Die Amasonereënwoud was jare lank op ons wenslys. Uiteindelik is ons in die hawestad Belém in die Amasone!

Voor ons vertrek op die reis van ’n leeftyd, moet ons ’n paar dae wag vir die vragskuit wat ons en die Landie na die stad Macapá neem. Dié stad op die noordoewer van die Amasonerivier is sowat 330 km weg van Belém soos die kraai vlieg.

Tussen Belém (tegnies langs die Parárivier wat deel is van die Groter-Amasonedelta) en Macapá lê een van die grootste riviereilande in die wêreld – Marajó-eiland. Teen 40 000 km² is dit twee keer so groot soos die Krugerwildtuin.

Terwyl ons wag, besluit ons om ’n paar dae op Marajó te verwyl. Hier’s drie dorpies op die eiland en baie meer fietse as voertuie. Nóg ’n ongewone vervoermiddel is mak waterbuffels. Die storie loop dat die buffels se voorsate op ’n skip was wat hier gestrand het op pad na Frans-Guiana. Hier’s sowat 450 000 op die eiland – dis meer as die inwoners! Die polisie patrolleer die strate op die buffels – stel jou voor ’n polisieman op ’n buffel wat ’n sakkeroller jaag!

Op Marajó swem ons die eerste keer in die Amasonerivier. Die water is warm en bruin, met branders. Die oorkantste oewer lê só ver op die horison dis asof ’n mens in ’n soutlose see swem.

Hanlie probeer haar bes om nie van die ewenaar af te val in die stad Macapá nie.

Lewe langs die rivier

In Belém prop ons die Landie op die vragskuit saam met 24 lorries – ons tuiste vir twee dae (en sowat 500 km). Die plan is om van Macapá af noord te mik na die lande Frans-Guiana, Suriname en Guyana, en dan weer suid deur Brasilië na die stede Manaus en Porto Velho, en uiteindelik na Cusco in Peru. Maar dinge loop nie altyd soos beplan nie...

Ons hoor later dié vragskuit is eintlik ’n handelsvaartuig, wat net een bestuurder per lorrie toelaat. ’n Vragskuit is basies ’n drywende staalplatform. Toeriste word nie meer daarop toegelaat nie, want ’n paar jaar gelede het iemand glo van een afgeval.

Hoe ons twee plek gekry het, weet nugter... Nietemin verwelkom die lorriebestuurders ons, en gee raad waarvoor ons op ons hoede moet wees op ons reis noord. (In Portugees, natuurlik.) Elke nou en dan bring hulle salami of ’n ander lekkerny. Ons slaap in die Landie terwyl die bestuurders onder hulle treilers slaap, of in hangmatte wat gespan word in die lorrie se kajuit.

Hanlie was die enigste vrou op die (onwettige) vragskuit. Hier sit sy saam met ’n paar vriendelike Brasiliaanse lorriebestuurders in die enigste skadukolle op die vragskuit – onder ’n lorrie se treiler

Hier’s geen paaie langs die rivier nie – die plaaslike mense lewe langs die oewer en alles gebeur op die water. Soms vaar die vragskuit in die oop water; die rivieroewer doer ver op die horison. Ander kere is ons net 10 m van die oewer af en kan jy die reënwoud sien, ruik en hoor.

Die plaaslike inwoners bly meestal op rivieroewers – al die geboue is op stelte.

Dan sit ons in kampstoele en probeer ape, voëls, pienk dolfyne of ’n jaguar (wensdenkery!) met verkykers gewaar.

Soms onderbreek kleurryke huisies op stelte die groen muur van die reënwoud, elkeen met ’n houtkaai en dikwels ’n speelplek vir kinders. Kinders van net drie jaar oud baljaar in die rivier, gewoonlik in boomkano’s. Elke nou en dan sien jy ’n skool of ’n kerk – op stelte. Die inwoners bind hulle kano’s aan die vragskuit vas, spring op en verkoop steurgarnale of vis.

Nader aan Macapá kweek bestaansboere gewasse in die moerasland en wei waterbuffels in die water.

Die meeste aksie is op die water: handelsware word uitgeruil en mense beweeg heen en weer.

Macapá, ’n stad met sowat ’n halfmiljoen mense, is só afgeleë dit word nie eens in die Lonely Planet Brazil-gidsboek genoem nie. Ons besoek die indrukwekkende São José de Macapá-fort, gebou in die laat 1700’s om die Amasoneriviermonding en die dorpe stroomop teen indringers te beskerm.

