Foto's Willem van der Berg

Hierdie artikel is benoem vir 'n ATKV-Mediaveertjie in die "Beste sportartikel"-kategorie.


Dis laatmiddag in November 2015 wanneer ek afdraai van die N1 af sowat 10 km suid van die dorpie Springfontein in die Vrystaat. Ek ry oor die treinspoor, en swenk dan om ’n koppie waarteen ’n Boere-oorlogblokhuis staan. 

Gou is ek by die gasteplaas Prior Grange, maar ek draai nog nie op na die hoofopstal nie. Ek stop eers by die krieketveld, want dis waarvoor ek 1 000 km gery het.

Lang populierskaduwees strek soos die tande van ’n hooivurk oor die veld. Ek klim uit en stap deur die oop hek tot op die bruin baanblad in die middel van die groot stuk groen gras. Die baanblad lyk beter as daais in Indië waar die Proteas tans noustrop trek. 

Doer ver swiesj die karre op die N1. ’n Skaap blêr. My kar se stof hang nog bo die pad waar ek pas gery het. Môre word hier groot krieket gespeel op Prior Grange. Die Springfontein-krieketklub takel die manne van Middelburg, Oos-Kaap. Dis ’n effense wraakwedstryd, want laas seisoen het Middelburg blykbaar sleg verloor.

Ek het nie in daardie wedstryd gespeel nie, maar ek speel wel môre, as gasspeler in die Springfontein-span. Ek en my splinternuwe krieketklere waarvan ek nog die prys-etikette moet aftrek...

Dis ’n effense wraakwedstryd, want laas seisoen het Middelburg blykbaar sleg verloor.



Speel met ’n reguit kolf

In die 1990’s het die Springfontein-krieketklub ’n nuwe tuiste gesoek en Blackie de Swardt het begin dink aan die mooi gelyktes (behalwe nou vir die miershope) rondom sy huis op die plaas Prior Grange... hoekom dan nou nie ’n krieketveld hier bou nie? 

Hy en ander boere van die omgewing – Robert Butler, Geoff Jackson , Neville Grobler, Bernhardt Louw en Jeremy Staples – het begin woeker en teen November 1998 was die veld klaar. Die eerste wedstryd was teen die buurdorp Edenburg.

Die kweekgras op die krieketveld word steeds bewei deur die skape, en as jy mooi kyk, sien jy hier en daar skaapmis lê – sommer bemesting ook!

Ons wedstryd begin tienuur, maar spelers begin al van nege-uur aankom. Die Springfontein-manne bly almal hier naby, alhoewel enkeles van ander distrikte kom. Almal is boere, die Middelburg-spelers ook.

Een na die ander trek die bakkies in. Hier’s ook vrouens en kinders, en honde, dis ’n familie-okkasie hierdie. Party spelers is jong latte, maar meeste lyk rofweg so oud soos ek – iewers tussen 30 en 40 jaar oud.

Dykie de Villiers (51) is vandag die oudste man op die veld. Hy boer naby Noupoort (noord van Middelburg) op die plaas Wildfontein. Sy dogter, Lana, ’n apteker, is ook hier. Lana se kêrel, Stefan Terblanché, is ingetrek vir die wedstryd. Stefan speel in ’n kortbroek vandag en bieg dat hy eintlik glad nie ’n krieketspeler is nie. Maar nou ja, as jy jou toekomstige skoonpa wil beïndruk...

“Speel ons 40 overs?” hoor ek iemand vra, met kommer duidelik in die stem hoorbaar.

“Ja,” antwoord Dykie hom.

“Aanéén?”

“Ja.”

Blykbaar speel hulle deesdae eerder twee kort 20 boulbeurt-wedstryde. Op hierdie manier kry almal kolf en boulkans en staan jy nie so lank op die veld nie. 

Maar Middelburg wil ordéntlik krieket speel, dus 40 boulbeurte.

Dykie vertel van hulle spelers kon nie vandag deurkom nie. “Die Louw-broers pas hulle ouers se slaghuis op by Rosmead naby Middelburg.”

Verskonings in hierdie soort krieket kan soms ongewoon wees. Aan die Springfontein-kant ontbreek ook ’n paar spelers. “Ja, maar die ouens press wol hierdie naweek,” sê Stephen de Swardt, Blackie se seun.

“Party ouens lam vir drie maande aaneen, en dan skeer hulle kwansuis die volgende ses maande!” laat Bernhardt Louw van die plaas Smartryk hoor.
Ons kaptein vandag is Luke Jackson van die plaas Baghdad. Hy en Eben du Plessis, kaptein van Middelburg, skiet ’n muntstuk die lug in. Ons verloor die loting en kolf eerste.

Springfontein se openingskolwers, Herman Archer en Kobus van Schalkwyk, staan gereed. Nes sneeu ’n Karoolandskap sprokiesagtig laat lyk, kan krieket-whites ’n boer na ’n gentleman laat lyk. 

Lyn en lengte

Plattelandse krieket was deel van my grootwordjare. Op skool in Somerset-Oos in die Oos-Kaap het ons in die Karoo-liga gespeel teen die dorpspanne van Jansenville en Asherville (Graaff-Reinet), die boere van Bethesda Road (anderkant Graaff-Reinet) en soms teen die landboustudente van Grootfontein (by Middelburg). 

