Hier's 'n idee: Hou piekniek by ’n uitkykpunt.

1. AMFITEATER, DRAKENSBERG

Staan op die platorand

Foto: Jon Minster

Ja, die Amfiteater pryk op honderde poskaarte en koffietafelboeke, maar die eintlike eerste prys is om self bo-op dié platorand te staan en af te kyk.

Kan ’n gewone ou doer bo uitkom, wonder jy seker. Ja, daar is ’n netjiese paadjie van die parkeerterrein aan die voet van die Sentinelberg af – selfs ’n hupse ouma kan dit doen. Daar is wel een uitdaging: Aan die einde klim jy met twee kettinglere (onderskeidelik 20 m en 40 m lank) tot bo. Maar dis makliker as wat dit klink – mits jy nie afkyk nie.

As jy bo kom, stap jy nog omtrent 2 km tot by die rand van een van die mees angswekkende afgronde in die land!

Wat sien ek? Van hier bo af lyk die Drakensberg soos ’n yslike Peppermint Crisp-roomyskoek wat in lae van onder af begin smelt het. Selfs al trek jy jou oë op skrefies, sien jy net kranse, klowe en heuwels tot op die gesigseinder. Hier en daar blink ’n plaasdam.

Al langs die eskarp troon bekende pieke uit: Na regs is Devil’s Tooth en die Oostelike wand, en na links die Sentinel en die Tugelawaterval (teen 950 m die naashoogste waterval ter wêreld) wat in ’n dun straaltjie teen die loodregte rotswand afstort.

Jy voel soos Edmund Hillary en Tenzing Norgay – heng, selfs beter – hier waar jy op die dak van Suid-Afrika staan.

Hoe kom ek daar? Vat net buite Harrismith die N5 en dan die R712, en ry deur Phuthaditjaba in die rigting van die Witsieshoek-bergoord. Volg die Amfiteater-Sentinel-bordjies.

GPS S28.75229 E28.89427

Kontak Witsieshoek-bergoord:

058 713 6361; 073 228 7391; www.witsieshoek.co.za

– Esma Marnewick 

2. VALLEI VAN VERLATENHEID, KAMDEBOO

‘Stoksielalleen op ’n Saterdagaand’

Foto: Louis Botha

Die Kamdeboo- nasionale park buite Graaff-Reinet het ’n fantastiese uitkykpunt wat jaarliks tienduisende mense lok. Tog word die Vallei van Verlatenheid onderspeel – dit kry nie naastenby soveel lugtyd as Tafelberg of die Amfiteater nie.

Ek het een oggend, eintlik op pad na ’n ander dorp, half terloops ingedraai by die park, die 9 km-teerpad na die parkeerterrein gery en toe die sowat 300 m tot by die uitkykpunt gestap. Met geen ander mens in sig nie, het dié vallei sy naam ten volle gestand gedoen.

Wat sien ek? Heel links troon Spandaukop se bekende spits (1 315 m) bo Graaff-Reinet uit. Die Sondagsrivier kronkel langs die dorp, suidwaarts.
In die verte sien jy die kenmerkende Tandjiesberg (1 529 m). Reg voor jou verrys bonkige dolerietpilare – sommige tot 120 m hoog.

Agter dié indrukwekkende pilare strek die Kamdeboovallei – wyd en onpeilbaar – tot aan die einder. En heel regs van jou lê die Suurberg en Kamdebooberg (1 673 m). Jy kan ook ’n entjie na links stap waar ’n toposkoop verskeie ander landmerke aan jou uitwys.

Kom vroegoggend, wanneer die park oopmaak vir die publiek: 6 vm.-7 vm., dit hang af van die seisoen. Dit is die beste tyd vir foto’s, en die kans is goed dat jy stoksielalleen by die uitkykpunt gaan staan.

GPS S32.1313 E24.3225 (ontvangs)

Hoe kom ek daar? Graaff-Reinet is langs die N9 in die Oos-Kaap, tussen Noupoort en Aberdeen. Volg die bordjie na die Kamdeboo- nasionale park, sowat 3 km buite die dorp langs die R63.

