Vroeg een oggend in Mei 2018 staan ons hoog op ’n krans in Peru tussen talle bergspitse. Die hange is grasgroen en die mis dwarrel om ons. Elke nou en dan lig die wasigheid en kry jy ’n vlugtige blik op die valleie en rivier doer onder.

Toeriste maal rond, maar die toneel voor jou is betowerend en jy let hulle skaars op. Jy staan verstom oor die Inkas se vasbeslotenheid om ’n kliptempel op so ’n onherbergsame plek te bou.

Welkom by Machu Picchu, hoog in die Andesgebergte!

Peru is effens groter as Suid-Afrika met drie geografiese gebiede: Langs die 3 000 km lange kuslyn lê ’n woestyn, ’n verlenging van Chili se Atacama-woestyn. Net sowat 100 km binneland in verrys die Andesgebergte uit dié landskap; nóg sowat 100 km oos val die bergreeks weg tot onder op die reënwoudvloer.

Hier stu honderde riviere en strome deur tropiese ruigtes; almal op pad na die moeder van riviere – die Amasone.

Dis in hierdie uiterste landskap waar antieke volke met Spaanse invloede saamgesmelt het om uiteindelik die moderne Peru te vorm.

Jy staan verstom oor die Inkas se vasbeslotenheid om ’n kliptempel op so ’n onherbergsame plek te bou.

Cusco was eeue lank die hoofstad van die Inka-ryk wat gestrek het van Ecuador tot by Chili. Die stad is in 1983 tot ’n wêrelderfenisgebied verklaar. Foto: JOHAN VER LOREN VAN THEMAAT

Die wêreld se naeltjie

Cusco is die oudste stad in die Amerikas waar daar nog altyd mense gewoon het. Dit was die hoofstad van die uitgebreide Inka-ryk van die 13de eeu tot die aankoms van die Spanjaarde in die 16de eeu. Die Inkas het dit El Ombligo del Mundo genoem, “Die naeltjie van die wêreld”.

Deesdae is Cusco die poort tot Machu Picchu en verskeie ander ruïnes van die Inka-tydperk. Die stad bied veel meer as klippe en vergete stories: Baie Quechua-mense, die afstammelinge van die Inkas, woon nog hier en baie van die ou tradisies het behoue gebly.

Die Centro de Textiles Tradicionales in Cusco is byvoorbeeld ’n lewende museum waar llama- en alpakkawol met die hand geweef word vir kleurryke, tradisionele materiaal. Hanlie was gaande oor die lappe en ons sakke het omtrent boepens gestaan van die aankope!

Machu Picchu is die gewildste toeristebestemming in Suid-Amerika. In ’n poging om skares te beheer word slegs 2 500 besoekers per dag toegelaat. Gewoonlik vermy ons dié soort trekpleisters, maar ons kon nie dié ikoniese plek misloop nie.

Pleks van die bekende Inka-roete saam met ’n georganiseerde toergroep stap, kies ons die minder bekende Salkantay Trek.

Hanlie aan die begin van die Salkantay-trek met die Salkantay-berg wat tussen die wolke uittoring.

Ons neem taxi’s van Cusco na Soraypampa, ’n dorpie nóg dieper in die berge. Daar gooi ons ons rugsakke oor ons skouers en begin stap volgens die kaart wat ons in Cusco gekoop het. Die plaaslike mense en enkele stappers wat ons teëkom, kyk ons verbaas aan. “Waar is julle gidse en portiere?” vra hulle.

Wel, dis nou te laat...

Ons het twee dae gelede in Cusco (3 399 m) aangekom en is nog glad nie gewoond aan die hoogte bo seespieël nie. Met die eerste tree klim die roete reeds. Die yslike Salkantay-berg (6 271 m) gooi ’n skaduwee oor ons én ons gemoed. Én toe begin dit liggies sneeu!

Hanlie sukkel in die dun lug en met die swaargelaaide rugsak. Later daardie middag skuifel ons uitasem – een pynlike tree ná die ander – tot by die bopunt van die Salkantay-pas (4 630 m.) Dit reën katte en honde.

