Die N2 suid van Durban se King Shaka- internasionale lughawe is laatmiddag op ’n doodgewone Woensdag woes besig: Lorries dreun, vlae word geswaai by padwerke, motoriste swenk tussen bane...

Gelukkig beloof die bruin padbord met die bekende sambreeltjielogo en brander ’n rustiger plek. Die Suidkus wink, en gou raak die verkeer minder. Groen heuwels strek tot op die einders. Piesangs en avo’s is langs die pad te koop. Dorpies se name flits verby: Hibberdene, Port Shepstone, Shelly Beach, en die groot vakansiedorp, Margate...

Die Suidkus wink, en gou raak die verkeer minder...

Ek is op pad na Port Edward, KwaZulu-Natal se mees suidelike kusdorp, langs die R61 en digby die Oos-Kaap se grens. Soveel so dat dit bekend staan as die poort tot die Wildekus, of, soos baie mense daarvan praat, die ou Transkei. Die dorp is in 1925 uitgelê en genoem na die Britse koninklike wat in 1936 koning Eduard VIII sou word (en daardie selfde jaar nog sou abdikeer).

Umtamvunabrug

Die maritieme geskiedenis strek veel verder terug. In 1552 het die Portugese vragskip die São João hier naby gestrand. Die skip was onderweg van Indië en oorlopens toe vol gelaai met peper, porselein en ander waardevolle items.

Die wrak is eers in die tagtigerjare deur Tim Maggs van die Natalse Museum ontdek. Stukkies porselein van dié beroemde wrak spoel glo vandag nog op Port Edward se strande uit...

Teen skemer kom ek op die dorp aan. By die afdraai is dit bedrywig by die winkelsentrum wat onder meer ’n SuperSpar en KFC huisves.

Stukkies porselein van dié beroemde wrak spoel glo vandag nog op Port Edward se strande uit...

Soos ek met Owen Ellis-rylaan die dorp met ’n draai binnery, staan koraalbome omtrent op erewag, en wildevy-, koors-, en wildepiesangbome groei welig.

Die dorpskern is klein met ’n paar restaurante en winkels, ’n dokterspraktyk, biblioteek en ’n ouwêreldse vakansieoord naby die strandfront. Deesdae heet dit Port Edward Holiday Resort, maar was dekades lank die Port Edward Police Resort – dié plek vir polisiemanne en hulle gesinne om langs die kus uit te rus.

Die gastehuis waar ek vir twee nagte bespreek het, Bottlenose B&B, is naby die North Sand Bluff-vuurtoring – een van Port Edward se bekendste bakens. Die 24 m hoë vuurtoring werk steeds. Sy twee strale kan 40 km ver gesien word, maar dis sedert 2012 nie meer oop vir die publiek nie. Die koffiewinkel op die perseel het gevolglik ook toegemaak.

North Sand Bluff-vuurtoring

Sera en Fanie Koekemoer en vier vriendelike honde ontvang my hartlik by die Bottlenose B&B. Hulle het lank in Amanzimtoti gebly, maar hier kom aftree.

Sedert 2004 bedryf hulle die gastehuis. Daar is geen ander huise tussen die gastehuis en die strand nie. “Om by die see te bly is ’n seëning,” sê Sera. “Die rustigheid is soveel anders as die gejaag van die stad.”

Die aand lê ek in my gastehuiskamer. As ek die venster mooi dophou, kan ek deur die gordyn sien hoe die vuurtoring se lig oor die grasperk val. Die see se dreuning is gerusstellend en sus my vinnig aan die slaap.

Vroegoggend volg ek die voetpaadjie en stap verby wildepiesangbome tot op die strand. Twee van die honde, Tammy en Nikita, sluit by my aan. Dis net ons op die strand vanoggend. Die bekende Silver Beach, een van die Suidkus se mooiste strande, is sowat ’n kilometer se stap weg. Dis ook die plek waar bote in die water gestoot word.

Terug by die gastehuis stel Sera en Fanie voor ek gesels met Barry Payn, iemand wat al dekades lank op Port Edward woon, voordat ek die omgewing gaan verken.

Barry Payn en sy hondjie, Minnie

Barry (74) en sy vrou, Norma, woon op die plaas Aprils Gift, waar hy met makadamianeute boer. “Toe ek 45 jaar gelede hier aangekom het, was hier niks nie... nie eens een enkellopende meisie op die dorp nie,” skerts hy.

Hier was grondpaaie, ’n winkel of twee, ’n petrolstasie en ’n hotel. Die eienaar van die Port Edward Hotel se Sondagkoerant is sommer uit ’n vliegtuig – wat tussen Durban en Oos-Londen gevlieg het – op sy stoep gegooi.

