Dié rubriek is ook beskikbaar as podcast. Luister hier:

Ek loer na my muurbalskoene en onthou die verkoopsman se vermaning destyds: “Jy kan ook hierin gym, maar dit is nié drafskoene nie.”

Wel, dis nou te laat om iets aan die saak te doen, want oor minder as ’n minuut gaan die skoot knal en my heel eerste padwedloop begin.

Dit is 7.29vm. op Woensdag 16 Desember 2009. Versoeningsdag. Ek trippel senuagtig rond tussen meer as 800 deelnemers wat saambondel agter ’n groot Spur-opblaasbanier in die hartjie van Guguletu – of Gugs – die bekende Kaapse township.

Guguletu beteken “ons trots” in Xhosa.

’n Paar dae tevore het ’n vriend vir my ’n e-pos gestuur oor die RCS Gugs-versoeningsdagwedloop. Ek dreig al lank om te begin draf, maar dit was ’n impulsiewe besluit om te debuteer met ’n 10km-sirkelroete deur die strate van Gugs. Maklik gaan dit nie wees nie. Ek dink aan ’n liriek van die Amerikaanse sanger Jim White: “I’ve got ten miles to go on a nine mile road...”

Dis belangrik om te verstaan dat ek ’n onwaarskynlike drawwer is. Op laerskool het ek met kleuresport se verpligte 1 200m-item ná een moedige rondte om die atletiekbaan uitasem geraak en begin stap, ondanks die ritmiese handeklap en dreunsang uit die paviljoen: “Hou, bene, hou! Hou, bene, hou!”

Toe ek in die twintig was, het ek meer stamina gehad, maar nog nooit verder as 4 km gedraf nie.

En hier staan ek nou, stewig van lyf, in NY3 (NY staan vir “Native Yards”), net om die draai van die NY49 Oval-sportterrein. Oorkant ons pronk die splinternuwe Guguletu Square Mall, ’n enorme moderne winkelsentrum wat teen R350miljoen opgerig is met onder meer winkels soos SuperSpar, Shoprite en Spur.

Dit voel so ’n bietjie soos ’n straatkarnaval. Mense lag en gesels. Ek hoor ’n vuvuzela. ’n Paar lawwe drawwers dra Kersmussies. Ander staar weer stip vorentoe, gefokus. Agter my maak drie meisies vrolik litte los. Die frase “Drinking Club with a Running Problem” pryk op hulle frokkies. Ek dink aan gisteraand se ete en die paar Black Labels, alles onder die vaandel van carbo-loading...

Dit voel so ’n bietjie soos ’n straatkarnaval. Mense lag en gesels. Ek hoor ’n vuvuzela. ’n Paar lawwe drawwers dra Kersmussies...

Die skoot knal.

Hou, bene, hou!

Ek het nie juis ’n strategie nie. Gelukkig het ’n vriendin gisteraand op die ingewing van die oomblik besluit om ook te kom hardloop. Sy het al ’n paar 10km-wedlope agter die blad. “Gee jy die pas aan,” sê ek, “ek sal probeer bybly.”

Ná ’n paar honderd meter begin die massa drawwers uitsprei. Tafelberg is doer links. Terwyl ek verby ’n kerkie en sokkerveld draf, vind ek my ritme met ’n jakkalsdraffie skuins agter my vriendin se linkerskouer – ’n bietjie soos Ethiopië se Derartu Tulu destyds in Elana Meyer se skaduwee geboer het tydens die 10000m by die Olimpiese Spele in Barcelona. Net veel, veel stadiger.

En anders as Derartu het ek nie ’n wafferse eindpoging waarmee ek in die pylvak die wedloop kan beklink nie. Ek wil nie linte breek nie; ek wil net klaarmaak.

Wat wel in my guns tel, is die afwesigheid van bulte — Gugs is immers op die Kaapse Vlakte. Ek was nog nie baie in townships nie. Al drawwende besef ek hoe naïef ’n blik van buite kan wees. Hier is beslis nie net Hop-huise en plakkersbuurte nie. Ek draf verby rye netjiese, voorstedelike huise met satellietskottels voor – selfs ’n heel luukse dubbelverdieping.

Ander straattonele is weer eie aan ’n township: spazawinkels, sjebiens, haarsalonne, rondloperhonde, bokke, kwaitoklanke uit taxi’s en die kenmerkende reuk van vleis wat op sypaadjies gebraai word. ’n Kêrel met ’n sonbril en baadjie wat klaarblyklik deur die nag gekuier het, hou ons dop terwyl hy teen ’n motor leun en ’n Black Label-quart vir brekfis geniet.

Die sypaadjies is vol inwoners wat ons entoesiasties aanmoedig. Party drawwers hardloop met plastieksakke vol los lekkers wat hulle dan vir die kinders langs die pad uitdeel.

Die uitwerking van vreemdelinge se applous en aanmoediging op ’n moeë drawwer is verbasend. “You can do it!” brul ’n man en waai met ’n gebalde vuis. Ek voel onmiddellik beter en versnel die pas so effens.

 “It’s all in the mind. Go for it, don’t give up!” roep iemand anders. “Ayoba!” gil ’n kleuter. Iewers in die skare hoor ek selfs “Viva Jacob Zuma!”

Maar by die 2 km-merk voel dit meteens asof ek krieketbeenskutte aan het. Hoekom het ek nie behoorlike drafskoene gekoop nie? My heupe begin pyn en ek sweet soos iemand wat gyselaar gehou word in ’n sauna. Die somerson byt al en dis nog nie eens agtuur in die oggend nie.

Ek stoot aan met ’n skuifeldraffie en ’n gepynigde uitdrukking op my gesig, soos toe my ma my as kind ’n lepel Milk of Magnesia ingejaag het. Waar is daai eerste waterpunt?

 Ek verkyk my aan die ander drawwers se gemak. Lede van die atletiekklub Top Form hardloop in ’n bondel. Drie van hulle blaas op ’n vuvuzela – ek kan skaars asemhaal! Ek is te moeg om ’n woord uit te kry, en verwonder my aan my vriendin wat om elke draai die beamptes opgewek groet met: “Thank you, Mr. Marshall!”

Ek stoot aan met ’n skuifeldraffie en ’n gepynigde uitdrukking op my gesig, soos toe my ma my as kind ’n lepel Milk of Magnesia ingejaag het

Ons draf verby ’n monument: sewe granietkonstruksies wat elkeen ’n kind uitbeeld. Dit is ter nagedagtenis aan die Guguletu 7 – sewe jong aktiviste wat op 3Maart 1986 hier naby deur die polisie doodgeskiet is.

Wie sou tóé kon dink dat ons almal maar net oor die twee dekades later hier saam in vrede sal kan draf in Gugs...

Die eerste waterpunt, so ’n ent anderkant die 3 km-merk, kom tot my redding.

Ons stap terwyl ons die water drink en skakel dan weer moeisaam oor na ’n draffie. Ek probeer om nie te dink aan die 7 km wat nog voorlê nie.

 Ons draf nou in ’n armer deel waar die plakkershuise lomp en dig opmekaar staan. Later draf ons verby ’n begraafplaas wat lyk asof dit geen einde het nie. Ek sukkel. Tyd vir ’n mantra. Iets om in my gedagtes te herhaal terwyl ek tree vir tree voorwaarts beur. Wat van Rudyard Kipling se “If you can fill the unforgiving minute / with sixty seconds’ worth of distance run”? Nee wat, dit voel effens geforseerd.

Ek probeer die mantra van ’n marathonatleet onthou wat ek in ’n boek van die Japannese skrywer Haruki Murakami raakgelees het. Vergeefs.

(Ek sou dit ná die tyd gaan oplees: “Pain is inevitable. Suffering is optional.”)

Al wat nou deur my gedagtes maal — nogal ironies op Versoeningsdag — is ’n reël uit Bob Dylan se liedjie “Dignity” wat vanoggend in die kar gespeel het: “The soul of the nation is under the knife / Death is standing at the doorway of life.”

Ek is pootuit, maar ou Bob se siniese mantra, my vriendin se simpatieke pas, die vooruitsig van ’n Spur-burger by die eindpunt en Gugs se luidkeelse ondersteuning hou my op koers. Elke kilometermerk is ’n oorwinning in die kleine... 5 km, 6 km, 7 km.

Ek moet nou al baie goor lyk, want plek-plek deins die kleintjies weg as ek aangejakkalsdraf kom.

En ek omhels byna die weldoener wat my op eie inisiatief met ’n tuinslang natspuit.

Op 8km val my wiele af. My oorlewingsdraffie raak al hoe stadiger en gaan byna ongesiens oor na ’n stappie. My drafmaat beweeg al hoe verder weg... dan pyl ’n klein seuntjie, seker vyf jaar oud, doelgerig op my af. Hy moet gesien het ek sukkel. Ek sien sy arm terugswaai in die verbygaan... en kaplaks! slaan hy my met die plathand op die linkerboud, so asof hy ’n lui donkie tot aksie wil dwing.

Ek kan wraggies nie dié outjie teleurstel nie. Met ’n runnik verwissel ek van rat en begin weer draf, dalk selfs ’n bietjie vinniger as tevore. My tweede — en waarskynlik laaste — asem is uiteindelik hier!

Tafelberg is weer in in sig. So ook die Guguletu Square Mall. My ore suis, maar ek hoor steeds die applous langs die pad. Hou, bene, hou!

By die N49 Oval-paviljoen heers ’n partytjie-atmosfeer. Die aankondiger basuin uitslae uit, kinders baljaar op ’n springkasteel, en die belangrikste van alles: Die lug is gevul met die geur van Spur-burgers. En sommer vir die grap nael ek daai laaste 50m na die eindpunt.

Die skare lag uitbundig. Iemand stop my ’n glas koue Coke, ’n bronsmedalje en ’n papiertjie in die hand. Ek is 683ste van al die deelnemers en het die wedloop in ’n uur en vyftien minute voltooi.

Ons sit in die skaduwee en eet elkeen ’n Spur-burger. Die drafgogga het my nou gebyt. Ek wil goeie hardloopskoene aanskaf en dalk selfs begin oefen met die oog op iets soos die Two Oceans-halfmarathon.

Maar ek sal altyd terugdink aan my eerste wedloop, want die hartlikheid van Gugs se inwoners is ’n aansporing vir daardie baie kilometers wat voorlê.


Dié rubriek het die eerste keer in Maart 2010 in Weg verskyn.