Die Kruger se noordelikste ruskamp, Punda Maria, is een van daai ouwêreldse plekke. Dié klein ruskamp vang iets vas van die gees van die avontuurlike begindae van die Kruger. Dalk is dit die oorspronklike paal-en-kleihuise wat in 1931 gebou is, wat nog gemeenskaplike braaiplekke het. Of die stories van grootwildjagters en onwettige ivoor- en arbeidsmokkelaars wat lank in hierdie wilde hoek hulle eie reëls gemaak het.

Dié klein ruskamp vang iets vas van die gees van die avontuurlike begindae van die Kruger.

Beplan jou besoek vir die somer wanneer hier ’n oorvloed trekvoëls in die noorde van die park is. Dan kan jy skaars voëls soos die Europese en Afrikaanse wielewaal, geelbektroupante en selfs wimpelvlerknaguile afmerk. Gaan soek aksie op die S64 na die Luvuvhubrug en die S63 na Crooks’ Corner. Ons het gery op laasgenoemde pad, wat al langs die Luvuvhurivier en deur ’n woud van geelgroen koorsbome loop.

Daar was gewone vleiloeries, byvreters, rooiruglaksmanne, rooibekkakelaars, rooikeelbyvreters, visarende én ’n kaalwangvalk wat iets probeer vang!

Klim uit by die Crooks’ Corner-uitkykpunt en sit en tuur oor die samevloeiing van die Luvuvhu- en Limpoporivier – hier lê gewoonlik ’n krokodil of twee. Aan die ander kant lê Mosambiek en Zimbabwe.

Koste: Bewaringstarief van R93 p.p. en R47 per kind jonger as 12.

Slaapplek: Kamp: vanaf R243 p.n. vir 2 mense, R89 per ekstra persoon, R45 per ekstra kind (slaapplek vir 6). Selfsorghuis met gemeenskaplike kombuis: vanaf R888 p.n. vir 2 mense. Safaritent: vanaf R1 055 p.n. vir 2 mense.

Wenk: Nie lus om na jou buurman se uitfokus foto’s van rooibokke te kyk nie? Gaan stap die Flycatcher-roete wat agter die ontvangskantoor begin – sowat halfpad staan ’n bankie onder die bome. Hy sal jou nooit hier kry nie.

013 735 6873 (Punda); 012 428 9111 (besprekings); sanparks.org