Jock 101 mag dalk soos ’n kursus klink, maar dit is die eerste van meer as 50 koördinate wat op my GPS gelaai is. 

Dit is halfvier op ’n Saterdagoggend in Februarie. Ek en Marius Bakkes, medestigter van Mpumalanga Erfenis en ’n ervare mediaman by die Laevelder-koerant, stop in sy Land Rover by Jock 101, die Crossings-winkelsentrum in Nelspruit. Drie ander voertuie flits hulle kopligte in die donker. Ons is gereed om te vertrek na Jock 102, die SuperSpar in Lydenburg, waar die res van die konvooi wag. Oor die volgende drie dae volg ek saam met lede van Mpumalanga Erfenis – basies ’n groep geskiedenis-nerds – die Ou Wapadroete van meer as 300 km tussen Lydenburg en Delagoabaai (vandag se Maputo)...

Die parkeerterrein is besig; hier is ’n tamaai konvooi van 35 voertuie en sowat 90 mense. Ek skud blad met uiteenlopende deelnemers: ’n dokter van Carolina, ’n sakeman van Witrivier, die voorsitter van die plaaslike broodboomklub op Nelspruit...

Iemand rol ’n stokou kaart op ’n bakkieenjinkap oop. Die Wapadroete was al in 1844 deel van die Voortrekkerleier Andries Potgieter se verkenningstogte. Maar dit was veral tussen 1883 en 1892 van groot belang vir die transportyers van ouds. Hulle het goedere van die hawe by Delagoabaai af na plekke soos Pelgrimsrus, Mac Mac en Graskop in die ou Oos-Transvaalse goudveld vervoer.

Dit was in die dae voor treine. Met platboomwaens en spanne osse het dié dapper transportryers letterlik diep spore in dié geweste getrap. Wat ons binne ’n naweek uit die gerief van bakkies en sportnutsvoertuie gaan ervaar, het vir die transportryers minstens twee weke geduur. En ons hoef nie vir tsetsevlieë te koes, brood in ’n miershoop te bak en saans vure te maak om die leeus en ander roofdiere weg te hou nie.

SKETS EDMUND CALDWELL ( KOPIEREG: PERCY FITZPATRICK-GEDENKTRUST)
Kaart
Kaart

Ons eie hondepionier

Die bekendste transportryer uit hierdie era was sekerlik Percy Fitzpatrick (1862-1931). Hy is gebore in King William’s Town in die Oos-Kaap en het in 1884 sy werk as ’n klerk in Standard Bank in Kaapstad vir die goudveld verruil. Fitzpatrick sou later jare boeke soos The Outspan en die klassieke Jock of the Bushveld skryf, oor die avonture langs dié einste Wapadroete saam met sy geliefde hond.

Ons wil by van die punte sto p waar sleutelgebeure in die Jock-boek glo afgespeel het, soos waar Jock slaags geraak het met ’n bobbejaan en ’n krokodil, sy geboorteplek  naby Skipberg in die wildtuin en uiteindelik waar ons hoop om sy graf te vind by Pessene, ongeveer 30 km buite Maputo.

Jock of the Bushveld is in 1907 gepubliseer en was sedertdien nog nooit uit druk nie. Dit het wêreldwyd meer as ’n miljoen eksemplare verkoop en is in meer as ’n dosyn tale vertaal. Die Amerikaanse oudpresident Theodore Roosevelt het dit beskyf as “the best book about a dog ever written”. Ek het self in die tagtigerjare grootgeword met Jock se storie – my ouma het vir my uit die Afrikaanse kinderboek voorgelees.

Hoewel my eie asosiale spanjoel, Guido, geen Jock was nie, het dié Staffordshirebulterriër se Bosveldavonture my verbeelding heeltemal aangegryp.

Die filmweergawe van Jock of the Bushveld (1986) met Jonathan Rands in die hoofrol was ook een van die eerste grootmensflieks wat ek gekyk het. Die fliek het ook  Johnny Clegg se treffer “Great Heart” by miljoene mense tuisgebring.

Jock se spore loop wyd: Die boek is geslagte lank in skole voorgeskryf. Jy sal voor Barberton se stadsaal ’n mooi standbeeld van Jock aantref. ’n Luukse konsessie in die Kruger, Jock Safari Lodge, dra sy naam. Carike Keuzenkamp sing in ’n liedjie “Jock van die Bosveld / ’n hondepionier / en almal kan vertel / hy was ’n leeu se tier.”

