Dalk onthou jy nog van skoolaardrykskunde dat La Paz die hoogste hoofstad ter wêreld is (tegnies is La Paz die administratiewe hoofstad en Sucre die amptelike hoofstad). Hoe dit ook al sy, dié stad se lughawe lê op die Altiplano (die Andes-plato), 4 050 m bo seespieël en die stadskom lê op 3 100 m – dis omtrent ’n hele Tafelberg se verskil in hoogte!

Die stad se topografie maak padvervoer moeilik. Selfs al is die strate geteer, is dit steeds erg steil. Vir die inwoners wat in El Alto bo-op die Altiplano bly, het dit vroeër jare ure geneem om in die stadskern te kom. Deesdae het La Paz ’n sweefspoornetwerk – die langste ter wêreld – waarmee die inwoners pendel. Die kaartjies is spotgoedkoop en op ’n rit sien jy die ganse stad.

In La Paz is elke dag markdag. Die produkte op die Heksemark laat jou hare rys: Te koop is onder meer gedroogde diere (of liggaamsdele van diere!) wat belowe om jou libido te verhoog, huweliksprobleme uit te stryk of selfs ’n vloek oor iemand uit te spreek. Dan is daar die massiewe El Alto-mark op die rand van die plato, waar ’n mens van ’n tweedehandse motor kan aanskaf tot al die onderdele om self ’n motor aanmekaar te sit!

Net soos die hoofstad is Bolivia ’n land van uiterstes. Jy kan die land rofweg in drie verdeel: die Andesgebergte teen die westelike grens, met spitse van meer as 6 000 m hoog; die dorre Altiplano tussen 3 500 m en 4 000 m; en die Amasone – skaars 130 m bo seespieël.

Die bevolking van bykans 12 miljoen mense wat 37 amptelike tale praat (oorwegend Spaans), is nét so uiteenlopend. In die stede sien jy mense met slimfone rondloop terwyl van die afstammelinge van die Inka-koninkryk in hulle plattelandse bestaan steeds eeue-oue tradisies aanhang.

La Paz bestaan eintlik uit twee stede: La Paz in die stadskom, en valleie en El Alto bo-op die plato. Die wêreld se langse sweefspoornetwerk vergemaklik vervoer tussen die twee stede.
Lus vir lemoene? Elke dag is markdag in La Paz!
Hanlie gesels met 'n plaaslike vrou voordat hulle op 'n bergfiets-avontuur vertrek

Kry ’n kletterpet

Die steil afdraandes op die berghange noord en noordoos van La Paz is gewild onder bergfietsryers, en ons het saam met ’n fietsgroep van Gravity Tours (gravitybolivia.com) die berugte Death Road aangepak.

Tot in 2007 was die Death Road die enigste roete tussen die Amasone en die stad. Dié pad is slegs 3,2 m breed met ’n loodregte afgrond van 600 m aan die een kant. In Suid-Amerika ry die mense aan die regterkant van die pad – behalwe op die Death Road. Dán hou almal links sodat die bestuurder (wat ook aan die linkerkant sit) by sy afgedraaide ruit kan uithang en mooi kyk hóé na aan die rand sy ryding se wiele is wanneer hy vir ’n kar van voor moet wyd hou!

Hier het gemiddeld 26 voertuie per jaar by dié pad afgestort. In 1983 is ’n vragmotor met 100 mense oor die afgrond – niemand het oorleef nie. Deesdae kom net soms nog ’n toeristevoertuig verby, maar die pad word meestal deur bergfietsryers gebruik – en wat ’n adrenalieninspuiting is dit nie!

Die Death Road was tot in 2007 die enigste pad tussen die Amasone-oerwoud en La Paz.

Dit was ysig koud toe ons vroegdag heel bo (hoër as 4 000 m) in die sneeu wegspring. Ses uur se dolle afdraandes oor 64 km tot onder in die drukkende hitte van die Amasone-oerwoud het gevolg. ’n Mens daal in totaal 3 600 m en trek laag na laag klere uit soos jy vorder. Vir die volgende drie dae het ons dit weer en weer gedoen – elke keer van ’n ander kol af.

Daarna het die fietsgroep nóg drie dae op ’n boot in sytakke van die Amasone af gevaar en saans op die oewer kamp opgeslaan – al die pad tot by die dorp Rurrenabaque. Wat my steeds bybly, is die skokkende aanskoue van hoe die riviere in die soektog na spoelgoud vernietig word.

Die woude in die noorde van Bolivia is afgeleë met slegs enkele paaie. Dus is vervoer per boot die aangewese manier van oor die weg kom, veral in die reënseisoen.

In die laaglande het ons heelwat koka-plantasies gesien. Jy sien ook gereeld iemand met ’n kouseltjie van die blare in die mond. Dié plant is lang jare al deel van die Boliviaanse kultuur. Dis glo ’n teenvoeter vir hoogtesiekte, moegheid en hongerte. Maar koka word ook verwerk tot kokaïen – en dwelmhandel is gróót in hierdie geweste.

Suidwaarts deur die Andes

Van Rurrenabaque af het ons teruggevlieg na La Paz en daarvandaan met die Land Rover suid getoer, tot aan die voet van die uitgedoofde vulkaan Nevado Sajama. Op 6 542 m is dit die hoogste berg in Bolivia.

Op hierdie deel van die Altiplano reis ’n mens deur ’n woestynlandskap. Water is volop, maar weens die erge koue en wind groei hier nie veel nie. Ons het aangekruie op tweespoorpaadjies wat duidelik selde verkeer dra, en by riviere gekom waardeur ons eers moes waad om seker te maak die Landie sal veilig kan deur. Menige nag het ons in temperature onder vriespunt gekamp. (Ons het agterna gedink dit was onverantwoordelik om hierdie afgeleë gebied op ons eie in te vaar. Maar wanneer jy eers ín ’n situasie is, is daar g’n salf te smeer nie.)

Die Gerickes verdwaal in die sneeu suid van Salar de Uyuni.

Ons het die Salar de Coipasa en die meer bekende Salar de Uyuni oorgesteek. Ja, ’n mens ry óór dié uitgestrekte “soutmere” se enorme wit uitspansels. Die sout wat al derduisende jare uit die omliggende berge sypel, vorm ’n begaanbare kors bo-op die wateroppervlak. Maar jy moet steeds jou storie ken – heelwat oorlandreisigers sit hier vas en as jou voertuig eers déúr die soutkors gebreek het, gaan jy nie sommer sonder bystand uitkom nie.

Salar de Uyuni beslaan sowat 10 000 km² - die helfte van die Krugerwildtuin! Vir kilometers aaneen sien ’n mens net die grenslose spierwit pan met die Andes doer op die gesigseinder. Wanneer dit van November tot Maart hier reën, dam ’n lagie water op die oppervlak op en weerkaats die lug. Die onderskeid tussen grond, horison en hemel verdwyn en dit voel asof jy deur die wolke vlieg.

Van die soutpanne af toer ons steeds verder suid, al met die Altiplano langs. Hierdie gebied is bekend vir sy mere, elk met ’n ander kleur – rooi, geel, wit… Flaminke fynkam dié koue waters vir kos en drie van die wêreld se ses spesies kan hier aangetref word: die Chileense flamink, die Andesflamink en James se flamink. Laasgenoemde is bitterskaars en kom slegs op dié plato voor. Dié streek is ook die tuiste van menige warmwaterbron. Ons het dikwels die plaaslike inwoners sien piekniek hou en selfs eiers in die kokende water gaarmaak!

Suid van Uyuni se soutpanne het ons ook by Sol de Mañana se spuitbronne aangedoen. Met die son skaars bo was die lugtemperatuur nog -20 °C en die geisers het hulle stoom omtrent drie verdiepings hoog die lug in geblaas (die pluime is vroegdag op hulle hoogste). Dit het kompleet geklink asof ’n klomp stoomlokomotiewe rondom ons ontplof!

Die fietsgroep op 'n boottoer op die Rio Kaka, een van die sytakke van die Amasonerivier
Die Gerickes kamp wild oos van die Torotoro- nasionale park.

Op die spoor van Butch Cassidy

Ek was nog altyd gaande oor cowboy-flieks en Butch Cassidy bly een van my helde. Ek het dit nooit geweet nie, maar dié karakter is gegrond op die lewe van ’n ware trein- en bankrower, Robert Parker. Toe die Wilde Weste vir Butch te warm begin raak, moes hy en sy makker, Harry Longabaugh (Sundance Kid), noodgedwonge uit Texas vlug en hulle is Suid-Amerika toe. In Bolivia, naby die dorp Tupiza, het die twee uiteindelik hulle rieme in ’n skietgeveg met die owerhede styfgeloop.

Ek en Hanlie kon nie anders as om op Tupiza in die Hostal Butch Cassidy te bly en perde te huur om ou Butch en die Sundance Kid se spore in die canyons rondom die dorp na te loop nie. Wie weet, dalk kom ons af op ’n slopie Bolivianos (die plaaslike geldeenheid) wat hulle iewers in die heuwels weggesteek het!

Die suide van Bolivia is so afgesonder, dit lyk nog steeds soos ’n toneel uit ’n western – eindelose, leë grondpaaie word bergpasse wat uiteindelik oor die kim verdwyn. Dís die rede waarom dit ook ’n gewilde bestemming vir die bekende Dakar Rally geword het. En glo my: die plaaslike inwoners is heeltemal Dakar-behep!

Het jy geweet Butch Cassidy en die Sundance Kid het in Bolivia hulle moses teëgekom? Vivian en Hanlie volg hulle spoor te perd naby die dorpie Tupiza.

Dinamiet vir almal

Net soos oral elders ter wêreld is dit onwettig om dinamiet sonder ’n lisensie te koop. Maar in die stad Potosi kan enigeen dit doen – selfs terwyl die polisie toekyk!

Op 4 100 m bo seespieël is Potosi ook een van die hoogliggendste stede op aarde. Die storie loop dat ’n Inka-man genaamd Diego Huallpa in 1544 hierlangs na ’n verdwaalde lama kom soek het. Hy’t die aand in die veld deurgebring en aan die voet van berg Potosi ’n vuurtjie gepak. Dit was nie lank nie, toe die grond rondom sy vuur begin smelt en ’n glinsterende vloeistof tussen die kluite opborrel – silwer!

Die Spanjaarde het die berg Cerro Rico (Berg van Rykdom) gedoop en kort voor lank is hier op groot skaal gemyn. Gedurende dié bloeityd het Potosi die grootste en rykste stad in die Amerikas geword en sy silwer het die Spaanse koninkryk eeue lank befonds. In die moderne era het die myn se winsgewendheid getaan en informele koöperasies het die bedrywighede by die regering oorgeneem.

Ons het een van dié myne saam met ’n gids besoek. Hy het eers by ’n markie stilgehou en ons toergroepie aangespoor om vir die myners geskenke te koop.

Siende dié manne alles self moet bybring, word gebruiksartikels en toerusting hoog op die prys gestel: ’n 200 ml-botteltjie 96% alkohol (die myners is glo vreeslik bygelowig en die alkohol is ’n offerande om moederaarde, oftewel Pachamama, se guns te wen), ’n 2 liter-Fanta, ’n sak koka-blare, ’n stokkie dinamiet – die stuk lont en ’n slagdoppie ingesluit…

Daarna is ons met horisontale tonnels langs en in smal skagte waardeur ’n mens jou lyf tot in die dieptes van die berg se maag moet wriemel. Weens die dun lug het ons reeds gesukkel om asem te haal, en die noutes binne die myn het engtevrees aangewakker. Toe die knalle van dinamietontploffings boonop báie naby afgaan… dit was net te veel vir ’n mens se senuwees!

Dié senutergende roete was die kortste pad tussen die grensdorp Villazón en die stad Tarija in die suide van Bolivia
Die toergroep vat ’n blaaskans in ’n silwermyn diep onder die grond buite die stad Potosi.
Flaminke wei in die ysige water van Laguna Capina, een van die vele kleurryke mere op die Altiplano.

Hulle hou van partytjie

Op ons reis deur die Boliviaanse platteland het ons menige tradisionele dorpie teëgekom en gou geleer dat die mense én hulle gebruike van plek tot plek verskil. Maar die land se 36 inheemse groepe het wel een ding gemeen: Hulle mis nie ’n geleentheid om ’n partytjie of optog te hou nie!

Ons was gelukkig om Onafhanklikheidsdag (6 Augustus) saam met die inwoners van die dorpie Escoma te vier. Wat ’n ervaring om die optog te sien verbykom, kompleet met ’n blaasorkes en mans en vroue uitgevat in hardebolkeile en rooi rokke. ’n Spaanse koning het blykbaar gedurende die 18de eeu die inboorlingvroue gedwing om dié soort rokke te dra. Die keile dateer terug na die tyd toe die Engelse ’n spoorlyn in Bolivia kom bou het en ’n hele vrag te klein hoede vir die werkers ingevoer het. Die plaaslike vroue het die drag in ’n modegier omskep wat vandag nog voortduur.

