François Haasbroek het met ’n GPS en notaboek elke pad in die park gaan ry en by elke kampplek ingeloer om te kyk wie skiet waar spek. Kom saam!

Foto's: François Haasbroek 

Dis harde wêreld hierdie. Die paadjies kronkel deur berge en heuwels. Die op en af van pas op pas word dan en wan deur ’n sandvlakte gebreek. In die somer gaap die akkedisse, en in die winter byt die koue sodra die son agter die bergreeks Vyf Susters verdwyn.

Die Oranjerivier sny soos ’n lewensaar deur die heuwels, ’n strook groen wat lafenis bied in ’n dor landskap. Stap jy egter ’n paar meter veld-in weg van die rivier af, kan jy amper nie glo iets kan hier lewe nie. Ja, die Richtersveld is beslis nie dood nie.

En saans, voordat die maan opkom, lyk die Melkweg só naby jy voel jy kan sterre met die hand daaruit pluk.

Inteendeel, die biodiversiteit van Suid-Afrika se enigste bergwoestyn is verstommend. Hier is meer as 4 000 verskillende plantsoorte (waarvan bykans die helfte net hier voorkom). Dassies, koedoes en selfs luiperds oorleef tussen die klipheuwels, en ook mense maak hier ’n bestaan. Die landskappe is skouspelagtig, maar jy moet ook klein kyk om die skoonheid van die plek te kan waardeer.

En saans, voordat die maan opkom, lyk die Melkweg só naby jy voel jy kan sterre met die hand daaruit pluk.

Die Richtersveld se voorstoep

Die grondpad begin lank voor jy in die park is.

By Alexanderbaai hou die teerpad op, en ’n netjiese grondpad gly verby afdraaiborde na plekkies soos Baken, Sanddrif, Brandkaros en Grootderm. Die inwoners werk op diamantmyne, en dis ook die rede hoekom die paaie hier so goed onderhou word.

Sowat 12 km voor Kuboes draai die pad noord, en ek en my vrou, Marilize, begin ’n voorsmakie kry van die paaie waaraan ons gewoond moet raak. Jy het nie ’n 4x4 nodig om hier te ry nie, maar daai Micra gaan ’n pak slae kry.

Los klippe en ’n paar slaggate maak dat jy dié pad met ’n ligte voet en ’n wakende oog moet aanpak, veral as ’n loeiende oostewind ’n sandstorm aanjaag. Dis reeds laatmiddag wanneer ons 25 km verder by die park se hek stilhou.

Los klippe en ’n paar slaggate maak dat jy dié pad met ’n ligte voet en ’n wakende oog moet aanpak, veral as ’n loeiende oostewind ’n sandstorm aanjaag.

Die skroef van ’n windaangedrewe kragopwekker fluit verbete soos hy sukkel om by te hou. Die hekwag hardloop nader, die intekenboek teen sy gesig hou die sand weg. Jy betaal nie hier nie; die hekwag beheer slegs toegang. Hy laat weet die kantoor by Sendelingsdrift ons is op pad.

“Daarsy, en moet jou nie bekommer oor die wind nie – hy waai elke middag so, maar hy gaan nou-nou lê,” sê die hekwag, en voor ek sy naam kan vra, trippel hy terug na die kliphuisie vir skuiling.

Wraggies, 20 km verder hou ons by ’n windstil Sendelingsdrift stil. Die hele plekkie voel eienaardig. Dis ’n grenspos, maar hier is nie ’n pad oor die rivier nie, net ’n pont. Daar was maar min lewe op die pad hierheen, maar hier is ’n dorpie met ’n kafee en vulstasie.

As die Richtersveld ’n land was, was dié sy nasionale plant. Kokerbome, soos hierdie een wat deel is van ’n kolonie in Kokerboomkloof, kan tot 400 jaar oud word.
Grootwild soos gemsbok, koedoe, springbok en sebra is maar skugter in die Richtersveld. Selfs as jy fyn kyk, mag jy dalk ná ’n week nog niks gesien het nie. Klipspringers is seker die bokke wat die beste aangepas is vir dié landskap – hou dus die bergrante fyn dop

Tussen die huisies is groen grasperke onder groot bome.