Die Gerickes het hierdie vroue in tradisionele drag met drie jong llamas in Cusco raakgeloop.

Wat ’n verligting toe ons A-raam-skuilings in ’n halfmaanformasie gewaar. Elkeen net groot genoeg vir ’n klein staptent.

Ons sluk ’n bietjie sop af, trek ál die klere in ons rugsakke aan en klim doodmoeg in ons slaapsakke.

Die voetpaadjies is nie duidelik gemerk nie en oor die volgende drie dae verdwaal ons telkemale (volgens die kaart is die Salkantay-trek 70 km, maar ons stap uiteindelik 100 km oor 4 dae.) Ons waad deur heupdiep, yskoue riviere. Dié riviere vloei vinnig en ons klou aan mekaar vas om nie in te val nie. Ons glip en gly op modderige voetpaadjies in stortreën.

Ander kere strompel ons deur woude vol orgideë, lugplante en kleurryke bromelias. Die uitsigte oor Machu Picchu doer in die verte spoor ons telkens aan.

Stokflou kom ons aan op die dorpie Aguas Calientes aan die voet van Machu Picchu. Met kloppende voete sluit ons aan by die toue toeriste om kaartjies te koop om die antieke vestingstad die volgende dag te besoek.

Die aand slaan ons vir oulaas tent op. Toe ek my stapskoene uittrek, is dit blase net waar jy kyk! Drieuur die oggend staan ons op, slaan die tent af en gaan staan vyfuur in die ry. Toe die hekke oopswaai, stoei ons vir ’n plekkie om die 2 000 trappe (blase en al) tot by die ruïnes te klim. (Jy kan ook met ’n bus soontoe ry.)

Machu Picchu lê bo-op ’n berg omring deur smal klowe en hoë pieke. Die Inkas het die ganse plek gebou met yslike gladde klippe sonder enige dagha. Hoe hulle dié swaar klippe hier gekry het, weet nugter. Die plek is só afgeleë, dis eers in 1911 “ontdek”!

Hier kan ’n mens sien hoe die Inkas mure sonder dagha gebou het.
Die Heilige Vallei tussen Cusco en Machu Picchu was ’n vrugbare boerderygebied waar die Inkas met onder meer avokado’s, kakaoplante en koring geboer het. Foto: JOHAN VER LOREN VAN THEMAAT

’n Engel in die reënwoud

Terug in Cusco sluit ons aan by Angel Robles vir ’n uitstappie na die Manu- nasionale park. Dié afgeleë park het nie veel van ’n padnetwerk nie en jy kan dit net met ’n gids besoek.

Hier is natuurlik honderde toeragentskappe wat allerlei toere soontoe aanbied, maar ons is op soek na ’n outentieke ervaring. Die geluk is aan ons kant, want Angel (manurainforestperu.com) het in die woud grootgeword en sy ma en broers bly steeds daar.

’n Vervalle lodgegebou in die afgeleë Manu- nasionale park in die Amasonereënwoud.

Weens swaar reën het ’n hengse grondverskuiwing plaasgevind op die pad van Cusco na die reënwoud; dit neem ons byna heeldag om by die Madre de Dios-rivier uit te kom met ’n Toyota Hiace.

By die rivier klim ons op ’n vlot om die vreemde hoatzin te soek – die voël lyk soos ’n kruising tussen ’n hoender, ’n valk en ’n punk rocker. Ons is gelukkig en sien ’n mannetjie en wyfie op ’n tak reg voor ons.

Daarna vaar ons met ’n klein boot oor die rivier en kom net voor sonsondergang aan by die lodge: vier bungalows weggesteek tussen enorme bome. Eksotiese voëls en ape kwetter en roep vir oulaas voordat dit donker word.

Die jaguar is die hoofroofdier in die Amasonereënwoud. Die Manu- nasionale park is een van die beste plekke in Peru om dié skugter kat te gewaar.
Die hoatzin is die enigste voël ter wêreld waarvan die kuikens met kloutjies op hulle vlerke gebore word. Dié voëls bou meestal hulle neste naby die water en die kloue stel die kuikens in staat om tussen die lae takke wat oor rivieroewers hang te klim voordat hulle leer vlieg.

Die volgende oggend maak dieselfde oerwoudgeluide ons wakker. Ons kyk deur die bungalow se gaasmuur hoe die dag lewe kry. Later kry elkeen ’n stel rubberstewels en vaar ons tot by die volgende kamp, die Tree House Lodge. Dié hutte sit hoog in die bome. In die takke skel arapapegaaie luidkeels en vreet bessies. Kapusyner-apies loer tussendeur die blare.

Vroegoggend en laatmiddag verken ons die digte reënwoud; ons waad deur strome, systap tarantulas en merk 41 voëlspesies af met Angel se hulp. Al drywende op opblaasbande gewaar ons nuuskierige otters in die water. Gelukkig maak nie enige van die ander kreature wat in die reënwoud se diep donker riviere skuil hulle verskyning nie...

Roer jou riete

Puno
Een van die drywende rieteilande in die Titicaca-meer met die stad Puno in die agtergrond. Foto: JOHAN VER LOREN VAN THEMAAT

Ná Manu ry ons na die stad Puno langs die Titicaca-meer. Met ’n oppervlakte van 8 300 km² is dit die grootste meer in Suid-Amerika. Teen 3 809 m is dit ook die hoogste bevaarbare meer ter wêreld.

Die statistiek is indrukwekkend, maar hier’s ’n ander interessante verskynsel: Die Uros-mense het honderde jare gelede drywende eilande uit riete gevleg om weg te kom van die groeiende Inka-ryk. Baie gesinne bly steeds op soortgelyke eilande gemaak van die totoraplant. Trouens, álles op die eilande word gevleg uit riete – huise, bote, uitkyktorings...

’n Mens kan dié eilande slegs op ’n toer besoek. Die gasvroue in tradisionele klere ontvang besoekers by Puno se hawe. Ons vaar tot by ’n rieteiland. Dit voel asof ’n mens op ’n yslike spons loop... sag en bonsend. Die massas riete verrot mettertyd; dus voeg die inwoners voortdurend nuwe lae by om te keer dat die eilande in die water wegsak.

Daarna vaar ons na Amantani-eiland, ’n “regte” eiland, met sowat 4 000 inwoners waar ons by ’n plaaslike gesin oornag. Ons gasvrou lei ons na haar huisie wat basies maar skoon is. Aanvanklik is die gesin senuweeagtig – ons is hulle eerste gaste. Kommunikasie is ’n uitdaging, maar ons kom darem oor die weg. Die middag verken ons die eiland en kyk hoe die son oor die meer sak. Vir aandete bedien hulle ’n tradisionele gereg van hoender, groente en aartappels. Die volgende oggend kraai ’n haan ons wakker. Ná ’n koppie koffie vaar ons met die boot terug na Puno en die 21ste eeu.

Plaaslike vroue in tradisionele drag vat ’n blaaskans tydens ’n fees in ’n dorpie op die oewer van die Titicaca-meer.

Die kleure van die reënboogberg

Vinicunca, ook bekend as Rainbow Mountain (5 150 m), lê tussen Cusco en Puno. Allerlei minerale (klei, sandsteen, kalsiumkarbonaat, ferro-magnesium...) tooi die berge in verskeie kleure.

Dit reën én hael weer toe ons by die voet van die berg stilhou. Ons slaan tent op – môre klim ons tot op die kruin.

Net voor dagbreek staan ons op en begin stap in die dun lug. Dit neem 2 uur om die 5,5 km tot bo te stap. (Jy kan ook te perd boontoe ry, maar hoekom sou ons die maklike uitweg kies?)

Bo is dit doodstil. Vir ’n uur staan ons alleen en kyk uit oor die landskap. Die berg lyk asof ’n reënboog hier kom lê het! Stroke rooi, goud, pienk, pers en turkoois volg op mekaar so ver as wat die oog kan sien. Om alles te kroon toring die sneeubedekte Nevado Ausangate (6 384 m), een van die hoogste berge in die land, agter ons uit oor die kleurryke landskap. Peru show behoorlik af!

Terwyl ons afstap, kom honderde toeriste op pad boontoe uitasem verby. Lyk my die môrestond het goud, rooi én pers in die mond.

Rainbow
Dis sowat 5,5 km se swoeg tot by die uitkykpunt op Rainbow Mountain. Dié berg bestaan uit 14 verskillende kleurryke minerale.

Hierna reis ons deur die bergagtige platteland na Arequipa, die naasgrootste stad in Peru. Dit staan bekend as die “Wit Stad”. Die sneeubedekte vulkaan El Misti (5 822 m) vorm ’n indrukwekkende agtergrond vir dié stad met sy ligte barokgeboue van sillarsteen.

Sowat 100 km noord van Arequipa lê die Colca-canyon soos ’n keep in die landskap – op plekke tot 3 270 m diep. Dis een van die diepste canyons ter wêreld, twee keer dieper as die VSA se Grand Canyon.

Op die dorpie Cabanaconde naby die rand van die canyon eet ons aandete by die Pachamama-hostel. Ludwig Betalleluz, die eienaar, is ’n Amerikaner met skouerlengte hare en ’n breë glimlag. Hy het tien jaar gelede hier aangekom, en gebly.

Hy beveel ’n lamsgereg aan, glo “die beste in die vallei”. Die atmosfeer is gesellig met plaaslike inwoners en toeriste wat stories ruil. “Okei, julle kom van Suid-Afrika, maar watter land in Suid-Afrika?” vra die locals telkens.

Die Colca-canyon is twee keer dieper as die Grand Canyon in Arizona, VSA. Dis haas g’n maklike taak om te voet of per voertuig tot by die Sangalle-oase op die canyonvloer te kom nie. Foto: MARIANNE VER LOREN VAN THEMAAT

Ludwig stel voor ons stap na Sangalle. Dis ’n oase op die canyonvloer. Maar, waarsku hy, die paadjie is stéil – jy daal sowat 1 200 m!

Ons vra rond en hoor van ’n ander roete: ’n Berugte pad wat sowat vier uur neem. Teen dié tyd weet jy die Gerickes skrik vir g’n pad nie!

Die pad is smal en steil, en hier’s net enkele plekke waar ’n motor van voor af kan verbyskuur. Genadiglik kom ons net een voertuig teë. Die laaste 100 m hamer jou hart behoorlik in jou bors – die pad is net ’n keep in die rotswand met brokke rots wat oral rondlê...

Ons kom eers laat aan by die gehuggie Cosninhua halfpad af in die canyon en trek af by die enigste hostel. Hulle doen tans opknapwerk, maar kry ons jammer en laat ons oornag in die enigste voltooide vertrek. Ons berei aandete voor tussen die steierwerk in die kombuis en drink bier saam met die eienaar se vriende. Hulle praat net Spaans; dus knik en lag ons meestal net.

Vroeg die volgende oggend stap ons die steil paadjie tot onder by Sangalle. Om te dink donkies gelaai met boumateriaal stap hier af! Die oase met sy palmbome, groen grasperke en blou swembaddens is in skrille kontras met die vaal rotswande. Ons drink die omgewing in voordat ons omdraai en terugstap na Cosninhua en weer al langs die skrikwekkende pad opkruie tot by Cabanaconde.

Teen sonsopkoms die volgende oggend staan ons weer op ’n kransrand nes aan die begin van ons reis in Peru. Dié keer kyk ons uit oor die canyon. Ons kry ons sit en wag. Volgens Ludwig is dit een van die beste kolle om kondors te kyk.

Die Andiese kondor is een van die grootste vlieënde voëls ter wêreld, met ’n gewig van 15 kg en ’n vlerkspan van 3,2 m! ’n Uur later sien ons ’n paar spikkels doer onder in die canyon. ’n Halfuur later sweef sowat 15 kondors verby ons op die warm lug. Die kondors vlieg só na aan jou dit voel skoon asof jy aan hulle kan raak.

Op ons reis deur Suid-Amerika die afgelope vier jaar was ons vier keer in Peru. Was dit nie vir die inperking nie, was ons nou daar vir ’n vyfde keer! Suid-Amerika, ons sien jou spoedig weer!

Bronne: smithsonianmag.com; nationalgeographic.com; britannica.com

Die Colca-canyon is van die min plekke in Peru waar ’n mens die Andiese kondor kan sien. Dié yslike aasvoël het die grootste vlerkoppervlak van alle voëls. Foto: JOHAN VER LOREN VAN THEMAAT
Vinnige feite

Hoeveel kos dit per dag? Dit kos min of meer dieselfde om in Peru te reis as in Suid-Afrika. Ons gemiddelde daaglikse begroting was R1 450 per dag en dit sluit kos, diesel én motordienste in. Dis nie maklik om wild te kamp in Peru nie.

Nietemin kon ons meestal in die daktent oornag. Ons bly net in formele akkommodasie wanneer daar geen ander keuse is nie, soos in die Manu- nasionale park en op die eiland in die Titicaca-meer.

En as ek nie my eie ryding het nie? Jy kan na die meeste bestemmings vlieg en die openbare busdiens is betroubaar en goeie waarde vir geld. Ons het dit geniet om heel voor op die boonste vlak te sit vir ’n puik uitsig oor die verbygaande platteland.

Kamp: Peru het nie ’n kampkultuur soos Suid-Afrika nie. Daar is wel plekke (’n hostel of ’n museum se parkeerterrein, ’n steengroef...) waar jy jou voertuig vir ’n aand of wat kan parkeer. Daar is ook verskeie staptogte wat jy met ’n staptentjie kan aanpak.

Kan 'n mens die Amasone-reënwoud besoek in Peru? Ja! Die meeste toeriste mik vir Machu Picchu en die Andesgebergte. Maar naas Brasilië lê die grootste deel van die Amasonereënwoud in Peru. Kies dié land as jy min tyd het en ’n outentieke ervaring van die reënwoud wil hê.

Veiligheid? Peru is relatief veilig, maar wees versigtig in die hoofstad, Lima, en die ander groter stede. Van die landelike dele is ook nie vreeslik veilig nie.

Nuttige bronne om te raadpleeg? PanAmerican Travelers Association op Facebook; ioverlander.com; Lonely Planet Peru; Trekking Peru: A Traveler’s Guide deur Daisy en Robert Kuns-taetter; Mapas Topográficos de la region Cusco (Kuskin Editores).

Wat van visums en permitte? Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig vir Peru nie. Op die grens kry jy ’n permit van 90 dae wat jy maklik vir nog 90 dae kan verleng.Indien jy in ’n voertuig met ’n buitelandse nommerplaat ry, kry jy ’n tydelike invoerpermit (TIP) vir dieselfde tydsduur.

In Peru kan die TIP vir ’n tydperk opgeskort word indien jy die land wil verlaat. Dis ’n moeisame proses (begroot drie tot vier werksdae). Ons het dit twee keer gedoen – die Landie was juis in Peru tydens die inperking.


Só pak jy Suid-Amerika!

In die afgelope vyf uitgawes reis ons saam met Vivian en Hanlie Gericke deur Suid-Amerika. Ons gesels met hulle oor die praktiese reëlings van ’n oorlandreis.

Op pad deur die Heilige Vallei in Peru met die Urubamba-bergreeks in die agtergrond.

Wie is Vivian en Hanlie Gericke?

