen sneeu in die stad opgelewer het nie. Ons ervaar wel ons eerste voorsmaak van die koue: vriespunt.

DAG 2: Stockholm – Jukkasjärvi

Stockholm is inderdaad “matig” besef jy as die ysige lug van die dorpie Kiruna jou gesig tref. Die klein lughawegebou se inligtingsbord wys die temperatuur in helder liggies: -16°C. Van hier af raak dit net kouer.

Die bus swaai na die dorpie Jukkasjärvi, die tuiste van die wêreldbekende Yshotel (icehotel.com). Met die uitklim voel dit asof jy in ’n vrieskas instap.

Die Yshotel word sedert 1989 elke jaar gebou uit enorme blokke ys (tot 2 ton swaar) uit die Tornerivier.

Jou hande en voete voel niks. Dis -20 °C. By die hotel ontvang almal die verpligte uitrustings: vormlose oorpakke en stewels wat jy bo-oor jou warm klere aantrek vir enige uitstappie in die buitelug.

Ons trek sommer al dié pakke aan op die eerste aand. Ons gaan die aurora soek, iewers op ’n bevrore meer vér van enige ligte af. Met dom vingers soek ons na die sluiters en driepote van die kameras waarmee ons toegerus word. En dan wag ons... Die nag lê pikswart op die wit ys.

En skielik sien ons wit wasems in die lugruim. Die aurora borealis! Met die blote oog lyk dit soos sagte witgroen wolke, maar op die kamera se skerm kry hulle ’n gans ander lewe. Jou retinas kan bloot nie al die kleure waarneem nie. Die ligte dans in groen golwe teen die donker lugruim. Een oomblik lyk dit soos swaar, borrelende lawa en dan weer soos vere wat in die wind dwarrel.

’n Mens wil huil. Die Wikings het geglo die noorderlig is die geeste van oorledenes wat hulle besoek. Jy kan nie help om te dink dat daar wel ’n tikkie waarheid in steek nie. Dit voel heilig. ’n Mens kan doodvries hier op die ys op soek na ’n perfekte foto... net nóg een, en nóg een. Daarom roep die gids halt ná ’n uur. Ons moet vuur toe, warm tee drink en die gebruiklike bessiekoek eet.

Teen middernag stroop jy die lae klere af en val vodde in die bed, dankbaar vir die knus houthuis. Jy kan ook teen sowat R6 000 per nag jou in die Yshotel tuismaak. Daar los jy jou klere in ’n kleedkamer en klim in ’n spesiale slaapsak wat lê op ’n beervel op ’n ysblok as bed. Jy’s omring deur unieke kunswerke wat deur beeldhouers uit ys gekap is: leeus, ’n mallemeule, takbokke...

Die Yshotel smelt elke somer en word in die winter herbou. Dis stylvol en yskoud.

Ons het vroeër die aand in die Ice Bar gekuier. Die glase is van ys en die kroegman gooi drank in jou ys, nie ys in jou drank nie. Jy moet mooi teug of jou lip vries vas aan die glas.

Hoe vorm die aurora borealis? Dis ingewikkeld, maar dit gebeur wanneer deeltjies van die son bots met die atome en molekules in die aarde se atmosfeer. Dit gebeur net by die pole en word aurora australis genoem in die Suidpool.

DAG 3: Jukkasjärvi

Vanoggend trek ons weer ons yspakke en dik stewels aan vir ’n besoek aan ’n tradisionele Sami-kamp. Klappertand stap ons agter ’n Sami-gids aan wat ons wys hoe sy voorsate in tente van rendiervel geleef het. Ons voer die rendiere met gedroogde mos. Dié diere grawe die mos uit wat onder die ys groei. Sodra jou loopneus soos ’n stalagtiet begin hang, is dit gelukkig tyd vir middagete in een van die tente.

Repe rendiervleis word in ’n plat skottel oor die vuur gebraai. Dit proe soos wildsvleis.

Buite huil die honde by die sleë, gereed vir ons tweede avontuur van die dag. Daar is 16 honde voor elke slee gespan. Vier van ons sit wydsbeen op ’n smal slee met die hondemeester wat agterop staan. Met ’n “hup!” van die meester af trek die honde weg. Hulle sleep asof ons veerlig is; seepglad oor sneeupaadjies, deur woude en oor ysmere. Langs die pad hap die honde na sneeu, soos marathonatlete wat ’n sakkie water gryp om hulle dors te les.

Vir ’n uur hardloop die honde moeiteloos en baldadig totdat die meester fluit en hulle tot stilstand kom. Hulle rol in die sneeu terwyl die koue passasiers met stywe bene na ’n houthut hinkepink. Dis weer tyd vir fika: koffie en koek saam met vriende. ’n Mens kan fika net wanneer jy wil, sê die Swede. Dis al hoe ’n mens die koue oorleef.

Van die rit terug huis toe onthou ek nie veel nie. Ek het my neus in my handskoene toegevou, want ek was bang dit breek af en verdwyn in die sneeu.

Met ’n “hup!” van die meester af trek die honde weg. Hulle sleep asof ons veerlig is; seepglad oor sneeupaadjies, deur woude en oor ysmere.

Teen vieruur is dit reeds skemerdonker wanneer ons die honde groet. Terug by die Yshotel meld ons aan vir nóg ’n avontuur. Toerlede kon vooraf ’n ski-motorfietstoer bespreek. Ons het – weke gelede in ’n snikhete Johannesburg. Maar hier is dit -30 °C. Teen negeuur wou ek eerder in my bed lê met ’n Sweedse riller, maar die uitstappie was ’n aardige bedrag, dus moet ons ry.

