Foto's: Willem van der Berg

Glo dit of nie, maar die Vrystaat was eens ’n gewilde bestemming. Hoekom dink jy het mense met ossewaens soontoe gesukkel?

Dit was Suid-Afrika se Serengeti. Die grasvlaktes was oortrek met wild. Ongelukkig is daar nie net na die diere gekyk nie; hulle is ook gejag. Buiten die vleis is die velle ook gebruik. Dit is gebrei en in rieme gesny wat aan smouse verkoop of verruil is.

Hierdie bedryf was veral groot in die noordoostelike dele van die Vrystaat. In 1866 het ’n maatskappy in Kroonstad sowat 150 000 blesbok- en wildebeesvelle uitgevoer!

Dié streek staan as die Riemland bekend. Sommige sê die Riemland lê rofweg tussen die N1, N3 en die N5 en sluit onder meer die dorpies Heilbron, Frankfort en Petrus Steyn in. Ander sê weer dit strek nog verder tot by die Vaal- en Kliprivier en die Drakensberg.

Dit was Suid-Afrika se Serengeti. Die grasvlaktes was oortrek met wild...

Vandag is hier nie juis meer vrylopende wild in die Riemland te sien nie, maar dis steeds ’n mooi omgewing en nou ’n belangrike boerderygebied (mielies, koring, beeste…).

Ek het vanoggend uit Bloemfontein weggetrek in die rigting van die N3. Die plan is om by Villiers vir die besige N3 tot siens te sê en deur die dorpe Cornelia, Vrede, Memel en Verkykerskop te ry en weer by Harrismith op die snelweg te klim.

Op ’n grondpad tussen Petrus Steyn en Frankfort tou ’n groot trop merino’s agter mekaar aan. Hulle bekke hang oop en hulle kloutjies sleep effens. Die son hang witwarm in die ligblou Januarielug. En hulle dik woljasse help nie.

Die skape bondel in die donker skaduwees van ’n klompie bloekombome saam en twee manne op perde met leë voersakke as vlae sukkel om hulle weer aan die loop te kry. Ek druk die bakkie stadig deur en hou stil op ’n bult sodat ek ’n foto kan neem wanneer die stoet aankom.

Die stof draai tussen die bloekoms. Dit voel asof ek aan die brand gaan slaan hier in die pad. Dis warmer as wat ’n mens van die Vrystaat verwag. Een van die perde galop nader, die voersak vang wind.

Skaaptrek op ’n stil somersdag in die Vrystaat is nie grappies nie, maar George Louw glo dinge raak beter as jy beweeg.

George Louw trek sy perd langs my in. Hy sê hy wil darem kan sien as hier ’n ding oor die bult aankom sodat “daar nou nie ’n botsing met die skaap kom nie”.

Ek sê dis ’n onsmaaklike warm dag vir skaap trek. George is ’n jong ou, maar sy gemaklike sit in die saal en vriendelike glimlag laat hom soos ’n wyse man lyk.

“As ’n mens stilstaan en dink dit is warm, dan is dit warm. Maar as jy beweeg, is daar wind en dan’s dit beter.”

Die skape steek vas as hulle my en die bakkie in die pad sien staan. Ek wil nie hulle wind wegvat nie; dus groet ek vir George en laat waai.

Dis ’n goeie somer in die Vrystaat as die veld so hoog en groen staan en die windpompe met ’n nuwe voorkoms kan spog.

Die dorpie Villiers lê langs die Vaalrivier en die N3. Goed geleë, sou ’n mens dink. Maar dit lyk asof hier lanklaas moeite gemaak is met Villiers.

“Ons dorpie is gedaan,” sê Jenny Webb wat by Die Padstal by die Engen-motorhawe net buite Villiers werk. Sy sê daar is glad nie ’n eetplek op die dorp nie en die inwoners ry maar uit na die motorhawe om by die Wimpy te kom eet.

“Nou hoe lank dink jy kan jy by Wimpy eet voordat jy moeg raak vir Wimpy?” Ek haal my skouers op. “Nie baie lank nie,” sê Jenny.

By die Padstal (weerskante van die N3) kan jy lekker biltong kry en ook tuisgemaakte sap en gemmerbier.
By Die Padstal gaan jy ook die vriendelike Jenny Webb ontmoet en dan waarskynlik met een van hierdie skapies in jou kar klim.

“Dan is jou lus vir Wimpy en jou geld daarmee heen.” Hier in Die Padstal het sy ’n wenresep.

“Ek geniet die mense baie. Hier kom gereeld mense in wat sê hulle het gehoor dit is die vriendelikste padstal in die land. Ek sê jou, dit is wat mense soek, net ’n bietjie vriendelikheid. Ja, vriendelikheid en lekker biltong.”

Van Villiers af volg ek die R103 deur wye groen vlaktes en verby ’n rooi windpomp. Cornelia lê langs die pad. Sy was die tweede vrou van F.W. Reitz, oudpresident van die Oranje-Vrystaat in die jare 1889 tot 1895.

Nou is sy ’n dorpie langs die Skoonspruit. Dis mooi hier. Rustig. ’n Troppie beeste wei langs die NG kerk.

Die enigste winkel is die Cornelia Supermark. ’n Outydse plek waar plastiekbakke met goedkoop lekkergoed op die twee toonbanke staan, jy ’n tweeliter-koeldrankbottel vol vars melk kan tap en ’n blou waaier sy kop stadig heen en weer swaai. Om wind te maak, soos George vanoggend gesê het.

Dit is wat mense soek, net ’n bietjie vriendelikheid. Ja, vriendelikheid en lekker biltong.

Dit is Magda de Witt se winkel en sy werk saam met Estelle Steyn en Dina Molise hierso. “Cornelia is rustig. Dieprustig. Baie diep,” sê Estelle.

Maar sy geniet dit. “Ek bly in ’n woonstel van die ou skoolkoshuis. Drie slaapkamers vir R460 ’n maand. En jy wil nie weet hoe groot my gang is nie.”

Ek wil weet. “Dis soos ’n straat,” beduie sy.

Dina Molise verklap haar geheim vir lekker kos en ’n goeie lewe: ’n breë glimlag.

Magda sê Cornelia is bekend vir drie dinge: die Afrikaanse Baptistekerk se jeugkampe wat hier gehou word, die feit dat die skrywer P.G. du Plessis van sy skooljare hier deurgebring het, en die Cornelia Supermark se vis-en-skyfies.

Ek sit my bestelling in en ná ’n ruk kom oorhandig Dina dit met ’n groot glimlag. Het sy ’n geheime resep, vra ek?

“Ek smile terwyl ek dit maak,” sê sy.

Dit klink soos ’n belangrike bestanddeel vir baie dinge: ’n Dina-glimlag. Ek groet en gaan eet onder populierbome naby die spruit. Die skyfies is na aan onverbeterlik en die fyn balans tussen slap en bros en sout en asyn is mooi raakgevat.

Die vis is ’n raps droog, maar ek glimlag oor die gawe verrassing op Cornelia. En ek glimlag later soos Dina, en die vis-en-skyfies raak die lekkerste wat ek nog geëet het. Die grondpad tussen Cornelia en Vrede styg en daal oor grasheuwels, so al asof jy op groot groen golwe dobber.

En ek glimlag later soos Dina, en die vis-en-skyfies raak die lekkerste wat ek nog geëet het.

Daar is glo op die naam Vrede besluit nadat die boere ernstig verskil het oor waar presies die dorp in 1863 uitgelê moet word.

As jy vandag Vrede op Google intik, kom die Guptas te voorskyn en hulle betrokkenheid by ’n korrupte suiwelprojek buite die dorp. Maar as jy dit ignoreer en ook die effense agteruitgang wat soveel van ons land se klein dorpies teister, is Vrede ’n mooi plek.

Vrede is ’n besige dorpie, maar hier is nog genoeg vrede dat kinders kan fietstrap deur die strate.
Rondom Vrede en Memel is ongelooflik baie voëls te sien. Soos hierdie rooipootvalkies, wat soms in strepe op die plaasheinings langs die pad sit.

Met ’n mooi sandsteenkerk in die middel van die dorp en ou geboue in die hoofstraat en baie bome tussen die huise. Dit is ’n bedrywige dorp. Maar kinders trap op fietse in die strate en ’n bees staan agterop ’n waentjie voor Russells. Die plaas Driefontein is sowat 15 km buite Vrede, Memel se kant toe.

Hier is ’n kothuis langs ’n groot gronddam waar ek vanaand gaan slaap. Op pad na die plaas sien ek twee sekretarisvoëls en hordes rooipootvalkies. Oor die dam duik swaeltjies.

Die koel skemerte kom sit later saam op die stoep en uit die vlei se lang gras roep ’n jakkals. Mooier as ’n Vrystaatse someraand kry jy nie sommer nie.

Memel op aarde

Memel is ’n stil dorpie met groot erwe en mooi blou lug.

Tussen Vrede en Memel raak dit by die kilometer mooier en mooier. Ek volg gawe grondpaaie oos van die R34. Die veld is groen en plek-plek staan kleurryke veldblomme bont.

’n Jong breëkoparend sit op ’n grasbaal langs die pad. In die riete langs spruite woel rooi- en geelvinke. Oral waar jy kyk, dans langstertflap-mannetjies in die wind, hulle lang swart sterte gekrul vir die wyfies.

