Die Alaska-hoofweg – wat strek oor ’n allemintige 2 220 km deur Kanada en Alaska – is jare reeds op my doenlysie. Ek en my vrou, Irma, het in die jare tagtig in Francisco, Kalifornië, gebly en toe reeds oor dié road trip gedroom, maar Amerika is groot en dié pad was kilometers ver!

In later jare het Irma se broer Leon Bekker en sy vrou, Marie, getrek na die stad St. Albert in Kanada. Toe Leon ’n dubbelkajuitbakkie en ’n dubbelas-Cub-woonwa aanskaf, het ons droom weer vlamgevat. In Augustus 2017 vlieg ek en Irma Kanada toe en kon ons ná ’n 35 dae lange toer die hoofweg op ons lysie afmerk!

Díé bekende hoofweg is in 1942 tydens die Tweede Wêreldoorlog gebou om Amerika oor Kanada met Alaska – die 49ste staat – te verbind. Die roete is in ’n rekordtyd van agt maande gebou deur ongeveer 10 000 Amerikaanse soldate.

Voorheen was groot dele grondpad, maar vandag is byna alles geteer. Die pad begin amptelik op die dorp Dawson Creek in Brits-Columbië en eindig op die dorp Delta Junction in Alaska.

Die roete is in ’n rekordtyd van agt maande gebou deur ongeveer 10 000 Amerikaanse soldate.

Emerald Lake naby Carcross is presies wat die naam aandui.

Ons het vooraf ’n deeglike toerplan uitgewerk. Hiervoor was The Milepost-toergids onontbeerlik. Dis ’n jaarlikse publikasie van 700 bladsye wat alle roetes in Alaska en die westelike deel van Kanada myl vir myl dek. Ons het niks vooruit bespreek nie, behalwe kampplek in die Denali- nasionale park, want die park is uiters gewild in die somer. Die plan was om dinge rustig te vat en sowat twee tot drie nagte by ’n plek oor te bly.

Nie een van ons was vertroud met ’n woonwa (travel trailer) nie. Die Amerikaners en Kanadese hou meestal vakansie in ’n soort ryhuis – hulle noem dit recreational vehicles (RV’s). Parke vir dié ryhuise is redelik volop en goed uitgelê. In ’n RV-park kan jy met ’n RV, woonwa of ’n tent oorstaan. Ons moes gewoond raak aan die bestuur en op- en afhaak van die woonwa, asook om dit te koppel aan water, elektrisiteit, en riool in die parke.

Ons het nooit gesukkel om staanplek te kry nie. Die pryse was ook billik: gemiddeld $40 (R530) per staanplek. Dit sluit gewoonlik water, elektrisiteit, riool, Wi-Fi, en ’n gemeenskaplike badkamer met storte en wasmasjiene in.

leser vertel
Brandstof in Alaska is maklik beskikbaar, al is dit soms by ’n onbemande bogrondse tenk.
’n Bison wei langs die pad in Kanada.

Al wat kort, was braaiplekke; die mense ken nie juis van braai nie en jy moet jou eie ketelbraai saamkarwei.

Van Dawson Creek af het ons gery na die Liard River Hot Springs- provinsiale park. Net buite die park het ’n trop bisons langs die pad gewei. 

Hier is ’n stuk of agt warmbronne in ’n digte woud. Dit was salig om in die warm water te baai tussen die hoë bome. Ons het Irma se verjaardag daar gevier met skaaptjops en ’n bottel Roodeberg.

Volgende op die lys was die dorp Watson Lake met sy “woud” van duisende naambordjies. Die storie loop dat ’n soldaat glo in 1942 hier uitgeplaas is omdat hy siek was. Hy het huis toe verlang en ’n bordjie van sy tuisdorp se naam opgerig. Oor die jare het mense bordjies bygesit en nou is daar al meer as 80 000!

Whitehorse is die hoofstad van Kanada se Yukonstreek – die bekende Yukonrivier loop deur die stad. Net buite die stad is ’n visleer waarteen die salm opswem na ’n dam toe.

Hy het huis toe verlang en ’n bordjie van sy tuisdorp se naam opgerig. Oor die jare het mense bordjies bygesit en nou is daar al meer as 80 000!

Daar is baie om te sien in Whitehorse – soos die SS Klondike, ’n ou stoomboot wat in vervloë dae op die Yukon gevaar het, en die Yukon-vervoermuseum. In die RV-park is ’n paar ou verroeste militêre konstruksievoertuie wat gebruik is met die bou van die Alaska-hoofweg. Van Whitehorse af het ons noord gedraai na Dawson City, by die samevloeiing van die Yukon- en Klondikerivier. Dié klein, afgeleë dorpie het sy glorietyd beleef in die goudstormloopdae in die laat 1800’s.

Die Denali- nasionale park in Alaska is prentjiemooi.
Ons staanplek in Stewart op die grens tussen Brits-Columbië en Kanada.
Die naambordjiewoud in Watson Lake, Kanada.

Die temperatuur was meer as 30 °C en die dorpie is so ver noord dat dit eers ná 11 nm. donker geword het. Net buite die dorp kan jy van die Midnight Dome-uitkykpunt af uitkyk oor die Yukonvallei met die berge wat uittroon aan albei kante van die rivier. ’n Bootrit op die rivier laat jou die atmosfeer van die plek ervaar, asook ’n dansvertoning in Diamond Tooth Gerties Gambling Hall. Dié casino herinner sterk aan ’n “saloon”.

