Foto’s Schalk Jonker
Kampbestemming
Kampbestemming

Die natuur in die Oos-Kaap hou daarvan om te spog. En hy mág maar, want dit is ’n pragtige deel van die wêreld met sy skouspelagtige riviermondings en goue strande waar swemmers en hengelaars ewe tuis voel.

Oos-Londen, waar die Oos-Kaapse Wildekus begin, is ’n plek sonder pretensie. Die mense hier doen sake teen ’n stadiger tempo, wat beteken dit is nét die plek om heen te vlug wanneer jy ’n lang blaaskans nodig het. Boonop kan jy hierheen ry sonder om jou oor die toestand van die pad te bekommer. Daardie berugte Transkeise paaie begin eers noord van hier.

Ons het by twee van die gewildste oorde in die geweste kom kamp.

AREENA-RIVIEROORD

Te kus en keur

Die Areena-rivieroord, sowat 23 km oos van Oos-Londen, is op die oewer van die Kwelera-getyrivier geleë. Hier, aan die beginpunt van die Oos-Kaapse Wildekus, kan jy kom wegkruip as dit tyd is om jou batterye te herlaai.

Wanneer jy klaar voor die valhek stilgehou en jou papierwerk in die groot ontvangskantoor afgehandel het, is dit op pad na jou staanplek toe amper asof ’n gevoel van heilsaamheid by jou posvat terwyl jy deur die kampterrein ry. Iets wat sê dis ’n plek waar die gesin eerste gestel word en waar kinders hulle veilig kan uitleef.

Hier heers ’n atmosfeer wat jou laat terughunker na die dae sonder selfone en tablette, toe ons nie agter veiligheidshekke en elektriese heinings weggekruip het nie.

By dié oord, wat al byna 30 jaar besoekers ontvang, het jy van jou staanplek af ’n onbelemmerde uitsig oor die rivier en ’n magdom voëls. Hier is hope aktiwiteite vir die hele gesin, en vir die kinders is hier ’n speelterrein, trampoliens, ’n swembad, tennisbaan, vlugbalbaan en ’n speletjieskamer met pool- en tafeltennistafels.

Terwyl die kinders in die swembad rondplas, kan jy jou op een van die leunstoele om die water tuismaak en met jou verkyker rondloer om te kyk of jy een van die menigte geveerdes in dié deel van die wêreld in jou voëlkykboek kan aftik. As daar dus nog nie regmerkies langs byvoorbeeld die trekkormorant, gevlekte eend, witkruisarend of geelborswillie is nie, behoort jy hier geholpe te raak. Hier was selfs ’n volstruis reg langs ons staanplek.

Hier is ook ’n klein wildreservaat van 350 ha waardeur jy onder begeleiding ’n draai kan gaan ry om wild soos sebra, wildebees, koedoe, eland, blesbok rooibok, njala, waterbok, duiker en bosbok te sien. ’n Groot hoogtepunt is wanneer jy vir Abby teëkom, die vriendelike kameelperd wat ook Areena haar tuiste noem.

As jy nie met jou eie kar wil ry nie, kan jy ook ’n quadfiets- of perderit deur die reservaat bespreek.

Die oord het ’n spanbou-en-avontuursentrum; moet dus nie verbaas wees as jy ’n groepie reisagente aantref wat hier is om mekaar op die verfbalbaan beter te leer ken nie. Hier is ook ’n hindernisbaan, abseil, pyl-en-boogskiet, en ’n meneer van ’n foefieslaaid om al jou adrenalienbehoeftes te bevredig. Hoewel dié aktiwiteite op spanbougroepe gemik is, kan jy dit ook op jou eie aandurf. Bespreek by die mense van die sentrum.

Terwyl jy, jou swaer en die seuns mekaar op die verfbalbaan die stryd aansê, kan jy vir jou vrou en tienerdogter ’n sessie in die oord se spa bespreek. Hier is ’n reeks behandelings beskikbaar – en selfs ’n haarsalon.

As jy hierheen gekom het om ’n bietjie son op jou lyf te kry, kan jy jou sommer op jou staanplek langs die water tuismaak en ’n blinklyf aan die hoek probeer kry óf jy kan in die swartbaarsdam in die oord jou lyn gaan natmaak. Ongelukkig is jy soos die kraai vlieg ongeveer 5 km van die see af, en die naaste strande – Glen Gariff en Glen Eden – 5 minute se ry van die oord af.

As jy meer avontuurlustig is, kan jy vir jou ’n kano of seekajak huur en al met die rivier langs strand toe roei. Of jy kan jou plek op die Kareena, die oord se dubbelverdiepingrivierboot, bespreek vir ’n skemerkelkvaart op die water.

