"As ek die dag omkap, veras julle vir my, en gaan gooi my by die wille perde," sê oom Bart terwyl die stout aan sy mondhoeke trek.

Sy vrou, Magriet, vou haar arms. "Gm!," snork sy. "En wat wil jy met die perde?" 

"Ek wil hulle ry! En as jy jou gedra, sal ek kom en vir jou en al die ou vrouens in die winter elkeen 'n Aus daisy bring in die ouetehuis."

Of dit die 'ou vrouens' of die idee van ouetehuis was, wis niemand, maar Magriet is op die plek weer stokstyf ontsteld en draai die lyfie anderpad in die stoel. Oom Bart lag sy hees hyglaggie dat die trane loop en sy groot oumens-ore rooi word.

Dit was oom Bart se manier. Altyd 'n terggees, en die tannie ewig vies vir die goed wat hy kon kwytraak. Hulle was die grootouers van my goeie hoërskoolmaat wat straataf van ons gebly het. As oom Bart-hulle van Nelspruit af kom kuier het, was ek gereeld daar om saam te kuier juis oor die oom se pittige sêgoed en die staaltjies wat hy graag gedeel het. Die tannie was maar altyd half kwaai. Selfs as sy soms gelag het, was dit asof haar mond dit nie wou glo nie. Maar nooit het die oom ophou terg nie.

Die perde wat oom Bart wou gaan ry, was die wilde perde van die Namib. Vir hom, net soos elkeen wat van hulle weet of hulle al gesien het, was hierdie vrylopende perde van die Sperrgebiet 'n aangrypende enigma. Want sover as wat die oog kon sien, was daar klaarblyklik geen skadukol of beduidende vreetplek wat hierdie perde kon benut nie.

Oor die herkoms van die wilde perde van die Namib is niemand seker nie. Twee teorieë bestaan wel rondom hulle oorspronklike eienaars. Maar hetsy hulle die nageslag van die Kubub-perdestoet van Kreplin, die burgemeester van Lüderitz, was of die van Unietroepe wat uitmekaargespat het toe die Duitse bomwerper in die Eerste Wêreldoorlog oor Garub is, is niemand seker nie. Al waaroor daar redelik enigheid is, is dat die perde al min of meer sedert 1915 hierdie oostelike strook van die Namib se yl grasvlaktes bewei.

Vir hom, net soos elkeen wat van hulle weet of hulle al gesien het, was hierdie vrylopende perde van die Sperrgebiet 'n aangrypende enigma.

Sedert 2012 ontferm die Vriende van die Wilde Perde, 'n niewinsgewende organisasie, hom oor die perde in samewerking met die Namibiese ministerie van omgewingsake en toerisme om die perde se bewaring en beskerming te oorsien. Die diere se drinkplek by Garub, 20 km wes van Aus, is opgeknap en 'n klipskuiling is opgerig van waar toeriste die perde kan waarneem.

Dis winter en in die Kaap lê die sneeu dik op Matroosberg. Die hele streek het reën gekry, die Aus-omgewing tot by die 40 mm. Op Klein-Aus Vista is die wilde blomme 'n gesig om te aanskou. Teen die noordelike hange van die omliggende berge lê hulle in plate van geel en oranje. Hierdie winterreën het 'n lang droogte help breek waartydens van die boere wie nog weiding op hulle plase oorgehad het, grensdrade verwyder het om van die Sperrgebied se diere te help. Die gevolg was dat 'n paar van die wilde perde ook op van die plase kom vreet het.

Dis laatmiddag toe ons by Geisterschlucht-hut in die kloof indraai. Naby die hek wei twee bruin perde en 'n witte. Ons bewonder hulle op 'n afstand waar hulle rustig staan en kou ten spyte van die snerpend koue suidwestewind."

Ons moet vinnig afpak dat ons die kaggel aan die gang kan kry", sê my man, Nico. "Ons gaan vanaand alles moet inspan teen dié koue wat ons glad nie gewoond is nie."

"Manne, het julle die spook gesien?" vra Piet Swiegers toe toe ons twee dae later kom groet. Die kinders kyk hom grootoog aan en dan vir ons."Julle het mos in Spookvallei gebly, het julle nie geweet nie? Dis wat Geisterschlucht beteken."

In my stilligheid is ek is dankbaar dat hy nou eers die storie vertel en nie vóór ons ons intrek geneem het nie, want nóg hout op dié twee jonges se verbeelding sou nie goed wees nie. Met my eie drie woorde Duits het ook nie juis veel daarvan gemaak nie.

"Toemaar,” sê Piet laggend. “Dis darem 'n vriendelik spook!"

Ja, vriendelik was hy beslis in lewe ook! En stuitig soos ek hom ken, glo ek dat daar nou êrens in 'n ouetehuis 'n paar heldergeel Aus daisies langs 'n bed staan. Ek wil glo dat Magriet nou al kan saam lag. 

Foto: Nico Scholtz
Foto: Nico Scholtz

Bron

www.wild-horses-namibia.com/origins

Ek wil ook die wilde perde sien!

Waar? Draai af by die Garub-watergat langs die B4, sowat 20 km wes van Aus. Bring ’n piekniekmandjie!