Kaart
Kaart

Foto's: Glen Steyn

As kind het ek baie in die veld en koppies oorkant ons huis in Ruimsig, Johannesburg, gespeel. Ek het altyd net voor donker by die huis gekom – vol skrape en kneusplekke. Ek en my broer, Brent, het skuilings in bome gebou en elke dag wyd verken.

Ek was in die King Eduard VII-seunskool en het daarvan gedroom om ’n wildbewaarder te word. Maar ná skool het die lewe gebeur en ek het ’n persoonlike afrigter geword en ’n gim in Johannesburg bestuur. Later het ek egter besef dat ek tog my liefde vir fiksheid én die buitelewe kan kombineer. Ek en my broer het eenkeer by die huis na Ross Kemp: Extreme World op die Discovery Channel gekyk. Kemp is ’n joernalis en was saam met die Britse weermag in Afganistan. Ek vir my broer gesê: “Dís wat ek wil doen.” Ek wou Afganistan toe gaan en het by die Koninklike Vloot se mariene korps aangesluit. Ek moes Engeland toe vlieg om ’n reeks onderhoude en fiksheidstoetse te doen voordat ek aanvaar is.

Dit was in 2010. In my tyd by die vloot is ek onder meer na Afganistan, Noorweë, Oman, Amerika, Albanië en Duitsland ontplooi. Ek het die vloot in 2016 verlaat en in private sekerheid in Suid-Afrika begin werk – my spesialisveld was teenseerowery.

Beplanning en voorbereiding

Met my terugkeer na Suid-Afrika het ’n idee begin posvat – ’n manier om geld in te samel vir die mariene korps se liefdadigheidsorganisasie. Baie oudsoldate het geld nodig vir kunsledemate en berading vir post-traumatiese stres. Die ander liefdadigheidsorganisasie wat ek gekies het, was Veterans for Wildlife.

Dit word bestuur deur Wesley Thomson, ’n skoolvriend en ook voorheen in die vloot. Wesley kry oudsoldate uit die Verenigde Koninkryk om teenstropingswagte in Suid-Afrika te kom oplei.

Die idee was om al met die Oranjerivier langs te stap: van die bron in Lesotho af (waar dit die Senqurivier genoem word) tot by Alexanderbaai aan die Atlantiese Oseaan. Ek sou deur dele van die land stap waar ek nog nooit was nie.

Die idee was om al met die Oranjerivier langs te stap: van die bron in Lesotho af (waar dit die Senqurivier genoem word) tot by Alexanderbaai aan die Atlantiese Oseaan. Ek sou deur dele van die land stap waar ek nog nooit was nie.

Ek het aanvanklik beplan om alleen te gaan, maar ek ken ook ’n paar oudsoldate wat van filmwerk en ekspedisies hou, en het ’n uitnodiging op Facebook geplaas. Ek het gesê ek is op soek na ’n kameraman om ’n drie maande lange tog in Afrika saam met my te doen: “Moet fiks wees en gemaklik met veeleisende terrein en toestande. G’n salaris nie, maar ’n goeie begin vir jou portefeulje.” 

Dis hoe Alex Davidson – van Shropshire in Engeland – betrokke geraak het. Hy was ook ses jaar in die mariene korps, maar ek het hom nie goed geken nie en hom net ’n slag of wat in die kamp gesien. Ek het in Oktober 2017 begin beplan en Google Earth gebruik om die roete uit te werk. Ek het reeds die meeste van die toerusting gehad. Ek wou nie te veel reël nie, want dan sou dit nie so ’n groot avontuur wees nie.

Die belangrikste was om geld vas te maak. Op die ou end het die tog van 97 dae sowat R30 000 p.p. gekos – dit was meestal vir kos. Ek en Alex het dikwels op ’n dorpie halt geroep en net geëet en geëet. Ten spyte hiervan het ek steeds 18 kg verloor.

Ek het vooraf vyf dae per week ’n uur lank geoefen. Ek het in die gim geoefen op die skip waar ek in die maande voor ons tog was. Toe ek harder moes oefen, het ek die oefensessies in ’n frokkie met gewigte daaraan gedoen. Teen die tyd dat ons in die pad geval het, was ek fiks.  

Die berge in

Op 21 Januarie 2018 het my ouers my en Alex by die Mnweni- kulturele dorpie wes van Bergville in KwaZulu-Natal afgelaai.