En in 2011 het die sanger Bryan Adams die stemwerk gedoen vir die 3D-animasieprent Jock – The Hero Dog, wat plaaslik vervaardig is.

Die parkeerterrein waar ons roete begin, was juis destyds die Markplein op Lydenburg waar Percy Fitzpatrick – 22 jaar oud en platsak – met ’n toegif van sy moeder in 1885 sy eerste wa gekoop het.

Ons volg die R36 noord in die rigting van Ohrigstad. Marius en Gerrit Haarhoff, ons toerleier en ’n dokter van Nelspruit, het die afgelope maande op verskeie verkenningstogte gegaan om oorblyfsels van handelsposte, rivierkruisings en uitspanpekke uit te snuffel.

Hulle het ook ’n opname gemaak van die oorblywende Jock-roetewysers wat al sedert die vyftigerjare ’n instelling langs die Wapadroete in die Laeveld is. Ongelukkig is die meeste van dié wysers, wat ’n drawwende Jock en die woorde “Jock Trek 1885” uitbeeld, oor die jare gesteel of vernietig.

’n Snuffelgids na gister

Ná 11 km trek ons af by die Spekboomrivier en gaan kyk na die ou ZAR-brug oos van die R36 wat in 1897 gebou is. Die transportryers moes vroeër jare 300 m stroomaf die waens deur die drif trek.

Ons volgende stop is by Kruger Post, 12 km verder. Die veldkornet Seedling, wat Fitzpatrick in sy boek “a bully and a coward” noem, het hier ’n winkel gehad.

Langs die winkel, in die tuin van ’n moderne plaashuis, staan een van die roetewysers op die plek waar Jock en Seedling se bobbejaan slaags geraak het. Seedling was ’n bullebak en het dit geniet om toe te kyk hoe sy bobbejaan honde verskeur. Hy het ook daardie dag Fitzpatrick se werker, Jim Makokela, met ’n sambok aangerand. Maar hy het nie rekening gehou met Jock se veggees nie, en kort voor lank was dit klaarpraat met Kees.

“Fitzpatrick se dogter Cecily Niven was sy enigste oorlewende kind en het baie moeite gedoen om die erfenis van haar pa te bewaar,” verduidelik Marius oor waar dié roetewysers vandaan kom.

“In 1951 het sy saam met tant Sus Davel van Machadodorp en met die ondersteuning van die ou Transvaalse paaiedepartement enkele bakens met bronsroetewysers aangebring, spesifiek daar waar nuwe paaie met die ou Wapad gekruis het.”

In 1983 was Brian Simmons van die Lowveld Diggers and Transport Riders Society aan die stuur van nóg ’n poging om die roete na te spoor. Meer roetewysers, eers in brons en later keramiek, is opgerig. Ook op plekke wat spesifiek met die Jock-boek se gebeure te doen het.

Op ou foto’s sien ’n mens ’n reeds bejaarde Cecily Niven (sy’s in 1992 in die ouderdom van 93 oorlede) by roetewyserseremonies.

Ons stop by die afdraai waar die R533 oos mik na Pelgrimsrus. Hier was die destydse uitspanplek waar die leë waens onderweg na Delagoabaai vol lemoene van nabygeleë plase gelaai is.

Fitzpatrick, wat later jare die sitrusbedryf in die Sondagsriviervallei in die Oos-Kaap sou vestig, het die internasionale handelsmerk Outspan gedoop om hierdie plek te herdenk.

Hier vind ons sowaar ’n weggesteekte roetemerker tussen die doringbome wat Marius gedink het reeds tot niet was.

Die landskap raak nou pure Laeveld: Lowergroen heuwels oral waar jy kyk en indrukwekkende sandsteenkranse. Bo-op die Rowerspas – naby die plek waar Suid-Afrika se laaste poskoetsrooftog op 7 Junie 1912 plaasgevind het – het een van die roetemerkers helaas ook voete gekry.

Ons stop om 9 vm. op Pelgrimsrus waar waar baie tonele uit die destydse Jock-fliek geskiet is. Ons vind nóg ’n vergete roetewyser in die woonwapark op Pelgrimsrus en mik dan vir 24 km suidoos na ’n kol naby die Mac Macwaterval waar destyds ’n myndorpie was. Dis langs die ou Burgerspas, ’n grondpad met puik uitsigte al langs die oostelike platorand. “Nou volg ons weer die wapad volledig, so al op die kim,” sê Marius opgewonde.

