Hier is Patagonië se hoogtepunte.

Dis vroegoggend op 13 Januarie 2017, Hanlie se verjaardag. Gisteraand was bitterkoud by ons kampplek langs ’n rivier reg onder die Exploradores-gletser. Ek rits ’n hoekie van die daktent se venster oop. Die eerste sonstrale skyn deur die mis op die gletser. Droom ek nog? Ek knyp myself: Ek ís wakker en ons ís in Patagonië!

Patagonië is ’n streek aan die suidpunt van Suid-Amerika. Dit strek oor Argentinië en Chili en sluit die suidelike deel van die Andesgebergte in.

Hoe beland twee mense van in die sestig in Patagonië, wonder jy dalk. Ek en Hanlie het in 2016 afgetree. Dit was vir ons ’n kommerwekkende gedagte. Wat op aarde gaan ons doen? Ons hou daarvan om te toer, maar was al by die meeste tradisionele bestemmings in Suider-Afrika.

Ons goeie vriend Johan Verloren van Themaat stel toe Suid-Amerika voor... in ons eie voertuie. Nog ’n rede hoekom ons Suid-Amerika gekies het, is omdat ons albei stappers is – ons het juis 40 jaar gelede op ’n staptog in die Bolandse berge ontmoet.

En sedert daardie studentedae wou ons nog altyd die Andesgebergte beleef.

Vivian en Hanlie se avontuur het ’n paar veerboot-kruisings ingesluit soos hier by Puerto Yungay, Chili, waar hulle die Landie in trurat tot op ’n veerboot genaamd Don Fernando moes kry.

Ná ’n berg navorsing en voorbereiding ry ons op ’n mooi dag in Oktober 2016 van Pretoria na Kaapstad, waar ’n 44 voet-vraghouer in die hawe wag. Ons Landie, ’n 2006 Defender 300 Tdi Kalahari, is eerste in, gevolg deur Johan se Land Cruiser. Die voertuie is vasgemaak, die deure van die vraghouer geseël en ons het ons rygoed senuagtig gegroet. Gaan alles in een stuk aan die ander kant uitkom?

Gaan hulle énigsins daar uitkom? Die voertuie het eers na Spanje en toe na Montevideo, Uruguay, gevaar. Ses weke later vlieg ons na Argentinië se hoofstad, Buenos Aires, en vaar met ’n pont na Montevideo. Drie dae later is die papierwerk afgehandel en die nodige tariewe betaal. Die seël op die vraghouer is oopgesny en die deure oopgemaak. Die voertuie was net soos ons hulle gelos het. Nadat ons die battery gekoppel het, het al twee met die eerste draai van die sleutel gevat!

Die voertuie is vasgemaak, die deure van die vraghouer geseël en ons het ons rygoed senuagtig gegroet. Gaan alles in een stuk aan die ander kant uitkom?

Die realiteit het egter aangemeld toe ons laat die Vrydagmiddag uit die hawe ry… tot ín die spitsverkeer. My senuwees was aan flarde! Maande van onbekende paaie het voorgelê; dit was ’n uitdaging om aan die regterkant van die pad te ry, en om nie ’n woord Spaans te verstaan nie… Wat gaan ons doen as die Landie ’n meganiese probleem kry? Wat as ons in ’n ongeluk is? Wat as ons mediese hulp nodig het? Van Montevideo af het ons teruggereis tot in Argentinië en suidwaarts gery na Ushuaia, die mees suidelike dorp in Patagonië – ’n volle 5 000 km ver!

Vivian en Hanlie het op hulle reis nét gekamp. Soms by kampplekke, maar ook wild soos onder die Exploradores-gletser in Chili

Op Ushuaia het ons seun, Tiaan, by ons aangesluit en twee weke lank saam getoer. Van daar af het ons die ruggraat van die Andes weer noordwaarts gevolg. Hier is vyf dinge oor dié tog wat my altyd sal bybly.

1. Die Andes

Ons het in wêreldbekende plekke in die Andes-gebergte gestap en gekamp: Torres del Paine- nasionale park, Cerro Castillo- nasionale reservaat en die Suidelike en Noordelike ysvelde. En ons was by die voet van die bekende Berg Fitzroy (3 375 m). Dié plekke lê ’n paar honderd kilometer uit mekaar al langs die Andesgebergte en weerskante van die grens tussen Argentinië en Chili.

Torres del Paine (“blou torings”) is seker Chili se bekendste park en duisende toeriste kom stap elke jaar hier. Die hoogtepunt van die park is die drie graniet-“torings”. ’n Paar honderd kilometer noord van Torres del Paine, in Argentinië, lê die Perito Moreno-gletser.

Anders as die oorgrote meerderheid gletsers op aarde lyk dit asof Perito Moreno groter word en nie kwyn nie. Dit was ’n anderwêreldse ervaring om die gekraak en gerommel van die ys te hoor. El Chaltén is ’n klein toeristedorp in die Los Glaciares- nasionale park – noord van Perito Moreno, steeds in Argentinië. Hier is Berg Fitzroy die groot trekpleister – dié piek lok klimmers van reg oor die wêreld. Ons het ’n paar dae in die park gekamp en gestap.

Hanlie by die Torres del Paine

2. Koue kwadraat

Die Patagoniese ysveld tussen Chili en Argentinië is die grootste ter wêreld buite die poolstreke. Die Suidelike ysveld is sowat 350 km lank en beslaan ’n gebied van sowat 12 300 km2, wat dosyne gletsers in die omgewing voed. Saam met die kleiner Noordelike ysveld (4 200 km2), is die gebied sowat 85% van die Krugerwildtuin se grootte. 

