Foto's Helenus Kruger

Wanneer jy van Loskopdam af noord ry in die rigting van Bosvelddorpe soos Groblersdal en Marble Hall, sal jy nie sommer sê dié omgewing is naas die Vaalhartsskema in die Noord-Kaap die grootste besproeiingskema in die land nie.

Natuurlik sien jy die landerye langs die pad, maar dit is eers as jy op Google Earth gaan kyk dat jy werklik die omvang van die skema sien. Die ronde landerye met hulle spilpunte lê sy aan sy, kilometers ver.

Die grootste konsentrasie van landerye is by Marble Hall, van waar dit suid in drie bene al langs die Olifants-, Moses- en Elandsrivier lê. Hier word onder meer met tabak, katoen en verskeie groentesoorte geboer. Tussen die drie riviere – weerskante van die landerye – lê ’n deel van die Bosveld, wat ’n skrille kontras vorm met die bewerkte landerye.

Dit is hier, soos die kraai vlieg sowat 40 km noord van Loskopdam en ongeveer halfpad tussen Groblersdal en Marble Hall, waar Die Raasblaar-lodge lê. (Moenie Die Raasblaar-lodge met Raasblaar Country Lodge by Rustenburg verwar nie. – Red.)

Die plaas van 500 ha is nog ongerepte Bosveld – hier is geen saaiboerdery nie en geen wild word gejag nie. Hoewel die lodge geruime tyd al bestaan, is die kampplek eers onlangs ontwikkel.

Van die hek af vleg die kronkelpaadjie tussen Bosveldbome en gras deur, tot jy 1,5 km verder by die ontvangskantoor stilhou. Net voor jy die kantoor bereik, ry jy oor ’n landingstrook.

Ontspan, hier land nie meer vliegtuie nie. Die ontvangskantoor is by die lodge se hoofgebou, langs die restaurant en kroeg. Dié kuierplek blyk gewild te wees, want dit kan jolig raak hier.

Maar weer eens: Moenie bekommerd wees nie, want die kampplek is 1,5 km verderaan en jy gaan nie wakker gehou word deur die nuutste sokkietreffers nie.

Kampplek

Die Raasblaar se 26 genommerde staanplekke lê in ’n vierkant met ’n groot grasperk in die middel. Jy kan maar jou plakkies uitskop en kaalvoet loop; hier is ’n dik laag kikoejoe regdeur die kamp, van die staanplekke tot by die swembad en damoewer.

’n Staanplek word aan jou toegewys wanneer jy bespreek, maar jy kan ook vir ’n spesifieke plek vra. Hier is heelwat bome by die staanplekke, maar net ’n handjie vol is groot genoeg sodat jou wa onder die boom kan inpas.

Die res van die bome is nog klein, terwyl hier ook heelwat staanplekke sonder enige bome is – onthou dus maar jou silwer seil en gazebo. Jou staanplek se vier grense is met ’n ry stene in die gras uitgemerk. Die staanplekke wissel in grootte (die kleineres is gemiddeld 9 x 10 treë en die grotes tot 14 x 14 treë).

Almal het gras en ’n geplaveide blad (6 x 6 treë) waarop jy jou woonwa kan trek. Met sowat 3 m tussen die staanplekke kamp jy darem nie reg teen jou buurman nie, en al lê die kampterrein teen ’n effense helling in die dam se rigting, is die staanplekke gelyk.

Staanplek nr. 1-7 en 8-14 lê in twee rye langs mekaar, aan die regterkant soos jy die kamp binnery. Dié plekke is die verste van die dam af, maar die beste as jy privaatheid verkies. Jy kan jou wa se rug na die kamp se kant draai en die bos op jou voorstoep hê.

As jy op nr. 8-14 kamp, kan jy jou rugkant na die boonste ry draai en oor die groot grasperk in die dam se rigting kyk. Hier is nie ’n pad na dié twee rye staanplekke toe nie – jy ry oor die gras – en om by nr. 2-6 uit te kom moet jy oor van die ander staanplekke ry.

Dit kan nogal ’n probleem raak as jy een van die laastes is wat by ’n vol kampplek aankom en een van dié plekke is joune. Die goeie nuus is dat ’n toegangspad wel beplan word.

Staanplek nr. 15-26 maak die ander drie bene van die vierkant uit. Nr. 19-23 is die naaste aan die dam, en hoewel ’n pad dit van die dam se oewergedeelte skei, is jy steeds naby genoeg aan die water om ’n ogie oor die kinders te hou as hulle daar wil speel.

