Aanstap rooies

Die bastergemsbok is verreweg my gunsteling-wilde dier. Wanneer dit droog is, gee ons saans vir hulle voer. Ons het dié dag vasgedraai en die voer eers ’n bietjie later as gewoonlik uitgesit. Dis toe dat die bok naderstap en ek ’n mooi foto kon neem. Ná dese is dit my gunsteling-sonsondergangfoto. Die stof wat die bok maak soos hy aangestap kom, maak die foto.”

Zelda het die toneel self ervaar, maar danksy haar foto kan ons ons net soveel inleef. Die foto werk om verskeie redes. Jy weet presies waarna om te kyk, want die bastergemsbok is mooi in die middel. Soos ons al voorheen gesê het, is ’n fokuspunt in die middel van die foto gewoonlik nie wenslik nie.

Maar Zelda omseil dié “reël” op ’n subtiele manier: Al is die bok in die middel, stap hy kant toe. Dit verleen dus aan die foto ’n soort energie en jy kan voor jou geestesoog sien hoe die bok verder stap. Dieselfde geld vir die kaatsvlek (of flare): Gewoonlik is dit steurend, maar in dié geval sorg dit eerder vir ’n bykomende dimensie omdat die bok in die rigting daarvan stap. Dit is boonop groen – ’n kleur wat nêrens elders op die foto te sien is nie.

Die horison loop nie reguit deur die foto nie, maar maak ’n duik waar die bok loop. Dit gee nóg meer gewig aan die fokuspunt – en die een boom regs balanseer mooi met die twee kleineres links.

As ’n mens mooi kyk, is daar ’n tweede bok op die foto. Weerskante van die middelste een loop twee reguit skadustrepe. Dit is die skaduwee van die ander een se bene. Dié bok is net-net sigbaar tussen die horings van die voorste een, maar omdat dit in die verte en in die stof is, het dit ’n ligter skakering en trek nie jou aandag af van die fokuspunt nie. Dit is ’n mooi oomblik waarna ’n mens weer en weer wil kyk.

Mooi van lelikheid

Ek het ’n groot liefde vir naaldekokers en kyk hulle nooit mis nie. Wanneer ek een buite sien, weet ons ons kry óf daardie aand óf die volgende dag reën. Hulle stel nooit teleur nie, al is dit ook net ’n paar druppels wat hulle stuur. Hulle is baie nuuskierig en draai hulle koppie na my toe as ek hulle afneem. Dit voel asof hulle daarvan hou om vir ’n foto te poseer. Die oggend toe ek dié een afneem, was dit bewolk en dit het later begin reën. Hulle is dus my gelukbringers. Ek hou van die detail van sy klein lyfie wat ’n mens mooi op die foto kan sien.”

Uiteraard is die naaldekoker se oë die fokuspunt, maar dis baie opvallend waar Zelda die diertjie se lyf en vlerke met die raampie afsny. Gewoonlik kan so iets steurend wees, want dit voel of ’n deel van die foto wat daar is, nie sigbaar is nie. Maar in dié geval raak die foto hier uit fokus as gevolg van die vlak fokusdiepte (die lensopening was f5.6).

Hier is dus min tot geen detail nie en dit pla ’n mens nie. Die komposisielyne van die naaldekoker se lyf en vlerke loop diagonaal deur die foto soos ’n groot kruis, en heel subtiel word die patroon in die agtergrond herhaal. Die groen takkie of blaar agtertoe het eenderse lyne en balanseer netjies as negatiewe spasie teenoor die detail van die naaldekoker.

Driekuns

Ek hou van silhoeëtfoto’s. Hier sit my twee kinders, C.J. en Zelmeri, weerskante van hulle niggie. Ons bly tussen twee duine en die kinders is lief om in die duine te speel. Soos alle ander aande het ons duin toe gestap sodat my twee dit vir hulle niggie kan wys en dan sommer ook ’n bietjie speel. Hulle was op en af oor die duin – en toe hulle moeg raak, gaan sit en gesels hulle om asem te skep. Dit sou ’n mooi foto maak en ek het besluit om hulle skelmpies af te neem. Kinders is besig, maar soos ’n mens op die foto sien, kan hulle ook stil raak en die mooi van die natuur geniet.”

Dis ’n goeie voorbeeld van ’n silhoeëtfoto – soveel so dat dit lyk of die drie kinders uit een swart blok gekerf is. Maar tog sien ’n mens genoeg detail op elkeen van die kinders, wat jou ook meer van hulle vertel. Die regop grashalmpies voor hulle gee jou meer inligting oor hulle direkte omgewing, maar kyk hoeveel detail is daar in die wolke: omtrent niks nie, behalwe die kleur. ’n Mens sien wel genoeg van die wolke sodat jou onderbewussyn die prentjie voltooi.

Zelda het ook ’n vlak fokusdiepte (f5.6) gebruik en daarom is die wolke nie in fokus nie. Dit is slim, want as die detail van die wolke sigbaar was, sou dit jou aandag van die silhoeëtgedeelte afgetrek het.

Stuur jou foto vir ons en ons plaas dit dalk hier.
Ons soek nie die tradisionele “kompetisiewenners” nie; net doodgewone foto’s wat vir jou mooi is. Van ’n foto wat jy dadelik as jou nuwe tuisbladfoto op Facebook gebruik regdeur tot kinders wat in die swembad plas. Of dit met ’n gróót kamera of jou selfoon geneem is, dit maak nie saak nie. Zelda Herridge wen ’n Ry & Sleep-kamerasak ter waarde van R520 met haar foto – veels geluk! Stuur jou foto’s na  leon.botha@media24.com