Barry het destyds die ysterwarewinkel op die dorp besit. “Dit was die spil van die dorp,” sê hy, “jy kon nie ysterware in enige van die ander winkels kry nie.”

Sy Xhosa-naam was KwaMazinyana, wat verwys na kinders wat heeltyd praat. “Ek kon nog nooit my mond toemaak nie,” sê hy laggend. Naby die ingang van sy plaas is ’n bord met die naam KwaMazinyana duidelik sigbaar.

Hy was van vroeg af betrokke by die opknap van die dorp, of dit nou die plant van bome of die bou van die gholfbaan se klubhuis was. Die koms van die Wild Coast Sun in 1992 het volgens Barry ’n groot invloed op Port Edward gehad. “Die dorp het ontplof. Kerstyd sou voertuie al die pad van die dorp af tot by die Wild Coast Casino toustaan.”

Die koms van die Wild Coast Sun in 1992 het volgens Barry ’n groot invloed op Port Edward gehad.

Die nabyheid aan die Wildekus maak deesdae van die dorp ’n handelstasie, meen Barry. “Dit raak veral besig oor naweke, maar dit is nog steeds net ’n dorp. Dit is eintlik lekkerder as ’n vakansiedorp buite die spitsseisoen. Dit bly ’n vredige dorpie.”

Ná my kuier by Barry is ek reg om die plek te verken. 

Doen dié dinge naby Port Edward

Uitkykdek oor Umtamvunarivier

Clearwater Trails: Kyk wyd en laat die speke sing

Die Abbott-familie boer sedert 1979 op Clearwater, ’n plaas wat aan die Umtamvuna-natuurreservaat grens. Aanvanklik is oornaghutte op die plaas gebou vir besoekers wat in ’n inheemse woud wil wakker word.

Mettertyd is twee staproetes – een van 5 km en die ander 20 km – op die plaas uitgelê. Dit is gewild onder stappers, veldlopers en bergfietsryers. (Bring jou eie bergfiets.) Hier is ’n inheemse woud, grasveld, plantasies, kranse, damme om in te swem of swartbaars in te katrol... ’n Hoogtepunt is die uitkykdek oor die Umtamvunarivierkloof, slegs ’n paar honderd meter se stap van die restaurant Ginger & Thyme.

Die laaste deel is op ’n plankiespaadjie tot by ’n ruim houtdek, met een van die beste uitkykpunte in KwaZulu-Natal – oor die magtige rivierkloof wat na weerskante toe strek.

Aan die oorkant toring die sandsteenkranse dramaties bo digte woude. Bo-op die plato lê die grasveld wyd. Die Umtamvunarivier sny doer onder soos ’n slang deur die landskap.

Neem jou sit op die dek, en dalk hoor jy selfs die kenmerkende roep van ’n visarend in die kloof.

Koste: Bergfietsry R30 p.p. (volwassenes), R20 p.p. (kinders jonger as 12). Veldloop R20 p.p. (volwassenes); R10 p.p. (kinders jonger as 12). Uitkykpunt oor rivierkloof by uitkykdek: R10 p.p.

Waar? 7 km wes van Port Edward, langs die D595.

Oop? Van 6 vm.-6 nm. (somer) en 7 vm.-5 nm. (winter)

Kontak: 083 549 6710; clearwatertrails.co.za

Umtamvuna-natuurreservaat: Ontdek ’n botaniese paradys

Grasveld, rivierwoud, dramatiese sandsteenhange, klowe... dís KwaZulu-Natal se mees suidelike reservaat. Hier is meer as 1 500 plantspesies – waarvan baie endemies is – en 259 voëlspesies, wat die bedreigde Natallyster insluit.

Die lekkerste is die stilte en afsondering by hierdie byna weggesteekte plek. Met my besoek een middag is daar geen ander voertuie by die Beacon Hill-parkeerterrein nie. (Die park het twee ingange; die ander een is by Old Pont Road.)

Hier is meer as 1 500 plantspesies – waarvan baie endemies is – en 259 voëlspesies, wat die bedreigde Natallyster insluit.

By ontvangs is ’n besoekersentrum met meer inligting oor die reservaat, wat 3 257 ha groot is. Hier kan jy meer leer oor die geologie en die verskeidenheid soogdiere – dit wissel van samangoaap tot blouduiker, groototter en tierboskat.

