Foto's Liana Mocke



Die Weskus-fossielpark is naby genoeg aan die Weskuspad (R27), Langebaan, Velddrif en Vredenburg om hier stil te hou op pad Weskus toe.

Hoe kom ek daar? Wanneer jy uit Kaapstad noord ry op die Weskuspad, draai af by Langebaanweg. Dié afdraai is net anderkant die Engen-vulstasie op linkerhand. Ná 8 kilometer op Langebaanweg, draai jy links op die R45 en 3 kilometer verder is jy by die ingang na die park langs ’n mynhoop.  

’n Interessante én leersame aftrekplek


Argeoloë beweer die seevlak was miljoene jare gelede tussen 20 en 25 meter hoër as vandag, wat beteken die Bergrivier wat nou by Velddrif uitmond, het eers hier by die Langebaanweg uitgemond. (Dit sou die Bergrivier-kanomarathon feitlik ’n hele dag korter gemaak het.)

’n Sandbank het waarskynlik die riviermond beskerm teen groot branders en sodoende gekeer dat die karkasse van dooie diere in die see wegspoel. Mettertyd het hulle in fossiele verander.

Die fossiele is ontdek danksy ’n fosfaatmyn wat in 1943 in die omgewing opgerig is. Met die gegrawe, het mynwerkers fossiele en beendere van diere soos die kortnek-kameelperd ontdek.

Die park, wat nou deel is van die Iziko-museums van Kaapstad, is opgerig nadat die myn sy deure in 1993 gesluit het. Dit het op 22 September 1998 geopen en is nou ’n Wes-Kaapse provinsiale erfenisgebied.

Plaaslike en internasionale spanne grawe steeds fossiele hier uit en die park hou praatjies, inligtingsessies en werkswinkels. Loer op hulle Facebook-blad vir meer inligting.


Doendinge


Die besoekersentrum met die blou mure en sinkdak lyk amper soos ’n stasiegebou van ouds en hier kan jy onder koeltebome parkeer. Met die intrapslag is die ontvangskantoor op jou regterhand. Vra hier uit oor begeleide toere en die stap- en bergfietsroetes.

In die eerste vertrek vol glaskaste en brokkies interessante inligting pryk skedels en beendere van diere soos die Afrika-beer, renosters en hiënas. Hier is ook ’n rots met ’n fossiel wat steeds daarin vassit, bene van pikkewyne en ’n slagtand van ’n sabeltandkat.

Met al die beendere en inligting kan jy jou maklik indink hoe die Weskus gelyk het toe troppe hiënas op die oewer van die Bergrivier rondgeloop het, leeus hier gejag het en olifante en sebras volop in woude en op grasvlaktes rondgeloop het.

Sorg dat jy minstens twee uur het om tussen die uitstallings in die sentrum te loop en op ’n begeleide toer te gaan. Hier is ook ’n koffiewinkel met sitplek binne en buite in die tuin, speelplek vir die kinders en bergfiets- en wandelroetes.

Hier is 'n been nog vasgevang in 'n klip wat uitgegrawe is.


  • Begeleide toere: Dit duur ongeveer 45 minute en in die week begin die toere op die uur tussen 10 vm. tot 3 nm. en oor naweke is die toere tussen 10 vm. tot 1 nm. Tye mag wel verander.
  • Die speelpark en piekniek-area is in die tuin langs die besoekersentrum. Jy kan hier met jou eie mandjie piekniek hou of een by die koffiewinkel bestel.
  • Die park het 4 fietsroetes wat wissel tussen 3,5 km en 10 km lank. Bring jou fiets saam of huur hier fietse. Hier is ook ’n staproete van 3,5 km wat jou op van die ou paaie van die fosfaatmyn neem. Die roetes is tans gesluit vir opknappingswerk aan geboue en sal eers later vanjaar oopmaak.
  • Die Sivatherium-koffiewinkel, genoem na die kortnek-langhoringkameelperd, verkoop drinkgoed, gebak (kolwyntjies teen R10) en ’n paar ligte etes soos lasagne en quiche (R55).
  • Langs die koffiewinkel is daar ook ’n geskenkwinkel.

Waar? R45, Langebaanweg, Vredenburg

GPS S32.57194 E18.06499

Wanneer? Weeksdae 8 vm. tot 4 nm. Oor naweke en op openbare vakansiedae geld ander tye en jy moet die kantoor voor jou besoek kontak.

Kontak 022 766 1606; info@fossilpark.org.za; www.fossilpark.org.za

Wat kos dit? R80 per volwassene; R35 per kind (kinders 5 jaar en jonger is gratis)