Op universiteit in Grahamstad het ons in die Albany-liga gespeel teen die ou Britse Setlaar-spanne – Salem, Sidbury, Manley Flats, Seven Fountains, Cuylerville ensovoorts. Plekkies waar koraalbome diep skaduwee gooi vir grensveldwerkers en ’n bees of twee soms eers van die veld gejaag moet word voor die wedstryd kan begin. Gewoonlik is daar ook ’n kerkie wat uitkyk oor die veld, en teen teetyd duik daar dalk melktert op.

Ek het al in die stad ook probeer krieket speel maar dit was nie so lekker nie. Dit hóórt op die platteland. Jy’t selfs destyds verteenwoordigende platteland-spanne gehad: OP-Platteland, SA-Platteland. Ek onthou selfs dat die Karoo-liga se boere nou en dan geld gespaar het en dan ’n span oorsee laat toer het. Hulle naam? Die Ruspes.

Die geografiese ligging van ’n krieketveld was nog altyd vir my opvallend. Hoe dit op die enigste gelykte in ’n heuwelagtige omgewing lêplek kon kry, soos die veld by Southwell naby Bathurst. Of hoe dit ’n andersins uitgestrekte, hárde vlakte in fokus kan trek, soos Wheatlands (tuiste van die Harefield-krieketklub) daar tussen Pearston en Jansenville. 

En dan, terwyl jy speel, om bewus te wees van dinge soos wolkskaduwees wat oor die veld skuif. Om ’n stofstreep van ver te kan sien aankom: ’n speler wat laat is. Of om te hoor hoe die teekoppies uitgepak word by die klubhuis.

Hier by Prior Grange is dit so: die veld is deel van die landskap, en binne hierdie landskap speel ons hierdie ou, vreemde spel.

Daar is nooit regte skeidsregters in hierdie soort krieket nie – die spelers maak beurte om skeidsregter te speel. Dít plaas jou in die moeilike posisie dat jy dalk jou eie spanmaat been voor paaltjie sal moet uitgee. Vandag is ooreengekom dat jy eers ’n waarskuwing sal kry. Eers met jou twééde, dúídelike been voor paaltjie sal jy uitgegee word.

Ek is tans skeidsregter, saam met Blackie. Jy tel die balle van ’n boulbeurt met ses klippies af. Jy begin met al ses klippies in een hand, en sit hulle dan een vir een oor na die ander hand soos die balle geboul word.

Wanneer ek onseker is teen die einde van ’n beurt (’n ou se aandag kan nogals vloeibaar raak so in die vars lug...) of daar nou een of twee balle oor is, kyk ek na Blackie en wys, vraend met een of twee vingers. Dan wys hy terug: ja, één bal oor.

Ons openingskolwers vaar goed. Na ses boulbeurte staan ons op 40/0. “Dalk kan ons 400 haal,” hoor ek iemand sê van die kant af. 

“Rustig nou,” paai Stephen.


Kobus is later uit vir 21 lopies, en kort daarna is J.P. Staples ook uit, vir 12. “OK, manne,” praat een van die Middelburg-spelers, “as ons hulle kan vashou gaan die druk bly bou!”

Maar dit lyk asof Herman nie die druk voel nie. Hy moker die bal in elke windrigting. Wanneer die bal vir ses vlieg verdwyn dit binne ’n paar bonsslae tussen die gras, bossies en miershope in die veld. Dan word daar eers bal gesoek, met drie of vier veldwerkers wat in kordon deur die veld stap, met die ander (wat van ver af gesien het waar die bal verdwyn het) wat instruksies beduie: meer doei kant toe!

Maar dit lyk asof Herman nie die druk voel nie. Hy moker die bal in elke windrigting.

Ons kaptein Luke se paaltjie val – Springfontein is nou 121/3. Steeds kolf Herman voort. Hy’t nie die finesse van ’n AB de Villiers nie – dis meer brute Ian ‘Beefy’ Botham dié.


Middelburg begin gefrustreerd raak. Jacques du Plessis appelleer kliphard vir been voor paaltjie. Dis ’n goeie appél, en Herman het oor die lyn van die bal gesloeg wat dit des te meer na ’n bal laat lyk het wat die paaltjies gaan tref. 

Maar ek besluit dit het Herman buite die lyn van die wegpen getref. Daar is ’n ligte spanning te bespeur ten aanhoor van my beslissing, maar Jacques boul voort.

Herman teken sy honderdtal aan en stap dan van die veld af – dis die ander reël vir die dag, jy moet stop as jy 100 het. Ek is ook langs die veld, besig om my beenskutte aan te sit – dis amper tyd vir my kolfbeurt.

Stephen maak nou amok en klater 88 lopies van seker nie meer as 50 balle nie. Dit reën sesse (sewe van hulle) tussen die miershope, en jy kan lankal nie meer ’n skaap sien nie.