Al teen die rivieroewer af is jettys as jy jou eie vaartuig saambring. Gesels net vooraf met die oordmense om vas te stel wat toegelaat word en wat nie.

As jy nie lus is om kos te maak nie, kan jy die gesin in die Areena Quays-restaurant bederf. Die plek (en die kroeg met ’n grootskermtelevisie) is ook langs die water met ’n pragtige uitsig en jy kan hier kom aansit vir ribbetjies, burgers en ’n Sondagbuffet.

WASPLEK. Hier is vyf ablusieblokke in die Areena-rivieroord se kampterrein en mans en vroue deel die geriewe. Daar skort egter niks wat privaatheid betref nie en die geriewe word skoon en netjies gehou.

Die meeste van die 110 staanplekke in die kampterrein is op die oewer van die rivier, wat beteken daar is nie iemand tussen jou en die water nie. Die woonwastaanplekke is deur die bank groot genoeg vir jou wa, voltent en voertuig, en op die meeste van hulle behoort jy êrens deur die loop van die dag ’n koeltekol te hê.

Laat weet net die oordmense vooraf waarmee jy kom kamp sodat hulle vir jou ’n kampkol kan toeken wat reg is vir jou. En vra dan sommer oor die koeltesituasie sodat jy jou blinkseil en gazebo sommer by voorbaat kan inpak.

Op die meeste staanplekke is gras, en sommige het selfs ’n betonblad waarop jy jou wa heerlik gelyk kan staanmaak. Jou kragpunt is ’n gewone huissok (bring veiligheidshalwe ’n verlengkoord van minstens 20 m saam) en jy kry ’n vullisdrom en geboude braaier en rooster saam.

Hier is twee verskillende soorte braaiplekke – die een klomp wat heuphoogte staan en die ander wat kuithoogte is. Dié outjies werk die lekkerste vir ’n kampvuur.

Jou waterkraan deel jy met die mense wat langs jou kamp, maar jy hoef nie verder as ’n paar treë te stap om koffiewater te tap of die jammerlappie nat te maak nie.

Tussen die staanplekke is heelwat voltydse woonwaens, kompleet met tuine en glasskuifdeure. Dit is oorwegend naweekhuise vir mense van die omgewing en hier is ook heelparty permanente inwoners.

Wanneer dit badtyd is, is hier vyf ablusieblokke deur die kampterrein versprei. Almal van hulle het gedeelde geriewe en jy gebruik dus die een wat oop is. Die stortkamers en toilette is egter van die vloer tot teen die plafon toegebou; dus sal jy nie eens weet as jy en Mevrou Buurman langs mekaar stort nie.

Die grootste ablusieblok is naby die hek van die woonwapark en die ander vier is almal kleiner en min of meer dieselfde. Hulle het elk twee toilette, twee storte, ’n badkamer en een wasbak met ’n spieël. D

ie geriewe is modern, skoon en netjies, maar ons skat dit kan beknop raak wanneer die oord besig is. Die opwasgeriewe is aan die buitekant.

Jy kan hout by die ontvangskantoor koop, maar die sakkie wat ons gekry het, was nogal nat en dit het ’n halwe pak vuuraanstekers gekos om die vuur aan die gang te kry.

Gelukkig kon ons by die supermark in die winkelkompleks, 6 km van Areena se hek af, ordentlike hardehout opspoor vir die volgende aand se kampvuur. In die kompleks is ook onder meer ’n drankwinkel, vulstasie, kitsbank, restaurant en kroeg.

Kortliks | Areena-rivieroord

Kampplek: 110 staanplekke, almal met krag, ’n vullisdrom en op gras. Sommige het ’n plaveiblad.

Ablusiegeriewe: 5 skoon en netjiese ablusieblokke met gedeelde geriewe.

Prys: Afhangend van die seisoen en die aantal kampeerders R190-R1 050. Maksimum 6 mense per staanplek. Hier is spesiale tariewe vir pensioentrekkers.

Aankoms- en vertrektyd: 14:30 en 10:30.

Kontak: 043 734 3055; info@areenaresort.com; areenaresort.com

Naaste dorp: Oos-Londen 23 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS: S32.883435 E28.061201

Ry & Sleep Hier is só baie te doen dat jy en jou mense nie vir ’n oomblik ledig gaan rondsit nie... tensy julle natuurlik lus voel daarvoor.


YELLOW SANDS

Twee keer so lekker

Die Yellow Sands-woonwapark – ’n private kampterrein wat al vyftig jaar deur die Leppan-familie besit en bestuur word – is ’n plek waar jy die beste van twee wêrelde het: Jy kamp op terrasse, met die Kwelerarivier aan die een kant en die see aan die ander.

Ongeag dus in watter een van die drie kampblokke jy jou tentpenne inkap, het jy, met hier en daar ’n uitsondering, ’n onbelemmerde uitsig oor die water.