Macapá is op seevlak én op die ewenaar – dis bedompig en oondwarm. Ons proe ons eerste riviervis met garnaalsous in ’n restaurant waarvan die kante oop is sodat ’n luggie kan deurtrek. Dis waarskynlik ons lekkerste vismaal nóg! Riviervis in Suider-Afrika smaak soms modderig, maar dié vis smaak asof dit pas uit die see gekom het.

Macapá word omring deur reënwoud. Hier’s twee paaie na die weste van Brasilië en een pad noord na Frans-Guiana – 500 km se teer en slegte sinkpad. Jip, reg geraai, dis die een wat ons gaan ry!

Hanlie het amper op dié tarantula getrap!

Europa in die Amasone?

Twee dae later steek ons ’n brug oor na Frans-Guiana. Op die eerste padteken wat jy teëkom, staan: “Bienvenue en France” (Welkom in Frankryk). Ná ’n lang stowwerige rit deur die afgeleë deel van Brasilië is ons skielik in Europa! Frans-Guiana is ’n “department” van Frankryk, nes Réunion-eiland in die Indiese Oseaan. Euro is die geldeenheid, maar dinge is 20% duurder as in Europa. En die taal? Slegs Frans, Madame! Die paaie is meestal teer en in ’n goeie toestand, maar hier’s nie veel van hulle nie. Trouens, hier is net een hoofpad van die grens af al langs die kus tot by Suriname.

Die Gerickes het wild gekamp by dié kol op pad na Frans-Guiana

Die hoofstad Cayenne is ’n verhaal van twee stede: In die moderne deel staan hoë geboue langs vinnige hoofweë terwyl die ou stad langs die kus gehawend lyk. Die stad se kuslyn gaan geen toeristepryse wen nie. Hier’s nie ’n strand nie, en die see lyk soos ’n plaasdam – plat en bruin, van al die riviere wat teen die kus uitmond.

Frans-Guiana het ’n interessante ruimtevaartgeskiedenis. Die Guiana-ruimtesentrum naby die dorp Kourou is een van net twee plekke in die wêreld van waar Europese lande satelliete lanseer. ’n Besoek aan die ruimtemuseum is leersaam – die Hartebeesthoek Radio-sterrewag in die Magaliesberg word in een van die uitstallings genoem.

Ons vaar ook van Kourou af met ’n seiljag na die nabygeleë Salvation-eilande. Klink die naam vaagweg bekend? Dan het jy die fliek Papillon (2017) – of die oorspronklike een (1973) – gekyk oor die vreeslike tronkkampe op die eiland. Die tronk is genadiglik in 1953 gesluit.

Dié eiland vorm deel van die Salvation-eilande beskryf in die boek en fliek Papillon

Die eilande is mooi maar warm en bedompig. Ons koel af in die vlak water – die see is verraderlik en bekend vir sterk strome en haaie. Vele gevangenes het hier ’n watergraf gevind in ’n poging om te ontsnap.

Jy kan net per rivier by die suide van Frans-Guiana uitkom. Daar is geen paaie nie, net reënwoud. Sowat die helfte van die land word bewaar vir die inheemse volke van die Amasone. Volgens Survival International bly hier sowat 100 afgesonderde groepe in die Amasonereënwoud. Op ’n staproete een middag het ons tromslae diep uit die woud gehoor...

Vivian het dié foto met ’n hommeltuig geneem van hulle kampplek af naby die dorp Kourou

Suriname was eens ’n kolonie van Nederland. Ná maande van geradbraakte Spaans en Portugees, en toe Frans, is dit alte lekker om met mense in Afrikaans te gesels! Ons ry binneland toe en bring ’n paar dae deur in die Brownsberg-natuurpark in ’n bergagtige deel van die reënwoud.

Die geriewe is effens vervalle, maar jy ervaar die Amasone soos wat ’n mens dit nog net op BBC- en National Geographic- dokumentêre programme gesien het: stortreën, drukkende hitte, ’n oorvloed groen en ’n kakofonie van klanke!

Die bloedstollende gille van brulape maak ons in die oggende wakker. Ons stap deur die woud en spring in die donker riviere om af te koel. Ons bekommer ons ’n bietjie oor anakondas, want hulle bring die meeste van hulle tyd deur in die water... en piranas, vra jy? Eintlik hou dié getande menere nie ’n bedreiging in vir die mens nie. Solank jy nie saam met hulle in ’n meer vasgekeer is met niks anders om te knaag nie...