My hoogtepunt was egter ’n besoek aan die Dredge No. 4, ’n entjie buite die dorp. Hierdie enorme baggerhoutboot het tot 1959 goud uit die rivier gebagger – teen ’n ongelooflike 14 000 m³ gruis per dag! Die boot het sy eie dam gegrawe waarin dit gedryf het terwyl dit in die rivier af beweeg het.

Van Dawson City af het ons met ’n pont oor die Yukon gevaar tot in Alaska. Jy ry dan met ’n grondpad met mooi uitsigte; dit staan bekend as die Top of the World-hoofweg. Die grenspos tussen Alaska en Kanada is sekerlik een van die mees verlate grensposte ter wêreld.

Die warmwaterbronne by die Liard River Hot Springs- provinsiale park, Kanada.

Hallo, Alaska!

By die dorp Delta Junction het ons die eerste keer die bekende Alaska-pypleiding gesien. Dié oliepypleiding van sowat 1 200 km loop van Prudhoebaai by die Noordelike Yssee tot by die dorpie Valdez in die suide, waar die olie verskeep word. (Van die lesers sal die Exxon Valdez-olieramp in 1989 onthou – dit het plaasgevind in die Prince William-seestraat, sowat 200 km suid hiervandaan.)

Die volgende stad was Fairbanks – die stad is net duskant die Noordpoolsirkel en die verste noord wat ons gereis het. Van middel Mei tot middel Junie skyn die son vir byna 24 uur!

Die Fountainhead Antique Auto Museum was ook besonders – hier’s ’n versameling van skaars antieke voertuie, almal nog in ’n uitstekende toestand.

Al is die Yukon en Alaska yl bevolk en die dorpies klein, is daar heelwat uitstekende museums. En byna elke dorp het ’n netjiese toeristesentrum (met gratis Wi-Fi) waar vrywilligers gereed staan met kaarte en inligting.

Ná Fairbanks het ons gemik vir die Denali- nasionale park. Jy kon dié park se sneeubedekte berge van Fairbanks af al sien. Denali (6 190 m) is die hoogste spits in Amerika.

Besoekers mag net ry tot by die lodges of kampterreine in die park. By die kampterreine is die geriewe beperk tot krane en puttoilette.

Daar is net een pad in die park en dit loop vir sowat 150 km tot in die Kantishna-omgewing, waar die pad summier eindig. Die enigste manier om die pad te ry is met ’n parkbus – die uitstappie kos sowat $34 p.p. (R450).

Jy moet vooraf bespreek en bring dan sowat 12 uur op hierdie bus deur – van vroegoggend tot vroegaand. Alle besoekers ry met hierdie busse en elkeen is vol bespreek tot de laaste sitplek. Die busbestuurder is ook die gids.

Daar is geen eetplekke nie; jy pak ’n kospakkie vir die dag. Ons het mooi weer gehad en kon Denali se sneeubedekte spits plek-plek deur die wolke sien. Jy word heeldag omring deur berge, sneeu, riviere en groen vlaktes.

Ons het 12 grysbere (grizzlies) gesien, ook kleintjies én ’n Amerikaanse eland (moose) en heelwat Dall-skape.

Die hawe by Homer op die Kenai-skiereiland is gewild onder halibutvisvangers.

Volgende was Anchorage, ’n kleinerige kusstad omring deur nóg sneeubedekte berge en gletsers. Ons het die woonwa daar gelos en met die bakkie gery na die dorp Homer op die Kenai-skiereiland, ’n gewilde vakansiebestemming en veral bekend vir halibuthengel.

Ons het ook die afgeleë kusdorpie Whittier aangedoen. ’n Enkele eenrigtingtonnel – die Anton Anderson-gedenktonnel – verbind die dorpie naby die Portage-gletser met die buitewêreld. Voertuie en ’n trein gebruik die tonnel om die beurt. Die meeste van die dorp se sowat 200 inwoners bly in een massiewe gebou wat met ondergrondse tonnels verbind is aan onder meer ’n apteek en supermark. Die yskoue winter strek hier van Oktober tot April!

Die meeste van die dorp se sowat 200 inwoners bly in een massiewe gebou wat met ondergrondse tonnels verbind is aan onder meer ’n apteek en supermark

Van Anchorage af het ons met die Glenn-hoofweg gery na die mooi kusdorpie Valdez. Op pad soontoe ry jy verby die Matanushka-gletser en die enorme Wrangell-St Elias- nasionale park, teen sowat 50 000 km² die grootste in Amerika. Ons laaste staanplek in Alaska was op die dorpie Tok, waarna ons weer oor die grens is na Kanada. Nog ’n hoogtepunt op pad terug was die Meziadin Lake- provinsiale park, waar jy reg langs die water kan kamp, asook Stewart. Die natuurskoon is ongelooflik, met mooi gletsers en salm wat voor jou in die water swem.

My blywende indruk van Alaska is van ’n uitgestrekte, verlate landskap met min mense, maar baie berge, bome, riviere en gletsers.

Die landskap lyk grootliks ongerep – jy sien nêrens grensdrade of opstalle nie. Die dorpies is klein (soms net gehuggies) en ver uitmekaar. Die meeste van die bietjie verkeer is toeriste in RV’s. Die paaie is uitstekend en brandstof geredelik beskikbaar. Regdeur die toer kon ons altyd kruideniersware koop.

By die huis het vriende en familie uitgevra oor sneeu en koue. Nee, alles was groen met sneeu slegs op die berge en ons het meestal warm gekry. En die berugte Alaska-muskiete? Nee, nooit gesien nie.