Hanlie was ’n biologie-onderwyseres en Vivian ’n raadgewende ingenieur wat gereeld met hulle kinders in Suider-Afrika rondgetoer het. Ná hulle aftrede in 2016 het hulle besluit dis tyd vir nuwe avonture! In Oktober daardie jaar verskeep hulle hulle Land Rover Defender na Montevideo in Uruguay, en reis deur Patagonië (sien Weg #170).

Sedertdien het hulle al vier keer na Suid-Amerika teruggekeer. Tot dusver het elke reis tussen drie en vier maande geduur en in totaal het hulle al meer as 55 000 km gery en 38 keer ’n landsgrens oorgesteek!

Hoeveel beplanning en voorbereiding verg elke toer?

Ons bestudeer elke land in die Lonely Planet-gidse, fynkam die internet en stel dan ’n vae roeteplan saam. Ons vra al ons vrae op die PanAmerican Travellers Association-Facebookgroep.

Ons maak geen besprekings vooraf nie. Aanpasbaarheid is die wagwoord – só het ’n mens interessanter ervarings. As jy onafhanklik met ’n toegeruste voertuig reis, is jou kanse groter op onverwagte avonture.

Hoe het die Landie in Suid-Amerika gekom?

Dit het ses weke geneem om in Montevideo in Uruguay aan te kom. Ná drie dae se papierwerk en die betaal van die nodige belasting het hulle die skeepshouer oopgemaak. Ons het die batterye gekoppel, die Landie aangeskakel en ons was weg!

Hoe het julle te werk gegaan om die Landie in verskillende lande te los?

Al die lande in Suid-Amerika gee vir jou ’n tydelike invoerpermit (TIP) by die grens. Jou voertuig kry gewoonlik dieselfde aantal dae as jy in die land. Die tydperk verskil van land tot land, maar wissel tussen 30 tot 90 dae en kan gewoonlik dieselfde aantal dae verleng word.

Ons het byvoorbeeld 180 dae in Argentinië én Peru gekry. Uruguay is die uitsondering. Hulle laat 356 dae toe; dus los die meeste oorlandreisigers hulle voertuig daar as hulle vir ’n ruk huis toe moet gaan.

Jy het net die voertuig se registrasiedokument – die naam daarop moet dieselfde wees as die naam van die bestuurder se paspoort – en derdepartyversekering nodig om ’n grens oor te steek.

Brei uit oor versekering...

Ons het reis- en derdeparty-versekering vir die voertuig uitgeneem (dis slegs om die ander persoon te betaal in die geval van ’n ongeluk; dis nie moontlik om jou eie voertuig te verseker nie), plus die standaardversekering vir persoonlike besittings.

Wat het julle oor julleself geleer?

Jy is taaier was wat jy dink. Ons het die reis én om dit saam te doen terdeë geniet. Ons het geleer om dinge dag vir dag te vat en om ons minder te bekommer. Ons het twee keer in diep modder vasgeval en moes vol modder in die daktent oornag.

Die tent was teen ’n 45°-hoek, die Landie se een wiel was in die modder en die ander een in die lug! Dis stresvol, maar nie die einde van die wêreld nie!

Ons het geleer om dinge dag vir dag te vat en om ons minder te bekommer.

Wat het julle van die mense verras?

Hulle is in die algemeen vriendelik en behulpsaam. In die klein dorpe heers ’n hegte band tussen die inwoners. Dit was wonderlik om te sien hoeveel tradisies en kultuur behoue gebly het (soos die Afro-Brasiliane in die stad Salvador in Brasilië en die Quechua- en Aymara-mense van die Andesgebergte).

Toerusting?

Toerusting is nie só belangrik nie. Pak wat jy het en gaan! Jy het in elk geval nie noodwendig dieselfde goed in Suid-Amerika nodig as in Suider-Afrika nie. Koop dit eerder daar. Ons reis in ’n Land Rover Defender met ’n 300Tdi-enjin en ’n daktent. Dis kompak en eenvoudig en werk goed, behalwe dat ons soms vreeslik koud in die aande gekry het. Ons is gaande oor ons Landie, maar ’n ryhuisie is waarskynlik ’n beter (gemakliker) keuse vir Suid-Amerika.

