’n Sneeuluiperd is deesdae die Heilige Graal van fotografie; deels omdat hulle so skaars is, maar ook omdat dit verskriklik moeilik is om hulle af te neem. Party mense bring maande in die berge deur voordat hulle selfs net een sien.

FOTO’S FANUS WELDHAGEN

Fanus Weldhagen was al op heelwat besonderse fotografiese reise – na Japan, Antarktika, Suid-Georgiëeiland en die Serengeti, om net  ’n paar te noem. Toe sy vriende Hedrus van der Merwe en Wim van den Heever van Outdoorphoto in Pretoria hom dus nader om in Februarie vanjaar saam met hulle te gaan op ’n verkenningstog na die bergagtige noordweste van Indië, het hy nie vir ’n oomblik gehuiwer nie.Hulle sou die haalbaarheid van fotografiesafari’s na dié gebied ondersoek.

Maar die éintlike doel van die uitstappie was om die bedreigde en uiters sku sneeuluiperd (Panthera uncia of Uncia uncia) af te neem.Die span is na die Hemis- nasionale park, Indië se grootste bewaringsgebied en een van net ’n paar plekke waar ’n mens nog sneeuluiperds kan sien. Die hoogte bo seespieël (sowat 3 500 m) en die uiterse koue was net die begin van hulle uitdagings, want ’n sneeuluiperd gaan nie sommer vir jou kom poseer nie.

Hoekom juis sneeuluiperds? Hulle is deesdae die Heilige Graal van fotografie; deels omdat hulle so skaars is, maar ook omdat dit verskriklik moeilik is om hulle af te neem. Party mense bring maande in die berge deur voordat hulle selfs net een sien.

Maar julle het steeds die kans gewaag? Ons het van die begin af geweet die kans om ’n sneeuluiperd te sien is baie skraal, en die kans om een af te neem byna nul. Jou sukses hang baie af van die mense wat jou ondersteun, die sjerpas. Hulle soek die luiperds met groot teleskope en dan laat weet hulle jou oor die radio waar die luiperds is.

Ander kere klim jy saam met hulle die berge uit om na luiperds te soek. As jy een sien, moet jy maar besluit of dit die moeite werd is om nader te gaan. En as jy sien dit is te ver vir ’n foto, geniet jy dit maar net om te kyk.  Daar is darem ook ander goed om af te neem: Bharal (dis ’n soort bok, ook genoem blou skape), die dorpies, die landskap en die vriendelike mense se interessante kultuur.

INTROSPEKSIE. Die Shanti-stoepa is bo-op ’n heuwel gebou en kyk uit oor die dorpie Leh in die Himalajas. ’n Stoepa beteken “hoop” en is ’n struktuur wat Boeddhiste bou om aandenkings soos die as van gestorwenes te bêre. Dis gewoonlik ook ’n plek vir meditasie.

Was die geluk aan julle kant? Ons het agt keer luiperds gesien, maar sewe keer was hulle te ver om af te neem. Die voorlaaste aand het ons in die kamp gesit toe een van die sjerpas kom sê hulle het ’n karkas gekry en ons moet die volgende dag soontoe gaan. Ons is toe vroegoggend op. Die ander ouens was ’n bietjie jonger en fikser as ek; dus was hulle voor my daar... maar ek hét daar aangekom. Toe kry ons hom! Ons het hom sommer mooi gekry; hy was seker so 80 m van ons af. Sneeuluiperds is nie aggressief nie, maar jy bly liewers na aan mekaar – die senuwees knaag. Daar was darem ’n valleitjie tussen ons en hom.

Dit was fantasties om hom só na aan ons te sien. Veral omdat ons aangeneem het ons gaan glad nie sneeuluiperds sien nie. Baie van die sjerpas het kom kyk, want dit lyk my hulle sien ook nie gereeld ’n luiperd van so naby nie. Elke nou en dan het een vir ons ’n geheuekaart gebring sodat ons vir hulle ’n paar foto’s kon neem. Daardie aand het ons nog tot laat om ’n bottel whisky ons geluk gevier.

