Foto's: Liana Mocke

De Hoop is een van die meer gewilde kampe in die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark. As ’n mens al die lof vir dié kampplek op die wal van die Oranjerivier hoor, kan jy byna nie anders nie as om te begin beplan aan ’n paar salige kampdae hier nie.

Die Oranjerivier is baie vrygewig by De Hoop. Die groen plantegroei en water is ’n welkome lafenis in die dorre Richtersveld. Hier kan besoekers swem, visvang, op ’n kano of enige dryfding ronddobber (of ’n stroomversnelling aandurf!) of net sit en staar oor die water en na landskap om jou. Sommige kampeerders bad selfs in die rivier – maak net seker jy gebruik omgewingsvriendelike seep!

Die kampplek met 12 staanplekke is aan die Suid-Afrikaanse kant van die park (los dus maar die paspoort by die huis) en om hier uit te kom het jy ’n 4x4 nodig.

Die pad kampplek toe

Die roete tot by De Hoop is enkelspoorpad, nes die ander paaie in die park. Die pad van Sendelingsdrift af tot by De Hoop via die Akkedispas is 38 km lank. Die ander roete loop oor die Helskloofpas en is langer (64 km). Vind vooraf by die ontvangskantoor uit hoe die twee paaie lyk en of albei begaanbaar is. Maak ook seker jy kry ’n kaart by ontvangs. 

Die pad oor die Akkedispas is wel uitdagend en soms senutergend namate jy om klippe en skerp draaie moet navigeer, maar dis ’n pragtige roete en die natuurskoon is iets besonders. Hou die kamera reg – hier’s mooi kokerbome en rotsformasies langs die pad om af te neem. 

Kampsake

Hier is nie gemerkte kampplekke nie en jy kan kies waar jy kamp opslaan – op sagte riviersand en plek-plek op graskolle langs die oewer.

Doringbome en bosse gee koelte en beskutting. As dit jou eerste keer by De Hoop is, verken eers die kampplek voordat jy besluit waar om penne in te slaan. Die sagte riviersand sit darem nie aan jou voete vas soos seesand nie, maar pak die grondseile in, want die son bak die sand smiddae warm.

Die badkamers het spoeltoilette en koue storte. Van die storte het hake waaraan ’n stortsak met warmwater gehang kan word. ’n Gedeelte van die badkamers het ook wasplek vir skottelgoed en klere. 

Jy gaan dalk soms bokwagters raakloop wat hulle bokke rivier toe bring om te drink en te wei. Moenie skrik vir die honde nie – hulle bly uit jou pad uit en sal nie pla nie, solank jy nie te veel aandag gee nie. 


Doendinge

  • Hier ís vis om te vang. Die visarende wat hier sweef en reiers wat geduldig in die water staan, sal jou oortuig om tog ’n geelvis (of selfs ’n forel) te probeer uittrek. Kry net jou visvangpermit by Sendelingsdrift se ontvangskantoor indien jy beplan om aandete te vang. 
  • Hou stil by die Hand van God-rotsformasie. Dit word beskou as een van die grootste “kunswerke” in die Richtersveld en plaaslike inwoners glo dit is ’n teken van God.   
  • Jy kan die koppies uitklim, ver ente langs die rivier stap en op jou bergfiets klim as jy kans sien vir (baie) dik sand. 
  • Dryf in die rivier op ’n binneband of roei met ’n kajak.
  • Pak genoeg leesstof in en sorg dat jou kamera se batterye gelaai is.


Weet dít voor jy gaan:

Sendelingsdrift

  • Oornagbesoekers moet voor 4 nm. by Sendelingsdrift aanmeld. Geen voertuie word ná donker op die park se paaie toegelaat nie.  
  • Koop wat jy moet (of vergeet het) by Sendelingsdrift. Maak ook alle voertuie hier vol voor julle die pad vat De Hoop toe. (Die vulstasie is oop van 8 vm. tot 4 nm.) 

Die kampplek

  • Jy kan nie vooraf ’n spesifieke kampplek bespreek nie. Hoe gouer jy hier uitkom hoe beter is jou kanse om ’n lekker kampplek onder ’n doringboom te kry.
  • Bring genoeg vars water saam vir kosmaak en om te drink. Die water vir was en stort in die badkamers kom uit die rivier uit. Kook dit eers as jy dié water wil drink. Daar is ook water by Sendelingsdrift as jy kanne daar wil volmaak.
  • Jy moet jou eie vullis weer saam met jou vat – bring genoeg swartsakke hiervoor. 
  • In die somermaande moet jy liefs saans skoene aantrek, hier is soms skerpioene. 
  • Pak genoeg warm klere in. In die winter raak dit snags koud, veral as jy teen die rivier kamp. 
  • Hier is nie krag nie. Maar bring sonpanele – dit sal hier baie krag kan opwek!
  • Gasstowe word aanbeveel vir kosmaak, omdat die wind saans kan opsteek. 
  • Geen kragopwekkers word toegelaat nie. 
  • Hier is blouapies en bobbejane wat kom rondkrap in sakke en oop tente, maak seker alle kos en vullis is deeglik toe en versteek.

Die pad soontoe

  • Konvooie word ten sterkste aanbeveel. Indien jy op jou eie die park inry, moet jy ’n ooreenkoms onderteken om op die dag van jou vertrek weer by ontvangs aan te meld.
  • Sedanmotors word nie op die park se paaie toegelaat nie maar jy kan met een tot by Sendelingsdrift ry. 


Kontak 027 831 1506; e-pos: RNPreservations@sanparks.org; webblad: https://www.sanparks.org/parks/richtersveld/

Koste R245 vir twee mense wat kamp; R82 p.p. wat bykom; R41 per kind. Net 6 mense en twee motors per kampplek toegelaat.

Hektye 6 vm.-8 nm. 

GPS De Hoop S 28 11.021 E 17 10.682; Sendelingsdrift S 28 07.514 E 16 53.496