Hanlie drink vroegoggend koffie langs die Kourourivier.
Kourou
Sowat 30 km van Kourou af is een van net twee ruimtesentrums ter wêreld van waar Europa satelliete lanseer

Die lang ompad na Peru

Van Suriname af wil ons na Guyana reis en dan suid na Manaus in Brasilië, die “hoofstad” van die Amasone, en van daar af met die BR319 tot in die stad Porto Velho. Die pont tussen Suriname en Guyana het drie maande gelede opgepak, maar ons ry soontoe. Ons neem aan daar sal ’n manier wees om in Guyana te kom. Helaas, die steeds gestrande pont is die enigste manier om oor die grens te kom! Ons moet al die pad terug tot by Macapá ry – 1 300 km ver!

In Macapá laai ons die Landie op ’n pont (dié keer ’n passasierspont) vir ’n 560 km lange vaart stroomop met die Amasonerivier tot by die stad Santarém.

Anders as die vragskuit dra die pont 100 passasiers en goedere vir die mense langs die rivier. Elke nou en dan hoor jy hoe die dieselmotors spoed verminder; skielik verskyn bootjies uit die niet. Terwyl die pont nog beweeg, word allerlei handelsware op die bote gelaai: ’n stoof, koeldranke, ’n baal materiaal... Passasiers wat aanwal gaan, klim oor die relings van die pont op die dak van die bote.

Op die passasierspont slaap die passasiers in hangmatte op die dek

Ons klim af by Santarém en kamp ’n paar dae op die nabygeleë dorpie Alter do Cháo op die oewer van die Tapajósrivier. Ons kamp onder ’n moewiese mangoboom in die tuin van ’n plaaslike gids en tuur oor manjifieke sonsondergange oor die riviereilande. In die aande wandel ons verby stalletjies en kyk hoe tradisionele dansers die strate aan die brand dans. Brasilië vier sy onafhanklikheidswording op 7 September en ons vang gees saam met die plaaslike inwoners wat saamtrek op die sandstrande van die rivieroewer.

Ons moet nog vrekver ry: 2 500 km tot by Porto Velho en dan na die dorpie Assis Brasil op die grens tussen Brasilië en Peru. Hier’s ’n paar teerpaaie, maar die grootste deel, sowat 1 500 km, is slegte grondpad – soms ry ons net 20 km/h! Maar die wete dat ons diep in ’n reënwoud reis, hou die gemoedere hoog. Die dorpies is ver uitmekaar en ook die vulstasies. As die Landie hier iets oorkom, gaan ons weke lank vir iemand wag...

Die Gerickes ry op ’n smal paadjie in die reënwoud in Suriname

In die Amazonia- nasionale park sê die plaaslike boswagters ons kan hulle klubgeriewe gebruik. Vroegoggend maak die klanke van eksotiese voëls en ape ons wakker terwyl die son stadig die mislaag oor die Tapajósrivier laat smelt.

’n Navorsingspan wat in die park werk, nooi ons na hulle uitkyktoring waar hulle suurstof-, koolstofdioksied-, reënval- en verdampingsvlakke meet. As jy hier bo staan, voel dit soos die uitkyktoring op ’n skip in die middel van ’n groen oseaan. Dis net blaredak sover as wat die oog kan sien.

’n Mens sou heeldag hier kon sit en voëls uitken, ape soek en staar oor die uitgestrektheid van die grootste reënwoud op aarde.

Dankie, Amasone, dit was ’n fees om jou te leer ken!

VOLGENDE MAAND: Vivian en Hanlie reis na Peru.

In die Amasonereënwoud is baie kleurryke voëls, maar dis moeilik om hulle in die blaredak te sien. Vroegoggend trek swerms arapapegaaie en ander voëls saam by oop kleikolle langs die oewer om aan die voedsame klei te knabbel.


Loer by between2safaris.com vir die Gerickes se gedetailleerde roetes, wenke oor hoe om jou voertuig te verskeep en ook die aanpassings wat nodig is om jou ryding vir ’n oorlandreis toe te rus. Volg hulle avonture op Instagram by @between2safaris.

Vivian en Hanlie Gericke

Hanlie was ’n biologie-onderwyseres en Vivian ’n raadgewende ingenieur wat gereeld met hulle drie kinders in Suider-Afrika rondgetoer het. Ná hulle aftrede in 2016 het die twee besluit dis tyd vir nuwe avonture!