Al die staanplekke het braaiplekke met ’n rooster, en jy kan jou vleisie en braaitang op die werkoppervlak langsaan neersit. Afhangend van watter kant jy jou wa gedraai het, mag die braaier dalk agter jou wees; bring dus maar jou eie een ook saam.

Jy hoef nie in die donker te braai nie – die staanplek se lig is by die braaiplek en die kraan is ook aan dié kant.

As die jongspan moeg raak om in die modder langs die dam te speel, kan hulle op die klimraam gaan klouter. Die swembad is langs die klimraam.

Elke staanplek het krag (gewone en blou sokke) en ’n vullisdrom. Die dam (aan die onderkant van die kampplek) is heel duidelik die gewildste plek in die kamp.

Oud en jonk maak een of ander tyd deur die dag hier ’n draai, of jy nou kom lyn natmaak of net langs die water ontspan. Veral die hengelaars is in hulle element, want die vis byt en ’n mens hoor gereeld die visalarms piep.

Kom kyk of jy ’n karp, kurper of baber kant toe kan lok, maar onthou om terug te gooi. Van die houtbankies op die oewer af kan jy die mak njalas dophou terwyl hulle al vretend die gras tussen die dam en die kampplek kort hou.

As die son te warm raak, is hier drie gazebo’s waaronder jy kan skuil. As jy dink die hengelaars is in hulle noppies, moet jy die kinders sien: Die swart moerasagtige modder in die gras reg langs die water is ’n speelplek duisend. Jy kan ook die trapbootjie te water laat, maar los jou boot en waterponie by die huis – gemotoriseerde vaartuie word nie toegelaat nie.

Jy kan omstap tot op die oorkantste wal waar jy ’n uitsig oor die water na die kampplek het. Pak ’n piekniekmandjie met iets te ete en drinke en kyk hoe die Bosveldson sak. Jy kan selfs ’n vleisie op die kole gooi, want hier is ’n braaiplek om sake uit ’n ander hoek te beleef.

Badkamer toe!

Die kamp het net een ablusiegebou wat tussen die staanplekke en die kiosk is. Vra vir staanplek nr. 14, 15 of 16 as jy nie te ver wil stap as die nood druk nie; net ’n pad skei dié plekke van die ablusiegebou.

Net om seker te maak dat jy nie in die verkeerde kant instap nie, is daar naambordjies teen die muur: bulle en ramme by die mansgeriewe en koeie en ooie by die vroue se badkamer.

Die ontwerpers van die ablusieblok het duidelik geweet wat hulle doen: Elke kant se was- en toiletgedeelte is apart, ’n ontwerp wat meer kampe gerus kan volg. Die geriewe is van die vloer tot die plafon geteël en in die wasgedeelte is daar vyf storthokkies en een badkamer, elk met ’n matglasdeur.

Die gang wat langs die hokkies loop, is lekker breed (1,5 m), wat beteken daar is darem genoeg plek as die verkeer druk raak. Binne die storthokkies is dit net so ruim. Die nat (1,3 x 1,6 m) én droë deel (1,6 x 1,6 m) is baie ruimer as dié van die meeste ander kampe.

Binne die stort is nie rakkies vir jou seep en sjampoe nie, maar dié sit jy sommer op die ingeboude bankie in die hoek of op die vensterbank. Die opening tussen die droë en nat deel het nie ’n deur of gordyn nie, net ’n glasmuur waar die wasbak se blad aan die stortplek grens.

Die stort is egter só groot dat jy woes gaan moet was en spat om die vloer in die droë deel nat te kry. Die gasgeiser bring sy kant en die water is nooit koud nie.

In die droë deel is ’n ovaal wasbak met weerskante ’n geteëlde blad wat groot genoeg is vir ’n badsakkie en klere. Bo die wasbak is ’n spieël en verder is daar twee hake teen die muur om klere op te hang én ’n vullisdrom.

Die badkamer met sy hoekbad is net so groot soos die stortkamer en het dieselfde afwerking en toebehore as die res van die stortkamers. Die ablusieblok het ’n ruim algemene deel met ’n lang blad teen die een muur (regoor die toilethokkies).

Die drie wasbakke het spieëls met ligte bo dit en genoeg pakplek langsaan sodat jou én jou buurman se badsakkies daarop sal pas. Jy hoef ook nie jou eie seep saam te dra nie, want hier is handewasseep langs die wasbakke en jy kan jou hande óf met papierhanddoek óf met die lugdroër droog kry.

Jy kan ook jou skeermes, haardroër en krultang by die dubbelprop langs die blad inprop. Hier is drie toilethokkies met deure by die mansgeriewe (vier vir die vroue), vier urinale en ’n vullisdrom. Die skottelgoedwasplek is agter die ablusiegebou en is in vier kamertjies verdeel.

