Weg se avontuur op die Via Francigena word moontlik gemaak deur Hi-Tec, Trappers, Atlasware, Canon en Caminoways.com.

Stewels of tekkies? Die kort antwoord is dat daar nie ’n kort antwoord hierop is nie. Die pelgrims wat hieroor wonder, is meestal dié wat nie ervare stappers is nie. As jy al ’n paar honderd kilometer agter die blad het, sal jy weet of jy tekkies of stapstewels verkies.

Ek het my eerste Camino met stewige veldlooptekkies (“trail running shoes”) geloop, en dit het goed gegaan. Op die een seksie van die Camino het ek egter steil afdraand geloop en my bobeenspier beseer, wat my ’n week lank laat hinkepink het. Ek het daarna Hi-Tec se Altitude-stapstewels op bergpaadjies beproef en was tevrede dat dit my spesifieke probleem opgelos het.

Op my beplande pelgrimstog in Maart na Rome (die sogenaamde Via Francigena), loop ek wel minder kilometers as in Spanje (sowat 200 km teenoor die 320 km wat ek verlede jaar moes loop), maar ek loop deur die heuwelagtige Toskane.

Toe ek oor die derde oornagdorp oplees en dit min of meer beskryf word as “die hemel bo-op ’n moewiese bult”, het ek besluit ek gaan in die Hi-Tecs loop. Ná elke steil opdraand kom immers ’n baie steil afdraand. Maar op die ou end sal jy self moet besluit wat jy vir watter lang staptog verkies.

Hier is ’n lys van dinge wat jy in gedagte moet hou as jy jou skoene kies vir die Camino, of vir enige meerdaagse staptog.

Tekkies of stewels? Wat jy ook al koop, jy moet dit voor die tyd inloop. As jou skoene by die huis druk en blase veroorsaak, gaan dit nie wonderbaarlik beter raak op die Camino nie. Slaan betyds oor na Plan B.

Het jy nuwe skoene nodig? Ons almal het ’n oom wat dieselfde paar Hi-Tecs al 30 jaar dra, maar ’n stapskoen of tekkie se leeftyd is sowat 1000 km. (Die leerbostukke hou vir ewig, maar die skoen het tegnologie in sy sole wat skok absorbeer. Net soos die skokbrekers van jou motor vervang moet word, moet die skokbrekers in jou skoene vervang word.) Bereken dus: As jy 750 km op die Camino gaan loop, en voor die tyd 300 km geoefen het ... jip, koop maar nuwes voor jou volgende staptog. 

Watter tyd van die jaar loop jy? As jy baie reën en/of sneeu verwag, liewer stewels. Maar alle Camino-skoene moet waterdig wees. Dit reën heeljaar. Ek was ook verstom oor hoeveel stof jy teëkom. Stofdig is dus ’n bonus.

Hoeveel gewig dra jy? As jy ’n swaar sak op jou rug gaan dra, oorgewig is of vantevore met swak enkels gesukkel het, gaan jy bly wees oor ekstra ondersteuning by die enkels.

Waar stap jy? As jy die bergagtige dele uit St. Jean loop, of die seksie ná Astorga wat jou oor die berge neem, gaan jy dikker sole nodig hê as dié van gewone tekkies. Die klippe daar is vlymskerp. As jy net die laaste 100 km tot op Santiago de Compostela loop, kan jy met tekkies wegkom. Ek het ook mense met stewige stapsandale op dié stuk gesien, maar dit was almal óú stappers met klipharde voete. Ek sal sandale op die dorp dra, maar nie op die roete self nie.

Groter is beter: Jou stapskoene moet een nommer groter wees as jou gewone skoene. Ek dra ’n nommer 5-skoen op kantoor, en ek draf en stap in ’n nommer 6-skoen.

Só trek jy jou skoene aan:

• Smeer jou voete met Vaseline in voor jy jou sokkies aantrek. (Oefen ook so voor die tyd.)

• Moet jy sykouse onder jou sokkies dra? Ek het spesiale peperduur stapsokkies wat ’n ekstra sykouslaag by die voete het. Die etiket se “blister free guarantee” het my sonder gewetenswroeging die kredietkaart laat sleep. Ek het eers na die tyd die bedrag van euro na rand omgereken en besef ek sal reisversekering op die sokkies moet uitneem. As ek dié dubbellaagsokkies dra, trek ek nie nog sykouse ook aan nie. Maar as ek met gewone sportsokkies stap, dra ek wel enkelhoogte sykouse onder die sokkies. 

• Jou skoen moet ekstra ruimte by die toon bied, maar jou voet moenie in jou skoen rondskuif nie. Ek het hierdie raad vir veterknope op die Camino-forums raakgeloop. 

• Maak die veters lekker los.

• Bal jou tone in jou skoen.

• Hou die veters losserig, en maak ’n “pelgrimsknoop” (kyk die video) omtrent in die middel van jou voet. (Die idee is dat die skoen los moet sit by die tone, maar stewig om die res van die voet.) 

• Ryg nou die skoen tot bo.

• Skop die hak van die skoen op die grond sodat jou hak agter teen jou skoen sit.

• Maak nóg ’n pelgrimsknoop.

• Knoop nou jou veter twee keer vas.

Ek het hierdie eenvoudige video’tjie sommer op kantoor geneem met die Canon M100 – die kamera wat Canon vir my leen om in Italië te toets. 

Weg se avontuur op die Via Francigena word moontlik gemaak deur Hi-Tec, Trappers,Atlasware, Canon en Caminoways.com.