Ons het ’n meesterstappaklys saamgestel vir veeldagroetes – dit werk vir enige roete, nie net die Otter nie. Laai dit hier onder af en bêre dit vir jou volgende staproete. 

Die Otter met sy rivierkruisings (veral die Bloukranskruising) hou egter besondere uitdagings in. Sit dus ook die volgende op jou staplys:

’n Oorlewingsak (“survival bag”) waarin jy jou sak kan sit as jy oor die rivier moet swem.

Party mense dra ’n tou saam om hulle sakke aan vas te maak en agter hulle aan te sleep met die rivierkruising. Besluit maar self of jy die ekstra gewig wil dra!

Watersandale of Crocs is baie nuttig as jy aan die ander kant van die rivier op skerp rotse moet uitklim. Dit beskerm ook jou voete teen klippies as jy deur die water loop. 

Ekstra Ziploc-sakkies en plastieksakke om al jou goed in te verpak voor ’n rivierkruising.

As julle gelukkig is, kan julle net deur die Bloukransrivier stap. Maar wees voorbereid om te swem – en met ’n droë sak ander kant uit te kom! Foto: Suzaan Hall

Getykaart. Dis belangrik om te weet wanneer die beste tyd vir rivierkruisings is. Jy kry dit by die kantoor aan die begin van die roete. 

Maak seker jy bêre dit veilig (en hou dit droog!).

Vleis! Daar’s braaiplekke en roosters by elke hut. 

Jy kan dus op die eerste en tweede aand braaivleis eet as jy wil (en selfs op derde aand in die kouer wintermaande, wanneer die vleis langer hou).

Vakuumverpak en vries dit vooraf.

Los maar!

Julle slaap in hutte, met matrasse, los dus jou tent, grondseil en matrassie by die huis. 

Laai hierdie veeldagstap-paklys as 'n PDF-dokument af. 

Hierdie artikel het in Weg #146 (Desember 2016) verskyn.