Hoe kom ’n mens daar? Hemis is net ’n entjie buite die dorpie Leh. Dis vreesaanjaend om daar te kom, want Leh het net ’n militêre lughawe en jy moet verby militêre sekerheid gaan – hulle het my satellietfoon afgevat. As jy invlieg, duck en dive die vliegtuig tussen die bergpieke deur. Dan tjoep, sit hulle hom neer. Daar is ’n 100 m-hoogteverskil tussen die een kant van die aanloopbaan en die ander – dís hoe skuins dit is. En dis onhebbelik koud wanneer jy uitklim. Dit is soos om in ’n chiller in te klim – nóg kouer as ’n vrieskas.

En die hoogte bo seespieël? Ons het drie dae in Leh gebly om te akklimatiseer. Jy moenie probeerom sommer op die eerste dag by die stel trappe met jou tasse op te sukkel nie: Jy moet halfpad rus omdat die lug so dun is.

ONS HET DIT GEMAAK! (van links) Frits Hoogendijk, Fanus Weldhagen, Ben Cranke en Wim van den Heever het twee en ’n half uur lank die ysige Gangesrivier getrotseer met net 60% suurstof beskikbaar.

Hou die toerusting in die koue? Van die kameras se outofokus het begin vries en die sluiters het moeilikheid gegee – ’n mens moet maar ekstra saamdra. Soms dink jy nie en doen iets soos om op jou lens  te blaas. ’n Yslagie vorm, maar jy kan dit nie afkrap en die lens beskadig nie. Dan moet jy daardie aand met hom in jou slaapsak slaap sodat hy kan ontdooi. As jy in die aand drinkwater wil saamneem tent toe, vat jy kookwater in ’n warmwaterfles saam.

Hoe het jy begin foto’s neem? Ek het al op skool begin foto’s neem. Ek was nie goed genoeg om die eerste rugbyspan te haal nie; as ek dus saam met die manne in die bus wou klim, moes ek die foto’s neem. Ek het aptekerswese gestudeer, maar langs die pad besef ek en die proefbuis loop nie saam nie. Toe besluit ek om ’n eierboer te word, soos my pa.

Wat is volgende op jou wenslys? Daar is nog soveel om af te neem: tiere, jaguars, die sogenaamde clouded leopard van Suidoos-Asië. Daar is altyd nog goed om af te neem en nog plekke om heen te gaan. Dis in jou bloed. Ek dink dis soos kokaïen as jy daai woer van die sluiter hoor.

STILTETYD. Bidvlaggies al langs die Shanti-stoepa wat oor Leh uitkyk.

Sneeuluiperdfeite

  • Hulle is gemiddeld 60 cm hoog, tot 130 cm lank (van kop tot net voor die stert) en weeg tot 55 kg – omtrent twee hempgroottes kleiner as die plaaslike luiperd. 
  • Hulle kenmerkende lang stert (80-100 cm) help met balans en word dikwels ingespan as ’n “kombers” om sensitiewe liggaamsdele teen die koue te beskerm.
  • Hulle kan tot 10 m ver spring om hulle prooi te vang. 
  • Dié diere se pote is breed, om beter in sneeu te stap.
  • Anders as die meeste groot katte is hulle oë grys of groen.
  • Hulle hou hoofsaaklik in die berge van Sentraal-Asië, op ’n hoogte van 3 500-6 500 m.
  • Na raming is minder as 7 000 sneeuluiperds in die natuur oor, maar omdat hulle so erg sku is, is daar lanklaas ’n akkurate opname gemaak.
  • Na raming het net 1 500 toeriste die ontwykende sneeuluiperd al in sy natuurlike habitat gesien.

Besoek Fanus Weldhagen se webtuiste hier

YSIG. Die bolope van die Gangesrivier op pad na die Hemis-nasionale park.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #110 (Desember 2013) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook