foto’s Helenus Kruger
Onverwags
Onverwags

Heelwat mense gaan dalk nie die D1121-grondpad noord van Brits onmiddellik kan plaas nie, maar noem so ’n paar van die oorde wat op dié pad soos sardientjies ingeryg lê, en enige kampeerder wat sy sout werd is gaan weet na watter pad jy verwys.

Onverwags-woonwapark is een van die oorde op dié pad. By die hek bel jy gou eers vir Miemie Botha, wat saam met haar man, Frik, aan die stuur van sake by Onverwags staan, om die hekkode te kry.

By die kampterrein se hek sowat ’n kilometer verder staan Frik gereed om jou na jou staanplek te neem. ’n Mens besef vinnig Onverwags se kampterrein is ’n gesellige plek. Jou mede-kampeerders is nie skaam om te groet nie en kort voor lank het jy almal rondom jou ontmoet en ’n geselsie aangeknoop.

Die braaivleisvure brand al van vroeg af, die kinders is op en af met hulle fietse en jy kan op ’n afstand hoor hoe die klomp by die binnenshuise warmwaterswembad hulle gate uit geniet.

Ondanks die gewoel in die kampterrein het Onverwags ook ’n rustiger kant. Die wildskamp, wat aan die kampterrein grens, is die plek waar jy net kan rustig raak met die Bosveld-stilte om jou.

Jy kan voetslaan deur die kamp of op jou fiets spring en die wild gaan soek. Die kameelperde is taamlik mak, maar jy moet mooi kyk en stil beweeg om die rooibokke betyds te sien vóór hulle die pad teen ’n spoed vat. Onverwags het 42 staanplekke wat vooraf toegeken word. Die staanplekke wissel in grootte en jy kan vir ’n spesifieke een vra wanneer jy bespreek.

Die grootste staanplekke is digby 280 m² terwyl die kleinstes ’n heel skaflike 120 m² is. Al die staanplekke het krag, maar bring ’n ekstra verlengkoord saam, want sommige kragpunte is ’n entjie weg.

Onthou ook jou blousok.

Vullisdromme en krane word gedeel en jy kan kies of jy ’n groot drombraai of ’n klein wielvellingbraai – albei met roosters – wil hê.

Die staanplekke is in drie groepe verdeel, elkeen met sy eie ablusiegeriewe. Regs van jou, naaste aan die hek, is 34 plekke in vier rye. Hier is volop gras en bome, maar van die bome is te klein om ’n wa onder te trek.

Staanplekke 21-28 is kleiner as die ander en lê rug aan rug, dus het jy bure reg rondom jou. Die grootste staanplekke is in die ry langs die kampie waar ’n paar njalas wei (29-32) en in die ry langs die grensdraad (34-29), waar jy ’n uitsig op die wildskamp het.

Staanplekke 10-17 is kleiner en lê die naaste aan die warmwaterswembad. Dié deel van die kamp het twee ablusiegeboue: een naby aan die ingang (Eland) en nog een ’n bietjie dieper die kamp in (Koedoe).

Hier, soos by al die ablusiegeriewe in die kamp, het die stort- en badvertrekke wasbakke met spieëls, die storte het stortgordyne, daar is hakkies en teëls teen die mure en houtbankies vir jou klere. Daar kort wel hier en daar ’n vullisdrommetjie. Eland en Koedoe lyk binne min of meer dieselfde.

By die Eland-blok is nie ’n gemeenskaplike deel nie en jy moet maar hoop daar is ’n stortkamer oop as jy jou hande wil was. Die stortkamers is ook kleiner as by Koedoe en hier is nie ’n plek om skottelgoed te was nie.

In die vrouegeriewe word een van die storte geruil vir ’n badkamer. By die Koedoe-blok is daar wel gemeenskaplike dele wat in aparte vertrekke by die ingang van die ablusieblok is. Hier is ’n blad om jou goed op neer te sit, wasbakke met spieëls, kragpunte en aan die manskant ook urinale.

Die twee skottelgoedopwasplekke is langs die gemeenskaplike dele. Die volgende groepie van ses staanplekke lê ’n entjie verder af langs die pad waarmee jy ingery het. Staanplekke 4, 5 en 6 het elk hulle eie ablusie- en kombuis- geriewe. Hier is geen gras nie, maar al die massiewe bome met baie skadu vergoed daarvoor.

Binne die ablusiegebou is twee vertrekke: die een kant is vir skottelgoed- en gesigwas en aan die ander kant is die stort of bad. Die toilet het ’n aparte ingang aan die kant van die gebou. Aan die verste punt van die kamp, verby die ontvangskantoor, lê ses plekke wat meestal vir groepe eenkant gehou word.

Dié plekke is lekker privaat en met die ontvangs- en swembadgeboue tussen jou en die res van die kamp voel dit asof jy jou eie private kampterrein het. Hier is gras, maar geen skadu nie. Hier is ook ’n klein, ronde swembad.

Een van die wildskamp se watergate lê ook hier naby en op sommige staanplekke hoef jy nie eens uit jou kampstoel op te staan om te kyk hoe die wild kom water drink nie. Dié plekke het ook hulle eie ablusiegeriewe wat deur mans en vroue gedeel word. Hier is drie aparte stortkamers (een met ’n toilet) en twee toilette. Die skottelgoedopwasplek is aan die kant van die gebou.

