Klik hier vir die res van dié reisplan.


Dag 10

Koffieliefhebbers kan gou ’n vinnige latte, cappuccino of flat white kry by Via’s. Hulle rooster en vermeng hulle eie koffie.

Ry nou na Genadendal en draai in by die Morawiese kerkkompleks wat langs ’n stroom geleë is. Hier’s ’n handelshuis, ’n wewery, ’n ou drukpers en ou smidswinkelkamer. Die kerk is oop; gaan loer gerus binne – die kerk en dorpie was die eerste Morawiese sendingstasie in die land.

Jy kan seker van hier af N2 toe en dan huis toe ry, maar hoekom? Ry Caledon toe en klim op die R320 deur die Hemel-en-aarde-vallei.

ATARAXIA

Hoe klink ’n MCC-proe – dis immers iewers in die wêreld nou al 12 vm. Draai in by Domaine des Dieux vir ’n yskoue glas vonkelwyn en ’n uitsig oor die vallei. ’n Proesessie van twee MCC’s en vyf wyne kos R55.

Jou maag grom sekerlik. Trek af by Mogg’s Country Cookhouse vir ’n onvergeetlike ete – besprekings is noodsaaklik! Sit aan vir varklies met swoerd, witwortel-puree, saliebotter en kapokaartappel met warm appelsous (R175) of kaassoufflé (R80). Lus vir iets soets? Ons beveel die gebakte sjokoladetert met Mogg’s se tuisgemaakte roomys (R70) aan. Of, wat van grenadella-en-klapperroom-crème brûlée? Onthou om op te kyk na die plafon vol dennebolle!

Teen dié tyd gaan jou kothuis jou roep vir ’n middagslapie. Dis jou besluit – gaan lê met ’n boek... of proe nog ’n paar wyne. Hier’s g’n tekort aan keuses nie. Daar’s byna elke sewe minute op die R320 nóg ’n wynplaas. By Ataraxia kan jy wynproe (R50 p.p.) in ’n opgeknapte kapelletjie bo op ’n heuwel.

Op Creation Wines se uitgestrekte grasperk kan jy soek vir beelde van die kunstenaar Nanette Ranger in die tuin. Kunstenaars kom dikwels hierheen om die omgewing te skilder. Hou hulle vordering dop terwyl jy proe aan wyn en sjokolade (R130 p.p.).

DOMAINE DES DIEUX

Keer terug na jou blyplek en gaan sit op die stoep. Lig jou glas vir oulaas na die omliggende Babilonstoringberg (jy’t mos onthou om ’n bottel van jou gunstelingwyn vir vanaand aan te skaf.)

Tjorts op die Overberg!

Via’s: 028 254 9190; vias.co.za

Ataraxia: Wines 028 212 1921; ataraxiawines.co.za

Creation Wines: 028 212 1107; creationwines.com

Domaine des Dieux: 028 313 2126;domainedesdieux.co.za

Mogg’s Country Cookhouse: 076 314 0671; moggscookhouse.co.za

BLY HIER

Op High Season Farm kan jy die plaaslewe met allerlei luukses ervaar. Die moderne selfsorgkothuise met braaiplek op die stoep het plek vir twee tot ses mense. Die kothuise is tussen kampe waar ngunibeeste rustig wei; elkeen met ’n uitsig oor die Babilonstoringberg. Pryse vanaf R1300 p.n. vir 2 mense. 021 200 2514; highseasonfarm.co.za

Die Volmoed-oord is meer bekostigbaar, ook met verskeie selfsorghuise met slaapplek vir 2 tot 12 mense. Hier’s verskeie paadjies op die uitgestrekte boomryke gronde en geen televisies nie. Pak boeke, bordspeletjies en ’n verkyker. Pryse vanaf R800 p.n. vir 2 mense. 028 312 1282;volmoed.co.za

DOEN DÍT
As jy nie self wil ry nie, doen ’n wynsafari saam met Hermanus Wine Hoppers. Jy kan op- en afklim na goeddunke. Die toere vertrek van hulle stalletjie (no. 18) by die Village Market Stall af. Dit kos R300 p.p. 076 991 2498; hermanuswinehoppers.co.za