Foto’s Cyril Klopper

Die Ribbokkloof-lodge is geleë op Uitkyk, ’n werkende plaas wat deel vorm van die Gelykwater-bonsmarabeesboerderye. Jy kan dus bulkende goudbruin beeste verwag wat vroegoggend aan die gras weglê terwyl oorlamse kalwers die wêreld vol bokspring.

Hier kan jy in die kliprant bo die kloof gaan stap, bergfiets ry, hengel, swem, voëls kyk en natuurlik met jou veldryer kom speel. Dit is ’n gewilde bestemming vir viertrekklubs wat oor naweke saamtrek.

Die spruit wat deur die Ribbokkloof vloei, word dan as ’n hindernisbaan gebruik wat veldryvoertuie se kloutervermoëns op die proef stel. Maar as jy rustigheid soek, is hier ook ’n matiger bergpaadjie wat oor die rantjie kronkel.

Ryplek

LAND EN SAND. Water, klippe en modder - hier is iets van byna alles op Ribbokkloof. Dis egter nie ’n uitmergelende roete wat jou voertuig gaan verniel nie en jy gaan groot dele daarvan met ’n sagte veldryer soos ’n RAV4 kan baasraak.

Die eerste opstal wat jy teëkom nadat jy by die plaashek (S25.58952 E29.81749) inry, is ook die ontvangsgebou vir Ribbokkloof. Hier sal die bestuurder, Elize Maree, vir jou ’n kaart van die 27 km lange 4x4-roete gee plus jou huisie se sleutel indien jy besluit om op Ribbokkloof te oornag.

Van hier af loop ’n netjiese grondpad af tot op die vloer van die kloof waar jy ’n kampplek en selfsorghuise aantref. Ry verby die huise dieper die kloof in. In die boloop van die spruit swenk die pad skielik links en die oppervlak daarvan verander in los gruis. As jou voertuig sukkel om teen hierdie skuinste uit te ry, moet jy dit heroorweeg of jy die taaier roetes aan die ander kant van die spruit moet aandurf.

Hier kan jy in die kliprant bo die kloof gaan stap, bergfiets ry, hengel, swem en natuurlik met jou veldryer kom speel.

Maar as jou voertuig dié toets slaag, kan jy terugkeer na die spruit en dit met ’n geruste hart oorsteek. Die eerste hindernis is ’n steil bult (S25.57483 E29.82557) wat taamlik uitdagend is as dit reën. Ons voertuig was toegerus met Bridgestone M/T-modderbande en daarom kon ons redelik maklik oor die kleigrond teen dié bult klouter.

Bo op die rant is ’n netwerk van tweespoorpaaie. Sommige van hulle is toegegroei deur Australiese wattels, en dan moet jy óf omdraai óf om die indringers deur die veld spoorsny. Die tweespoorpaadjies is redelik maklik om baas te raak.

Die oppervlak wissel tussen klei, klip en gruis, en oor die algemeen is die roete nie veel taaier as graad 2 op ons skaal nie. Wees op die uitkyk vir kleinwild soos ribbokke (waarna die kloof genoem is), duikers en vlakvarke. By die uitkykpunt (S25.57015 E29.83255) het jy ’n onbelemmerde uitsig oor die kloof en nabygeleë plase.

Onder in die kloof is ’n 3 km lange hindernisbaan deur die spruit. Dis basies ’n reeks paadjies wat die spruit herhaaldelik oorsteek. ’n Standaard-dubbelkajuitbakkie gaan hier en daar vashaak, maar voertuie met ’n kort asafstand behoort nie veel te sukkel nie.

Dit is hier waar 4x4-klubs kom speel. Met ons besoek was die meeste hindernisse platgery deur vorige besoekers en daarom nie besonder uitdagend nie – dalk ’n graad 3 – maar die roete word van tyd tot tyd opgeknap tot ’n graad 4-gradering wat jou laat tande kners.

Die roete word van tyd tot tyd opgeknap tot ’n graad 4- gradering wat jou laat tande kners.

Hier is ook ’n dam waardeur jy kan ry. Hou liefs na aan die oewer waar dit wieldiepte is. Jy gaan dit dalk berou as jy deur die middel van die dam wil ry, want wie weet hoe diep dit is.

Blyplek

Ribbokkloof het 7 selfsorghuisies wat ver uitmekaar gebou is. Die kleinste een, Tolbos, het ’n dubbelbed, kombuis, badkamer en DStv, en kos R400 p.p.p.n.

Blinkblaar, die grootste een, is ’n dubbelverdiepinggebou met slaapplek vir 12 mense, en hy kos R350 p.p.p.n. (R175 vir kinders o.12; gratis vir o.6’e). 

In die meeste huisies word sonkrag en gas gebruik vir ligte en warm water – vind vooraf uit watter huisies kragsokke het waarmee jy jou selfoon kan laai.

Bring jou eie skottelgoedseep, handdoeke en vuurhoutjies; beddegoed en eetgerei word wel verskaf. Naby die huisies is ’n klimraam, glyplank en ’n swembad waarin die kinders kan baljaar.

As jy jou eie slaapplek saambring, kan jy langs die spruit kamp opslaan. Staanplekke kos R80 plus R80 p.p.p.n. (R40 vir kinders o.12; gratis vir o.6’e). Daar is staanplek vir altesame 30 mense wat ’n ablusieblok en ’n kombuis deel.

Langs dié twee rietdakgeboue is nóg ’n klimraam en glyplank vir die jongspan.

DIE PADDA WOU GAAN OPSIT... In eendeweer is die hindernisse ’n aks moeiliker, want dan is die kleigrond nat. Die toebehoreverskaffer Opposite Lock het hulle Hilux (wat “The Beast” gedoop is) vir ons geleen. Hierdie bakkie skrik nie vir kleigrond, klippe óf modder nie en ons kon al Ribbokkloof se hindernisse sonder drama baasraak.

Jy kan in Ribbokkloof se grootste dam hengel. Hier is karp en baars, maar jy moet enige vis wat jy uittrek, teruggooi in die water.

By die ontvangsgebou kan jy bondels hout (R20), sakkies ys (R10) en koekies (R50/500 g) by Elize koop. Die naaste kafee waar jy proviand kan koop, is op Stoffberg, sowat 25 km van Ribbokkloof af. As jy brandstof soek, sal jy ’n bietjie verder moet ry na Belfast of Middelburg (albei 40 km).

Dagbesoekers is ook welkom – dit kos R70 p.p. (R35 vir kinders o.12; gratis vir o.6’e). Daar is ’n groot grasperk met braaigeriewe langs die dam. Dagbesoekers moet R110 betaal om die roetes te ry, maar gaste en kampeerders kan dit gratis aandurf.

Wat jy moet weet

Maksimum getal voertuie Onbeperk.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Onwaarskynlik.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Nee wat.

Kan ons langs die pad braai? Ja, maar kry eers toestemming.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Daar is sein op die rantjies.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Januarie tot April.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Dagbesoekers is welkom, maar bly eerder vir ’n naweek.

Is daar ablusiegeriewe? Ja.

Aanwysings Neem die R555 ooswaarts uit Middelburg in die rigting van Stoffberg. Ongeveer 40 km buite Middelburg sal jy ’n padpredikant aantref wat jou na Wapadskloof en Ribbokkloof regs beduie. Volg die Wapadskloof-grondpad vir 4 km tot by Ribbokkloof se plaashek.

GPS S25.58782 E29.81868

Wat kos dit? R110 per voertuig (gratis vir gaste).

Kontak  082 388 3246;  ribbokkloof.co.za;  info@ribbokkloof.co.za