Om by die bron van die rivier uit te kom was ’n epiese tog. Ons moes eers die Mnwenipas uitklim. Van die voet van die pas af tot in Lesotho en verder tot by die bron is ’n vertikale klim van 900 m oor ’n horisontale afstand van 1,5 km. Dis steil, en harde werk as jou rugsak byna 40 kg weeg!

Lesotho was taai. Ek was al voorheen daar, maar om deur ’n land te ry gee jou eintlik geen idee van die terrein nie. Dis anders as ’n mens te voet is, veral in dele sonder paaie.

Dit het ons drie dae geneem om oor die Drakensberg te klim. Ons het niemand anders gesien nie. Op die derde aand het ons reg langs die bron van die rivier geslaap en moes ons deur ’n yslike storm sit. Dit het gevoel asof ons ín die wolke was, en die weerlig het ons heelnag wakker gehou. Alex se tent het gelek en hy moes dus in myne kom skuiling soek.

Die stap was die taaiste in Lesotho, maar ook die lekkerste. Ons het meestal gekamp, maar is twee keer genooi om in rondawels te slaap toe van die plaaslike mense ons in die reën sien stap het. Hulle het skuiling gebied en ons het hulle met kos bedank.

Die landskap was móói. Daar is nie één stuk gelyk grond nie. Die mense is van die vriendelikste wat ek al teëgekom het. Min Suid-Afrikaners was al in Lesotho, en dis so naby!

Dit was maklik om te navigeer omdat ons altyd die Senqurivier kon sien, maar my militêre opleiding het vrugte afgewerp toe ek moes kaartlees, byvoorbeeld om te besluit of ons ’n heuwel moet uitklim of rondom moet stap. Ons moes soms oor die rivier swem om by makliker terrein uit te kom. Ons het in die vloot geleer hoe om deur riviere te swem met tot 50 kg toerusting.

In diep water moet jy jou rugsak afhaal en as vlot gebruik. Jy moet ’n paar droogsakke in jou rugsak hê. Dié droogsakke skep ’n lugholte binne-in wat dit laat dryf. Jy sit jou arms op die sak voor jou en skop met jou bene om oor die stroom te kom. Dis verbasend maklik as ’n mens eers weet hoe om dit te doen.

Op dag sewe en agt het Alex voedselvergiftiging opgedoen, maar gelukkig was ons in ’n hotel in Mokhotlong. Op dag 13 het ek siek geword en 12 uur lank onophoudelik opgegooi. Ek het baie Rehidrat gedrink en dit uiteindelik afgeskud.

Ons het ’n paar gevriesdroogde stapetes ingepak, maar toe dié eers op was, was die opsies maar oninspirerend. In Lesotho het ons noedels en sojamaalvleis geëet. In Suid-Afrika het my dieet só gelyk: ProNutro soggens, met heelwat peuselstafies deur die dag; ’n sakkie tuna, neute en sjokolade vir middagete; en pasta, lensies en (weer) tuna saans.

Op ons eerste aand terug in Suid-Afrika – dag 34 – het ons ’n ses uur lange storm beleef. Ons het sowat 40 km van die dorpie Sterkspruit af gekamp. Die weerlig het die grond 20 m van ons tente af getref!

Rivierkronkel, 40 km buite Sterkspruit

Ironies genoeg het water ’n logistieke uitdaging geword. Dit was nou al Maart en ’n bietjie koeler, maar ons het steeds minstens sewe liter per persoon per dag nodig gehad. Dit was moeilik om by water uit te kom omdat daar soveel private wildplase langs die Oranjerivier is waardeur ons nie kon stap nie. Ons moes ompaaie vat – soms tot 40 km lank – om die plase mis te loop, en ons drinkwater het begin opraak.

Ek het toe die idee gekry om sleepwaentjies te maak waarmee ons drinkwater tot vier dae sou kon dra. ’n Plaaslike nutsman op Colesberg met die naam Percy het hulle vir ons gemaak; dit het hom twee dae gevat. Ons het R600 elk betaal. In dié tyd het ons op ’n plaas by ’n jong paartjie, Sean en Saskia de Jager, gebly.

Die waentjies het goed gewerk, maar daar was steeds dae waarop ons die water moes rantsoeneer. Ek het net my mond nat gemaak en nie regtig gedrink nie.