Die park het geen oornaggeriewe nie en maak slegs voorsiening vir dagbesoekers – met plek vir braai en piekniek hou. Hier is sewe staproetes wat wissel van 500 m tot byna 10 km.

Kort voor sononder stap ek die Mfene-roete (500 m) op die grasveldplato.

Ek sien steeds geen ander mense nie. Die lug is vars. Voëls groet die dag. Die goue uur vir foto’s neem breek aan. Volgende keer moet ek langer kom stap...

Koste: R20 p.p.

Waar? Langs Izingolweni of Old Pont Road, 6 km wes van Port Edward

Oop: 7 vm.-5 nm.

Kontak: 039 311 2383; kznwildlife.com

Die Pont en Water World: Baljaar in die rivier

Richard Koba, Water world

Sedert 1935 is hier ’n pont oor die Umtamvuna wat in 1966 gesluit het toe die CH Mitchell-brug (ook bekend as die Umtamvunabrug) voltooi is. Dié brug strek 206 m oor die rivier en verbind KwaZulu-Natal met die Oos-Kaap.

Deesdae is die plek waar die pont was, ’n vakansieoord (sien onder) wat ook Water World – ’n watersportonderneming – huisves. Richard Koba van Water World vertel: “Ek geniet my werk om gaste op ’n bootvaart te neem sodat hulle die mooi plekke kan sien. Hier is gereeld visarende en kransaasvoëls naby die rivier.”

Dis reeds lekker om net tot hier te ry, dalk ’n bier of ’n burger te geniet by The Pont Bar & Restaurant en langs die rivier te ontspan. Maar dit is soveel meer pret om op die rivier te vaar. Water World vaar daagliks met die Spellbound Gambler II – ’n groot boot met plek vir tot 60 passasiers. Vir diegene wat meer privaat wil vaar, is daar die Sundance met plek vir net 10 mense.

“Ek geniet my werk om gaste op ’n bootvaart te neem sodat hulle die mooi plekke kan sien. Hier is gereeld visarende en kransaasvoëls naby die rivier.”

As adrenalien jou ding is, is hier onder meer snelboot- en tjoepritte. Met my besoek aan Port Edward vaar ek vir ’n halfuur saam met Peter Gaddin, ’n vlieënier van Johannesburg, in sy motorboot. “Ek het nege jaar gelede hier kom vakansie hou, ’n plek te koop gesien... en die res is geskiedenis,” sê hy.

Teen sononder vaar ons rustig. Weerskante van die rivier lê digte rivierwoud. Die bier is koud en die lewe is lekker hier op die ou Transkei se stoep.

Koste: Dagbesoekers R30 p.p. (volwassenes), R10 p.p. (kinders jonger as 12). Om vir een uur op die Spellbound Gambler II te vaar kos R120 p.p. (volwassenes) en R60 p.p. (kinders jonger as 12). Sien webwerf vir volledige tariewe.

Waar? Old Pont-weg, 6 km wes van Port Edward. Oop Water World is buite seisoen toe op Maandae en Vrydae.

Kontak: 081 826 1694; wildcoastwaterworld.co.za; oldpont.co.za

Bly hier

Bottlenose B&B

Verblyf op die dorp in ’n stil straat langs die see. Die eienaars maak self soggens ’n lekker ontbyt: Daar’s graanvlokkies, jogurt, spek, eiers, worsies en sampioene... Gaan stap soggens seelangs met die honde.

Koste: R450 p.p. wat deel, enkeltarief R500 p.p. Vol ontbyt ingesluit.

Waar? Westonstraat 280, Port Edward

Kontak: 083 270 4596; fanser@absamail.co.za

The Estuary Hotel & Spa

Luukse hotel met 44 en suite-kamers, dit sluit gesinskamers in met plek vir tot vier gaste. Die puik Fish Eagle Restaurant is ook op die perseel. Koste Vanaf R1 395 p.n. vir twee gaste.

Waar? Langs die R61 in Hoofweg, 4 km suid van Port Edward.

Kontak: 039 311 2675; estuaryhotel.co.za

Umtamvuna River Lodge

Hierdie lodge is geleë op die oewer van die Umtamvunarivier. Agt gemaklike en suite-kamers met lugversorging, wat uitkyk op dietuin of rivier. Hier is ook watersportaktiwiteite.

Koste: Vanaf R675 p.p. wat deel. Afslag vir kinders jonger as 12.

Waar? Lot 80, Holiday-weg, 6 km wes van Port Edward

Kontak: 039 311 3583; theriverlodge.co.za

The River Lodge

The Pont Holiday & Watersport Resort

Verblyf reg langs die Umtamvuna-rivier. Of jy nou hou van kamp, tente, kothuise of houthutte, jy sál iets netjies en bekostigbaars hier vind. Sien webwerf vir volledige inligting oor verblyf en tariewe.