Ek trek de laaste warm ding in my tas aan. ’n Mens lyk soos die Oros-mannetjie en loop moeilik. Dis g’n maklike taak om jou been oor die motorfiets te kry nie. Ek sit styf agter my man se rug, dankbaar dat ek nie my hande hoef te gebruik nie.

Hannu, ’n Sweedse gids, maak ons touwys op die motorfietse. En dan laat waai ek en Thys oor sneeuvelde so wyd soos die Heer se genade onder ’n amperse volmaan. Dis asemrowend – die yswind waai letterlik jou asem weg. Nou en dan flikker ’n noorderlig fyntjies bo in die lug.

’n Yskoue uur later sit ons knus om die vuur van ’n houthut waar die opgewekte Hannu vir ons aandete maak: rendiervleis. Dis waarvan die Sami’s leef. Hannu is gids, kok, kelner, skoonmaker, vuurmaker, alles in een.

Uit die houthut sien ons weer ’n paar dowwe ligte oor die ysvelde flits, en weer as ons terugry. Ons besef nie hoe bevoorreg ons is nie. Later sou ons hoor hoeveel mense kom elke jaar tevergeefs na die aurora borealis soek.

DAG 4: Jukkasjärvi – Abisko

In ’n meneer van ’n sneeustorm ry ons na die dorpie Abisko in die noorde van Swede. Daar gekom trek ons ons sneeuskoene aan en gaan stap ’n uur lank in die Abisko- nasionale park. Net ’n uur, want as ons langer gestap het, het ons nooit teruggekom nie! Op sommige plekke het ons heupdiep in die sneeu weggesak!

Ná ’n gesellige fika trotseer ons die koue rit op die oop (!) stoele van ’n ski-hyser tot op die Nuolja-berg om die ligte te soek. Gepanster in sneeupakke stuur hulle ons twee-twee berg-op na die ski-stasie. Dis stilte is dik, vredig, absoluut. Ek wonder of dít is hoe die dood voel, en kyk af, af, af na die wit wêreld onder.

Die dapperes waag dit te voet verder bergop en sien toe ’n paar ligte tussen die wolke. Hulle vertel met rooi wange en blou lippe aan die wat met ’n drankie in die ski-stasie agtergebly het.

Dis weer eens ’n snerpende terugtog en ’n laatnagtuiskoms. ’n Mens moet fiks wees om die noorderlig te jag!

DAG 5: Abisko – Narvik

Vroegoggend vertrek ons na die hawedorp Narvik in Noorweë. Swede se beste ystererts word van dié hawe af uitgevoer.

Die dorp het taamlik deurgeloop tydens die Tweede Wêreldoorlog, want die Duitsers wou die ystererts bekom. In die Narvik-oorlogsmuseum (visitnarvik.com) kry Noorweë se oorloggeskiedenis behoorlik lewe met tenks, duikbote en spierwit uniforms wat uitgestal word. En in sneeutoestande is jou kamoefleerklere natuurlik wit!

DAG 6: Narvik– Tromso

Sowat 40 km noord van Narvik is die Polar-park, ’n dierepark wat sowat 1,1 km² beslaan.

Jy stap in stilte saam met die gids die wolfkamp binne. Eers sien jy net sneeu en donker bome. Dan kom die alfa-mannetjie aangestap en volg die res van die wolwe in ’n soort hiërargie. Hulle sluip stil-stil uit die sneeulandskap nader, snuffel aan jou, spring teen jou en gee jou dalk ’n wolwesoen.

En net so vinnig verdwyn hulle weer om in groepies te gaan sit en huil. Dit was liefde met die eerste oogopslag, dié ontmoeting met die oeroupa van alle honde. Ek sou ’n dag saam met hulle kon kuier. Maar die pad is nog ver na Tromso.

DAG 7: Tromso

Christien was tydens ’n nasionale rendierkampioenskapsbyeenkoms in Tromso, hoofstad van Samiland.

Tromso is die hoofstad van Samiland. Sami’s is die inheemse mense van die Noordpoolstreek.

Ons is hier tydens ’n nasionale rendier-kampioenskapsbyeenkoms – die strate is vol Sami’s in tradisionele drag. Rendiere met hul jokkies op ski’s jaag resies in die hoofstraat! Wat ’n aardigheid, ’n soort Durban July in die kleine in die sneeu.

Vanaand soek ons vir oulaas die noorderlig. Ons ry met ’n bus na ’n plaas buite die stad. Die aanvallige boervrou bedien aandete in ’n snoesige hut. Asof bestel kom die noorderlig uit nes die sopkoppies leeg is.

Almal storm na buite. Die lugruim lewe! Die ligte groet ons in neongroen verfstrepe oor die donkerpers naghemel.

Môre vertrek ons na Oslo vir ’n dag in die stad en daarna terug Johannesburg toe. Maar ons voete wil vasskop in die sneeu. Ons wortels moet in Wikingland lê, want dié plek het ons harte geroer.

noordelig
Die noordelig bokant ’n bootlandingsplek in Tromso.

Weet voor jy waai

Christien en Thys het saam met Seagull Travel & Tours getoer.

Die nege dae lange Noorderligtoer kos sowat R74 000 p.p. en sluit in retoervlugte van Johannesburg af, blyplek, maaltye, gidse en alle vervoer.

Kontak: 042 296 0475; seagulltoere.co.za

Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s.

As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusiefoto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling.

Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za. Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik.

Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook