Skets: Fred Mouton

My ouma en oupa van der Merwe het in die Noord-Kaap geboer, naby die dorpie Daniëlskuil, sowat 150 km noordwes van Kimberley, op ’n pannekoekplat, klipharde stuk aarde.

Hulle was wat jy vandag bestaansboere sou noem, maar vir hulle was dit bloot hoe hulle gelewe het, en ook nie noodwendig uit vrye keuse nie. Dit was ’n voortsetting van die leefwyse van hulle ouers en grootouers – en al lewe wat hulle ooit sou ken.

Tussen 1934 en 1952 het Ouma ses kinders gehad – vier saam met my oupa en twee by haar vorige man. By tye het sy en Oupa boonop ander kinders van familielede in hulle sorg geneem. Die Groot Depressie, die Tweede Wêreldoorlog, die strafste droogte in die geskiedenis van Suid-Afrika, én die vernietigende sprinkaanplaag van die middel 1930’s het hulle tol geëis op die boerderygemeenskap en die plattelandse bevolking van die land. In tye van nood was jou eie familie altyd die eerste mense na wie jy gedraai het vir hulp.

Op die smal strook Kalahari waarop sy plaas uitgelê was, het Oupa genoeg geproduseer om sy eie gesin en ander familielede deur te trek – en soms ook kos te verskaf aan dorpsmense waar die spenskas leeggestaan het.

Behalwe groente soos mielies het Ouma ’n manjifieke vrugteboord gehad wat seisoen op seisoen genoeg kwepers, appelkose, perskes, appelliefies en vye gelewer het sodat haar eie spensrakke altyd volgestaan het: flesse ingelegde vrugte, konfyte, strope en gepekelde groente. Droëvrugte het in groot wit meelsakke op die vloer gestaan, langs die paraffienyskas wat in die hoek gedreun het.

Hulle het ook hoenders, skape en melkkoeie aangehou. Oupa het melk en skaapvleis verkoop om proviand aan te koop wat hulle nie self verbou nie: suiker, meel, kookolie, paraffien, breiwol, materiaal vir klere maak – en een paar skoene per jaar per kind wat nie daardie jaar hand-me-downs geërf het nie.

Elke winter is ’n os geslag wat genoeg biltong voorsien het aan die kinders én later die kleinkinders.

Ouma was ’n snyer van formaat sedert sy as 15-jarige onder ’n kleremaker-oom van haar ’n vakleerlingskap geloop het. As jong mens het sy gedroom van ’n loopbaan as kleremaakster, maar toe sy 20 was, is sy aan ’n boer van die Kathu-distrik afgetrou. Toe dié drie jaar later sterf, het haar skoonma haar van die plaas af gejaag. Sy is daar weg met ’n tas en haar twee dogtertjies (die jongste van hulle was my ma) en het 20 myl gestap tot op Daniëlskuil waar sy werk gekry het by die Joodse kleremaker.

Sy het Oupa se oog gevang wyl sy op ’n perd met die Eeufeesvieringe van die Groot Trek gery het. Hulle was dadelik verlief en het getrou. Strykdeur hulle lang gedeelde lewe het sy klere gemaak, selfs kerkpakke met voering vir hom, en ander klere vir enige kind wat in daardie stadium by hulle gewoon het.

Oupa was die tweede oudste seun en het nie sy pa se plaas geërf nie; ook nie die reg om te gaan studeer nie – dít was ook gereserveer vir die oudste.

My grootouers se lewe was swaar, soms onmoontlik swaar, maar hulle respek en liefde vir die aarde was diep, al het daardie liefde dikwels eerder soos ’n vredesooreenkoms of wapenstilstand gelyk. Hulle verhouding met die aarde en sy elemente – vernaam die grond, wind, son en water – is gebeitel uit hulle totale afhanklikheid daarvan, en het van dankbaarheid en moedeloosheid naby verwante gemaak.

Hulle het albei ’n soort bomenslike krag gehad wat ontstaan het uit hulle stoere en onverbiddelike onderdrukking van ’n yslike drang om weg te loop en nooit weer terug te kyk nie.

Hulle het albei ’n soort bomenslike krag gehad wat ontstaan het uit hulle stoere en onverbiddelike onderdrukking van ’n yslike drang om weg te loop en nooit weer terug te kyk nie. Ek is oortuig daarvan dat hierdie drang deur bloed en osmose aan my oorgedra is en as ’n onversadigbare wanderlust in my na vore gekom het.

Ons het talle vakansies op Oupa en Ouma se plaas deurgebring. Dit was ’n dag se ry met my pa se Ford Taunus van ons huis in Krugerdorp af. As ons in die winter voor donker anderkant wou aankom, moes ons reeds drieuur die oggend (die opwinding!) vertrek.

Vir stadsjapies soos ons was die plaas se gattoilet en nagpotte onder die bed bekoorlik – ook die paraffienlampe, hout-en-steenkool-Doverstoof én die strykysters wat eers op die stoof verhit moes word.

Dit alles het bygedra tot die atmosfeer van ’n ware plaasvakansie. Vir Oupa en Ouma was dié dinge egter ’n las, en toe Eskomkrag kom, was dit ’n verligting vir hulle om moderne toerusting te installeer en daarmee saam spoeltoilette in te rig.

Hulle naaste bure was oom Chris en sy suster tannie Pietie (haar pa het gehoop sy’s ’n seuntjie...). Hulle huis was presies ’n myl ver weg oor die klipperige vlakte en jy kon dit duidelik sien van die stoep van Oupa en Ouma se klein, vierkantige kliphuis af.

As kind het ek soms padlangs gestap na tannie Pietie-hulle se huis. Ek sou draal en stop om ’n miskruier of toktokkie dop te hou. Die vreemde Kalahari-plante het my geboei en ek sou plat gaan sit om die fyn blommetjies van ’n stokkerige stuk plant – wat andersyds gelyk het of dit maak asof dit dood is – te bestudeer.

Behalwe die wandelinge na tannie Pietie se voortreflike soetkoekies (Ouma het nie sulke fyn koekies gebak nie – hulle verdwyn te vinnig uit die blik) het ek ook elders op die plaas gaan stap. Soms het ek die kloof gevolg tot heel bo, waar venynige wilde bye Oupa eenkeer agterna gesit het tot in die plaasdam toe hy hulle heuning uit hulle korf wou haal. Hy was dae lank moerig, maar as ouderling het hy op sy tong gebyt en die “groot woorde” ingesluk.

Die vreemde Kalahari-plante het my geboei en ek sou plat gaan sit om die fyn blommetjies van ’n stokkerige stuk plant – wat andersyds gelyk het of dit maak asof dit dood is – te bestudeer.

Dit was ’n besonderse kloof waardeur stroke okerrooi, bruin en goudgeel rots – bekend as tieroog – gestrek het. ’n Paar honderd meter van die kloof af, op grond wat Oupa eens verhuur het aan ’n mynmaatskappy, was ’n verlate asbesmyn. Die grysblou hoop uitskotgruis was in kontras met die geel, rooi en bruin van die ander rots wat jy op die oppervlak kon sien. Oupa het varke in kampies op die ou mynperseel aangehou en die vleis as ekstra inkomste verkoop.

As jong kind en later tiener het ek gereeld daar gaan rondstap. Ek sou net ná ontbyt begin loop met ’n bottel water, kouevleis en droëvrugte in my sak – en soms eers ná sononder terug by die huis wees. My broer of ’n neef of niggie het soms saamgestap, maar hulle sou gewoonlik omdraai sodra hulle verveeld raak en eerder op hulle boude teen die ou mynhoop gaan afgly (buite sig van die grootmense – ons is verbied om naby die mynskag te speel).

Niemand het ooit gevra waar ek was nie. Ek was ’n skaam kind en die grootmense was nooit bang dat ek iets onverantwoordeliks sou doen nie. Daar was ook eintlik min wat my kon oorkom, hoewel ek soms ’n rinkhals of geelslang teëgekom het. In sulke gevalle sou ek botstil gaan staan en dan stadig terug in my spore trap – óf op my hurke sak en die slang dophou as hy nie ’n dreigende houding gehad het nie.

Ek was lief vir die plaas en sy tuin. Al was dit op die oog af dor, kon Oupa van diep ondergronds water uit die boorgat pomp. Hiermee is die groentetuin en vrugteboord gevoed wat aan die opstal ’n sin van wonderbaarlike oorvloed verleen het. Nooit in my lewe het ek weer lekkerder wortels as húlle s’n geëet nie. Ouma se prieel waarteen hanepoot gerank het, was wonderlik. Sy het ook die opwaswater gebruik en daarmee, hier in die woestyn, fyn teerose laat blom. Ek was lief vir die karige, doringagtige plantegroei in die veld waar ontelbare soorte gras, struike en vetplante oorleef het. Ek het gedy in hierdie skynbaar grenslose verlatenheid.

Ek was lief vir die karige, doringagtige plantegroei in die veld waar ontelbare soorte gras, struike en vetplante oorleef het. Ek het gedy in hierdie skynbaar grenslose verlatenheid.

’n Jaar nadat Oupa en Ouma Kimberley toe moes trek sodat hulle naby dokters kon wees, het ons weer die plaas besoek om te kyk hoe dit gaan. In daardie een, kort jaar het die groentetuin verdwyn, die rose gekwyn en die boord het gelyk asof dit al ’n dekade verwaarloos staan. Veertig jaar se bloedsweet in die rooi aarde was ná skaars twaalf maande ongedaan deur die son, wind en sand.

Dit is tóé dat ek die eerste keer werklik besef watter daaglikse stryd van oorlewing dit vir Oupa en Ouma moet gewees het: Om op hierdie plek nie net ’n lewe te kom maak nie, maar ook genoeg te kon hê om met ander te deel.