Foto's: Anton Kruger

Elke ywerige voëlkyker ken die illustrasie of foto van die Angolapitta en droom om dit eendag te sien. Die pitta se kleure is amper onwerklik: helderrooi, groen, en die mooiste blou. Maar dis nie net die voorkoms nie, maar ook die pitta se legendariese ontwykende aard wat die spesie so gesog maak.

’n Voëlkykvriend van my, Niel Cillié, het my in November 2017 geskakel met ’n dringende boodskap: “Pêl, daar is ’n pitta wat roep naby Vic Falls, kom!”

Pittas roep gewoonlik slegs vir ’n paar weke in die jaar. En die roepery is belangrik, want as hy nié roep nie, is dit feitlik onmoontlik om een op te spoor vanweë die digte bosse waarin hulle hou.

Die plek waar die pitta geroep het, Lukosi Safari Camp langs die Hwange- nasionale park, was slegs ’n uur en ’n half se ry van Victoria Falls se lughawe af; dus kon ek die Vrydag vlieg en Sondag terug wees. Dit was ’n maklike besluit! (Ongelukkig kon my vrou, Renate, nie saamkom nie omdat sy hoog verwagtend was met ons tweede kind.)

“Pêl, daar is ’n pitta wat roep naby Vic Falls, kom!”

Daar gekom, het die wag begin. Ek en Niel kon ons soektog eers begin as die pitta roep. Dis net die mannetjies wat roep. Dis paartyd, sien, en hy moet maat soek.

Die spanning het begin opbou, maar gelukkig het die pitta darem een keer geroep die Vrydag. Dit was egter al ná sononder, en ons kon hom dus nie sien nie – maar ons het nou geweet hy’s beslis hier...

Saterdagoggend het ons almal van halfvyf af wakker gelê en gewag vir daai eerste roep. Om tien voor vyf het hy begin roep, en ons was op sy spoor onder leiding van een van Lukosi Safari Camp se gidse.

Dit is ’n groot avontuur om deur die digte rivierbos agter die roep aan te loop, want dit is leeu-, buffel-en-olifantwêreld! Toe ons die pitta die eerste keer sien, het ek nogal uitge-freak. My heel eerste foto was nie presies ’n pryswenner nie (uit fokus!), maar met iets so raar soos ’n Angolapitta maak dit skaars saak.

Ons het in die volgende twee uur redelik goeie waarnemings gehad, en kon skaflike foto’s neem, ook van die pitta se vertoonvlug wat deel is van sy maatsoekery. Laasgenoemde foto is baie kosbaar vir my, want daar is amper geen infokusfoto’s van die pitta se vertoonvlug beskikbaar nie.

Ek het my Canon 5D Mk. IV met ’n 500 mm-lens gebruik. Soms moes ek van ’n ongewone “driepoot” gebruik maak .

Maar toe die son helder begin skyn, het die pitta weer geswyg en was ons tydgleuf vir pittakyk daarmee heen.

Ná ontbyt het ons die gebied rondom Lukosi Safari Camp verken en op ’n trop wildehonde afgekom. Dit was besonders om later deur die foto’s op my kamera te blaai en ’n Angolapitta én wildehonde in één fotoreeks te sien.

Die middag het ons weer die pitta gaan soek, maar kon hom net vlugtig sien en nie ’n foto neem nie. Die volgende oggend was ons meer ontspanne, en die pitta skynbaar ook, want hy het ons met ’n twee uur lange vertoning vermaak! 

Sy vertoonvlug is ’n lae “hop” waar hy sy mooi vlerke sprei en die kleure vertoon, wat gepaardgaan met ’n padda-agtige kwaak. Hy het gepronk asof ons sy vroutjies was wat hy moet beïndruk! Ons was histeries van opgewondenheid en het almal baie mooi foto’s gekry.

Ek sou tevrede gewees het om slegs die pitta te sien, maar ons was gelukkig om sulke duidelike foto’s te neem. Die naweek was ’n reuse-sukses!

Renate en Anton Kruger, Pretoria

“Ons is passievol oor die natuur, en kyk gewoonlik saam voëls. Ons albei se liefde – eerder obsessie – vir die natuur kom al van kleins af aan. Ons probeer minstens een keer per maand iewers in die bos uitspan. Voëlskyk gaan vir ons oor meer as net ’n lysie hou van al die spesies wat ons al gesien het: Dit bring jou by plekke waar jy andersins nooit sou uitkom nie.”

Volg Anton en Renate se avonture by wild-obession.co.za of op Instagram by @antongkruger.


WAT HET JY AL MET JOU EIE OË GESIEN?
Stuur jou vertelling en reeks foto’s van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za.