Jy kyk uit oor blouwit ysriviere wat stadig beweeg. Kort-kort hoor jy hoe groot stukke ys afbreek en in die mere val waarteen die gletsers eindig. Ongelukkig word die ysvelde kleiner weens klimaatsverandering.

Jy kyk uit oor blouwit ysriviere wat stadig beweeg...

Patagonië se berugte wind het sy reputasie gestand gedoen. Ons het winde van tot 100 km/h beleef. As dit van voor af was, kon die Landie net stadig vorentoe kruip. Naby Berg Fitzroy het ons ’n senutergende voorval beleef: ’n Rukwind het Hanlie aan haar rugsak gegryp, van haar voete af gelig, in die rondte laat tol en haar op rotse naby laat val. Gelukkig het sy net ’n blou oog en ’n paar kneusplekke oorgehou. Om aan die genade van die elemente oorgelaat te wees was intimiderend, maar dit het op die ou einde gesorg vir ’n avontuurlike reis.

3. Landskap van uiterstes

Patagonië se landskap wissel baie. In Argentinië voel dit asof jy in die Tankwa-Karoo rondry – dis droog en verlate. In Chili is die landskap welig en groen met reënwoude op plekke. Daar is plekke wat meer as 3 500 mm reën per jaar kry!

Chili is lank en smal en die suidelike derde van die land is ’n lappieskombers van eilande, riviere en mondings. Hier loop net een pad – die Carretera Austral – van noord na suid. Dis waarskynlik die mooiste pad in Suid-Amerika – of dalk ter wêreld! Hier’s oral water: riviere, mere, ys én soutwatermere. Die Chilene het ’n pontnetwerk dwars oor Patagonië gevestig. Die aantal pontroetes mors met ’n mens se kop en ons het ’n hele paar kruisings gedoen.

Hanlie kyk uit oor die General Carrera-meer, wat oor Chili én Argentinië strek. In Argentinië word dit die Buenos Aires-meer genoem.

4. Lank leef die boskamp!

Argentinië en Chili is relatief veilig en ons het omtrent een uit drie aande ’n boskamp gemaak, waar ons sommer net gekamp het op ’n kol ’n ent weg van die hoofpad af. Dit was opwindend om selfonderhoudend te wees en sommer in die natuur te kamp. Ons het ’n app met die naam I-Overland ( ioverlander.com) gebruik. Dit word voortdurend bygewerk deur ander reisigers, en was nuttig as ons ’n kampplek soek (amptelik of nieamptelik). Ons het net gekamp en glad nie in gastehuise of bed-en-ontbytplekke gebly nie.

5. Land Rover-kameraadskap

Het jy al ooit probeer om – in Spaans – aan ’n motorwerktuigkundige te verduidelik dat jou Land Rover se universal joints geghries moet word?

Die band tussen Land Rover-eienaars is net so sterk soos in Suider-Afrika. Jy sien nie so baie nie, veral nie van die nuwer soort Discovery of Range Rover nie, maar as jy ’n Landie sien, groet die bestuurder jou altyd. En as jy hulp nodig het, sal iemand van die Argentynse Land Rover-klub bystand bied. Die Cruiser-mense het seker almal dieselfde vraag… Nee, ná byna 37 000 km het die Landie ons nie een keer in die steek gelaat nie!


Suid-Afrikaners eerste op piek

’n Groep Suid-Afrikaanse klimmers, onder leiding van Paul Fatti, het in Januarie 1974 die eerste keer teen die 1 300 m hoë oostelike rotswand (East Face) van die middelste toring van Torres del Paine uitgeklim. Dit was in daai stadium die hoogste vertikale rotswand ter wêreld waarteen mense tot bo geklim het.

Die span het in aaklige weerstoestande geklim. Hulle het ’n maand gevat om tot op ’n plek na aan die bopunt te kom, net om deur ’n storm afgejaag te word. Hulle het ’n sneeugrot gegrawe en agt dae lank binne-in geskuil. Toe die weer opklaar, het Mike Scott en Richard Smithers weer met hulle (nou bevrore) toue opgeklim en uiteindelik die piek gehaal.

Dit het 30 jaar gevat voordat iemand weer die roete aandurf – weer ’n Suid-Afrikaanse span, dié keer onder leiding van Alard Hufner. Dit staan steeds bekend as die Suid-Afrikaanse roete. Om hierdie piek te aanskou het my trots gemaak om ’n Suid-Afrikaner te wees.

Mike Scott
Foto: Mike Scott
Die kaart
Dís hoe dit gedoen word

Ná die eerste reis deur Patagonië het ons die Land Rover in Suid-Amerika gelos. Ons was sedertdien al twee keer terug vir nog reise: deur die sentrale Andesgebergte na Cusco in Peru; en van Cusco af terug na Uruguay deur Bolivië, Paraguay en Brasilië. Elke reis duur sowat drie maande.

Ons beplan om volgende jaar die Pantanal en Amasone-reënwoud in Brasilië te verken, asook minder bekende lande soos Frans-Guiana, Suriname en Guiana.

Lees meer oor ons avonture, hoe om jou voertuig te verskeep en aan te pas vir oorlandtoere en al die nodige beplanning by between2safaris.com.

Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet?

Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s.

As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusiefoto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling. Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za.

Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees asseblief die bepalings en voorwaardes by weg.co.za.