“Hallo my kerkkjind,” groet tannie Emma Seas my wanneer ek nader stap na waar haar braaidrom staangemaak is voor ’n tentafdakkie langs die Spar in Port Nolloth.

Tannie Emma is al 12 jaar op haar pos hier agter die vuur, waar sy roosterkoek maak en verkoop saam met wors en ’n tjop of wat. Roosterkoeke kos R5 elk of jy kan R50 betaal vir ’n groter roosterkoek met wors en ’n varktjop. Kom op die regte dag en jy kry “ekstra fieterjasies soos slaai” daarby.

Maar tannie Emma is veel meer as die Noord-Kaap se roosterkoekkoningin: Sy is ook vriendin vir ontelbaar baie mense, ’n steunpilaar en Diamantkus-orakel by wie enige reisiger maar kan kom aanklop vir vyf minute se sielsberading.

Maar tannie Emma is veel meer as die Noord-Kaap se roosterkoekkoningin: Sy is ook vriendin vir ontelbaar baie mense, ’n steunpilaar en Diamantkus-orakel.

Die vuur is waar haar eie siel kern vind. “Langs ’n vuur het ek my verstand gekry, later gevry en man gekry,” vertel sy vir my in een sin haar lewensverhaal van deels swaarkry, maar ook geluk vind in die eenvoudiger, waardiger dinge van die lewe. “Prys die Here,” rond sy haar vertelling af.

Sy is 67 jaar gelede buite die buurdorp Kleinzee gebore en onthou nog hoe hulle in haar jeug vetlampies met stroopblikke gemaak het. “Vir die pit sny jy die tong van ’n ou velskoen in repe, dan brand dit langer.”

“Môre, môre my ou dierbare,” groet sy ’n vrou wat verby stap. “Ek ken nie eens haar naam nie, maar ons groet mekaar elke dag,” sê tannie Emma. Sy is geseën met kinders en kleinkinders, maar nog nie agterkleinkinders nie. “Jy weet,” sê sy en kyk vir my oor haar bril, “vandag se mense is mos te netjies en ordentlik om kinders te maak...”

Waar? Langs die Spar op Port Nolloth

Oop Gewoonlik soggens van 7 vm. tot in die namiddag wanneer die roosterkoek op is.

Kontak 079 670 709