“Ja, hulle was laasnag hier, en hulle was weer baie stout. Hulle het ál die pype rondom tent vyf uitgetrek die hele toilet leeggedrink. Maar wat,” sê Tertius laggend, “dis mos maar die olifante se plek dié, ons is die gaste. As hulle ons kan verdra, is ons gelukkig!”

Trudie en Groot Klaas was kort getroud met hulle eerste besoek aan Brandberg White Lady Lodge. Daar gekom in die versengende hitte van die middag stel Trudie ’n siësta voor, maar die avontuurlustigheid maak Manlief onrustig. Kort voor lank is daar ’n argument, en omdat dit nog in die tyd voor klein Klasies was, gun hulle hulleself die luukse van ’n uitgerekte stilstuipe. Een lê met ’n boek in die tent terwyl die ander een die voetpaadjies bestorm. Hy gaan nou olifante soek.

Foto: Riana Scholtz
Foto: Riana Scholtz
Foto: Riana Scholtz
Foto: Riana Scholtz

Aan die noordelike hange van Brandberg in Damaraland lê die lowergroen kronkelpad van die Ugab. Hierdie rivierloop met sy talle moerasse en geharde plantegroei vorm ’n liniêre oase deur gemeenskaplike bewareas en onderhou talle inheemse wildsoorte. Die minimale drade of versperrings in die bewareas beteken dat diere soos Hartmann se sebra, kameelperde, olifante en selfs leeus, swartrenosters en luiperds kan loop soos en waar hulle wil.

Tertius en sy vrou, Sarah, dogter van die bekende Hentiesbaai-vistersvrou Sarah de Jager, is die bestuurderpaar van Brandberg White Lady Lodge. Dit word genoem Die Tuiste van Die Woestynolifant op die oewers van die Ugab. Hier handhaaf dié knap paartjie ’n onberispelike dog simpatieke balans om natuur, toeris sowel as die gemeenskap, te ondersteun en gelukkig te hou.

Kort nadat sy die sewende bladsy in haar boek omgeblaai het, let Trudie dat dit skielik donker geraak het in die tent. Sy sit regop om te sien wat skielik ’n groot skaduwee gooi, en kyk verdwaas vas teen ’n skurwe plooivel wat die hele gaasvenster vol staan. Groot Klaas is weg met die kamera en slimfone moet nog uitgedink word; al wat sy dus kan doen, is haarself verwonder aan die majestueuse dier wat lui-lui staan en peusel aan die anaboompeule wat oor die tent hang.

Hy gaan haar nooit glo nie, weet Trudie, en sy maak seker sy omkring elke spoor wat die olifant met sy skurwe hakke langs die tent getrap het. Laatmiddag toe Groot Klaas terugkom, wag Trudie hom vermakerig op die stoep in, argument skoon vergete, brandend om die bewyse aan hom uit te wys. Warm en uitgeput gee hy vies toe dat hy heel moontlik rondom die olifante is sonder om dit te weet. Dis verstommend hoe maklik die reuse hulleself kan kamoefleer.

Trudie
Trudie en die olifantspore.

Soos vir baie ander word die lodge ’n toevlug vir Trudie en Groot Klaas. Die enorme bome van die Ugab-oewers sorg vir sielslawende skaduwee en huisves talle voëlsoorte wat smiddae die perfekte klankbaan verskaf wanneer Brandberg haar kenmerklike rooipers kleed aantrek in die sakkende son. Dis ’n totale indompeling in ongerepte natuurskoon met die woestynolifante as  kroonjuweel wat die rivierloop seisoenaal benut.

Maar ’n olifant is ’n vermakerige dier. Só het Dalene Matthee ook in haar bosboeke geskryf. Hy hou daarvan om te maak soos jy nie wil hê hy moet maak nie. Daarom kon die bosmense nie van “olifante” praat nie, of só het hulle geglo. Hulle moes “grootvoet” sê, want "olifant" roep hom en dan sal hy jou kom trap. In Damaraland weer moet jy nie vertel dat jy gaan olifante soek nie, want dan sien jy niks. Jy kan sê jy “gaan ’n draaitjie ry”.

Ná ’n paar jaar is die klein Klasies daar, maar Groot Klaas het nog nie geleer nie. Namiddag kondig hy aan hy wil rivieraf op ’n olifantsoektog en die Klasies protesteer, want by die lodge is daar swembaddens wat leeggeswem moet word. Later sit hulle teësinnig in die agtersitplekke met hulle boeke opgetrek tot oor hulle voorkoppe. Groot Klaas se oë en ore is gespits vir grootvoetverkeer. “Julle moet kyk, seuns! Hulle is net hier, ons moet hulle kry!”

Stilte, dalk ’n snork van agter af.

En dan, ná ’n lang ruk se stamp en stof, merk een Klasie droog op: “Pappa, jy’s nou net verby 'n olifant.”

Groot Klaas stop en stoot terug. Jou waarlik, daar oop en bloot staan die olifant, en die res van die trop verskyn asof van uit die niet agter elke bos en boom.

Skielik is daar ’n konsternasie, want nou moet Klaas sy ry ken om versigtig óm die trop te kom sonder om die moeders te irriteer of in die dik riviersand vas te sit.

Deesdae kan gaste met ’n drankie ontspan op ’n uitkykdek en net dalkies ’n skouspelagtige foto neem van die olifante as die sou kom water drink by hulle nuwe watergat neffens die lodge. Maar niks is ooit gewaarborg nie, en juis daarin lê die opwinding.

Foto: Nico Scholtz
Foto: Nico Scholtz

Hoe kom ek daar?

Volg die C35 grondpad vanaf Hentiesbaai (230 km) of Outjo (540 km), of die C36 grondpad vanaf Windhoek (370 km) tot by Brandberg White Lady Lodge aan die noordelike kant van die Brandberg.

Waar bly ek?

Brandberg White Lady Lodge verskeie blyplekopsies, van kampplek tot tentchalets en dubbelkamers. Die boomhuise is gewild onder die jongspan.

Ek wil ook die olifante sien!

Afhangende van die seisoen kan die olifante in en om die Ugabrivier gesien word. Brandberg White Lady Lodge bied olifantritte aan teen N$500 p.p. Met ’n viertrekvoertuig kan jy self in die Ugab afry en olifante soek.