Ons neem ’n groepfoto by die Transportryersmonument. By die nabygeleë Mac Mac Forest Retreat is hier ook ’n Jock-standbeeld van Bobby Lawrence.

Om ’n pad snuif te trap

Ons ry suid met die R532 na Sabie en sien een van die oorspronklike bronsroetemerkers langs die ou St. Peters Anglikaanse Kerk. Buite Sabie, langs die R537 suidoos in Witrivier se rigting, vind ek en Marius diep in die lang gras nóg ’n vergete roetemerker oorkant die begraafplaas by Pholapark. .

Spitzkopdrift volg en later ry ons op ’n bosboupad af in die vallei tot by die ou drif by Tumbling Waters waar ons middagete onder die dennebome geniet. Hier is van die ossewawiele se merke duidelik sigbaar in die kwartsietrots. Ek probeer my ’n ossewa hier indink, die geklap van ’n sweep en ’n parate staffie wat langsaan draf.

Dis verlate rondom ons. “Dink net hoe dit moes wees toe daar 300 waens per dag op die handelsroete was,” sê Marius. “Die pad was snuif getrap, soos die ou Boere gesê het. Dit was net een groot stofwolk soos die waens hier beweeg het.”

Later, op die plaas Peebles, met ’n uitsig oor Mthimbakop wat deel was van die destydse tuisland Gazankulu, neem ek ’n foto van die watertrog waar Jock glo sy dors geles het.

In Fitzpatrick se tyd het Peebles aan Bill Sanderson behoort. Hier het hy gesien hoe Sanderson ’n leeuvel uithang. Dit het hom aangespoor om self ’n bedrewe jagter te raak.

Sowat 2 km van die opstal op Peebles af besoek ons die Three Tree Camp. Hier het Fitzpatrick jare later in 1906 – nadat hy Jock geskryf het – Edmond Caldwell, Engeland se mees beroemde dieretekenaar, op ’n reis met muilwaens getrakteer.

Caldwell het hier navorsing gedoen vir die Jock-boek se illustrasies. Cecily Niven was toe sewe jaar oud en het glo vol bewondering gepraat van die “skugtere en bysiende” Caldwell.

Ná sowat 200 km vandat ons op Lydenburg begin het, stop ons om 5.30 nm. by die wildtuin se Numbihek buite Hazyview. Hier is nog een van die oorspronklike bronsroetewysers uit die vyftigerjare.

Die aand braai ons by die lapa in die Pretoriuskop-ruskamp.

Ons kyk nie bokke nie Fitzpatrick sou nie soggens ’n Wimpy-koffie langs die Wapadroete kon kry nie, maar ek is dankbaar vir een Sondagoggend by Pretoriuskop. Hier is wel ook ’n ou transportwa onder ’n lapa om die transportyers van ouds te gedenk.

Vandag volg ons steeds die ou Wapad, dié keer in die wildtuin. Ons gaan al langs die Voortrekkerpad suidoos van Pretoriuskop ry, verby die Afsaal-piekniekplek en mik dan via die S114 en S119 vir middagete by die Krokodilbrughek, sowat 120 km verder.

In hierdie deel van die wildtuin is heelwat roetewysers. Die Vereniging van Ereveldwagters het die Jock-roetewysers met duursame plastiek vervang en verskeie nuwes by driwwe en ander belangepunte opgerig.

’n Enorme olifantbul hou ons egter vroegoggend op. Hy stap so half aspris vir lank in die middel van die pad. “Kyk nou net hierdie olifant, hy draai nie af nie,” sê Marius ongeduldig. “Weet hy ons is op ’n geskiedenistoer? Ons is nie hier om bokke te kyk nie!”

Sowat 10 km langs die Voortrekkerpad trek ons af by die voet van die Skipberg, waar Jock glo in Mei 1885 gebore is. Jock was die kleinste van sy ma, Jess, se werpsel (in die boek word hy ’n runt genoem), maar Fitzpatrick het van die begin af in hom geglo.

By Jock se geboorteplek is ook ’n graf van ’n stomme jong Duitser, Adolf Soltké. Fitzpatrick skryf in The Outspan hoe hulle op ’n biddende Soltké afgekom het wat per ongeluk sy eie been met ’n dubbelloophaelgeweer afgeskiet het. Hy het ongelukkig gesterf.

