Die afgelope 15 jaar al gaan kuier Grové en sy vrou, Marguerite, minstens twee of drie keer per jaar in die Kgalagadi om alles te ervaar wat dié besonderse plek bied.

Op dié Kalahari-reise bly hulle altyd in Nossob, selfs al neem hulle dikwels vroegoggend die verkeerde besluit wanneer hulle moet kies of hulle noord of suid moet ry. Grové sê dit het al té gereeld gebeur dat die katte in die noorde is wanneer hulle suid ry... en andersom. Gevolglik besluit hulle om vanjaar die Nossob-4x4-ekoroete by hulle reisplan te voeg, want op dié roete kies jy nie ’n rigting om in te slaan nie.

DIE KALAHARI IN AL SY PRAG. Grové-hulle het op hulle laaste besoek aan die Kgalagadi weer eens besef hoeveel hier is om te sien en beleef. ’n Mens se eerste instink is om te dink jy móét leeus sien, maar as jy (met die hulp van ’n bekwame gids) weet waar om te soek vir ander interessanthede, is daar nie ’n vervelige oomblik op jou reis nie.

Hulle bespreek 11 maande vóór die tyd, toe die besprekings geopen het, en die res van hulle verblyf in die park is rondom die drie nagte op die roete beplan en bespreek. Die Nossob-4x4-ekoroete is ’n begeleide toer wat in elke ongelyke maand op ’n tweespoorpad tussen die duine van noord na suid (Nossob tot by Twee Rivieren) gery word. In gelyke maande word die tog in die teenoorgestelde rigting gepak.

Die goeie reën wat die park in Februarie gekry het, sorg dat die gebruiklike rooi sandduine verander het in ’n groen lushof vir die oog. Grové vertel… 

Teen die middag sien ons hoe die wolke voor ons in die suidweste opsteek en plek-plek in die verte goeie reënbuie vorm.

Ons jare lange vriende Peet en Drika Coetzee stem in om saam met ons te gaan, en op ’n Maandagoggend in die middel van Maart vertrek ons twee voertuie én ons bekwame gids, Hanel Franken, uit Nossob in die rigting van Polentswa.

Net voor die afdraai oos op die 4x4-roete naby Polentswa kry ons twee leeus langs die pad agter ’n boom en ons neem gou ’n klompie foto’s. Ons verwag nie juis om leeus op die roete te sien nie en maak deeglik gebruik van hierdie geleentheid. Weliswaar was dit toe ook so, maar wat ons oor die volgende vier dae sou ervaar, het meer as genoeg vergoed vir die gebrek aan leeus en ander katte.

Die pad is só begroei met gras dat ons die volgende afdraai in ’n suidelike rigting misry. Ná ongeveer 5 km moet ons omdraai om die afdraai te gaan soek. Uiteindelik kry ons dit tussen die lang grasse waar jy net-net ’n smal tweespoorpaadjie kan uitmaak. Dit is hier waar die roete eintlik begin.

Hanel hou gereeld stil en laat ons uitklim sodat sy ons meer kan vertel oor die omgewing en die plantegroei langs die pad. Sy wys vir ons die swarthaak wat jou toelaat om vorentoe te gaan, maar die weerhakies op die dorings keer dat jy kan terugtrek op dieselfde pad. Glo my, dis iets wat jy eerder wil onthou as ervaar.

Sy vertel en wys ook hoe die San-mense die drie punte van die driedoringbos as ’n eierklitser gebruik het.

Die plante groei welig langs die paaie en veroorsaak krapmerke op ’n mens se voertuig waarmee jy later kan spog. Oral langs die pad hoor ons hoe korhane uit die lug skree om ons aandag van hulle blyplekke af te trek, en ons sien ook talle steenbokkies wat verskrik weghardloop as hulle die voertuie gewaar.

Teen die middag sien ons hoe die wolke voor ons in die suidweste opsteek en plek-plek in die verte goeie reënbuie vorm. Teen halfdrie ry ons ook in die reën in. Wat ’n aangename ervaring is dit nie om op ’n snikhete dag in die Kalahari skielik in ’n bui reën in te ry nie!

