Foto's: Evan Naudé 

Video: Kyra Tarr; Marcelle van Niekerk

Die tierende Suidooster pluk aan my motor die oggend toe ek Kaapstad uitry. Dis ’n vreemde tyd van die jaar vir sulke onweer.

Met kneukels wit om die stuurwiel probeer ek die gedruis van die wind met musiek verdryf en my gedagtes dwaal na die paar dae op van Suid-Afrika se voorste wynplase wat voorlê. ’n Bietjie opleeswerk vóór my vertrek vertel dat Robertson ’n eeu gelede danksy ’n ander bron rykdom geniet het.

Die dorp is in 1853 gestig en genoem na ’n NG dominee, ene dr. William Robertson, wie se gemeente ook Swellendam en die omliggende gebiede ingesluit het.

In daardie dae was die inwoners meestal wamakers en bestaansboere, maar ná die Anglo-Boereoorlog het dinge verander: In Europa was dit skielik hoogmode vir vroue om ’n pluimveer in die hoed te dra. Gevolglik het die volstruisbedryf van 1900 tot 1914 ’n ongekende bloeityd beleef, en ’n enkele veer het in Londen tot £5 gehaal – in daardie dae genoeg om vir ’n reis van Kaapstad na die Verenigde Koninkryk te betaal!

Die Robertson-boere het vinnig ryk geword en vir hulle “volstruispaleis”-woonhuise gebou (soos die een wat steeds vandag op die Excelsior-wynplaas is). Maar toe smoor die Eerste Wêreld-oorlog die behoefte aan luukshede en die boere moes op iets anders begin fokus – wingerdbou.

Deesdae vorm Robertson deel van Roete 62, glo die langste wynroete ter wêreld, wat van die Kaap tot in Port Elizabeth strek.

Streng gesproke lê Robertson nie óp die R62 nie (dié begin eers 20 km verder oos, anderkant Ashton), maar te danke aan die vallei se roem word dit by die toeristeroete ingesluit.

Deesdae vorm Robertson deel van Roete 62, glo die langste wynroete ter wêreld

Die verwelkomingskomitee

Soos wat ’n mens Robertson van Worcester se kant af nader, is Affie Plaas op jou linkerkant. Annetjie en Louis van Coppenhagen staan altyd reg met ’n koppie Lavazza-koffie en ’n skyf melktert. Stop gerus vir ’n geselsie en om ekstra proviand vir die vakansie te koop.

Ek benader Robertson met die R60 van Worcester se kant af, en gelukkig wyk die onweer. Ja-nee, dit was ook vir die Langebergdistrik ’n droë jaar, maar Robertson lyk soos ’n blink pennie in ’n dor sandkol.

Vragmotors swiep verby, volgelaai met bottels wyn op pad na al die uithoeke van die land en selfs verder.

Ek voel verlig – die wind het uiteindelik bedaar en voor in die pad wink die Affie Plaas-padstal en ek draai af.

Annetjie van Coppenhagen en haar man, Louis, bedryf dié padstal (sowat 1,5 km buite die dorp) al meer as 35 jaar lank. “Dit het begin as ’n koffiewinkel, maar ons het die besigheid aangepas toe klandisie begin afneem,” vertel sy. “Nou is ons uitsluitlik ’n padstal, maar ons spoor besoekers steeds aan om ’n tydjie hier te verwyl.”

Affie Plaas
Affie Plaas

In die agterplaas wink ’n groot grasperk waar ’n mens sal kan bene rek terwyl jy aan van die padstalprodukte smul.

Die vars voorraad is meestal afkomstig van die omliggende plase, maar die rakke kreun ook onder ander produkte: groentesade, blikbekers, braairoosters, droëvrugte, hoede, messegoed en ’n indrukwekkende verskeidenheid plaaslike én internasionale wyn.

Tot my genot verkoop Affie Plaas ook een van my gunstelinge – Turkse lekkers!

Met ’n sakkie vol inkopies kruie ek aan na my oornagplek op die Tierhoek- organiese plaas in die Noreevallei, sowat 22 km noordwes van Robertson af. By die inrit is ’n kennisgewing wat ’n mens vermaan om stadig te ry en nie stof op te skop nie.

“Die stof verstop die porieë van ons bome se blare,” vertel Bruce Gilson, die eienaar, later. Hy en sy vrou, Alison, het in 1998 hulle intrek in die vallei geneem en boer uitsluitlik organies. En met bykans enigiets – van appelkose en pruime tot satsoemas, clementines, olywe, suurlemoene en mango’s.

Die Gilsons vertel ook dat witkruisarende teen die kranse bo my huisie nesmaak, en hier hou glo vyf luiperds op hulle grond. “Jy hoor hulle saans,” merk Alison byna terloops op. “Maar jy hoef nie bekommerd te wees nie; hulle is vreeslik skugter.”

Tierhoek is ’n eenkantplekkie, maar dit pla my nie – danksy die afsondering kan ek uiteindelik leer wat die kuns van stoepsit werklik behels: Jy sit op jou stoepie en tuur oor die uitsig. Natuurlik met ’n slukkie wyn elke dan en wan.

Prioriteite, prioriteite

Terwyl ek vroegoggend tussen store en wyntenks so hoog soos voorstedelike woonstelblokke rondry, vang my oog Café Rosa in Voortrekkerlaan.

Dis ’n gesellige plekkie waar kinders op papiertafeldoeke teken en aanhalings van Gandhi en Madiba die mure versier.

Ek bestel die damesontbyt (R70) met aartappelskyfies en van die krakerigste spek wat ek al ooit geproe het.

Op warm dae kan ’n mens op die skaduryke dek in die agterplaas sit en ook onder die koeltebome van die Robertson-tuinsentrum langsaan ronddrentel. Hier is bekostigbare plante, tuinstelle en tuindwergies – dis ’n gawe indrafplek vir enigiets wat groen is en groei. 

Robertson-tuinsentrum

Die muur van miljoene

Die befaamde Graham Beck-wynlandgoed is modern. Met die intrapslag by die spoggerige proelokaal merk ek ’n klomp skliderye… En een lyk wraggies soos ’n Marc Chagall! Op Róbertson? Chagall was ’n Joodse skilder van Russiese herkoms en is in 1985 reeds oorlede, maar word gereken as een van Europa se mees produktiewe kunstenaars.

Ek pols die proelokaal se bestuurder, Kato de Wet, oor die skildery.

Op die Graham Beck-landgoed kan ’n mens meer doen as net wynproe. Hier is ook ’n kunsgalery en ’n mooi paadjie om die tuin en koivisdammetjie. Aan die verste kant is ’n beeld deur die beroemde Suid-Afrikaanse kunstenaar Edoardo Villa.

“Ja, dis ’n oorpronklike Chagall dié – sy Still Life with Poppies and Two Floating Figures. Om die waarheid te sê, alles wat jy hier uitgestal sien, is oorspronklike werke.” (Onthou jy daai skildery van ’n bruid met ’n ruiker in die hand – die La Marieé – wat Julia Roberts se karakter vir Hugh Grant s’n in die fliek Notting Hill present gee? Dís ’n Chagall.)

My mond hang oop. Ek dwaal van die een kunswerk na die volgende. Hier’s ook heelwat plaaslike kunstenaars se werke – Gregoire Boonzaier, Walter Battiss, Irma Stern… groot name wat veral in die apartheidsjare met hulle kuns opskuddings veroorsaak het.

Dit wil blyk dat Robertson se wynplase veel meer as net wyn om die lyf het. Hierdie private versameling van Graham Beck is honderde miljoene werd en sowat 40 skilderye en standbeelde word geroteer.

Ter ere van die verlede

Deesdae neem ons ’n foto om ’n belangrike belewenis te verewig; Jean Retief het egter geglo ’n mens plant ’n boom wanneer iets noemenswaardigs gebeur.

Sy is in 1939 met Hennie Retief getroud, ’n paar jaar nadat Hennie se pa (ook Hennie) ’n gedeelte van die oorspronklike Goudmyn-plaas gekoop het.

Kort ná hulle huwelik het Jean die bruidskat van haar voorsaat, Christina van Loveren, geërf. Die skat is in die 1700’s – toe Christina met die eerste Van Zyl trou wat Suid-Afrika toe gekom het – van Nederland af hierheen verskeep. Jean was só beïndruk met dié Christina dat sy vir Hennie oorreed het om hulle deel van Goudmyn eerder “Van Loveren” te noem – soos wat die wynplaas vandag nog bekend staan.

Jean Retief-tuin
Jean Retief-tuin, Van Loveren

In Jean se tuin staan onder meer ’n Cook-naaldhout wat in 1945 geplant is toe Duitsland aan die Geallieerde Magte oorgegee het, ’n luiperdboom ter herdenking van Nelson Mandela se inhuldiging as president in 1994, en ’n kerkhofsipres ter nagedagtenis aan die Sesdagoorlog van 1967.

Ek wonder of Jean en Hennie ooit sou kon raai dat hulle eie familie eendag ook iets heel noemenswaardigs in die vorm van hulle vier kleinseuns sou oplewer – die bekende nefies van Four Cousins-faam.

Familie (en besigheid!) kom eerste

Sedert die 1990’s het Hennie, Bussell, Neil en Phillip Retief almal een na die ander op die Van Loveren-familieplaas begin werk. Deesdae is Bussell die wynmaker, sy broer Hennie en hulle neef Neil die wingerdkundiges, en laasgenoemde se broer Philip is die hoofbestuurder van Van Loveren. Philip onthou sy seuntjiedae in hierdie vallei met genoegdoening: “Ek het ’n sorgelose kindertyd gehad en omtrent nooit skoene gedra nie,” vertel hy.

“Maar sedert daardie tyd het baie dinge vir Robertson verander – ten goede. Wyntoerisme het ontwikkeling laat plaasvind – van proelokale en blyplek tot allerlei doendinge en restaurante. Die streek se landbou het ook gediversifiseer en uitgebrei na uitvoerpruime, -bessies en -sitrus.”

Sedert daardie tyd het baie dinge vir Robertson verander – ten goede

Wanneer ’n mens egter van die Retiefs se eie ondernemings praat, is “uitgebrei” ’n onderskatting van wat die neefs al vermag het: Die Four Cousins-reeks is in 2000 bekend gestel en die 1,5 liter-wynbottels het byna oornag gewild geword. Die nuwe restaurant en proelokaal is sowat vier jaar gelede geopen en die nuutste toevoeging tot die familiebesigheid is óók ’n drankie – die reeks Boet-boetiekbiere.

’n Mens kan die staal-en-glasgebou nie miskyk wanneer jy Robertson van Worcester se kant af binnery nie. En as jy eers hier ingestap het, gaan jy waarskynlik ’n héle paar uur verwyl. Jy kan – onder meer – ’n wyn-en-sjokolade-proe (R60) oorweeg of die Boet-biere proe (R90).

Die restaurant maak bistro-etes en die spyskaart bied van pizzas tot Kaap-Maleise kerrie.

Restaurant: Ma.-Sa. van 8.30 vm.-9.30 nm.; So. tot 5 nm.

Proelokaal: Ma.- Sa.: 8.30 vm.-5.30 nm.; Sa.: 9.30 vm.-4 nm.; So.: 11 vm.-3 nm.

Kontak: 023 615 1505; fourcousins.co.za

Hou vas jou hond!

My ma kom kuier uit KwaZulu-Natal in die Kaap en sluit op die laaste dag van my besoek by my aan. Ons besluit op ’n bootvaart op die Breërivier van die Viljoensdrift-wynplaas af. Ons draf eers gou by die plaas se deli in vir kaasstrooitjies en koffie, gryp twee komberse en klim aan boord van die Uncle Ben 2. En toe begin die wind weer waai!

Viljoensdrift-wynplaas
Viljoensdrift-wynplaas

Ons sitplekke op die bodek sorg vir ’n gawe uitsig oor die wingerde, tuine, kampterreine en plaasopstalle op die wal. Kort-kort staan iemand op die oewer en waai vir die boot wat verby vaar. ’n Rukwind laat skielik die wynglase op die tafels rinkel en op die onderste dek skreeu ’n seuntjie benoud: “Tannie, hou vas! Jou hond gaan wegwaai!”

Wind ofte nie, dis die perfekte einde van ons verblyf op dié mooi plek. Ons is bevoorreg: ’n Swaar hand het geskink die dag toe Suid-Afrika se wynstreke uitgedeel is – Stellenbosch is vir die jonges en Constantia vir dié met hope ambisie.

Maar Robertson? Robertson is vir almal. 

As ’n mens ál die wynplase in die Robertson-vallei wil besoek, sal jy meer tyd opsy moet sit en waarskynlik ook ’n tweede lewe(r) moet hê! Hier is my gunstelinge:

Langs die R60

Graham Beck

’n Deluxe Cap Classique-proe kos R125 p.p. Dit sluit drie oesjaar-Cap Classique-vonkelwyne en twee nie-oesjaarversnitte in. ’n Proe van die nie-oesjaar-versameling kos R50 p.p. vir ’n verskeidenheid van vier soorte. Het jy geweet Nelson Mandela én Barack Obama het hulle inhuldiging met ’n bottel Graham Beck Brut Zero gevier!

Oop Ma.- Vr.: 9 vm.-5 nm.; Naweke: 10 vm.-4 nm.

Kontak 023 626 1214; grahambeck.com

Langs die R317

Springfield

Abrie en Jeanette Bruwer is ’n broer-en-suster-span aan die stuur van sake. Die gebruik van tradisionele tegnieke, met die minimum inmenging van moderne toerusting, is dié wynkelder se trots. Van die gewildste produkte sluit in: Miss Lucy (’n wit versnit), Life from Stone (’n sauvignon blanc) en The Work of Time (’n Bordeaux-versnit).

Oop Ma.- Vr.: 8 vm.-5 nm.; Sa.: 9 vm.-3 nm.

Kontak 023 626 3661; springfieldestate.com

Bon Courage

Die proelokaal in die ou herehuis is statig met groot spieëls en deftige fluweelrusbanke – wanneer ’n mens hier aan ’n glasie van die gewilde Pepper Tree-shiraz sit en teug, voel jy kompleet asof jy aan huis by Jay Gatsby op Long Island kuier.

Oop Ma.-Vr.: 9 vm.-5 nm.; Sa. tot 3 nm.

Kontak 082 898 9592; boncourage.co.za

Viljoensdrift

Koop peuselhappies by die deli en gaan sit dan agteroor vir ’n bootvaart op die Breërivier (R90 p.p.). Die bote vertrek elke halfuur van die kaai langs die restaurant af. Bespreek aanlyn.

Oop Ma.-Sa.: 10 vm.-4 nm.; Sa. tot 3 nm.

Kontak 023 615 1901; viljoensdrift.co.za

Van Loveren

Four Cousins-restaurant

Die Four Cousins se wortels lê hier, maar probeer ook gerus van die ander reekse. Tangle Tree Chardonnay is een van my gunstelinge. Kom stap ook die Visarendroete (7,5 km, R50 p.p.) al met die Breërivier langs en spits jou ore vir daardie ikoniese roep iewers in die klowe.

Oop Ma.-Vr.: 8 vm.-5 nm.; Sa.: 9.30 vm.-4 nm.; So. 11 vm.-3 nm.

Kontak 023 615 1505; vanloveren.co.za

Arendsig

Die wynmaker Lourens van der Westhuizen is bekend vir sy enkelwingerdwyne. Hier’s roetes vir stappers en voëlkykers en bring ook jou bergfiets saam – Lourens is ’n kranige fietsryer en hy’t oral op die plaas met sorg roetes uitgelê.

Oop Proeë slegs per afspraak.

Kontak 023 616 2835; arendsig.co.za

Excelsior

Excelsior

Hier is alles rondom die dam gesentreer: Daar is Graze@Excelsior (die restaurant), Taste@Excelsior (die proelokaal) en Stay@Excelsior (die gastehuis). Op ’n Saterdagoggend om 8 vm. kan jy die 5 km-roete deur die wingerde kom draf. Excelsior lê 3 km aan op die afdraaipad oorkant Viljoensdrift.

Oop Ma.-Vr.: 10 vm.-4 nm.; Sa. tot 3 nm.

Kontak 083 232 1569; excelsior.co.za 

EET HIER

Café Rosa vir ’n heerlike ontbyt. Elke dag oop van 8 vm.-4 nm. (3 nm. oor naweke).

Voortrekker-straat 9; 023 626 5403

Christina’s @ Van Loveren is op die grondvloer van die herehuis waarin die oorspronklike eienaars gewoon het. Op weeksdae oop van 10 vm.-3.30 nm. Op naweke maak die restaurant reeds om 9.30 vm. oop. 023 615 1505; vanloveren.co.za

Saggy Stone glo aan die klassieke kombinasie van pizza en bier. ’n Bierproe kos R45 p.p. Hulle is Wo.-So. oop van 11 vm.-4 nm. Op Saterdae maak iemand altyd musiek op die grasperk. Die Amandalia-plaas, Agtervinkrivier.

083 453 3526; saggystone.co.za

Saggy Stone

Strictly Coffee rooster sy eie bone en bied varsgebak en toebroodjies.

Ma.-Vr.: 7 vm.-4.30 nm.; Sa.: 8 vm.-3 nm. Voortrekkerlaan 4.

023 626 6691

Lezahn Leonards, Strictly Coffee

De Bakerij se sjokoladekoek is uit die boonste rakke! Dis veerlig, met ’n ryk ganacheversiersel en ’n karamelvulsel.

Ma.-Vr.: 8.30 vm.-5.30 nm.; Sa. tot 1 nm. Truter- straat 40.

023 626 1014

BLY HIER

Tierhoek lê diep in die Noreevallei en het vier oulike huisies met slaapplek vir 2-14 mense. Ek het in ’n opgeknapte arbeidershuisie tuisgegaan wat lekker eenkant sit, met ’n mooi uitsig oor die plaas én sy eie plonspoel. Vanaf R1 200 p.n. vir 2 mense.

023 626 1191; tierhoekorganic.co.za

Die Laaitjie

Die Laaitjie. Hier is drie selfsorg-eenhede met elk slaapplek vir 4 in 2 dubbelkamers. Verblyf kos R490 p.p. My huisie het ’n buitestort en ’n kaggel gehad. Wees voorbereid – die grondpad hierheen is ’n ietwat uitdagende bergpas.

023 004 1392; dielaaitjie.co.za

Die Pat Busch-bergreservaat beslaan 2 000 ha se ongerepte fynbos, en daar is stroompies en damme vir swem en hengel. Die vyf standaardselfsorghuise (R420 p.p.p.n.) bied slaapplek vir drie tot vier mense elk.

Pat Busch-natuurreservaat

Hier’s ook twee meer private selfsorgeenhede met slaapplek vir 4 elk teen R725 p.p. Die groot plaashuis (slaapplek vir 25) kos R5 200 p.n. Hier’s ook vyf van AfriCamps se luukse tente met elk slaapplek vir 5. Dit kos buite seisoen (Mei- September) R595 p.p.

023 626 2033; patbusch.co.za

Rivierzicht River Resort aan die oewer van die Breërivier het kampplek (R280 p.p.p.n.), nege selfsorgbostente (vanaf R550 p.n. en ses selfsorghutte (vanaf R660 p.n.)

023 626 2013; rivierzicht-resort.com

Rivierzicht River Resort

WAT NOG?

Die Wine Valley Safari-wyntoer-trokkie is ’n prettige manier om die omgewing se wynplase te besoek. Jou groep kan sy eie roete betaal (teen R200 p.p.) of op ’n begeleide toer van R380 p.p. vertrek. Loer aanlyn vir nog opsies.

winevalleysafari.com

Die Boeremark vind elke tweede en laaste Saterdag van die maand van 9 vm.-12 nm. op die hoek van Reitzstraat en Voortrekkerlaan plaas. Kom koop kase, vars vrugte en groente, konfyt, blomme, olywe en geskenkies.

Die Robertson-toerismekantoor in Reitzstraat 2 is jou eerste stop – vir ’n kaart van die vallei se wynplase.

023 626 4437; info@robertson.org.za; robertsontourism.co.za