Koste: Kamp vanaf R400 p.n. (staanplek buite seisoen met plek vir tot 7 gaste). Kothuise met rivieruitsig vanaf R850 p.n. (buite seisoen). Slaapplek vir 2. In hoogseisoen kos dieselfde kothuis R1 540 p.n.

Waar? Old Pont-weg, 6 km wes van Port Edward.

Kontak: 039 311 2211; oldpont.co.za

Clearwater Cabins

Twee basiese houthutte in die woud, volledig toegerus vir selfsorg. Een hut het slaapplek vir 4, die ander vir 6. Sit terug op die stoepie en luister vroegoggend na die voëlgeluide en bobbejane wat blaf in die kloof.

Koste: R180 p.p.p.n.

Waar? By Clearwater Trails, 7 km wes van Port Edward langs die D595.

Kontak: 078 083 7908; clearwatertrails.co.za 

Eet hier

Spuds Pub & Grill

À la carte-gesinsrestaurant met ’n diner-atmosfeer en ’n spyskaart met ’n groot verskeidenheid disse. Veral die lamskerrie (R99) is lekker. Die restaurant het onlangs ook begin met ’n middagetebuffet op Sondae (R150 p.p. vir volwassenes en R80 vir kinders jonger as 12).

Waar? Mac Lane, h.v. Kerry- en Ramseylaan

Oop: 8 vm.-9 nm.

Kontak: 039 311 1334; spuds.co.za

Ramsey Gardens

’n Nuwe restaurant in die hart van Port Edward wat verskeie tuisgemaakte biefburgers teen (R69-R89) bied, en die brownie sal ’n suikertand se mond laat water. Die restaurant het nie ’n dranklisensie nie – bring jou eie drankies saam.

Waar? Lot 124, Ramseyboulevard Oop Di.-Sa.: 8 vm.-7 nm.; So. 8 vm.-2 nm. Gesluit op Maandae

Kontak: 039 311 1006

The Fish Eagle Restaurant

Sedert 1996 een van die toprestaurante langs die Suidkus. Spyskaarte vir ontbyt, middag- en aandete.

Waar? Langs die R61 in Hoofweg, 4 km suid van Port Edward.

Oop: Elke dag van 7 vm.-9 nm.

Kontak: 039 311 2675; estuaryhotel.co.za

Umtamvuna River Lodge

Die lodge se restaurant het ’n dek wat uitkyk oor die Umtamvuna-rivier. Dagbesoekers is ook welkom. Die wrap met hoender, garnale en avo is gewild, ook die stokvis-en-tjips (R95).

Waar? Lot 80, Holiday-weg, 6 km wes van Port Edward

Oop: Elke dag van 9 vm.-9 nm.

Kontak: 039 311 3583; theriverlodge.co.za

Ginger & Thyme

Jy kyk uit oor die Umtamvuna-natuurreservaat se grasheuwels. Die spyskaart verander deurentyd en besoekers kan vooruit bel met versoeke. Waar? By Clearwater Trails, 7 km wes van Port Edward langs D595.

Oop? 8 vm.-4 nm. (Dinsdae tot Sondae) Elke dag oop in die Paas- en Desembervakansie.

Kontak: 078 083 7908; clearwatertrails.co.za

Lindiwe Dlamini, Ginger & Thyme
Ginger & Thyme
Ntokozo Majola en Gloria Nondaba, Beaver Creek-plantasie

Hoe kom ek daar?

Port Edward lê 163 km suid van Durban. Volg die N2 al langs die kus en later die R61 tot by die dorp.

Wat kan ek nog doen? Jy kan ikoniese Suidkusplekke soos die padstal Mac Banana (macbanana.com), Red Desert (die wêreld se kleinste woestyn reddesertnature reserve), Beaver Creek-koffieplantasie (beavercreek.co.za) – sien Weg #166 – en die reservate Lake Eland (lakeeland.co.za) en Oribi Gorge (kznwildlife.com) besoek. Heelwat nader aan Port Edward, skaars 4km weg, kan jy die ou Transkei binnery en by die bekende Wild Coast Sun (suninternational.com) gaan ontspan.

Speel gholf, laat die kinders baljaar by die Wild Waves Waterpark of verken die gholfbaan of inheemse woud op ’n Segway. Hier is ook ’n versteende woud. 

Nuttige webwerwe: visitportedward.co.za; southernexplorer.co.za