’n gewonde uil, buite Orania

Die mense langs die pad

Ons het baie mense ontmoet wat gedink het ons is mal. “Hóékom?” sou hulle vra, en ek sou antwoord dat ek my lewe meer interessant wou maak. Of: “Ek was verveeld by die werk…”

Die uitmergelendste stuk was van Aliwal-Noord tot by Upington. Hier moes ons baiekeer op teerpaaie loop omdat ons nie toegang tot die private grond langs die rivier kon kry nie. Die stap self was maklik, maar dit was geestelik moeilik omdat dit vervelig was. Ek verkies uitdagende terrein omdat ’n mens dan altyd bewus moet wees van wat om jou aangaan.

Toonklap, die Richtersveld in

Ek en Alex het gesels oor ou weermagvriende, meisies, sake-idees en planne vir ander togte. Party dae het ons skaars enigiets vir mekaar gesê – daar is net soveel gesprekke wat ’n mens kan hê! Ek het nie musiek geluister nie. Ek het my selfoon by my gehad sodat ek daagliks met my ouers in verbinding kon wees en foto’s en video’s op sosialemediaplatforms kon laai.

Die interessante mense wat ons ontmoet het, het vir afleiding gesorg. Die boere van die Noord-Kaap was werklik besonders.

Awie Jacobs, ’n boer naby Douglas, het aangedring dat ons in die kothuis op sy plaas bly. Ons was twee aande daar, en het baie braaivleis en biltong geëet en bier gedrink. Sy gesin het ons ingeneem asof ons ou vriende is.

Nog ’n boer het ons langs die pad in die reën gestop en vir ons ’n sespak bier en ’n rol boerewors gegee. Hy het gesê as ons ’n vuur in die reën kan aansteek, verdien ons om die vleis te eet. Ek het in ’n afvoersloot vuurgemaak en die wors op ’n warm klip gaargemaak.

Naby Keimoes het ons ’n boer ontmoet wat ook in die weermag was en betrokke is by sekerheidsdienste. Ons het ingestem om een aand op sy plaas oor te bly, maar het só goed oor die weg gekom (en lekker army-stories uitgeruil) dat ons op die ou einde vier nagte gebly het. Dit mag dalk iets te doen gehad het daarmee dat sy vrou nie daar was nie…

Springbokkaperjolle buite Colesberg

Ons het nie ernstige blase gekry terwyl ons stap nie. Teen dag 26 het ek nie meer vel op my linkergroottoon gehad nie, maar ek het al heelwat ervaring met dié soort ding gehad in die weermag – twee dae later was die vel weer droog en hard en reg vir stap. Ons was gelukkig om nie ernstig siek te word of seer te kry nie.

Ons het ons voorraad op dorpe langs die pad aangevul, behalwe die laaste stuk deur die Richtersveld toe ons weer dae aaneen gestap het sonder om enigiemand anders te sien. Ons moes vir daai deel beplan om seker te maak ons het genoeg kos.

Die Richtersveld was die mooiste deel van die roete. Dit het amper prehistories gevoel, en in die dor landskap kon ek my en Alex se reis goed oordink.

Die son sak oor die Gariep

My hoofdoel vir die stap langs die Oranjerivier was om myself uit te daag, en ek dink ek kan sê ek het dit reggekry. Ons het ook sowat R30 000 ingesamel vir die betrokke liefdadigheidsorganisasies. Die goedheid van vreemdelinge het uit alle oorde gekom – ongeag mense se ras of geloof. Dankie aan almal wat bygedra het.

Ek het myself beter leer ken. Ek kan swaarkry hanteer en funksioneer goed onder druk.

Ek wil ’n interessante lewe lei – om reg oor my tuisland te stap was ’n goeie begin. Dit gaan sorg vir lekker stories vir my kleinkinders eendag!

Wil jy ook help?

Glen werk as projekkoördineerder en raadgewer vir Veterans for Wildlife. Die organisasie bring oudsoldate van die Verenigde Koninkryk na Suid-Afrika om taktiese en mediese raad en opleiding te gee aan die veldwagters wat in die voorste linie teen wildmisdaad staan.

Nog inligting veterans4wildlife.org. Die ander organisasie wat hy ondersteun, is die Royal Marines-liefdadigheidsorganisasie. Gaan na theroyalmarinescharity.org.uk as jy ’n skenking wil maak.

VOLG GLENInstagram: @glen.steyn Facebook: ExpedOrangeCape Union Mart-filmuitdaging: https://youtu.be/c6-pfALyOjk