Kontak Kamdeboo- nasionale park 049 892 3453; www.sanparks.org/parks/camdeboo/

3. KNERSVLAKTE, NOORD-KAAP

Steek ’n grens oor

Foto: Ruvan Boshoff

Die Vanrhynspas begin onder op die uitgestrekte Knersvlakte in die Wes-Kaap en eindig een hengse haarnaalddraai later bo-op die Bokkeveldplato – in die Noord-Kaap.

Terwyl jy opry, trek die wye roesbruin vlakte doer onder kort-kort jou aandag af. Daar is verskeie teorieë oor waar die Knersvlakte se naam vandaan kom. Sommige sê dis oor die geluid wat die ossewaens destyds oor die kwartsklippers gemaak het; ander beweer dis oor die reisigers so op hulle tande gekners het van die dors.

’n Derde – waarskynlik meer geloofwaardige – verduideliking is dat ’n Griekwa-leier met die naam “Die Kneg van God” gereeld hier gereis het, en daarom word dit “Die Knegsvlakte” genoem.

Hoe ook al, as dié horingdroë landskap agter of voor jou uitgestrek lê, weet jy jou vakansie het pas begin.

Wat sien ek? Stop by die uitkykpunt heel bo op die pas. Hiervandaan sien jy hoe tientalle droë rivierlopies soos ’n spinnerak oor die dorre landskap vertak.

Nou en dan sweef ’n misbank van die Weskus af in, en ná goeie reëns sien jy kort daarna plek-plek ’n leksel groen. In die blomseisoen (begin Augustus) lê daar kolle geel of rooi magrietjies verspreid oor die bruin.

Hoe kom ek daar? Die Vanrhynspas is sowat 40 km buite Vanrhynsdorp (in die rigting van Calvinia). Kom ry dit in blomtyd of as jy op pad is Kgalagadi toe.

GPS S31.37143 E19.01939

Kontak Vanrhynsdorp-toerisme: 027 201 3371 

– Andrea Weiss

4. CROOK’S CORNER, KRUGERWILDTUIN

Waar die seekoeie op jou wag

Foto: Toast Coetzer

As jy by Crook’s Corner beland, het jy tot in een van Suid-Afrika se verste uithoeke gery. Welgedaan. Dis dalk nie die mooiste uitsig ooit nie, maar ongewoon is dit beslis.

Hierdie hoekie waar die landsgrense van Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek bymekaar kom, kry sy naam van al die skelms wat al hier kom skuil het – dit was byvoorbeeld maklik om gou Mosambiek toe te glip as dinge te warm raak in Suid-Afrika. Wildstropers, wapensmokkelaars en selfs legendariese olifantjagters soos Cecil “Bvekenya” Barnard (rondom 1920) het al in dié geweste kom wegkruip.

Wat sien ek? Die parkeerplek is waar die Luvuvhu- en Limpoporivier by mekaar aansluit. Voor jou sal jy tien teen een seekoeie en krokodille in die water en op die sandbanke gewaar – wees versigtig en kyk rond voor jy uitklim, want hier’s nie draad rondom die parkeerplek nie.

Die Pafuri-gebied is een van Suid-Afrika se beste voëlkykplekke: Met ’n bietjie geluk sien jy ’n visuil of ’n geelbektroupant. En hier’s baie wild – dit wemel van die njalas en olifante.

As jy klaar gekyk het, mik na die nabygeleë Pafuri-piekniekplek en gooi ’n vleisie op die kole.

Hoe kom ek daar? Jy kan by hierdie deel van die Kruger kom deur die Pafuri- of Punda Maria-hek – Crook’s Corner is omtrent 32 km van die Pafuri-hek af.

