Kaart
foto’s Dave Buchanan

Geen warm water, winkels, elektrisiteit, ys óf selfoonsein nie. Hierdie plek is gewis nie vir almal nie.

Die Richtersveld lê honderde kilometers van Springbok, die naaste noemenswaardige dorp, af, en op sy beurt lê Springbok so te sê in die middel van nêrens.

Ja, die Richtersveld lê ver... van enigiets af. Dit is boonop moeilik om hier uit te kom, en wanneer jy eers hier is, het jy ’n veldryer en ’n stewige voorraad proviand nodig om verder te gaan.

Jy het by tye senuwees van staal en ’n ooraanbod geloof, hoop en liefde nodig. Selfs wanneer jy in die hart van hierdie oerwêreld inry, mag jy steeds nie heeltemal gemaklik voel met sy harde dog eenvoudige natuurskoon nie.

Die reusagtige rotsformasies, die treffende sterrenag... dis alles net so gróót en die gevoel van jou nietigheid wat dit skep, oorweldigend. Nee, die Richtersveld is nie vir almal nie. En dis hoe dit hoort. Want diegene wat moeite doen om hier te kom – en nederig bly – word in oorvloed beloon. 

stillewe. By De Hoop kamp jy rustig langs die Oranjerivier met klein diere soos ’n muskeljaatkat wat dalk by jou staanplek mag inloer.

De Hoop

Oase in die woestyn

Die 90 km tussen Alexanderbaai en die ingang na die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark is hoofsaaklik ’n breë grondpad wat op plekke erg sinkplaat gery is.

Van die hek tot by die De Hoop-kampterrein volg jy ’n tweespoorpad vir 50 km. Ry stadig hier – nie omdat die pad sleg is nie, maar eerder om die natuurbeeld wat voor jou ontvou ten volle te geniet.

Die Akkedispas lyk ook erger as wat hy is. Jy kan hom in ’n Terios baasraak. Ons het, maar ons het darem ook ’n Land Cruiser gehad wat saamgery het ingeval van nood. Dis ieder geval ’n goeie plan om eerder in ’n konvooi te reis wanneer jy afgeleë plekke soos dié besoek.

Jy kan De Hoop ook van die Richtersberg-kampterrein in die suide af bereik, maar dié pad is nie in die beste toestand nie en kan uitputtend raak. As jy egter van Sendelingsdrif se kant af kom, raak jy gou gewoond aan die stowwerige kilometers se grondpad en groot rotse om jou.

En dan, asof die natuur jou met ’n geologiese toorkunsie vermaak, verskyn die Oranjerivier se blou water en groen bome voor jou. Dis ’n welkome oase in hierdie bergagtige woestyn.

Soos jy inry, strek die kampterrein suid. Hier lê 12 staanplekke oor ’n kilometer se landskap versprei. Of kom ons sê eerder jy kan een van 12 staanplekke by Sanparke bespreek, want hulle is nie afgebaken nie en jy kan jou kamp opslaan waar jy wil.

Die meeste mense sal mik vir ’n plek in die koelte, selfs in die winter. Jou bure mag dus nader aan jou wees as wat jy verwag. Maar dit voel nooit beknop nie. Probeer teen middagete opdaag. Dis net mooi voor die stormloop en net nadat die mense wat vertrek, hulle ry gekry het.

Hier staan ’n klompie betonbraaiers deur die kampplek versprei en hier is ook braaiputte wat met rivierklippe gebou is. Kies die een waar jy die gemaklikste gaan wees en die lekkerste gaan kuier.

’n Reeks stroomversnellings aan die suidekant van die kampterrein sorg vir ’n konstante dog gedempte ruising, wat beteken jy hoor nie regtig jou bure nie. As jy meer stilte verkies, kry jou staan in die noordelike deel van die kampterrein. Onthou net: Dit is ’n gewilde bestemming en daarom is dit nooit werklik doodstil nie.

Ons het in Augustus hier kom kuier en die nag voor ons besoek naby Springbok gekamp. Ons het in ysige toestande oornag met ’n tierende wind wat ons tente tot die uiterste beproef het. Die volgende dag in De Hoop was ons deur die dag in kortbroeke en plakkies, met dalk ’n langmouhemp wanneer die son sak.

Hier is drie houtablusieblokke, maar met ons besoek was daar ’n ry nuwe storte en toilette in ’n klipgebou in aanbou. Die mans- en vrouegeriewe in die houtgeboue is dieselfde met elk ’n toilet, stort, wasbak en ’n opwasbak buite.

tyd om te stort. Wanneer jy natgesweet terugkeer van jou skemervaart op jou kajak, kan jy jou in een van die drie ablusieblokke gaan skoonkry. Hier is net koue water en die geriewe is effens afgeleef.

Hier is net koue water in die krane; dus is dit raadsaam om eerder in die middag te stort wanneer die water in die swart pype ’n dag lank in die son gebak het.

Die ablusieblokke se water kom uit ’n tenk op ’n heuwel en dié word met ’n sonpomp opgevul. In ons badkamergebou het die een manstoilet gelek, terwyl die vroue se toilet net getrek kon word as jy die bak se deksel lig.

Raak nat!

Die Oranjerivier vloei kalm en rustig van suid na noord voor die kampterrein verby, wat beteken dit is nommerpas vir watersport. Oud en jonk geniet dit ewe veel om met binnebande in die water af te dryf en die stroomversnellings sorg vir nét genoeg opwinding.

Hou egter die rivier se watervlak mooi dop – as die rotse in die stroomversnellings duidelik sigbaar is, hou eerder verby. Een van ons kampmaats het ’n lelike kneusplek op sy sitvlak gekry. Hier is nog twee stelle stroomversnellings ’n entjie stroomaf van die kampterrein, en jy moet hulle net aandurf as die watervlak hoog genoeg is.

Dit is veilig om in die water voor die kampterrein te swem, maar in die winter is dit ysig koud. As jy soos ’n wafferse Ryk Neethling wil voel, kan jy ná die stoomversnelling induik en sowat 700 m tot by die kampterrein se noordelike grens swem. Klim uit en stap terug. As jy soos Ryk wil voel wanneer hy oefen, kan jy in die water omdraai en die teen die stroom terugswem.

As jy jou kano of kajak saamgebring het, kan jy van die suidelike kant af roei. Begin anderkant die stroomversnelling en roei stroomop. Binne oomblikke vervaag die geluid van die stroomversnelling en dan bevind jy jou in ’n amper onheilspellende stil wêreld van eilande en watervoëls. Met ’n paar hale kan jy die ander kant van die rivier bereik en jou lyf vir ’n oomblik internasionale reisiger hou as jy aan Namibië se kant uitklim.

Wees versigtig vir rotse onder die water en loop lig vir die digte waterriete. As jy ’n beginner is, kan jy maklik hier omgegooi word.

Gaan stap in die berg

waterpret. Die rivier is die Richtersveld se le­wensaar en ’n heerlike speelplek vir watersport- entoesiaste. Die droë klimaat is egter ’n paar minute se stap van die oewer af sigbaar.

Hier is nie baie staproetes nie, maar jy kan steeds die gebied langs die rivier of op hoër grond te voet verken. Jy kan binne 20 minute na die bopunt van een van die heuwels agter die kampterrein stap. Dit is wel ’n steil entjie se stap, maar wanneer jy hier staan, word jy beloon met ’n uitsig oor die rivierkom wat strek van die Namibiese berge in die noorde tot die sandvlaktes van die Springbokvlakte in die suide.

Kyk mooi waar jy loop, want ’n mens gly maklik op die leiklipskerwe. Hou jou oë gespits vir geveerdes soos die witkruisarend, reier, visvanger, duiker en vink, en klein soogdiere soos die klipspringer en selfs ’n groototter, as jy gelukkig is.

Ons het ’n trop van meer as 40 bobbejane gesien wat deur die rivier swem. Praat van ongewoon… Die bobbejane het ons nie gepla nie, maar onthou om eetgoed en oorskietkos goed weg te bêre, want ’n klomp vasberade blouape het verskeie pogings aangedurf om ons oorskietbraaivleis in die hande te kry.

De Hoop is stellig die kroonjuweel van die Richtersveld se kampterreine. Ander, soos Kokerboomkloof, is dalk meer dramaties, maar De Hoop kry ’n klomp regmerkies langs belangrike kassies soos toeganklikheid, verskeidenheid en, natuurlik, natuurskoon.

Geoff Otterson en Lesley Underwood van Umhlanga is midde-in ’n luilekker toer deur Suider-Afrika.
Kortliks | De Hoop

Kampplek 12 onafgebakende staanplekke, sommige met gras en koelte. Daar’s genoeg braaiplekke vir almal.

Ablusiegeriewe Basies en effens afgeleef. Die mense van Sanparke kom maak elke klompie dae skoon.

Prys R243-R624 per staanplek, afhangend van die seisoen en die aantal volwassenes en kinders (maksimum 6 mense per staanplek word toegelaat).

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak  027 831 1506;  RNPreservations@sanparks.orgsanparks.org/parks/richtersveld

Naaste dorp Alexanderbaai, 115 km (Sendelingsdrif 52 km).

Hoe lyk die pad? Die tweespoorpad is op plekke sinkplaat gery en net geskik vir ’n veldryvoertuig.

GPS S28.183166 E17.178135

Weg Ry & Sleep Die geluid van die stroomversnelling kan óf strelend óf steurend wees.

/
/
/

Kokerboomkloof

Die land van verlatenheid

Wanneer jy De Hoop verlaat en suid ry, bereik jy die Richtersberg-kampterrein (’n kleiner weergawe van De Hoop) en Tatasberg-wilderniskamp 8 km later.

Hou die pad fyn dop, want dit vurk hier en daar om sandkolle te vermy. Hou jou enjin se toere hoog as jy per ongeluk die verkeerde een kies. Of jy kan die ompad verby Tatasberg vat. Jy volg dié roete vir omtrent 8 km tot by ’n plek waar die heuwels ’n natuurlike amfiteater vorm. Maak seker jou kamera se battery is gelaai.

Moet egter nie dieselfde fout as ons begaan nie: Op Sanparke se kaart van die omgewing lyk dit of die twee uitkykpunte hier rég langs mekaar is. Maar die millimeter spasie op die kaart is in der waarheid ’n bergreeks wanneer jy hier staan. Wanneer jy weer by Richtersberg kom, moet jy die padpredikante mooi dophou (ons het nie).

Jy gaan met die lang pad (34 km) tot by Kokerboomkloof moet ry. Buiten ’n paar plekke waar jy oor rotse moet klim wat jou ryding se nader- en vertrekhoek behoorlik gaan toets, is die pad in ’n heel gangbare toestand. Dit verander later in ’n amperse grondpadsnelweg, maar wees altyd maar lugtig vir die sinkplaatplekke.

Jy weet jy is naby Kokerboomkloof wanneer die landskap ’n effens bisarre draai met jou loop. Sowat 15 km voor die kampplek word die pad breër... en breër… en nóg breër tot jy op ’n uitgestrekte vlakte ry. ’n Mens wil amper rondkyk om te sien of Malcolm Campbell se Bluebird hier rondjaag terwyl hy probeer om die landspoedrekord te verbeter.

Kort voor lank sien jy ’n enkele kokerboom wat aandui dat jy amper jou bestemming bereik het. Jy hou regs, verby die “Big Toe”-rotsformasie (dit maak sin wanneer jy dit sien) en volg die kronkelpad in die vallei af vir 3 km tot by die kampterrein.

Waar die reuse speel

Hier is amptelik agt staanplekke, maar soos by De Hoop is hulle ook nie afgebaken nie. Die vier ablusieblokke is van nr. 4 tot 1 gemerk soos jy die pad in die kampterrein volg. Die gedagte is duidelik dat elkeen deur twee staanplekke gebruik word, maar jy kan steeds jou kamp opslaan waar jy wil.

Met ons besoek was hier net een ander kampgroep. Ook maar goed so, want die toilette in twee ablusieblokke was verstop. Ietwat verrassend het elke blok ook ’n wasbak, stort en opwasbak.

’n Mens moes voorheen jou eie water saambring, en heel duidelik voel iemand dit hoort nog so, want nie een van die wasbakke of storte het krane nie. Die krane se passtukke is hier, maar nie die krane self nie. Die waterbron is vier 10 000 l-tenks wat tussen reusagtige rotse versteek staan. Dis onseker hoe die tenks volgemaak word. Dalk is daar ’n boorgat naby.

Elke staanplek het sy eie attraksie, en wanneer jy die natuurskoon om jou gadeslaan, maak dit nie regtig saak waar jy jou vestig nie. Kies darem net die een met ’n toilet wat werk.

kliphard. Moenie hier na ’n lappie gras vir jou tent kom soek nie – jy gaan dit nie kry nie. Die omgewing vergoed egter dubbel en dwars vir die tekort aan groenigheid.

As jy iemand is wat gereeld die bobbejaan agter die berg gaan haal, moet jy dalk nie op staanplek nr. 3 kamp nie. ’n Enorme langwerpige rots staan ongemaklik op sy kant en lyk of hy oor die braaiplek leun. Hy gaan waarskynlik eers oor ’n duisend jaar omval. Dit kan egter sommer môre ook gebeur… Dis die skaal van alles hier by Kokerboomkloof wat ’n mens klein en nederig laat voel.

Dit lyk soos ’n speelplek vir reuse wat met kolossale rotse albaster gespeel het. Jy word verdwerg deur die yslike en misvormde rotsformasies op hierdie uitgestrekte stuk aarde. En snags deur die glinsterende wonder wat die Melkweg genoem word. Daardie sterreliggaam wat ’n mens nie in die stad sien nie. Maar hier, ver weg van mense en waar die lug skoon is, is dit ’n sterrewolk van lig wat skouspelagtig deur die nagruim sny.

’n Mens kan dit egter nie altyd sien nie. Om die waarheid te sê was die weer effens verwarrend – die een oomblik mooiweer, die volgende oomblik bewolk. ’n Snerpende windjie uit die noordweste vir 20 minute, dan draai hy suid en later is dit windstil vir die res van die aand. Ons het selfs een oggend ’n halfuur se reën gehad. Wanneer die wind gaan lê en die geselskap raak minder... stilte.

Absolute koue, gapende stilte. Dit vat ’n tydjie om daaraan gewoond te raak.

STATIGE STOFIE. Ons het hierdie oulike stofie saam met ons op reis gehad. Hy heet ’n Sirram Volcano en is basies ’n ketel wat om ’n skoorsteen gebou is. Jy kan met enigiets in hom vuurmaak – van takkies tot droë blare en gras. En hy sorg in ’n japtrap vir kookwater.

Sandstorm

’n Mens kan verstaan hoekom die voël- en dierelewe skaars is in dié geweste. Hier is wel ’n “Pasop vir die bobbejane”-kennisgewing by die ablusieblokke, maar selfs die onnoselste bobbejaan sal nie die oorvloed van die rivierkom verruil vir die eensaamheid hier by Kokerboomkloof nie.

Met ons vertrek het ons wel drie koedoes gesien. Dit was ’n helder dag en ons kon al die pad tot by die berge om Rosh Pinah in Namibië sien. Ons het die bokke naby Big Toe aangetref en hulle het ons versigtig dopgehou terwyl ons hierdie vreemde en diepsinnige plek agter ons gelos het.

Vorige besoekers het ons gewaarsku oor muggies en sandvlooie wanneer ons in dié geweste kom kamp, maar dis dalk net ’n probleem in die somer, want hulle het ons nie gepla nie.

Opwas

Net nog een ding oor die weer: Wees maar voorbereid op enigiets. Dit was ’n pragtige wintersoggend toe ons Kokerboomkloof verlaat, maar nadat ons vir net langer as twee uur gery het op pad na Sendelingsdrif, was ons vasgevang in ’n sandstorm... en ons kon níks voor ons sien nie. As dit jou oorkom, trek eerder af en wag dat die storm bedaar. Daar is baie lorries op die Alexanderbaaipad. 

Richard Hyams van Riebeek-Wes is op pad terug Wes-Kaap toe, maar gaan eers blomme kyk by Kamieskroon en Leliefontein.
Kortliks | Kokerboomkloof

Kampplek 8 onafgebakende staanplekke op klip en rots. Die groter rotse sorg vir koelte.

Ablusiegeriewe 4 ablusieblokke met koue water vir die opwasbak en toilet. Geen krane by die wasbakke of in die storte nie.

Prys R243-R624 per staanplek, afhangend van die seisoen en die aantal volwassenes en kinders (maksimum 6 mense per staanplek).

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak  027 831 1506;  RNPreservations@sanparks.org; sanparks.org/parks/richtersveld

Naaste dorp Alexanderbaai, 131 km (Sendelingsdrif 80 km).

Hoe lyk die pad? Die tweespoorpad is op plekke sinkplaat gery en net geskik vir ’n veldryvoertuig.

GPS S28.306342 E17.291425

Weg Ry & Sleep Onthou jou kamera... én jou wyehoeklens.

Sendelingsdrif

’n Goeie plek om te begin

Op die oog af is Sendelingsdrif nie besonder mooi nie. Dit is weens die groot Sanparke-gebou (aan jou linkerkant wanneer jy aankom) en ander strukture wat nie juis ’n gevoel van die wildernis by jou aanwakker nie, die afgeleënheid van die bestemming ten spyt.

Maar daar is ’n paar goeie redes om hier te kom bly. Eerstens is dit ’n ordentlike oornagplek en ’n goeie vertrekpunt vir jou reis deur die park. Jy kan jou dus hier voorberei op wat in die meer afgesonderde gebiede op jou wag en terselfdertyd vroeg al op pad wees. Jy kan ook jou voorraad aanvul by die klein winkel met baie basiese produkte op die rak.

Én dis jou laaste kans om brandstof in die tenk en jerrykanne te kry voor julle Richtersveld-avontuur in alle erns begin.

Die kampterrein is klein maar netjies en het seker die beste ablusiegeriewe wat ons op hierdie reis teëgekom het. Hier is twee ablusieblokke en alles werk, en boonop word dit deurgaans skoon en netjies gehou. Hoewel jy ’n paar honderd meter van die Oranjerivier af kamp, het jy van die kampplek af nie ’n uitsig oor die water nie. Dié is net die chaletbewoners beskore.

Grensgeval

Sendelingsdrif is ook ’n grenspos met ’n pont (met plek vir twee voertuie) wat daagliks tussen 8 vm. en 4.15 nm. die rivier tussen Suid-Afrika en Namibië oorsteek. As jy vir ’n rukkie by Sendelingsdrif vertroef, is dit nogal interessant om te sit en kyk hoe die pont heen en weer vaar terwyl jy die tyd verwyl.

Hier is ook ’n kwekery van Sanparke waar jy meer kan kom leer oor die ongewone plantelewe wat jy in die Richtersveld teëkom. Onthou om jou Wild Card saam te bring wanneer jy in die Richtersveld kom reis. Sonder een moet jy ’n daaglikse bewaringstarief van R71 p.p. (R36 vir kinders) betaal. Dit kan vinnig duur raak as jy vir ’n klompie dae kom kuier.

As jy nie ’n Wild Card het nie en jy mik hierheen, maak dit dalk sin om een te kry voor jy kom. Gaan loer by  wildcard.co.za en maak jou somme. Onthou net, dit neem soms maande voordat die kaart deur die pos by jou aankom. As jy vertrek voor jou kaart aangekom het, onthou om jou aansoek vir die kaart in jou ryding se paneelkissie te bêre. ’n Mens weet nooit wanneer ’n parkbeampte vra om hom te sien nie.

Kortliks | Sendelingsdrif

Kampterrein 6 staanplekke op sand, sommige met koelte.

Ablusiegeriewe Netjies en skoon.

Prys R243-R624 per staanplek, afhangende van die seisoen en die aantal volwassenes en kinders (maksimum 6 mense per staanplek).

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak  027 831 1506;  RNPreservations@sanparks.orgsanparks.org/parks/richtersveld

Naaste dorp Alexanderbaai, 92 km.

Hoe lyk die pad? Grondpad wat op plekke sinkplaat gery is.

GPS S28.123818 E16.890800

Weg Ry & Sleep Jy sal met jou Polo tot op Sendelingsdrif kan kom, maar jy het ’n hoë grondvryhoogte en waarskynlik ’n 4x4-voertuig nodig om verder te ry.

Johan en Desire Jordaan van die Paarl is al ’n geruime tyd in die park en mik volgende noordwaarts.