In die woestyn help dit om (met ’n pomp) langs die Oranjerivier te woon! Sanparke se kantoor is gebou in die styl van ’n ou fort wat uitkyk oor die pont. Ek vra watter soort voertuie word in die park toegelaat. Gewoonlik wil hulle weet of jy donkierat (laestrek) het.

Nie vandag nie: “Het jy ’n aircon?” November was dalk nie die beste tyd van die jaar om te kom kuier nie!

Ons bly die aand oor in ’n chalet wat oor die rivier uitkyk. As die res van die park so is, gaan die toer minder van ’n avontuur wees as wat ek gedink het. Hier is ’n uitsig, lugverkoeling en krieket op die TV. Die enigste drama is die volgende oggend toe ’n hans blouaap ’n sak beskuit gryp toe ons op die stoep ontbyt eet.

Gelukkig het die aap net een arm (hy het waarskynlik al iets gesteel wat hy nie moes nie) en hy moet kies tussen die beskuit of ’n tak gryp om te ontsnap. Hy kies die tak. Die volgende oggend ry ons verby Sendelingsdrift se kampplek die park in.

As die kwik aan die bopunt van die termometer begin raak, kom selfs Namibië se bobbejane hulle tone in die Oranje druk vir ’n bietjie lafenis.
Domorogh is die Richtersveld se hardebaard-bergpas. Dit is die enigste een waarvoor jy ’n 4x4 nodig het, maar die uitsigte van hier bo af maak die skud die moeite werd

Die eerste paar kilometer loop die pad verby ’n myn en pompstasies, maar sodra jy die eerste pas – die Halfmenspas – inry, wéét jy jy’s in die wildernis. In Khoi-volksverhale word vertel van ’n tyd toe die Namas noord van die Oranjerivier gebly het.

Verslaande vyande van die Namas is na die suide verban, oor die rivier na die Richtersveld. Dis hier waar hulle só lank na hulle vorige tuiste in die noorde gestaar het dat hulle stadig maar seker in plante verander het: Dit is hoe die halfmense ontstaan het.

Wees op die uitkyk vir halfmense in die pas. Kyk na die punte van die plant se kort takke. Dit kyk altyd noord. Dit voel asof jy in die Richtersveld deur die landskap van Die Bybel wandel. Die mite van die halfmens vind gestalte in die storie van Lot se vrou wat in ’n soutpilaar verander het toe sy teruggekyk het.

Dieper in die park rondom Tatasberg lyk die landskap soos die prentjies uit my Kinderbybel toe Jesus 40 dae lank in die woestynvlakte gewandel het met die duiwel wat hom in die versoeking probeer bring. In November is dit so warm die duiwel voel waarskynlik hier heel tuis.

Die mite van die halfmens vind gestalte in die storie van Lot se vrou wat in ’n soutpilaar verander het toe sy teruggekyk het.

Net anderkant Halfmenspas, sowat 150 m van die hoofpad af, kan jy selfs die Hand van God sien – ’n rotsgesteente wat lyk asof ’n groot hand ’n afdruk daarin gelaat het.

Rivier toe

Die Akkedispas begin sowat 5 km van die Hand van God af, maar ek sukkel om te sien waar die Akkedispas eindig en die daaropvolgende Penkoppas begin. Dit is soms steil en klipperig, maar ons 4x4-Mitsibushi Pajero Sport kruie rustig voort.

Dit is nie eens nodig om aan die laestrekknoppie te raak nie. Van hier af is dit redelik plat oor die Koeroegabvlakte tot by die De Hoop-kampplek. Die laaste paar kilometer loop die pad deur ’n kloof tot by die Oranjerivier.

Die pad is stamperig en hier is plek-plek enkeldiep water. By die rivier draai ek links pleks van regs, en kom agter ek het die kampplek misgery. Daar trek ’n rokie by ’n veepos en ek gaan vra vir aanwysings.

Die man sê nie ’n woord nie, lig net sy arm stadig en wys my die regte rigting. Vir die res van die week sien ons nie weer een veeboer nie. Ek slaan nie dadelik tent op by De Hoop nie.

Ons gaan koel eers af in die rivier. Dis egter nie net ons wat lafenis van die hitte soek nie. Op die oorkantste oewer het ’n trop Namibiese bobbejane afgekom water toe.

’n Klomp trek gras onder die water uit om te vreet. ’n Paar sit in die koel water soos ryk mense in ’n jacuzzi. Net hulle koppe steek bo die oppervlak uit. Ons slaan kamp op sodra die ergste hitte van die dag verby is.

Behalwe vir ’n gesin wat lyn natmaak voor hulle staanplek (ja, hier is baie vis – katvis, baber, karp en grootbek-geelvis), en een paartjie wat hulle Land Rover met ’n daktent so na as moontlik aan die water getrek het, is hier niemand anders nie.

Wanneer die son sak, raak die naglewe bedrywig. Vroegaand hoor ons ’n bobbejaan aan die ander kant van die rivier bôggom. Die hitte en lig lok ook ’n paar ongenooide gaste.

Nadat ek Marilize moes bedaar nadat ’n rooiroman haar jaag, sit ons die ligte af en kyk na die hemel bo ons. Sonder enige maan vat dit nie lank om satelliete en verskietende sterre te sien nie.

Daar is wel ’n paar sterre wat oneweredig beweeg... wag, dis nie sterre nie, dis vuurvliegies! Teen die tyd dat ons gaan slaap, patrolleer hulle steeds die rivieroewer.

Sonder enige maan vat dit nie lank om satelliete en verskietende sterre te sien nie.

Die volgende oggend kom ons agter dis nie net ons wat die aand in en onder ons tent geslaap het nie.

Behalwe vir ’n klein skerpioen of twee onder die grondseile, is daar ’n klompie spinnekoppe so groot soos R5-munte wat tussen die tent en die reënseil ingekruip het. Bedaar, die bontkwikkies sal jou te hulp snel.

Sodra ’n spinnekop sy kop wys, pyl die voëltjie op hom af en vreet hom vir ontbyt. Die pad tussen De Hoop en Richtersberg moet jy nie met ’n 4x2 waag nie. Die paadjie loop al teen die rivier af en die sand hier is diep.

Selfs al ry jy met ’n 4x4, moet jy versigtig wees – daar is klippe onder die sand. Toe ons by die Tatasberg-wilderniskamp kom, is dit 46°C. Daar staan ’n gebreekte reënmeter by die parkeerterrein en ek wonder wanneer laas is ’n lesing hier geneem.

Op pad na die Kokerboomkloof-kamp kan jy stilhou by dié aftrekpunt wat uitkyk oor die Springbokvlakte en die Richtersveld se suidelike berge.

Bergpasse en dale

In die noorde van die Noord-Kaap is twee biome: die droë Karoo, soos in Namakwaland, en bergwoestyn, soos in die suide van Namibië. Die lyn wat die twee biome skei, loop regdeur die Richtersveld.

As jy van die noorde na die suide met een van twee passe (Maerpoort en Domorogh) ry, raak die veld weliger. As jy met ’n 4x2 ry, moet jy met die Maerpoortpas van De Hoop na Tatasberg ry.

Dis die kortste pad, en jy sien hoe die landskap en die plantegroei verander. As jy wel ’n 4x4 het en ’n uitdagende ompad wil ry, kan jy die Domoroghpas pak.

Hier sien jy myle ver en daar is ’n klomp uitkykpunte langs die pad. As jy voel jy loop iets mis omdat jy nie ’n 4x4 het nie, hoef jy jou nie te bekommer nie. Die beste uitsigte kom nog.

Die Springbokvlakte is die oostelike deel van die park, en lyk heeltemal anders as die res. Hier is dit plat met uitgestrekte grasveld. Jy kan reguit oor die vlakte ry, maar as jy die borde Kokerboomkloof toe volg, loop die pad weer die heuwels in.

Langs die pad hou ons by die Tatasberg-uitkykpunt stil. Die berg self lyk asof ’n reus ’n yslike stapel klippe gepak het. Die uitkykpunt kyk af in die kloof noord van Tatasberg, en as jy op ’n goeie dag hier staan en skree, sal jy jou stem deur die kloof hoor eggo. Vandag waai die wind te erg.

Die berg self lyk asof ’n reus ’n yslike stapel klippe gepak het...

Sowat 3 km verder trek ons die Pajero se neus tot op die rand van ’n afgrond wat uitkyk oor die hele Springbokvlakte, en selfs tot by die wingerde aan die ander kant van die Oranjerivier by Aussenkehr.

Wie het die Domoroghpas nodig?

Ons volg die pad verby Die Toon – ’n rotsformasie wat, ja, soos ’n massiewe groottoon lyk – tot by Kokerboomkloof. Dis die enigste kampplek in die park wat nie langs die rivier lê nie, maar tog sien ons hier die meeste lewe. Buiten al die kokerbome is hier ook ’n paar gifbome teen die hellings weerskante van die kloof.

Ons ry tot waar die kloof doodloop en word begroet deur ’n familie klipspringers wat skepties na ons staar voor hulle tussen die klippe verdwyn. Die wind waai nou behoorlik en ek stoei ’n ruk om die tent op te slaan.

Elke staanplek het sy eie ablusieblok en tussen die klein gebou en die massiewe rots waarteen die kampplek staan, vind ons skuiling teen die ergste wind. Maar die wind bedaar sodra die son begin sak, nes die hekwag belowe het. Die laaste lig gooi goud teen die gesteentes terwyl die skaduwees van die kokerbome ál langer word.

En dan besef jy jy voel tuis... hier op die verste punt van die mees afgeleë park in die land. Ons laaste oggend in die park is die weer koel en mistig. Dis die “malmokkies” – die misbanke wat van die see af die park instoot en lewe aan die plantegroei gee.

Ons ry deur die droë Gannakouriep-rivierloop tot by die voet van die Helskloofpas. Dit kronkel tussen die Noemeesberg en Paradysberg na die westelike grens van die park.

Op die kruin van die pas is die veld oortrek met Pearson se aalwyne wat die veld rooi kleur. Dan begin die pad afdaal hek toe. Doer onder sien jy die skroef van die windturbine steeds sing in die wind.

En wanneer jy deur die hek ry, is daar ’n sagte plek in jou hart vir hierdie harde wêreld, ’n plek wat vir altyd daar gaan bly. 

Blyplekke

SENDELINGSDRIFT
Sendelingsdrift

Hoewel daar ook ’n hek suid van Sendelingsdrift is, moet elke besoeker by die hoofkantoor aanmeld.

Jy moet jou tenk hier volmaak – hier is petrol, diesel, ’n winkeltjie en selfs ’n kwekery waar jy die name van ’n paar vetplante kan leer voor jy in die park daarvoor gaan soek.

Die tien chalets is teenaan die rivier, tussen bome met groen grasperke, en hier is ook ’n swembad. Die 12 staanplekke in die kampplek is basies.

Dis ’n omheinde gebied langs die pad met ’n paar skadubome, maar geen gras nie. Die ablusiegeriewe is netjies met warm water, maar die staanplekke het nie elektrisiteit nie.

Dié staanplek is nie die plek waar jy jou tent kom opslaan as jy wil vakansie hou nie.

Dit is ideaal as jy laat by Sendelingsdrift opdaag en ’n plek wil hê om te slaap voor jy die park inry, of selfs as jy die pont wil gebruik op pad Namibië toe.

As jy van Namibië se kant af oor die grens kom op pad huis toe, is die volgende blyplek verder suid by Brandkaros, meer as ’n uur se ry weg.

GPS S28.12373 E16.89086 

POTJIESPRAM
Potjiespram

Hier is jy ín die park teenaan die Oranjerivier, weg van die gedreun van die myne en die pont. Potjiespram is ’n goeie kampplek vir iemand wat in die verbygaan naby Sendelingsdrift wil bly, maar steeds wil voel asof hy nie in die beskawing is nie.

Dis die grootste kampplek in die park. Die 18 staanplekke het baie skaduwee en is ruig toegegroei. Jy gaan nie juis die rivier kan sien nie.

Die kampplek is wel naby ’n poel in die Oranjerivier waar die water stilstaan. Bring dus vir jou ’n buis Peaceful Sleep so groot soos ’n Stanley-fles saam.

Die ablusieblok is op ’n klein sandheuwel in die middel van die staanplekke.

GPS S28.07467 E16.96310 (13 km van Sendelingsdrift af) 

DE HOOP
De Hoop

Dis die gewildste kamp in die park. Hier is 12 staanplekke langs die oewer van die rivier. Die pad in die kamp klim oor ’n klipperige heuweltjie wat die kamp in twee verdeel.

Die noordelike helfte se staanplekke is groter met ’n sanderige oewer waar jy lekker kan swem of visvang.

Die suidelike helfte se oewer is klipperig, maar daar is skadubome nader aan die water; dus kan jy jou tent amper óp die oewer opslaan.

Albei helftes van die kamp het sy eie ablusieblok met koue water terwyl daar ’n lang ry toilette aan die noordelike kant is vir wanneer die kampplek besig raak.

Die heuwel wat die twee helftes skei, is steil en smal – kamp dus noord as jy in jou voertuig se vermoë twyfel.

GPS S28.18339 E17.17846 (45 km van Sendelingsdrift af)

RICHTERSBERG
Richtersberg

As ek weer Richtersveld toe kom, gaan ek hier my tent kom opslaan. Richtersberg is die kleinste van die kampe in die park.

Hier is net ses staanplekke, en as jy eerste hier is, kan jy selfs ’n staanplek op gras kry.

Dis teenaan die oewer van die Oranjerivier, en het ook meer skadubome as De Hoop. Hier is een ablusieblok met lopende water.

GPS S28.2534 E17.220739 (55 km van Sendelingsdrift af met ’n 4x4, 72 km met ’n 4x2) 

KOKERBOOMKLOOF
Kokerboomkloof

Dié unieke kamp is weggesteek in die verste hoekie van die park, en dit is ook die enigste kampplek waar jy nie langs die rivier is nie.

Elkeen van die agt staanplekke is teenaan ’n groot rotsformasie wat beskutting bied. Die wind kan soms loei deur die kloof; slaan dus jou tent naby die rotse op.

Die staanplekke is ver uitmekaar, en waar al die ander kampplekke gemeenskaplike ablusie het, het elke staanplek hier sy eie.

Op Sanparke se webwerf word gesê dat hier droë toilette en geen storte of opwasgeriewe is nie, maar toe ons daar was, was daar wel lopende water, spoeltoilette en ’n koue stort.

GPS S28.30673 E17.29136 (79 km van Sendelingsdrift af)

TATASBERG-WILDERNISKAMP
Tatasberg-wilderniskamp

Van die twee wilderniskampe in die park is Tatasberg die beste geleë. Met die berg wat sy naam met die kamp deel in die suide, en ’n uitsig oor die Oranjerivier en sy vloedvlakte in die noorde, kan jy sommer vir ’n week hier uitspan.

Jy hoef nie eens jou tent op te slaan nie. Hier is vier houthutte op ’n heuwel sowat ’n kilometer van die rivier af, en elkeen het blyplek vir twee mense.

Die hutte is so gebou dat jy nie jou buurman se stoep kan sien nie. ’n Ent agter die hutte is daar groot sonkragpanele en ’n windturbine wat sorg dat die ligte brand, die water warm is en die yskas in die kombuis loop.

Hier is nie kragpunte nie.

GPS S28.24881 E17.24685 (58 km van Sendelingsdrift af met ’n 4x4, 75 km met ’n 4x2) 

Gannakouriep-wilderniskamp
Gannakouriep-wilderniskamp

Hier in die suide van die park is die natuur meer Karoo as woestyn.

Die wilderniskamp is naby die droë Gannakouriep-rivierbedding en het dieselfde geriewe as by die Tatasberg-wilderniskamp: ’n kombuis elkeen, vier hutte met slaapplek vir twee, ’n yskas, warm water en ligte.

Elkeen van die wilderniskampe het ’n hutwag.

Hy bly alleen by die kamp vir 20 dae op ’n slag om seker te maak dat al die plekkies skoon is, en dan kry hy 10 dae verlof om weer mens te word.

GPS S28.38697 E17.15984 (altesame 64 km van Sendelingsdrift af)

Lewe in die Richtersveld

Hendrik Prins is is al sewe jaar lank die gasvryheidsbestuurder van die park. Hy maak seker dat al die kampplekke en wilderniskampe na omgesien word, of soos hy dit stel: “Dis my job om jou gelukkig te laat voel en jou te laat smile.”

Wat is jou gunstelingplek in die park?

Kokerboomkloof – dis uniek. Daar is altyd iets wat my verras hier, of dit nou ’n boom is wat omgeval het, of die dag wat jy daar kom en dit reën.

Hoe hou jy dit uit in die somer?

’n Mens raak dit gewoond – tussen November en Februarie raak dit gereeld warmer as 40°C. Kokerboomkloof is gemiddeld die warmste plek in die park, maar die hoogste temperatuur wat ons al hier gemeet is, was 62°C by Gannakouriep – in die koelte.

Ons was ’n paar dae in die park, maar behalwe vir dassies en klipspringers het ons nie veel wild gesien nie.

Hier is eintlik baie wild: gemsbok, springbok, koedoe, rooihartbees en bergkwagga. Maar jy gaan hom nie sommer sien nie. Hulle verkies die berge of die gebiede naby water, en wanneer hulle voertuie hoor, hou hulle hulle skaars. Hier is ook luiperds.

Ons het vars spore van ’n groot kat naby Tatasberg gesien. Kon dit dalk ’n luiperd gewees het?

Vir seker. Ek het een mannetjie se spoor op en af met die rivier gevolg. En hy is gereeld daar tussen Richtersberg en Tatasberg, want daar is baie veeposte.

Kom die natuurbewaarders en die boere in die park goed oor die weg?

Daar is nie regtig wrywing tussen natuurbewaarders en die boere nie. So nou en dan is daar ’n probleem, maar dan sort ons dit uit. Dis nodig om die vrede te bewaar. Die plekkies wat jy in die park sien, is nie ’n nedersetting nie; dit is net ’n veepos.

Langs die veepos is die kokskerm, wat die boer se kamp is. Gewoonlik slaap hulle sommer buite; binne die kokskerm bêre hy net sy goed, soos sy koffie, klere, visolie en wat ook al.

Die boer gaan in die middel van die oggend uit, dan stap hy agter die bokke aan na die weiveld toe. Saans stap hy weer terug na ’n veepos toe – die bokke weet hoe laat om te begin stap. En vanaand slaap hy dalk by ’n ander veepos.

Hoe baie van dié boere is in die park?

Daar mag 36 wees, maar tans is daar net 33. Hulle mag ook nie meer as 6 600 bokke in die park hê nie; hulle boer net met boerbokke.

Watter raad het jy vir mense wat nie ’n 4x4 het nie as hulle die park kom besoek?

Bly weg van die tawwe passe soos Domoroghpas. Akkedispas het ’n een steilerige klipdeel wat jou nie probleme behoort te gee nie – dis makliker om dit van bo na onder te ry.

Beplan dus jou roete sodat jy by Helspoort die park binnegaan en eindig by Sendelingsdrift, want dan ry jy Akkedispas makliker.


Parkinligting

Alle blyplekke word deur Sanparke bestuur. Jy kan bel, maar die webwerf is die maklikste manier om te bespreek. Vra hulle ook oor die paaie.

Prys Behalwe vir die prys van verblyf is daar ook ’n bewaringstarief: R70 p.p.p.d. en R35 p.p.p.d. vir kinders.

Al die kampplekke in die park kos dieselfde: Vanaf R240 p.d. per staanplek vir twee mense wat deel.

Elke ekstra persoon kos R88 p.p.p.d. (R44 vir kinders). Die chalets by Sendelingsdrift kos vanaf R855 p.d. vir twee mense wat deel.

Elke ekstra persoon kos R260 p.p.p.d. (R130 vir kinders), en die wilderniskampe (Tatasberg en Gannakouriep) kos ook vanaf R855 p.d. vir twee mense wat deel.

Kontak

Besprekings: 012 428 9111; ontvangskantoor by Sendelingsdrift: 027 831 1506; sanparks.org.

Weet voor jy waai

Die paaie. Bykans die hele park is toeganklik met ’n 4x2 met ’n goeie grondvryhoogte, behalwe vir twee paaie (daar was ook ’n paar ander 4x4-paaie wat sedertdien gesluit is).

As jy nie ’n 4x4 het nie, bly weg van die rivierpad tussen De Hoop en Richtersberg, asook die Domoroghpas. Daar is nie een kampplek waarvoor jy een van die paaie móét vat om by hom uit te kom nie.

Die toestand van die paaie wissel ook; dit is dus belangrik om by ontvangs te vra waar jy kan ry voor jy die park binnejaag.

Water. Bring jou eie drinkwater saam. Selfs al is daar lopende water by die kampe in die park, is dit nie noodwendig drinkbaar nie.

Die lopende water word aangery; wees dus spaarsaam. ’n Tenk water van 40 000 liter is veronderstel om vir 3 tot 4 maande te hou, maar dit het al gebeur dat dit binne ’n week uitloop omdat ’n kampeerder huis toe is sonder om ’n kraan toe te draai.

Vullis. Moenie vullis by die kampe los of dit begrawe nie.

By Sendelingsdrift is daar ’n groen ysterhok waarin jy jou swartsakke kan weggooi wanneer jy die park verlaat.

Die kampe is só ver van die beskawing af dat opsigters soms net elke drie maande daar opdaag.

Wanneer is die beste tyd om te gaan? Nie November nie! Eerder in die winter – van April tot Augustus. Die park is een van die warmste plekke in Suid-Afrika.

Die dae in die winter is matiger. Saans raak dit koud (so tussen 3°C en 5°C), maar niks wat ’n goeie slaapsak en ’n kampvuur nie kan baasraak nie.

Hoe kom ek by die park? Daar is nie ’n reguit pad na Sendelingsdrift nie. Ry van Springbok af see toe, na Port Nolloth, en volg dan die kus tot by Alexanderbaai.

Draai hier binneland toe en hou teenaan die Oranjerivier op die pad na Kuboes. Draai sowat 12 km voor Kuboes noord en hou reguitaan tot by Sendelingsdrift.

Jy kan ’n korter pad vat en tussen Port Nolloth en Springbok afdraai en deur Lekkersing ry, maar dit is baie meer grondpad en dit gaan jou moontlik langer vat.

Brandstof. Petrol én diesel is beskikbaar by Sendelingsdrift. As jy vir ’n week lank in die park wil rondrits, vat ’n ekstra petrolkan saam, of maak ’n plan om weer by Sendelingsdrift te draai.

Navigasie. Gebruik ons kaart as jy in die park ry, maar as jy verkies om met jou GPS te ry, hou jou köordinate reg.

Ja, as jy Kokerboomkloof by Google Maps intik, sal hy die pad daarheen kry, maar as jy in die park is, gaan jy geen selfoonontvangs hê nie.