Klik hier vir die res van dié reisplan.


Dag 9 

FOTO'S: SHELLEY CHRISTIANS (tensy anders vermeld)

Die R406-afdraai lê regs van die N2 net ná Riviersonderend. Dit slinger verby die Riviersonderend-bergreeks en sy groen valleie aan jou regterhand, met plase weerskante van die pad – canolavelde, koeie, skape, ’n bloukraanvoël of twee... Los jou voertuig by jou blyplek: Op Greyton is alles byna binne stap- of fietsry-afstand. Kry eers jou bearings met ’n tuisgemaakte limoncello of Bootlegger-koffie by The Hub and Spoke. Die kinders gaan gaande wees oor die groot grasperk, sandput en boomhuisie.

Nou’s jy reg om die wêreld te verken. (The Hub and Spoke verhuur fietse teen R80 per uur as jy nie wil stap nie.) Verwonder jou aan die opgeknapte kothuise omring deur roostuine. Greyton het ’n hele paar tweedehands- en hospieswinkels waar jy ’n stel silwermesse, voëlhokkie, kristalglase of ou National Geographic-tydskrifte kan koop.

Vir middagete kan julle die Old Potter’s Inn & Brewhouse se spek-en-kaasburger (R95) saam met ’n plaaslike boetiekbier geniet. Probeer gerus die Plaas Japie Saison (R40). Stap oor na Von Geusau Chocolates vir nagereg. Hier is proehappies – sjokoladesmulpape, hou julle in! Sjokoladeplakke (R35) word uitgestal teen die mure terwyl sjokoladebolletjies (R8) vir jou van agter die glastoonbank loer. Stap deur die kunsgalery langsaan terwyl jy besluit watter geur(e) jy gaan aanskaf: roosmalva, brandewyn, marsepein of iets met neute...

Oewerzicht-gasteplaas.
Oewerzicht-gasteplaas.

Die dorpie loop dood teen die Greyton-natuurreservaat. Verskeie staproetes begin dus op punte op die randjie van die dorp – gaan na greyton conservationsociety.com vir ’n netjiese roetekaart.

Stap die kort Zigzag-roete tot op ’n koppie vir ’n mooi uitsig oor die dorp. Honde is ook welkom. Dis net buite die reservaat – parkeer by die piekniekplek in Vleistraat.

Die Noupoortroete (1½ km) in die reservaat loop al langs ’n stroom in die Noupoortkloof af. Die kloof raak só smal dat jy later in die water moet stap. Jy stap basies tot dit te diep (of te koud) raak en draai dan om. Of stap ’n kort sirkelroete langs die Gobosrivier. Albei die roetes begin by die parkeerterrein aan die eindpunt van Parkstraat.

Bespreek vooraf vir ’n aandete by die The Post House. Pretfeit: Onthou jy daardie “Get that man a Bells!”-advertensie in “Skotland” waar die kunsvlieghengelaar die kroeg se sleutel deur die venster moet uitvis? Daai kroeg is The Post House! Soek Dougal (die dapper hengelaar) se portret op die muur terwyl jy knabbel aan stokvis-goujons (R65), klewerige varkrib (R75) of patatas bravas (R70).

Greyton-toerismekantoor: 028 254 9564; greytontourism.com

Old Potter’s Inn & Brewhouse: 028 254 9690; oldpottersinn.co.za

The Hub and Spoke: 084 512 8907; thehubandspoke.co.za

The Post House: 082 295 3408 (Louise); theposthouse.co.za

Von Geusau Chocolates: 083 628 0029; vgchocolate.co.za

BLY HIER

Die Oewerzicht-gasteplaas is sowat 9 km oos van Greyton aan die voet van die Riviersonderendberg. Hier is blyplek vir elke soort begroting. Kamp langs die Riviersonderendrivier of bly in Uitsigkothuis 1 met ’n stookbad! Jy gaan in die versoeking wees om Greyton te systap en net op die plaas uit te hang. Hier’s ’n swembad, groot groen grasperke, tennisbane, ’n vriendelike hond wat kom groet...

Kamp: vanaf R390 per staanplek p.n. vir 4 mense. Stone Cottages: R1 050 p.n. vir 2 mense. Ander selfsorg-kothuise: Vanaf R1300 p.n. vir 4 mense. Hulle het ook twee selfsorgkothuise, De Hoop Cottage en De Hoop Victorian House, op die dorp. 028 254 9831;oewerzicht.co.za

In die Anna’s Place-boomhuis word jy wakker in ’n see van blare. Dinge is knus; dus is dit ideaal vir ’n romantiese aandjie of twee. Week in die pootjiesbad terwyl jy deur ’n muur van glas oor die boomtoppe uitkyk. Toemaar, dis getint. Hier’s ook ’n buitelugstort en feëtjieliggies verlig jou paadjie sodra die son sak. Dit kos vanaf R800 p.p. 084 764 6012 (Anna); greyton-accommodation.com

DOEN DÍT

Markdag

Elke Saterdag tussen 10 vm. en 12 nm. kom stal die locals van oraloor die Overberg hulle ware uit onder ’n staning koeltebome in Hoofstraat. Van ou getroues soos vars groente, tuisgemaakte kaas- en melkprodukte en pannekoek tot suurlemoensmere en troeteldierversnaperinge.