Ons vind ook roetewysers by onder meer ’n spesifieke hardekoolboom waar transportryers teiken geskiet het, Fihla Manzi (’n bekende  uitspanning) en Nellmapiusdrif, waar die ou transportpad die Krokodilrivier oorgesteek het.

Dit was hier by Nellmapiusdrif waar Fitzpatrick, Jock en Jim Makolela met ’n krokodil baklei het. Hoe Jock hierdie insident oorleef het, weet nugter alleen. Só skryf Fitzpatrick in Jock: “Had the crocodile risen in front of Jock that would have been the end – one snap would have done it; but it passed clear underneath, and, coming up just beyond him, the great lashing tail sent the dog up with the column of water a couple of feet in the air.”

Tydens middagete by Krokodilbrug gesels ek met Joep Stevens van Sanparke. “Die transportryers was die onbesonge helde; hulle het Afrika mak gemaak,” sê hy. “Wat kan ons maak dat hierdie stories nie doodgaan of wegval nie en dit lewendig maak vir die publiek? Hierdie roete bied beslis so ’n geleentheid.”

Ons laaste aftrekplek vir die dag is by Furley se Drif, 25 km suid van Krokodilbrug. Op die brug van die Komatirivier staan ons en kyk in die rigting van die Lebomboberg. Die transportryers het hiervandaan by Matibiskom die berg oorgesteek na vandag se Mosambiek en tot in Delagoabaai.

Helaas volg ons nie hulle presiese roete deur Matibiskom nie, want tans is dit ’n gevaarlike deurgang vir kapers met gesteelde voertuie. Dié wêreld bly maar ’n soort “Wilde Weste”...

Iets om lief te hê 

Op die derde oggend glip ons vinnig deur die Mosambiekse grenspos by Komatipoort. Ná 60 km op die EN4-hoofweg oos na Maputo, draai ons af by ’n gehuggie en volg ons laaste GPS-punt tot by ’n oop stuk veld met drie groot bome.

Cecily Nevin was in 1948 reeds hier by Pessene saam met Eric Chapman, ’n administrateur, en ene mnr. Costa. Hier is ’n foto waar die twee mans met grawe langs haar staan by ’n vyeboom, gereed om te begin spit.

Cecily het hulle egter versoek om dit nie te doen nie. Sy skryf in die boek Jock & Fitz: “... it would have been a pity to disturb the dear old dog’s bones – let him lie.”

Jock se graf moes binne ’n 200 m-radius gewees het van Tom Barnard se winkel. Tom het per ongeluk een nag vir Jock doodgeskiet toe hy hom verwar het met ’n rondloperhond wat in die hoenderhok doenig was.

Die hond is glo begrawe digby veldkornet Seedling se graf, wat ook hier gesterf het. Die wrede Seedling het baie mense kwaad gemaak. Nadat hy op die vlug geslaan het, het hy hier rond van sy perd afgeval.

Ons kan nie presies sê waar die graf lê nie, maar dis genoeg om tot hier te kon reis. Só kom ons Jock-roete tot ’n einde.

Of die storie van Jock alles die waarheid is en of dit ’n samestelling is van verskeie honde en ervarings op die trekpad, maak nie regtig saak nie. Sir Percy Fitzpatrick sou later roem en sukses behaal as skrywer, entrepreneur en politikus. Hy was ’n bekende openbare figuur en is in 1902 tot ridder geslaan. Sy biografie heet The First South African – in die dae wat mense hulleself óf Boer óf Brit genoem het, was Fitzpatrick sy tyd vooruit deur te sê: “I’m a South African.”

In ’n onderhoud met The Sunday Times op 10 Oktober 1971 – byna ’n halfeeu ná sy dood – onthou Cecily hom só: “He was what’s called in these days a spell-binder. They said of him he could charm the birds out of trees.” Sy kinders het hom Fitzie genoem. Maar Fitzpatrick het ook groot hartseer geken. Hy moes sy vrou en drie van sy vier kinders oorleef.

Sy tyd in die Bosveld het ’n groot invloed op sy karakter gehad: “... to lay his cheek against the muzzle of his comrade dog, and in the trackless miles of wilderness feel he has a friend. Something to hold on to; something to protect.”


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #141 (Julie 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.