Ons geniet middagete by ’n uitkykpunt met ’n pragtige uitsig oor die Nossobvallei in die noordooste en die oop vlaktes in Mata Mata se rigting in die suidweste. Ons is sowat 14 km van ons eerste kampplek af en die wêreld om ons is oortrek met blomme – geel, wit, pers en rooi – terwyl die groot kalaharicrinumlelie ook oral te sien is.

Ons verkyk ons aan die ongewone omgewing van die Kalahari en kom teen 17:00 by ons eerste kampplek, Swartbas, aan waar ons vinnig vóór donker kamp opslaan – ongeveer 92 km van ons vertrekpunt in Nossob af.

Elke kampplek het ’n puttoilet en storthokkie met ’n sak waarin jy water kan gooi. Ná ’n heerlike braai onder die sterre sien ons die wolke is weer besig om saam te pak, en teen 01:00 word ons wakker met hewige donderweer en ’n goeie reënbui.

Op dag twee slaan ons vroegoggend kamp op. Ná koffie en beskuit vertrek ons om 09:00 na die volgende kampplek, Rosyntjiebos. Dit is 48 km van hier af en verg sowat 6 uur se ry. Oral langs die pad sien ons gemsbokke in die duine, maar ook hartbeeste en steenbokkies wat vinnig wegskarrel – net om ’n paar meter verder weer te gaan staan en kyk na die besoekers wat hulle gebied binnegekom het.

Hanel wys die trassiebos vir ons en verduidelik die herkoms van die Engelse naam, candlethorn – die peule van die struik staan regop soos kerse. Die bos is ook deur die San gebruik om hulle teen wilde diere te beskerm. Hulle het in die middel van die bos gaan skuil en dan die ingang na die skuilplek toegemaak. Leeus lê ook graag onder die bos. Tog is die tekens van die onlangse groot droogte duidelik sigbaar – op verskeie plekke in die veld lê die karkasse en skedels van gemsbokke en elande.

Ná 18 km hou ons by Eileen-se-pan stil vir middagete. Hier waarsku Hanel ons oor Big Bertha – ’n groot en steil duin wat ons sal moet aandurf op pad na Rosyntjiebos. Sowat 17 km voor ons kampplek kom ons toe teen 14:00 by Big Bertha uit, maar ná herhaalde pogings moes ons die knie voor haar buig en die ompad (veel korter en makliker) stert tussen die bene na die kampplek volg.

Ons verweer is dat ander toeriste vóór ons die plek só omgedolwe en beskadig het dat die oorkruis gate en los sand in die warm son dit nie moontlik gemaak het om daar uit te kom nie. Ons wou nie ons voertuie beskadig nie en het toe maar die aftog geblaas.

Ons kom teen 16:30 by Rosyntjiebos uit en slaan kamp op onder die blou lug met die son wat in die weste besig is om in ’n wolklose hemel sy pad na onder te brand. Terwyl ons in die skemer om die vuur kuier, merk ons ’n wolkbank is besig om in die suidooste op te bou, maar steur ons nie daaraan nie, want dit lyk nie té dreigend nie. Teen 21:00, toe ons klaar geëet het en reg is om in te kruip, sien ons die sterre is ook nie meer so duidelik sigbaar nie.

NAG VAN STORMS. Die toerlede is eers deur ’n donderstorm en toe deur stormsterk winde getref, en dit het plan­maak gekos om vir almal ’n droë slaapplek vir die res van die nag te bewerkstellig. Die volgende oggend was die skade duidelik.

En toe, kort vóór middernag, bars ’n donderstorm los wat ek nog selde ervaar het. Dis net blitse en donderslae, iets wat vele Kapenaars sal laat dink die oordeelsdag het aangebreek.

Ná omtrent ’n uur se swaar reën begin dit bedaar, maar dan hoor ons in die verte ’n geluid wat ons nie ken nie. Tien minute later word ons getref deur ’n stormwind soos ek nog nooit beleef het nie. Met ’n knal hoor ek hoe een van my tentpale die gees gee en hoe die hele tent inmekaartuimel. Die wind is só sterk ek kry nie die ritssluiter oop om van buite af te kyk wat ek kan doen nie, en ek en Marguerite moet maar probeer om dit effens gelig te kry.