Memel is midde al hierdie natuurskoon. Die dorpie is omring met talle vleie. Aan sy noordekant is die Seekoeivlei-natuurreservaat, ’n moeras van 25 km lank. Die naam Memel beteken glo “omring deur water” in oud-Prussies.

’n Breëkoparend tussen Vrede en Memel.

Agter die NG kerk, by die laaste huis aan die regterkant, kry ek vir oom Neels Swart. Hy het die sleutel van ’n huisie in die berge, sowat 10 km buite die dorp, waar ek vanaand oorbly.

Die huisie, Flintstones Cottage, behoort aan die sanger Mel Botes. Oom Neels kyk dat dinge in orde bly.

“Die pad soontoe is rof,” waarsku hy en loer na my bakkie. “Die trokkie lyk darem gewillig. Hoop net jy gaan orraait wees as dit reën. Hulle het voorspel, maar die weervoorspellers maak my so sinies. Ek sweer dit is ’n klomp ouens wat iewers onder die grond sit, sigare rook en kaart speel. Die een wat die ronde verloor, moet môre se weer voorspel.”

Die paadjie na Flintstones is redelik ongelyk, maar ek kom heel gemaklik daar uit. Ek is dankbaar as ek hier stilhou, want die kliphuisie is diep weggesteek teen ’n berghang vol ouhoutbome, en van hier af het jy ’n mooi uitsig oor die vallei waardeur die Kliprivier afkom. Al aan die oostekant lê die Drakensberg se rug.

Voor die huisie is ’n groot rots wat op ’n dag teen die berg afgerol en hier bly lê het. Dit is die soort plek waar jy kan kom sit en kyk hoe die son verbyskuif, die maan vol en leeg raak, die bome doer onder groen, geel, rooi en kaal raak, die lug wolke maak en die wolke reën maak. ’n Woeste donderstorm laat my in die nag wakker skrik.

Dit is die soort plek waar jy kan kom sit en kyk hoe die son verbyskuif, die maan vol en leeg raak, die bome doer onder groen, geel, rooi en kaal raak...

Smaak my die kaartspelers het reg voorspel. Ek val die volgende oggend vroeg in die pad om ’n sirkelroete tot aan die bokant van Normandienpas – op die grens van die Vrystaat en KwaZulu-Natal – te ry. Plasse water lê in die grondpad en die son sukkel om die dik miswolke weg te brand. Die lug ruik vars en klam deur my oop venster.

In die veld blink druppels op die gras. Aan die bokant van Normandienpas staan en kyk ek hoe sluiers mis teen die steil kranse uitsweef en die wêreld om my toetrek. Wat ’n dramatiese grens is dit nie. Van hier af kan jy met grondpaaie tot by Verkykerskop of al die pad tot by die dorpies Swinburne of Van Reenen langs die N3 ry.

Ek draai terug Memel toe en die paadjie neem my deur die een landskapskildery ná die ander. Hierdie is voorwaar een van die Vrystaat se mooiste en groenste hoeke in die somermaande. Oom Neels nooi my vir koffie wanneer ek die sleutel terugbring.

Hy en tannie Breggie vertel so ’n paar jaar gelede het hulle kort-kort mooi diere en voëls in Memel gesien.

“Die dorp was soos ’n wildpark. Hier was ’n breëkoparend wat die ouens se hoenders kwaai uitgedun het. En steenbokkies. Hulle het baiekeer die kerk se blomme gevreet. Sulke kristelike bokkies, elke dag by die kerk,” vertel oom Neels.

Oom Neels en tannie Breggie Swart.

Maar deesdae sien hulle selde iets. Oom Neels vertel ook van die 1914-rebellie wat op Memel begin het en later draai hy by politiek en dit klink asof hy weer ene wil organiseer.

Ek groet voordat oom Neels my opkommandeer. Wes van Memel is Gerrie en Alda Janse van Rensburg se wild-en-gasteplaas, Driekoppen. ’n Toevallige oproep en die belofte van ’n lekker storie het my hierheen gebring.

Ek staan op die stoep saam met Alda. “Sien jy daai koppie?” vra sy. “Dis Spitskop, daar het die eerste kommersiëlevlugongeluk in Suid-Afrika gebeur.”

Ek kyk na die kranse wat soos ’n klein kroon om die koppie sit – dis nie juis ’n besonders hoë koppie nie... Maar op 15 Mei 1948 was ’n Mercury Airways-vliegtuig van Durban op pad na Londen. Dit sou egter eers op die Palmietfontein-lughawe in Johannesburg land. Maar in die swaar bewolkte toestande op dié Saterdagoggend het die vlieënier, kaptein J.N. Smith, glo gesukkel om koers en hoogte te hou en in dié spitskop, sowat 25 km suidwes van Memel, vasgevlieg. Smith, sy vrou en al 11 passasiers het omgekom. Was die vliegtuig 100 m hoër, was hy veilig.

“Hoe is daai vir bad luck?” sê Gerrie.

“Maar jy sal nie glo nie,” sê Alda, “ ’n Rukkie gelede kom hier ’n vliegtuig oor ons. Laag hoor, net bo die bloekombos. As hy effens diékant toe gevlieg het, was hy ook reguit daar in die kop vas.”

Teen die linkerkant van Spitskop het ’n vliegtuig op 15??Mei 1948 vasgevlieg. Die kaptein, J.N. Smith, en sy vrou is in die ongeluk dood en het vyf kinders almal jonger as 13 agtergelaat.

Gerrie en Alda is lief vir hulle deel van die Vrystaat. “Hierdie is die mooiste deel van die Vrystaat. Mense gaan so tekere oor Clarens, maar dit is mooier as Clarens. En jy kan dit maar skrywe. Clarens is ’n hoop sandsteenklip. Jy kan niks met ’n hoop sandsteenklip doen nie.”

Van Driekoppen af kronkel die grondpaaie tot by die piepklein dorp Verkykerskop. Dis stil hier. Nie ’n roering of beweging nie. Soos die res van die pad tot teen die N3 naby Harrismith.

Hier is die gedreun van vragmotors en die spoed van plat karre skielik oorweldigend. Soveel so dat ek wil terugdraai, al deur die stil ooptes tot weer langs George op sy perd. Want ek wil hom vra hoe gemaak as die beweging te veel en te vinnig is?

‘Ek sê jou, dit is wat mense soek, net ’n bietjie vriendelikheid. Ja, vriendelikheid en lekker biltong.’

BLY HIER

Driefontein-kothuis

By die Driefontein-kothuis kry jy ’n behoorlike plaasgevoel en ook hope vreedsaamheid.

Dié selfsorghuisie is op ’n plaas; jy kry dus dalk kans om trekker te ry. Die twee kamers het slaapplek vir ses mense en die kombuis is goed toegerus. Stap, ry bergfiets op die plaaspaaie of vang vis in die dam voor die huisie.

Waar? Dit is sowat 15 km buite Vrede langs die R34, Memel se kant toe.

Koste: Vanaf R250 p.p.p.n. Kontak 082 459 6193 (Suzanne)

Flintstones Cottage

Flintstones Cottage

Jy gaan nie sommer die uitsig van dié kliphuisie (regs, onder) se stoep af kan klop nie. Hier is genoeg sitplek en ’n braaiplek op die stoep. En as die wind of koue pla, kan jy seile afrol en die stoep toemaak.

Die kliphuisie het slaapplek vir vyf mense en ’n rondawel met plek vir twee langsaan. Hier is geen selfoonontvangs of krag nie, maar wel oorgenoeg gaslampe, lanterns en warm water. Die kombuis is goed toegerus en het ’n gasstoof en yskas. Bring bergfietse saam.

Waar? Die afdraai na Flintstones is sowat 3 km oos van Memel op die R34. Van daar af is dit 10 km grondpad – net geskik vir voertuie met ’n goeie grondvryhoogte. Koste Vanaf R300 p.p.p.n.

Kontak: 079 876 0406 of soek Flintstones Cottage op Facebook.

Driekoppen-wildplaas

Hier is ’n luukse sandsteenhuis en ’n netjiese asbeshuis. Jy kan deur die plaas ry en na wild soos sebras, wildebeeste, gemsbokke, waterbokke, elande en basterwaterbokke kyk of op ’n wildkykvoertuig saam met die eienaar, Gerrie, ry.

Hier is sewe damme met swartbaars waar jy gratis mag visvang (jy moet jou vis weer teruggooi) en stokke kan verskaf word.

Waar? Die afdraai na die plaas is rofweg tussen Vrede en Memel op die R34 – van hier af is dit nog 13 km goeie grondpad.

Koste: Sandsteenhuis (slaapplek vir 6): R2 400 p.n. Asbeshuis (slaapplek vir 8): R1 800 p.n. Minimum van R1 000 p.n. vir twee mense.

Kontak: driekoppen.co.za; 084 514 6376

Seekoeivlei-natuurreservaat

Hier is inderdaad seekoeie te sien en ook buffels, maar die meeste mense kom vir die voëls. Jy kan onder meer blou- en lelkraanvoëls, mahems, geelbekooievaars en grasuile hier afmerk.

Hier is drie skuilings en sowat 30 km se grondpaadjies om te ry. Oop Elke dag van 7 vm. tot 7 nm. Koste Dagbesoekers: R70 per voertuig. Hier’s ook agt selfsorgchalets met slaapplek vir vier mense elk teen R750 p.n.

Waar? Die afdraai na die reservaat is op die R34 sowat 6 km oos van Memel.

Kontak: 058 924 0183; 082 325 9760 (Morné); pretoriusm@detea.fs.gov.za