Die kinders kan nie die reën as verskoning gebruik om nie skottelgoed te gaan was nie – hoewel die geboutjie oop sykante het, is daar ’n dak; dus bly alles droog. Elke hokkie het ’n dubbelwasbak met proppe, ’n tafelblad en ’n muurprop.

Doendinge

As ’n dag langs die viswaters jou nie juis opgewonde maak nie, kan jy altyd die plaas verken en die wild gaan soek. Trek jou stapskoene aan of spring op jou bergfiets, want hier is heelwat paadjies vir ry of stap.

Die wild is taamlik mak, wat beteken jy is so te sê gewaarborg om iets te sien. Kameelperde, njalas, waterbokke, rooibokke en sebras is maklik om op te spoor, maar dit kos meer geduld om die skugter swartwitpense te siene te kry.

Onthou om ’n verkyker en voëlboek saam te neem, want hier is meer as 180 voëlspesies. Vir ’n rustiger wildkykervaring sonder swoeg en sweet kan jy op die wildkykvoertuig spring. Die rit duur tussen 90 minute en 2 uur en kos R60 p.p. (’n minimumtarief van R300 geld).

Die voertuig het net plek vir tien mense – bespreek dus vroegtydig. Jy kan ook met jou eie voertuig ry, maar bly op die hoofgrondpaaie, want toegang tot die kleiner tweespoorpaadjies is verbode.

As die jongspan moeg raak om in die modder langs die dam te speel, kan hulle op die klimraam gaan klouter. Die swembad is langs die klimraam. Raasblaar bied ook van tyd tot tyd buitelugmusiekfeeste, troues en verjaardagvieringe in die kampterrein aan.

Daar is selfs ’n betonblad met spreiligte waar die bruid en bruidegom hulle eerste dans kan doen. Neef Gert en sy familie is welkom om saam te kom, al het hy nog nie ’n tent aangeskaf nie. Hier is ’n verskeidenheid verblyfsopsies om van te kies.

Kry jou by die kiosk

Raasblaar het nie ’n kampwinkel nie, maar wel ’n kiosk. As jou visvangkis by die huis agtergebly het, kan jy hier met basiese visgerei en aas regkom.

As jy egter die kostrommel vergeet het, is jy in die moeilikheid. Die kiosk hou slegs die mees basiese goedere aan – dinge soos hout (R25), vuuraanstekers (R25) en ys (R12) plus die gewone goed soos roomys en koeldrank.

Vir enigiets anders gaan jy die 15 km na Marble Hall moet ry.

In stiller tye is die kiosk net tussen 9 vm. en 10 vm. oop, maar oor besige naweke en skoolvakansies maak dit in die middag ook oop. By die restaurant kan jy gaan weglê aan ’n heerlike ete óf ’n wegneemete kry.

Die restaurant is van Dinsdae tot Saterdae oop van 7 vm. tot 9 nm., maar wees gewaarsku: Die kok se geregte is hoogs in aanvraag en jy móét vooraf bespreek.

Die kroeg het satelliettelevisie; dus kan jy op die hoogte bly van jou span se doen en late.

Kortliks | Die Raasblaar

Kampplek 26 staanplekke met geplaveide blaaie, gras, krag en gedeeltelike skadu met sommige staanplekke sonder bome.

Ablusiegeriewe Ruim en skoon met aparte vertrekke vir toilette en storte.

Prys R300-R500 per staanplek (vir 4 mense, 1 tent of woonwa, en 1 voertuig), afhangend van wanneer jy kamp.

Kontak  082 944 0694;  raasblaar.com;  info@raasblaar.co.za

Aankoms- en vertrektyd 11 vm. en 10 vm., tensy anders gereël.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot by die hek, daarna 2,5 km goeie grondpad tot by kampplek. Die R25 tussen Bronkhorstspruit en Groblersdal is plek-plek in ’n baie slegte toestand met die kante van die pad wat wegval.

Naaste dorp Marble Hall 15 km.

GPS S25.087358 E29.292711 (hoofhek) S25.083570 E29.302859 (kantoor)

Weg Ry & Sleep sê Onthou om jou visstokke, verkyker, voëlboek en die kinders se fietse in te pak.

Koste

(2 volwassenes)

Brandstof (95-oktaan petrol) @ 10 l/100 km en R13,84/l en 570 km (heen en weer van Pretoria af, oor Middelburg) R788,88

Tolhekke (heen en weer) R190

Verblyf (2 nagte) R800

Kos (2 persone) R980,65

Groottotaal R2 759,53