Hier’s biere met ’n peer-, aarbei- of wildebessie-ondertoon van die Abro-brouwery in Swede, Brouwerij Bosteels (België) se Tripel Karmeliet en Pauwel Kwak is op die lys, asook ’n rits Trappiste-biere van De Koningshoeven-brouery in Nederland. Ag, die lys is lank: Grapo Modelo uit Mexiko, Erdinger uit Duitsland, Het Anker uit België... Die pryse wissel van billik tot buitensporig – hoe lyk dit met ’n 500 ml Baladin-bier uit Italië vir R500? Jy kan ook ’n proe van die reeks tapbiere doen – ’n 160 ml-biertjie kos tussen R9 en R33. 

Maar by Capital Craft is ook die kosspyskaart indrukwekkend. Hier’s peuselborde, slaaie, worsrolle en soet happies te bestel. 

Maar die éintlike spesialiteit is burgers – menéér burgers. Ek het die Van Coke Smoke (R90) probeer: Die 200 g-biefpattie word in Capital Craft se eie roker, Iron Maiden, gerook voordat dit saam met ’n plak mozzarella (ook gerook!), tamatiesmoor, guacamole, uie en agurkies in ’n gróót burger voorgesit word. Die aartappelskyfies is enorm en bestel tog ’n porsie diepgebraaide uieringe (R18) – dié is elkeen so groot soos ’n reddingsboei en die degie rondom is lekker lig en soet (bespeur ek ’n bier-ondertoon...?). 

Nee, kyk, hier stap ’n mens nie honger uit nie. En terwyl jy smul en gesels, baljaar die kinders op die klimraam en grasperk net buite die restaurant. Capital Craft is met rede ’n gunsteling onder die locals. Ek vlieg sommer hierdie naweek weer Gauteng toe!

Waar? By die Greenlyn Village-sentrum, Thomas Edisonstraat

Tye? Dinsdag: 12 nm.-middernag, Woensdag-Saterdag: 10.30 vm.-middernag, Sondag: 10.30 vm.-8 nm. 

Kontak 012 424 8601; capitalcraft.co.za 

Nota: Daar is ook ’n tak in Centurion, in die Highveld-winkelsentrum, op die hoek van John Vorster-rylaan en Loganlaan.