In Oktober daardie jaar is hulle Land Rover Defender per skip na Montevideo in Uruguay, en die twee het deur Patagonië gereis (sien Weg #170). Sedertdien het hulle al vier keer na Suid-Amerika teruggekeer vir toere deur die Sentraal-Andesgebergte tot by Cusco in Peru en van daar af deur die laaglande van Bolivia, Paraguay en Brasilië terug na Uruguay.

In 2019 was die Pantanal-moerasland in Brasilië aan die beurt, asook die Amasonereënwoud en minder bekende lande soos Frans-Guiana en Suriname.

Tot dusver het elke reis tussen drie en vier maande geduur en in totaal het die Gerickes al meer as 55 000 km gery en 38 keer ’n landsgrens oorgesteek! Reis vir die volgende paar uitgawes saam – lees Weg #187 vir deel 1, Weg #188 vir deel 2 en Weg #189 vir deel 3.

Vinnige feite

Hoeveel kos dit per dag? Brasilië is duurder as die meeste ander Suid-Amerikaanse lande wat ons besoek het. Ons gemiddelde daaglikse begroting was R1 500 per dag en dit sluit kos, blyplek vir twee, diesel én motordienste in.

Om geld te spaar kamp ons gereeld wild. Ons bly net in formele akkommodasie wanneer daar geen ander keuse is nie.

En as ek nie my eie ryding het nie? Ons het drie maande deur Brasilië getoer en 22 000 km gery, maar daar is nog soveel plekke waarby ons nie kon uitkom nie.

Jy moet baie tyd tot jou beskikking hê vir ’n selfrytoer. Indien tyd ’n luukse is, vlieg eerder tussen bestemmings en gebruik openbare vervoer of huur ’n voertuig om ’n spesifieke omgewing te verken.

Nietemin, het ons dit geniet om self te ry. Die (onwettige) vaart van Belém na Macapá saam met die Brasiliaanse lorriebestuurders was ’n hoogtepunt. As ’n mens van die een toeristekol na die ander vlieg, loop jy dié soort ervarings mis.

Kamp: Dis nie so gewild in Brasilië soos in Suid-Afrika nie. In van die groot stede soos Belém was geen kampplekke nie. Dit was veral moeilik om ’n kampplek te kry in Frans-Guiana.

Daar beteken “kamp” ’n hangmat en ’n muskietnet wat jy onder ’n gemeenskaplike rietdak hang. In Suriname het ons een aand in ’n plaaslike inwoner se oprit gekamp. In die reënwoud het ons dikwels agter ’n paar bome uit die oog gekamp of in uitgediende steengroewe.

Dis nie juis toegerus vir oorlandreisigers nie, tensy jy in ’n ten volle toegeruste ryhuis reis. Maar Brasilië is ’n enorme land met duidelike verskille tussen die gebiede, verder suid is daar byvoorbeeld heelwat meer amptelike kampplekke.

Veiligheid? Brasilië is maar net so gevaarlik soos Suid-Afrika; daar is verskeie gebiede waar jy glad nie wild moet kamp nie, maar ander plekke is relatief veilig, veral rondom die kleiner dorpe.

Ons het maar ons “sesde Suid-Afrikaanse sintuig” ingespan, kommentaar op die iOverlander-app gelees, met die plaaslike mense gesels en dan besluit. ’n Paar aande moes ons noodgedwonge in die oprit van ’n hotel oornag.

Nuttige bronne: visitbrasil.com; ipanema.com; ioverlander.com; “PanAmerican Travelers Association” op Facebook; MaCamp (’n app vir ryhuis-eienaars in Brasilië); Lonely Planet Brazil-gidsboek; lonelyplanet.com

Visums? Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig vir Brasilië nie. Op die grens kry jy ’n permit van 90 dae wat jy maklik vir nog 90 dae kan verleng.

Indien jy in ’n voertuig met ’n buitelandse nommerplaat ry, kry jy ’n tydelike invoerpermit vir dieselfde tydsduur. Suid-Afrikaners het ’n visum nodig vir Frans-Guiana wat jy vooraf in Suid-Afrika moet bekom.

Ons het (verkeerdelik) gedink jy kan ’n visum vir Suriname by die grens kry en moes dit toe in die hoofstad, Cayenne, kry. Jy kan wel toegangspermitte vir Guyana en Peru by die grens kry.

Ander dokumente? ’n Geelkoorssertifikaat en internasionale rybewys – maak seker jy het die regte rybewys vir elke land, want daar is twee soorte (1941- en 1949- konvensie) en die vereistes verskil soms tussen die lande.