Die skuitjies kom gewoonlik rondom middagete in. Jy kan seker kibbel oor die prys, maar hou in gedagte dat dit brood-en-botter-geld is dié – dis gewoonlik R1 per harder en ongeveer R160 vir ’n heel snoek. As jy vra, sal hulle dit sommer vir jou skoonmaak ook.

As jy eerder die kokery aan iemand anders wil oorlaat, is hier heelwat goeie restaurante op Paternoster – en elkeen beweer sý seekos is die lekkerste: 

Die Winkel (Oep ve koep)

Oep ve Koep. Foto: Sam Reinders

Die Winkel op Paternoster (kyk links, nes jy die dorp inry) se tuinrestaurantjie, Oep ve Koep, is ’n gesellige plek waar jy ligte maaltye en ontbyt kan bestel. En die varsgebakte plaasbrood (vanaf R28) is ’n moet! Bespreek vooraf ’n tafel.

Kontak: 022 752 2105

Die Strandvelddisse wat jy voorheen hier kon proe, word nou deur sjef Kobus van der Merwe by die nuwe Wolfgat-restaurant bedien. Kom proe aan disse soos gemarineerde bokkoms saam met ongewone dinge soos duinespinasie en wildekruie. Wolfgat bedien middagete Woensdag tot Sondag, en aandete Vrydag en Saterdag. Kontak diewolfgat@gmail.com vir besprekings.

Noisy Oyster

Net om die hoek van Oep ve Koep is die Noisy Oyster – dié plek vir ’n bord swartmossels (in seisoen) en ’n glas goeie witwyn. En natuurlik oesters.

Kontak: 022 752 2196

Reuben's by die Abalone House-boetiekhotel

Reubens. Foto: Verskaf.

Die Abalone House-boetiekhotel se Reuben’s-restaurant is doodreg vir ’n deftige aandete met ’n uitsig oor die see. Die "chilli salt squid" is ’n gewilde voorgereg en die lynvis-hoofgereg verander gereeld.

Kontak: 022 752 2044

Voorstrandt-restaurant

Voorstrandt-restaurant. Foto: Sam Reinders

By die Voorstrandt-restaurant kan jy met jou tone in die seesand sit. Etes word vanaf 11:00 bedien.

022 752 2038 (Bespreek vooraf want die plek raak gou vol.)

Die seekombuis

Die Seekombuis is in die Kaap Columbine-natuurreservaat. Hier kan jy binne-in ’n skuitjie sit terwyl jy oor die see uitkyk en ruik hoe die stompneuse oor die kole braai, die askoeke bak en die seekospaella prut.

Kontak: 072 258 9041; 082 766 2882

On the Rocks-kafee

As die dag se vangste nie te waffers is nie, kan jy by die vismark knap teen die strand ’n parcel vis en tjips by die On the Rocks-kafee koop. Sit sommer net daar by die houttafeltjies en eet, met die son wat op jou rug bak. 

As jy vir ’n naweek op Paternoster kuier is ’n tipiese Weskushuisie net die regte plek. Die webtuise www.stayinpaternoster.co.za het iets vir elke sak. Maar hier’s twee ietwat ongewone slaapplekke...

Kaap Columbine-vuurtoring

Kaap Columbine-vuurtoring. Foto: Sam Reinders

Kom slaap onder ’n vuurtoring. Hier is drie huisies met toegeruste kombuise en braaiplek. Kom kyk hoe lyk dit binne die 15 m hoë vuurtoring wat sedert 1936 diens doen. Dis genoem na ’n driemasseilskip, die Columbine, wat in 1829 hier gesink het. Dis oop van Maandag tot Vrydag tussen 10 vm. en 12 nm. en tussen 12.30 nm. en 3 nm. 

Waar? Die vuurtoring is sowat 5 km buite Paternoster, in die Kaap Columbine-natuurreservaat. 

Prys:  Vanaf R1000 vir ’n kothuis met slaapplek vir 4 mense. Om die vuurtoring te besoek kos R16 p.p.; R8 vir kinders o.12 en studente (wys studentekaart) en pensioentrekkers R10 elk. 

Kontak: 022 752 2705 (vuurtoring); 021 449 2400 (besprekings); lighthouse.tourism@transnet.net

Farr Out-wigwam

Farr Out-wigwam. Foto: Verskaf
Farr Out-wigwam. Foto: Verskaf

Hier is wel drie gastekamers, maar hou verby tot by die wigwam – ja, ’n wigwam op die Weskus! Dié wigwam is g’n hierjy-tent nie. Dit het al die lekkertes van ’n en suite-kamer en ’n paar ander verrassings, soos ’n bed in die vorm van ’n diamant en ’n sterretjiesvenster.

En die beste is... die stoombad wat verhit word met vuurwarm klippe uit ’n herd. Die stoombad staan onder ’n “oop” wigwam – dus kan jy sterre kyk tot jou vingers en tone soos rosyntjies lyk.

Waar? Net voor jy Paternoster tref, wees op die uitkyk vir padbordjies aan jou linkerkant. Draai links in by “Pelgrimsrust” en hou reguit aan. Draai links na sowat 200 m en volg die bordjie. Farr Out sit bo-op die koppie.

Prys: Die wigwam kos vanaf R650 p.p.p.n. (bed en ontbyt). Die stoombad kos R400 vir die aand. Bespreek vooraf sodat hulle die klippe kan warm maak.

Kontak: 022 752 2222; www.farrout.co.za


*Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting is onlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weet gerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za