Hy onderbreek net sy beurt iewers om halfpad van die veld te draf en vir sy ma, Sheryl, te roep: “Julle kan maar begin braai!” Kort daarna val die patties sissend op ’n groot pan – middagete se hamburgers.


Dan is dit my beurt. Ek stap uit met my ou County-kolf. Dis nog dieselfde kolf wat ek in die hoërskool op Somerset-Oos gebruik het. Ook dieselfde beenskutte, dyskut en handskoene (ja, en ball-box). Die leer van die handskoene is na al die jare se niksdoen so hard dat ek skaars my vingers kan buig.

Ek vat my kolfmerkie: two-leg. Dit beteken tussen die middel- en bypen. Ek krap my merkie uit op die baanblad, nes jy al vir Hashim Amla op TV sien doen het. Dit is egter waar enige ooreenkoms tussen my en Hashim eindig (ek het nie eers nou ’n groot baard nie).

My eerste twee viere is gelukhoutjies van die agterkant van die kolf wat teen sulke snaakse hoeke verby die paaltjiewagter vlieg dat hy nie ’n kat se kans het nie.

Maar dan voel ek my oog is in. ’n Kaphou skiet grens toe verby ’n duikende puntveldwerker. Ek en my kolfmaat stamp ons vuiste windgat teen mekaar soos AB en Faf (weer eens: verder is daar geen ooreenkomste tussen ons nie).

Nog ’n kaphou vir vier. 

Ons boulbeurte is amper klaar en ons kan slaan soos ons wil. Reinhardt du Toit, besluit ek, boul soos ’n skilpad met ’n stywe been. Ek vat hom aan, en swaai wild. In my geestesoog is dit ’n sierende ses wat land tussen die granaatbos langs die sight screen. 

Om een of ander rede is Reinhardt skielik bly. Ek kyk om: hy’t my skoongeboul.

Uitskeityd

Springfontein het ’n formidabele 307 in 40 beurte aangeteken. Nou is dit middagete, en ons val weg. Pieter ‘Mutley’ van der Laan van Middelburg steek ’n sigaret aan, knak ’n kannetjie bier oop en gaan sit op sy koelboks daarmee. 


Eben du Plessis se vrou, Luchelle, masseer sy rug. Kinders met oorgrote kolwe slaan balle rond.

Nou doen ons veldwerk. Ek het al vroeër vanoggend, toe ek ‘opgewarm’ het, my hammie getrek. Ek’s styf, maar steek dit weg.

Middelburg kolf goed, maar ons vat paaltjies. Ons geheime wapen is die duo Linström-broers, M.W. en Weyers, van die plaas Palmietfontein naby Reddersburg.

“Ons is per ongeluk broers,” het Weyers my vroeër vertel. Hulle trek bietjie op die Dalton-broers uit die Lucky Luke-strokiesboeke en lyk ook asof hulle Reddersburg dalk tot laat op horings gehad het die vorige nag.

Roes of te nie, hulle boulwerk is aan die brand en hulle laat vier paaltjies kantel tussen hulle. Ek kry ook ’n paaltjie met my effens huiwerige wegbreekballe, maar word dan deur Jacques uit die aanval geslaan (hy was seker nog omgekrap omdat ek sy been voor paaltjie-appél van die hand gewys het...) nadat ’n paar té kort en té vol balle miershope toe trek.

Michael Hayward slaan ’n honderdtal, Jacques maak 42 en Dykie de Villiers 28, ondanks sy seer skouer (hy’t dit vroeër omtrent uit potjie geduik agter ’n bal aan). “Daai’s nou óú timing!” roep iemand bewonderend wanneer Dykie ’n ses slaan.

Uiteindelik kom Middelburg naby aan ons totaal – 265/9 in hul 40 beurte. Springfontein wen, maar dit maak nie regtig saak nie.


Die son lê laag na die weste wanneer al die spelers in ’n groot kring gaan sit voor die klubhuis. Hierdie is een van plattelandse krieket se oudste rituele – die fines meeting. Almal kry nou beurt om ’n ligte strafdop te kry én uit te deel. 

Dit gaan eintlik glad nie oor die dop nie, maar oor die kameraderie. Dít is iets wat plattelandse krieket hope van het. Daar is ’n sin van gemeenskap. Deur die week word daar hard geboer – M.W. se skeerders kom Maandag, en hy moet nou-nou vinnig huis toe om sy Buff-Orpingtons se eiers te gaan omdraai in die broeimasjien – maar oor naweke kom gesinne bymekaar rondom die krieketveld.

Hierdie krieket het nie bierborge nie. Dit word nie ondersteun deur Bollywood-sterre nie. Niemand kul vir omkoopgeld nie.

Dié boere speel omdat dit lékker is. Wanneer jy lees dat AB de Villiers sê hy’s moeg vir krieket speel, dan is dit deels omdat hy moeg is vir sy werk. Want krieket is sy werk.

Hierdie ouens het nie daardie probleem nie.

Die artikel is vir die eerste keer in die April 2016-uitgawe (#138) van Weg gepuliseer. Ons probeer altyd inligting bywerk, maar sommige inligting kan onakkuraat wees - laat weet ons gerus (digitaal@weg.co.za) as jy so iets raaklees.