1. Tent en slaapsak

Pak hierdie eerste. Sit jou slaapsak in’n swartsak – die laaste ding wat jy aan die einde van ’n uitputtende dag nodig het, is ’n nat bed! Dis beter om jou tent binne-in jou sak te pak om te keer dat jy tentpale en -penne verloor terwyl jy stap. Die relatiewe swaar tent sal ook na aan jou rug wees – ’n goeie manier om die gewig te versprei.

2. Klere

Bêre jou klere in ’n swartsak en pak dit in jou sak, bo-op jou slaapsak.

3. Noodhulptassie

Pak dit aan die onderkant, tussen jou slaapsak en tent. Maak net die ritssluiter aan die onderkant oop as jy dit vinnig moet uithaal.

4. Plat goed

Skuif plat goed voor in jou sak in. Jou grondseil en kaarte pas mooi tussen jou klere en die voorkant van jou sak. Bêre jou paspoort, permitte, selfoon, karsleutels, geld, GPS en kompas in ’n Ziploc-sakkie en hou dit by jou kaarte.

5. Kos

Om verskillende maaltye in aparte sakkies te pak werk nie vir my nie. Ek verkies om al my kos in een groot deurskynende sak te hou. Dan kan ek enige tyd uitgrawe waarvoor ek lus voel. Hou jou mes, sout, peper en speserye (in ou 35 mm-filmhouertjies) saam met jou kos.

6. Potte

Bêre breekbare goed soos ’n leesbril, donkerbril en jou koplamp binne-in die potte.

7. Pluisstofbaadjie

Pak hierdie bo-op jou kossak. Dit sal help om goed te isoleer wat kan smelt, en as die weer skielik verander, is dit maklik om uit te haal. Bêre jou pluisstof-handskoene en –mussie binne-in jou baadjie se sakke. Slim, nè.

8. Boonste sakkie

Bêre jou spatseil, reënbaadjie, kamaste, hoed, verkyker en kamera (in ’n Ziplocsakkie) in hierdie sakkie.

9. Boonste sysakkie links

Bêre een van jou waterbottels hier saam met jou stofie, sakkies Game en suiker.

10. Onderste sysakkie links

Vir jou noodgashouers. (En die res van jou toiletware – as jy nou nie sonder jou opknapper en gaswarmborsel kan klaarkom nie.)

11. Boonste sysakkie regs

Vir jou tweede waterbottel, vlekvryestaalbeker, vuuraansteker, Spork, tee, koffie, poeiermelk en ’n paar skemerkelkies… Goeie whisky is al ding wat die Drakensberg se water beter laat smaak!

12. Onderste sysakkie regs

Hou jou toiletpapier, spaarvuurhoutjies en vuuraansteker in twee Ziploc-sakkies. Bêre jou graaf hier, plus jou toiletware, sodat alles bymekaar is as jy soggens jou neus poeier.

13. Vasgemaak aan die rugsak

Maak jou sandale, stapstokke en slaapmat (toegedraai in plastiek) vas aan die buitekant van jou rugsak en jou fluitjie aan een van die skouerbande. Vermy enige ander items, veral staalbekers. Die geklingel gaan maak dat iemand by ’n afgrond afspring.

Foto: Dawie Verwey

Nóg wenke

• Dink prakties wanneer jy begin pak. Pak die goed wat jy die meeste gaan nodig hê, heel laaste – jy wil nie jou hele sak omdop om by ’n Dirkie uit te kom nie.
• Daar bestaan nie iets soos ’n waterdigte rugsak nie. Draai álles wat moet droog bly, in plastiek- of Ziploc-sakkies toe.
• Almal het hulle eie manier van pak. My beste raad? Begin onder. Maak die sak heeltemal oop. As jou sak ’n horisontale skeiding het, maak dit ook oop.

Jy gaan in elk geval elke aand jou hele sak uitpak op soek na die verdomde muskietweerder, en alles weer die volgende oggend oorpak. Een groot kompartement werk beter as twee kleineres.