GPS S22.42617 E31.30731

Kontak Punda Maria-kamp 013 735 6873; 082 802 0066; www.sanparks.org

– Toast Coetzer

5. KOSIBAAI, MAPUTALAND 

Visfuike met die môrestond

Foto: Toast Coetzer

Vir die deursnee-toeris is Kosibaai nogal ’n uitdagende bestemming, want die mooiste dele hier is óf vir ouens met ’n 4x4 wat weet waar om te ry óf ouens met ’n dik rol note wat net die vinger hoef te klap en dinge gebeur.

Maar gelukkig is die uitsig oor die Kosimere – en veral die strandmeer die naaste aan die see waar baie van die visfuike gebou is – binne min of meer almal se bereik.

Wat sien ek? Reg voor jou lê die vlak strandmeer waarin die visfuike mooi kartelpatrone maak. Na links lê die meerstelsel se monding in die Indiese Oseaan; na regs die ander, groter mere waar jy eerder seekoeie sal sien. Vat jou verkyker om die vissermanne, raffiapalms en unieke manglietbome van nader te bekyk. As jy gelukkig is, hoor jy ’n visarend.

Hoe kom ek daar?  Die pad na die parkingang (dis deesdae deel van die iSimangaliso-vleilandpark) is gangbaar vir enige kar met ’n goeie grondvryhoogte. 

Verby die hek is dit egter dik vassitsand. Sorg dat jy daar is teen sonopkoms, want dis die eerste strale wat die Republiek tref! 

Ry met die N2 noord uit Durban tot by Hluhluwe, en draai af op die R22 na Kosibaai. Ry in die rigting van die Mosambiekgrens, deur die dorpie KwaNgwanase (Manguzi).  Draai sowat 7 km buite die dorp regs af op ’n grondpad. Van hier af is dit ’n 5 km-sandpad wat jy met ’n 4x4 moet ry tot by die Kosibaai-kampterrein en die Nlanghe-meer.  Dagbesoekers kan die kampgeriewe gebruik en lekker uitspan en piekniek hou langs die water.

GPS S26.89745 E32.86063

Kontak iSimangaliso 035 590 1633 of 035 590 1602; isimangaliso.com; www.kznwildlife.com

– Toast Coetzer

6. DRIE RONDAWELS, GRASKOP

Die Blyderiviercanyon se beste

 Foto: Toast Coetzer
Foto: Toast Coetzer

Het jy al ooit by God’s Window gestaan en wonder hoekom al die toerbusse hier stop? Kom kyk dié massas mense na die dynserigheid of na die bosbouplantasies doer ver, mikroskopies klein, doer onder in die Laeveld?

Die Panoramaroete noord van Graskop is geseën met ’n hand vol uitsonderlike uitkykpunte: oor die Pinnacle, by Wonder View, Bourke’s Luck se kolkgate, Lisbon- en Berlynwaterval. Maar die een wat nooit teleurstel nie, is Drie Rondawels – God’s Window kan maar gaan slaap!

Wat sien ek? Die Drie Rondawels is reg voor jou, perfek vir foto’s. Hier onder jou kerf die Blyderivier steeds sy pad oop deur die canyon met dieselfde naam, na links lê die Blyderivierspoortdam en die Sonwyser (die groot knoets berg tussen die uitkykpunt en die dam), en doer ver lê die Laeveld en broei.

Mariepskop (1 947 m) is sigbaar agter die Rondawels, mits dit nie te mistig is nie. 

Die boonste uitkykpunt by Forever Resorts Blyde Canyon (5 km verder noord) is ’n stiller maar ewe mooi alternatief vir dié Drie Rondwels-uitkykpunt.

Hou die weer dop, want die wêreld hier rond raak erg dynserig.

Soms, hier teen laatmiddag, val die sagte son teen die rondawels se kranse.

Hoe kom ek daar? Ry sowat 45 km met die R532 noord uit Graskop. Dis aan die regterkant.

GPS S24.57384 E30.79809

Kontak www.graskop.co.za

– Toast Coetzer

Lees ook ons artikel oor die Panoramaroete se watervalle