Intussen kan Hanel nie uit haar daktent kom nie, terwyl Peet se grondtent ook redelik skade opgedoen het. Hy kon darem uitkom om ons te kom help sodat ons uit ons plat tent kon kom om in die wind en weer haastig plek te maak agter onder die bakkie se kappie. Nadat ons die plat tent so vas as moontlik teen die grond vasgemaak het, kruip ons in vir ’n ongemaklike nagrus van ’n paar uur tot sonop.

Peet en Drika kon darem ook in ’n deel van hulle tent verder tot rus kom nadat die wind bedaar het. Dit raak só stil niemand sou kon glo ’n storm het skaars ’n uur of wat gelede ons kamp verwoes nie. Vóór sonop kruip ons uit om te kyk wat die skade is en, waar moontlik, met herstelwerk kan begin. Ons kry albei tente darem só reggemaak dat ons die laaste aand weer in hulle kan slaap.

Ons kom wel effens later weg as wat die plan was. Ons durf die derde been van die roete aan op pad na die laaste kampplek, Witgat, sowat 61 km verder. Ná 8,5 km steek ons die boonste duinepad oor wat by Dikbaardskolk aansluit, en geniet middagete by Kameelboom, ’n ou kampplek.

Dis net blitse en donderslae, iets wat vele Kapenaars sal laat dink die oordeelsdag het aangebreek.

Ons vorder maar stadig terwyl ons deur die wisselende landskap ry van lang grasvelde en tipiese Kalahari-duine. Dit voel amper asof ons aan die Dakar-tydren deelneem. Sowat 5 km voor ons laaste kampplek hou ons stil en klim teen ’n duin uit om ’n mooi uitsig te kry oor die onreëlmatige duine waaroor ons pas gery het. Dit is ’n gewilde besienswaardigheid wat ook op Tracks4Africa aangedui word.

Ons kom teen 16:30 by Witgat aan. Dit is ’n pragtige kampplek tussen die duine met ’n mooi uitsig oor ’n watergat sowat 200 m van die kampplek af. Vir oulaas skop ons nes en maak ’n groot kampvuur onder ’n wolklose hemel met skitterende sterre in die hemelruim.

’n Pragtige sonsopkoms begroet ons op die laaste dag van die roete met 49 km tot by die Nossob-Twee Rivieren-hoofpad en 91 km tot by Twee Rivieren.

Op pad hou ons by ’n reusewitgatboom stil waar Hanel ons vir oulaas teen die duin uitlei om na die Nossobvallei te kyk. Sy wys ons ook ’n “blister beetle” wat uit die geel dubbeltjieblombos vlieg, en verduidelik dié insek maak groot blase op ’n mens se vel as hy daarmee in aanraking kom – iets wat nie een van ons in dié stadium wil ervaar nie.

Die laaste deel van die roete vleg weer deur heuphoë grasveld en ons sien gemsbokke en blouwildebeeste waarvan omtrent net die koppe uitsteek. Ons kom op die middaguur by die hoofpad uit waar die roete amptelik eindig, sowat 42 km van Twee Rivieren af. Hier groet ons met die wete dat ons danksy Hanel baie meer weet van die Kalahari en sy plante en diere.

Dit was ’n ervaring wat geld nie kan koop nie. Met ons aankoms by Twee Rivieren hoor ons van Covid-19. Wat ’n kontras met dit wat ons die afgelope week ervaar het! Gelukkig is ons net betyds by die huis vóór die inperking. Ek glo egter dit sou beter gewees het om saam met Hanel by Witgat ingeperk te wees.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook

Grové wen ’n Camp Cover Bundu-sak ter waarde van R400. Dié veeldoelige sak is só ontwerp dat jy hom as ’n noodhulptas óf smuktas kan gebruik. Gaan kyk na Camp Cover se beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za.