Ek lees ’n ruk terug van ’n Kaapse skoolonderwyser wat een van haar leerlinge geklap het. Tussen die berig self en die leserskommentaar onderaan – ’n kombinasie van mense wat lyfstraf verdedig en aantygings van rassisme – was dit nie aangename leesstof nie, maar dit het my wel laat terugdink aan die kere in my kinderjare dat ek getug is.

My ma sal jou vertel ek is verantwoordelik vir elkeen van haar grys hare, en as jy my pa vra of ek werklik so onhebbelik was, sal hy sy ken tot op sy bors laat sak en met sy wysvinger beduie na die laaste drie haartjies op sy hoof.

Ek het my eerste drag slae gekry toe ek 5 jaar oud was. Ons het in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, in die buurt Arboretum gewoon. Ons bure was meestal Engelssprekend, dikwels Skotse ingenieurs wat na Suid-Afrika gekom het om Richardsbaai se hawe te help bou. (Dit was destyds die grootste steenkooluitvoerhawe ter wêreld.)

My pa was ’n siviele ingenieur by ’n firma wat in die jare sewentig vir ’n groot deel van die nuwe hawe verantwoordelik was, en windgat rygoed is hoe hy homself beloon het vir harde werk. In ons motorhuis het sy trots gestaan: ’n bloedrooi Holden Monaro GTS met swart renstrepe op die enjinkap.

Buite, tussen die motorhuis en die Vibracretemuur, was ’n 1970 Ford Ranchero-bakkie – ’n trots in wording. Jare later sou ek uitvind my pa het beplan om die Ranchero as vakansiebakkie in te rig aangesien die Monaro maar skrapse pakplek gehad het.

’n Ford Ranchero was nie die mees praktiese vakansievoertuig nie, maar 1977 was die jaar van die Bee Gees en Rod Stewart. Dit was belangriker om spiekeries te lyk as om prakties te wees.

Vir my lyk dit asof die Ranchero presies weet wat gaan gebeur en volkome saamstem dat kinderpret van kardinale belang is.

Ons het egter nooit in die Ranchero gery nie en ek kan nie onthou dat my pa ooit die enjin oorgeswaai het nie. Toe ek hom eendag hieroor uitvra, het my pa kortaf geantwoord: “Hy werk nie.”

My pa is nie ’n nors mens nie, maar hy’s ’n man van min woorde. In my vyfjarige brein het sy woorde beteken die bakkie gaan nóóit werk nie. Die kar was dus nutteloos, en met nuttelose goed staan dit jou vry om daarmee te doen wat jy wil.

Die volgende oggend nooi ek ons Engelse bure se kinders, Christopher en Shelly, om te kom glyplank ry. Shelly wys dadelik daarop dat ek nie ’n glyplank het nie, maar min het sy geweet presies hoe verkeerd sy was.

Die Ranchero se two-tone bakwerk – donkersjokoladebruin en metaalvlokgoud – glinster in die oggendson. Die bakkie staan al lánk stil en die gras wat die grassnyer nie kan bykom nie raak aan die onderstel. Nee, dié bakkie werk nie, maar ons gaan vandag ’n ander nut vir hom vind.

Vir my lyk dit asof die Ranchero presies weet wat gaan gebeur en volkome saamstem dat kinderpret van kardinale belang is.

Die ellelange enjinkap en skuins voorruit nooi ons vriendelik uit: “Kom gly op my. Kom, kom gly.” Die kort enkelkajuit en die láng, vaartbelynde laaibak pleit: “Klim maar op, kinders. Klim op my.”

Ek en Christopher is magteloos teen die Ranchero se sirenesang. Shelly wil nog keer deur te vra of ons werklik op my pa se bakkie mag speel, maar die seuns is al klaar besig om op die laaibak te klouter.

Christopher bestyg eerste die kajuit se dak. Iewers in my agterkop maan ’n stemmetjie ek moet hom keer, maar daar trek Christopher. Sjoep! Af teen die voorruit, oor die enjinkap en met ’n wip tot op die grasperk.

Christopher lê op sy rug en lag met oorgawe. Nou is dit my beurt. Ek stoot weg en gly oor die ruit. Onder my sien ek hoe die Ranchero se bruin instrumentepaneel verby flits, dan tref ek die ruitveërs, bons oor die enjinkap, vlieg deur die lug en val langs Christopher op die sagte grastapyt.

Ons skaterlag saam in broederlike liefde, maar rol flink uit die pad toe Shelly ál jillend oor die enjinkap op ons afpyl. Die drie van ons giggel histeries en dis die lekkerste dag van my jonge lewe.

Dis nie lank nie of Tony, ’n ander Engelse maatjie, kom kyk wat aangaan. Vir die res van die oggend spring ek en my maats soos boerbokke op daai Ford Ranchero rond.

Vier pare voetjies, boudjies en blaaie bons oor die bakwerk en die bakkie word platter, platter en platter. Die metaalvlokverf kraak en skilfer hier en daar af, en met elke verbygaande kind dwarrel stukkies droë verf vrolik op die gras langs ons neer soos goudbruin sneeuvlokkies.

Mettertyd is die dak só plat en die duike in die enjinkap só diep dat dit amper onmoontlik is om daarteen te gly.

Iewers in die piesangboomryke straat waar die vier van ons woon, roep Tony se ma hom. Tony moet groet, want dis amper middagete en hy moet nog sy hande was.

Maar ek, Shelly en Christopher volhard en probeer om nog ’n laaste paar glye in te kry voordat “die bakkie wat nie meer werk nie” werklik nutteloos is.

Ek gee ’n kreet nes Johnny Weismuller se Tarzan en maak gereed om ’n laaste keer op die voorruit te spring.

Skielik hoor ek ’n angstige gil. Ek kyk op en sien my ma wat ons grootoog aangaap. ’n Skinkbord hang aan haar slap vingers en voor haar voete lê koeldrankbekers en broodjies op die grond.

“Wat dóén julle?” sê sy met ’n fluisterstem. Sy gee ’n lang tree oor die plastiekbekers en kom stadig nader om ons handewerk te bekyk.

“Pappa het gesê ek mag,” maak ek haastig verskoning, maar ek sien in my ma se oë dat ek vir Pappa dalk effens verkeerd verstaan het.

My ma het vir my, Christopher en Shelly na hulle huis gestuur om verder te speel. Sy wou ons uit die pad kry en wag tot my pa tuis kom sodat sy hom eers kan kalmeer.

Toe sy my later huis toe bring, staan my pa in die gesinskamer met sy arms reguit teenaan sy sye. Ek was duidelik in groot moeilikheid. My pa wou net twee dinge weet: Waarom en wie.

My verduideliking het hom huiwerig laat kopknik. Ek kon wel ’n onderdrukte woede in hom sien prut, maar hy het begrip gehad vir ’n moontlike misverstand.

Toe ek my medepligtiges se name opnoem, het my ma terloops genoem dat Tony nie deel van die verwoesting kon gewees het nie omdat hy en sy gesin daardie week in Durban was.

My “leuen” het ’n snellerreaksie in my pa ontketen. Hy’t soos ’n leeu oor die koffietafel gespring en my met sy enorme hande gegryp. Ek kan nie veel van die pak onthou nie behalwe dat my sterre soos vuur gebrand het. Tony se ouers het later bevestig hulle het ’n dag vroeër as beplan uit Durban teruggekeer, en Tony hét by my kom speel.

Ek sou graag wou sê daardie sarsie plathande wat my agterstewe soos ’n bongo-trom laat woeker het, het my van gruweloosheid genees, maar my hande en boude sou ten spyte daarvan nog jare lank met allerlei lepels, liniale en plakkies kennis maak.

My pa het my egter nooit weer uit woede geslaan nie. Hy’t my een of twee keer daarna gegryp as ek iets domonnosel aanvang wat my lewe kan bedreig – soos die keer toe ek my vriendin Donnelee oorreed het om saam met my van die huis af weg te loop.

Ons ouers het ure lank in die strate van Arboretum rondgery en ons uiteindelik naby die oewer van die Nundwanerivier gevind – wat daardie jare nog vol krokodille was.

Anders as met my Ford Ranchero- loesing kan ek hierdie pak slae nog goed onthou. Ek onthou veral dat ek geweier het om te huil – dís hoe koppig ek was.

En die Ford Ranchero? My pa het hom kort daarna verkoop, natuurlik teen ’n groot verlies, en hy het toe nooit ons vakansiebakkie geword nie.

’n Verdere gatslag was die dood van Elvis Presley – my pa se gunstelingsanger – wat later daardie jaar gesterf het. Vir my pa was 1977 nie ’n goeie jaar nie.

Vakansiebakkies was vir eers van die baan, tot ons jare later ’n Chev Nomad gekry het. In hierdie karretjie het ons talle vakansieoorde en kusdorpe besoek totdat hy uiteindelik weggeroes het.

Maar dis nou jare later en ek is self ’n ouer. Mý kind is egter glad nie soos ek was op haar ouderdom nie. Sy’s bedagsaam, versigtig en nadenkend. Haar agterstewe het nog net een keer gebrand, toevallig toe sy vyf jaar oud was. Haar reaksie was hartverskeurend, en ek het ’n gelofte afgelê om haar nooit weer op dié manier te tug nie.

Oor daai onderwyser wat haar leerling geklap het, wil ek my eerder nie uitlaat nie. Ek het ook nie ’n eiertjie te lê oor ’n ouer wat lyfstraf toedien nie.

Uiteindelik moet ons doen wat die beste vir ons kinders is; wees net bedag daarop om duidelik met jou kind te kommunikeer, want anders spring joune óók dalk jou bakkie plat.