Graffiti van die Jesuït-priesters wat verskeie sendingstasies in die land gevestig het gedurende die 18de eeu
’n Tradisionele troue in La Paz.

Ons het gemik om die grens na Brasilië iewers in die noordooste van Bolivia oor te steek. Op pad soontoe het ons deur die stad Santa Cruz gery wat meer modern en vooruitstrewend is as enige ander stad wat ons tot dusver in die land teëgekom het.

Die gebied is bekend vir die menige Jesuïet-sendingstasies wat in die middel 1700’s gebou is. Dié plekkies het in die vergetelheid verdwyn totdat die 1986-fliek The Mission weer die lig op dié spesifieke Rooms-Katolieke orde gewerp het. Sedertdien is heelwat van die kerke gerestoureer. Sommige is heeltemal van hout gebou en met houtsneewerk versier.

Ons besoek aan die sendingdorpie San José de Chiquitos oos van Santa Cruz het saamgeval met die jaarlikse Chiquito-fees wat sowat 250 jaar terugdateer. Vir die fees word spesiale danse uitgevoer en almal dra mombakkies met wit gesigte en rooi wange – kwansuis om die spot te dryf met die Europese priesters van ouds wat maklik rooi gebrand het.

Bolivia, dankie en tot weersiens! Jou Andesgebergte met sy sneeupieke het ons betower, en so ook die bar skoonheid van die Uyuni-soutpanne en die kleurryke mere op die Altiplano. Maar dit was jou gasvrye, boeiende mense wat ons altyd sal bybly.

Die Gerickes kamp wild naby die stad Cochabamba saam met hulle Suid-Afrikaanse vriende Marianne en Johan Ver Loren van Themaat.

VOLGENDE MAAND: Vivian en Hanlie toer deur Noord-Argentinië en Chili se Atacama-woestyn.

Vivian en Hanlie Gericke

Hanlie was ’n biologie-onderwyseres en Vivian ’n raadgewende ingenieur wat gereeld met hulle kinders in Suider-Afrika rondgetoer het. Ná hulle aftrede in 2016 het die twee besluit dis tyd vir nuwe avonture!

In Oktober daardie jaar is hulle Land Rover Defender per skip na Montevideo in Uruguay en die twee het deur Patagonië gereis (sien Weg #170). Sedertdien het hulle al vier keer na Suid-Amerika teruggekeer vir toere deur die Sentraal-Andesgebergte tot by Cusco in Peru en vandaar deur die laaglande van Bolivia, Paraguay en Brasilië terug Uruguay toe. In 2019 was die Pantanal-moeraslande in Brasilië aan die beurt, asook die Amasone-reënwoud en minder bekende landjies soos Frans-Guiana en Suriname.

Tot dusver het elke reis tussen drie tot vier maande geduur en in totaal het die Gerickes al meer as 55 000 km gery en 38 keer ’n landsgrens oorgesteek! Reis vir die volgende paar uitgawes saam met hulle.

Vinnige feite

Hoeveel kos dit per dag? Om in jou eie voertuig deur Suid-Amerika te toer kos min of meer dieselfde as in Suid-Afrika. Ons begroot vir R1 300 tot R1 500 per dag en dit sluit kos, blyplek vir twee, diesel én motordienste in. Om geld te spaar kamp ons gereeld wild. Ons bly net in formele akkommodasie wanneer daar geen ander keuse is nie.

As ek nie my eie ryding het nie? Jy kan in Bolivia – en die res van Suid-Amerika – op die busdiens staatmaak. Dis doeltreffend en daar is heelwat opsies. Óf jy kan ’n tweedehandse oorlandvoertuig aanskaf – dis veral in Chili nogal die manier van doen.

Veiligheid? Suid-Amerika is in die algemeen veiliger as Suid-Afrika, maar daar is sekerlik heelwat gevaarpunte wat ’n mens moet vermy: Net soos in Afrika is groot stede gevaarliker as die platteland. Nuttige bronne ioverlander.com en “PanAmerican Travelers Association” op Facebook

Wat van visums? Suid-Afrikaners het slegs ’n visum nodig vir Bolivia, Colombia, Frans-Guiana en Suriname. Oor die res van Suid-Amerika voltooi ’n mens bloot die nodige (gratis!) papierwerk wanneer jy die land binnegaan.