Die plaasdam by die speelterrein en die binnenshuise warmwaterswembad ’n entjie weg is lag-lag die gewildste uithangplekke in die kamp. Die houtplatform aan die een kant van die dam is gelyk met die bokant en met ’n diepte van 1,8 m kan jy sommer van hier af induik. Daar is wel ’n trappie vir die wat eerder wil inklim.

As jy grillerig is vir die alge wat gewoonlik in plaasdamme ronddryf, hoef jy nie bekommerd te wees nie: Die binnekant van die dam is soos ’n swembad afgewerk en die water word silwerskoon gehou. Die warmwaterswembad se water wissel tussen 35-40 °C en dit voel amper of jy in ’n spa is. Hier word ook voorsiening gemaak vir die jongspan met twee vlak swembadjies (15 cm en 35 cm diep) wat teenaan die groot swembad is. 

By die speelterrein langs die dam kan jy vlugbal en minigholf speel, klim en klouter op die klimraam en op die trampoliene hop. Hier is ’n boma met ’n braai waar jy om die vuur kan kuier en by die betonbankies langs die heining kan jy jou tuismaak en die kameelperde en bokke dophou wat by die watergat hulle dors kom les.

Spreiligte verlig die speelplek in die aand en tydens die hoogseisoen en langnaweke is hier ’n springkasteel op die lappie gras voor die ontvangskantoor. Die kampwinkel is in die ontvangskantoor en het ’n klompie basiese kruideniersware, vars brood en die gewone snoepie-items soos roomys, koeldranke en ander soetgoed.

Jy kan ook hout, vuuraanstekers en ys koop. Langsaan is die saal waar jy DStv kan kyk en veerpyltjies, tafeltennis en pool speel. Die stokke, balle en spane kry jy by die kantoor en die deposito’s wissel tussen R20 en R50, waarvan jy ’n gedeelte terugkry as jy dit onbeskadig terugbring.

Hier is ook fietse te huur. Jy hoef nie die wildskamp net te voet of op jou fiets te verken nie. Jy kan op ’n sleepwa gaan wild kyk (R30 per persoon, gratis vir kinders jonger as 1). Dit neem sowat ’n uur. Onthou om jou eie eet- en drinkgoed saam te neem.


Ben en Tokkie Grunwald is van Rustenburg en kamp met ’n Isuzu 4x4-ryhuis.

“Ons het soos baie kampeerders begin om eers met ’n tent en daarna met ’n woonwa te kamp. Ons het later op iets anders besluit en só is die idee van ’n ryhuis gebore is. Hier is plek vir ses mense, dus kan ons gesin saam met ons kom kamp.

"Ons hou veral daarvan om in die bos, waar daar niks en niemand is, te gaan kamp. Omdat ons ten volle selfonderhoudend is, kan ons op enige plek oorstaan. Maar ons kamp ook gereeld by plekke waar daar al die geriewe is vir gemaklik kamp. Ons het besluit om by Onverwags te kom kamp nadat ons hulle advertensie op die radio gehoor het. Ons hou veral van die plaasdam – dit dra by tot die woonwapark se plaasgevoel.

"Hier is ook ’n goeie balans tussen ’n kampplek met doendinge, veral vir kinders, en rustigheid in die natuur. Ons stap graag en is aktiewe fotografie-entoesiaste. Die wildskamp is net die plek om die twee te kombineer en ’n vroegoggendstappie deur die kamp sorg vir ’n bietjie oefening en ’n paar goeie foto’s van die wild en voëls.”

Johan en Claudette Strauss en hulle seun, Rouxwaldo (15), en sy vriend Dilan is van Pretoria en kamp met ’n Venter Savuti-sleepwa wat hulle met ’n Toyota Rush sleep.

“Dit is die eerste keer wat ons hier by Onverwags kamp. Ons verkies ’n rustiger kampplek in die natuur eerder as die groot oorde waar dit té besig is. Selfs die seuns hou van die rustigheid – hulle los selfs hulle selfone by die huis! Ons kamp baie basies en verkies om nie onnodige kamptoerusting saam te karwei nie.

"Ons kyk graag voëls en reis nooit sonder ons verkykers en voëlboeke nie. Dit is lekker om net te sit en ontspan en na al die voëlgeluide te luister. Die naguiltjies raak veral besig sodra die son sak. Bome is vir ons ’n passie en ons kyk graag hoeveel boomsoorte ons kan uitken.

"Onverwags bied dit alles. Die seuns doen altwee landloop en het in die wildskamp gaan draf. Hulle het ook hulle fietse saamgebring vir ekstra oefening en gereeld in die warmwaterswembad gaan swem.”

Kortliks | Onverwags

Kampplek: ’n Kampterrein met 42 staanplekke waarvan drie private staanplekke hulle eie ablusiegeriewe het.

Ablusiegeriewe: Die gewone staanplekke deel twee ablusieblokke.

Prys: Buite seisoen R400 (gewone staanplekke) en R450 (private staanplekke) per staanplek vir 4 mense. Binne seisoen en langnaweke R500 (gewone staanplekke) en R560 (private staanplekke) per staanplek vir 4 mense.

Kontak:  082 899 1900;  onverwags.co.zaonverwags@xpressgt.co.za

Aankoms- en vertrektyd: 13:00 en 11:00.

Naaste dorp: Brits, 25 km

Hoe lyk die pad? ’n Goeie grondpaadjie die laaste kilometer vanaf die hek tot by die kantoor.

GPS: S25.458906 E27.786079

Weg Ry & SleepBring swemklere, fietse, hardloopskoene, voëlboeke en verkykers.