Gelukkig is hier oorgenoeg kampplekke wat tussen die bergplooie, riviere en plaasdamme skuil. 

Hier is 3 van ons gunstelingkampplekke.

Nuwerust

Van die staanplekke by Nuwerust is langsaan die rivier en jy kyk uit oor die rooi Sederberge.

Hierdie groot kampterrein kan nogal jolig raak, maar iewers sal daar ’n stil hoekie wees as jy dit verkies. En ná 10 nm. word geen musiek toegelaat nie.

En die beste is... Swem in die lekker groot sementdam of gaan maak kennis met die mak springbokkie.

Wat kan ek verwag? 35 staanplekke met krag en 15 daarsonder. Elkeen het ’n braaidrom, maar bring jou eie rooster. In die kategorie ablusieblokke kry Nuwerust eerste prys – dis silwerskoon en goed versorg. Die lapa het ’n vuurmaakplek, kroeggeriewe en selfs DStv as jy nie ’n SuperRugby-wedstryd kan misloop nie. Jy kan ys, hout en wyn hier koop.

Daar is ook ’n Wi-Fi-“hotspot” naby ontvangs, vir wanneer jy daai sonsondergangfoto op Facebook wil deel. Koop ’n data-koepon by ontvangs.

Wat kan ek doen? Swem, vang vis, ry bergfiets, stap, doen rotsklim, ry ’n 4x4-roete en kyk rotstekeninge, voëls, wild en fossiele. Oor langnaweke is hier trekkerritte vir die jongspan.

Koste Kamp: vanaf R300 p.n. per staanplek met krag vir 4 mense (R50 p.p.p.n. ekstra; maksimum 5) en R30 p.n. per ekstra voertuig. Jy betaal ook ’n eenmalige bewaringstarief van R25 per voertuig. Vyf selfsorgkothuise: R600 p.n. vir die eerste 4 mense en daarna R150 p.p.p.n. ekstra (maksimum 8).

Kontak 027 482 2813; cederbergexperience.co.za

GPS S32.561662 E19.377866

Kromrivier

Kromrivier is een van die oudste kampterreine in die Sederberg. Hier is ook ’n winkel en toerismeburo.

En die beste is... Sit heeldag langs die Kromrivier en kyk hoe die eende rondswem. Of gaan swem saam met hulle as jy verveeld raak (of te warm kry).

Wat kan ek verwag? Die staanplekke (bykans almal óp die rivier) is op gras en die meeste het skaduwee, en elkeen van hulle het sy eie ablusiegeriewe en krag.

Wat kan ek doen? Stap, vang vis in die rivier, ry bergfiets, vryf plaasdiere, ry perd en doen rotsklim. Hier’s ook ’n restaurantjie en koffiewinkel om die innerlike te versterk. Nieuw Brew boetiekbier (voorheen Ceder Brew) word ook hier gemaak. Teug aan ’n Chubbyhead Stout of probeer die Jan Pampoen, ’n pampoenbier met kaneel-, neutmuskaat- en wonderpepergeure terwyl die Sederberg rooi word.

Prys Kontak Kromrivier direk vir pryse.

Kontak 027 482 2807; www.cederbergpark.com

GPS S32.538063 E19.283388

Jamaka- organiese plaas

Jamaka het lekker ruim staanplekke en genoeg gras vir krieket speel.


Jamaka se uitgestrekte kampterrein lê aan weerskante van die Rondegatrivier. Groot groen grasperke wag op jou wanneer jy die kampterrein binnery, maar nie al die staanplekke het gras nie.

En die beste is... Die kinders gaan hulle moeg speel: Hier’s ’n swemkuil in die middel van die kampterrein, ’n vlugbalnet en, as die kampterrein nie so vol is nie, begin mense sommer vroegmiddag al krieket of raakrugby speel op die gras van die oop staanplekke.

Wat kan ek verwag? 100 staanplekke met krag en 8 netjiese ablusieblokke. By ontvangs is ’n winkeltjie waar jy enigiets van koeldrank tot hout kan koop.

Wat kan ek doen? Stap, swem en vang vis.

Prys Kamp: R200 p.n. per staanplek vir die eerste 4 mense; daarna R50 p.p.p.n. ekstra. Toegeruste woonwaens: R300 p.n. vir 4 mense. Twaalf chalets: vanaf R520 p.n.

Kontak 027 482 2801; jamaka.co.za

GPS S32.341989 E19.022232