Die strand by Yellow Sands is ’n veilige swemstrand met heelwat privaatheid, en omdat dit by die monding van die Kwelerarivier is, is hier ook heelwat ander aktiwiteite om die tyd te verwyl – soos hengel, snorkelduik, branderplankry en roei. Of jy kan net jou boek vat en op die strand gaan lê. Onthou ook om die kinders se fietse, lyfplanke, krieketkolf en ander strandspeelgoed saam te bring.

As julle in die Desembervakansie hier kom kamp, reël die oordpersoneel vakansievermaak om die jong klomp besig te hou. Bring jou visgerei saam, want jy kan in die see en rivier visvang en die kinders kan veilig in die rivier swem.

Hier is ook onlangs ’n verhitte swembad aan die bokant van die B-blok gebou. Daar is ’n klompie leunstoele en piekniektafels as julle verkies om eerder die middag langs die swembad deur te bring.

Hier is ook ’n speelpark en trampoliens in die oord.

By die Yellow Sands-woonwapark kamp jy met die see aan die een kant van jou en die Kwelerarivier aan die ander. Jy het dus op die meeste staanplekke ’n onbelemmerde uitsig oor die water.

Met die see voor jou, die rivier regs van jou en jou kampvuurtjie wat warm brand, is die kampplek net die plek om van jou sorge te vergeet. Die gesogste staanplekke is waarskynlik in blok B, waar jy op ’n bultjie kamp wat op die Indiese Oseaan uitkyk, of blok C, waar jy ’n prentjiemooi uitsig oor die rivier het.

Van die staanplekke in blok A het nie ’n uitsig nie en jy is hier ook meer uitgelewer aan die elemente. Probeer dus eers in een van die ander twee geholpe raak. Die staanplekke is gelyk, op gras en hier staan heelwat koeltebome.

Jy kry jou eie huissokkragpunt (onthou ’n verlengkoord), vullisdrom en kraan.

Die plante groei ruig tussen die staanplekke, wat jou nie net ’n ordentlike skeut privaatheid gee nie, maar jou ook teen die wind beskerm. Die staanplekke met die beste uitsig oor die see is dié wat al langs die strandpaadjie lê.

Volg die afdraaibordjie vir blok B en draai links in by die paadjie met die seestaanplekke. Dit is egter ’n entjie se stap tot by die riviermonding. Die staanplekke het nie ’n geboude braaiplek nie, maar jy kan by die ontvangskantoor vra dat die personeel vir jou ’n halfdrombraai en rooster aflaai.

Elke blok het sy eie ablusiegeriewe wat wissel in grootte, maar ongeag waar jy kamp, is die geriewe voldoene. Dit kan egter ver van jou staanplek af wees – ’n goeie 300-400 m. Hier is niks om oor te kla nie. Die warm water spuit sterk, hier is genoeg pakplek en hake by die storte, en die geriewe word daagliks skoongemaak. Hier is ook wasgoed- en opwasgeriewe.

Solank jy nie in die Desembervakansie kom kamp nie, mag jy jou klein brakkie saambring. Vlekkies moet egter te alle tye op jou staanplek bly. En wanneer julle gaan stap, moet jy aan ’n leibaind wees. Reël dit vooraf met die oordbestuur.

Kortliks | Yellow Sands

Kampplek: Digby 200 staanplekke wat in 3 blokke verdeel is, meestal op gras en onder koeltebome met uitsigte oor die see, rivier of albei.

Ablusiegeriewe: 3 ablusiegeboue (een in elke blok) met skoon en moderne geriewe.

Prys: In die stil seisoen R100 p.p.p.n. of R150 as jy alleen kamp (R50 vir kinders o.15). Oor Paasnaweek en in skoolvakansies is die tariewe onderskeidelik R150 en R100. Van 1 Desember tot 10 Januarie betaal jy R250 p.n. per staanplek plus R200 p.p.p.n. (R70 vir kinders o.18). ’n Minimumtarief van R650 p.n. geld.

Aankoms- en vertrektyd: 12:00 en 10:00.

Hoe lyk die pad? Die laaste 2 km is ’n netjiese grondpad.

Kontak: 043 734 3034; info@yellows.co.za; yellows.co.za

Naaste dorp: Oos-Londen 25 km.

GPS: S32.903172 E28.074338

Ry & SleepPensioentrekkerpaartjies kan tussen 16 Januarie en 31 Oktober teen ’n spesiale tarief van R1 795 per maand kom kamp.


As die weer die dag nie saamspeel nie, of die see is effens ontstuimig, kan julle hier by die warmwaterswembad kom uitspan. Bring ’n mandjie eetgoed, want hier is ook piekniektafels. Die Yellow Sands-woonwapark is pynlik netjies met elke ding op sy plek.