Mediese dinge?

Net ’n geelkoors-sertifikaat en reisversekering. En onthou, die Amasone is ’n malariagebied. Tot dusver het Vivian nog net ’n oorinfeksie gehad in Paraguay en Hanlie het in Bolivië ’n tandarts besoek.

Kaartwerk?

Ons het ’n Garmin-GPS. Ons vra in elke land rond en laai dan die beste gratis kaarte af op die GPS. Ons het ook ’n iPad met die Maps.me-app op die paneelbord voor Hanlie gemonteer. Só pluis sy rigtings uit in die stede en spoor kampplekke op. Die app werk goed, selfs al is jy nie aanlyn nie.

Wat is noodsaaklik op só ’n reis?

Die meeste mense bekommer oor die voertuig, maar jy kan op verskeie maniere deur Suid-Amerika reis: motorfiets, fiets, openbare vervoer, duimry... Die belangrikste oorweging is om dit saam met die regte reismaat aan te pak, maar dis ’n onderwerp vir ’n ander dag!

Wie was julle inspirasie?

In 2013 het ons vir Candelaria en Herman Zapp by ’n byeenkoms van die Land Rover-klub ontmoet. Hulle reis sedert 2000 die wêreld plat met hulle vier kinders in ’n 1928 Packard met houtwiele! Hulle boek Spark your Dream is puik. Loer gerus aanlyn by argentinaalaska.com.

Wat is julle reisfilosofie?

Reis stadig. Hoe stadiger, hoe beter. Fokus op wat rondom jou is pleks van die volgende dag se bestemming. Kyk na die toptien bestemmings in die Lonely Planet-gids, maar moenie nét daarop fokus nie. Dis die daaglikse ontmoetings wat saak maak.

Pak lig. Maak ’n lys van alles wat jy dink jy nodig gaan hê. Trek dan elke tweede ding dood. Moenie onnodig swaar dra nie.

Moenie te veel beplan nie. Bespreek net as dit absoluut noodsaaklik is. Gewoonlik word ons in die oggend wakker met ’n vae idee waar ons die aand wil oornag. Ons verander dikwels van plan in die loop van die dag. Teen 3 nm. of 4 nm. raak Vivian paniekerig en Hanlie begin bid...

Reik uit. Ons beste herinneringe is die mense wat ons langs die pad ontmoet. Probeer altyd ’n geselsie aanknoop.

Fokus op wat rondom jou is pleks van die volgende dag se bestemming

Raad aan lesers wat ’n soortgelyke toer wil aanpak.

Besluit op ’n vertrekdatum! Sonder ’n datum droom jy net. Kies ’n vasteland en die res sal volg. Party mense dink sulke reise is net die rykes beskore. Nee! Sodra jy en jou voertuig in die land is, kos dit dieselfde om in Suid-Amerika te reis as in Suid-Afrika. Dis glad nie so ingewikkeld as wat ’n mens dink nie. Kry ’n datum en gaan!

Waarheen volgende?

Die inperking het ons planne gepootjie. Ons wou noord hou – na Peru, Ecuador, Colombia – en dan die Landie verskeep na Mexiko en die VSA, en miskien eendag reis na Kanada en Alaska. Maar vir nou kan ons nie eens van Pretoria na Bloemfontein ry nie. Kom ons kyk wat 2021 inhou!


Die Gerickes het die afgelope paar maande hulle reise met Weg gedeel. Lees Weg #187 vir deel 1, Weg #188 vir deel 2, Weg #189 vir deel 3 en Weg #190 vir deel 4. Loer by between2safaris.com vir die Gerickes se gedetailleerde roetes, wenke oor hoe om jou voertuig te verskeep en ook die aanpassings wat nodig is om jou ryding vir ’n oorlandreis toe te rus. Volg hulle avonture op Instagram by @between2safaris.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook