Skets Fred Mouton

Ek sukkel altyd om te onthou waar ek my beursie neergesit het. Of in watter kas ek my ma se Tupperware gebêre het. Of wat ek verlede week geëet het.

Ek giggel altyd in my binneste as ek sien hoe mense probeer om hulle rekenaarwagwoord of kitsbank-PIN weg te steek terwyl hulle dit tik. In hierdie digitale era moet ons almal soveel letters en syfers onthou dat ek nie in die minste daarin belang stel om te probeer om joune ook nog in my geheuebank te bêre nie.

Ek het ook al baie goed verloor, en sommige van hulle het baie sentimentele én praktiese waarde gehad. Ek twyfel of dit gesteel is; dit is meer ’n geval van ek wat nie kan onthou wat ek daarmee gedoen het nie.

Mense dink ek is sorgeloos, onverskillig, verstrooid en deurmekaar. Maar die waarheid is, dinge loop gewoonlik vir my skeef wanneer ek probeer om meer as een ding op ’n slag te doen.

My vroegste herinnering aan dié besonderse teistering was toe ek in gr. 5 was. Dit was die Desembervakansie en ek het op die rusbank gelê, meegevoer deur die Hardy Boys se jongste avonture. Lees was my gunstelingtydverdryf en ek was gaande oor verhale van seerowers, eilande, reusegorillas en tienerspeurders.

My ouers was besig om die een of ander sepie op televisie te kyk en het vir my gevra om die koopkragkoepon se nommers by die elekrisiteitsmeter in te tik. Ek was glad nie lus daarvoor nie, veral omdat hulle so lank gewag het en die meter gewys het ons het 0,2 eenhede krag oor.

Maar die waarheid is, dinge loop gewoonlik vir my skeef wanneer ek probeer om meer as een ding op ’n slag te doen.

Die meter was buite die huis in ’n kassie, en jy het ’n spesiale sleutel nodig gehad om dit oop te sluit. Ek het die sleutel en koepon in die kombuis gaan haal en uitgestap om ons kragtoevoer aan te vul. Dié taak het ek met my een hand gedoen, terwyl ek met die ander my boek vasgehou en so in die loop gelees het.

Wat kon verkeerd gaan?

Wel, sowat ’n week later wou my ma nog koopkrag laai, maar die sleutel was skoonveld. En wie was die laaste een wat dit gebruik het? Die uwe.

Nadat ons vir omtrent ’n uur lank die huis omgekeer het op soek daarna, het ons die sleutel onder in die vullisdrom opgespoor. Dié storie het nie ’n gelukkige einde vir my gehad nie. Kom ons sê maar net ek het vir die volgende dag of drie gesukkel om gemaklik te sit.

’n Klompie jare later het ek op die oggend van my katkisasieseremonie ’n goue hangertjie en kruis ontvang. Dit is nogal ’n belangrike geleentheid as jy in die Anglikaanse Kerk grootgeword het. Dit was pragtig en moes permanent om my nek gebly het, maar om die een of ander rede het ek dit afgehaal.

Op ’n dag het ek dit in die hardloop om my nek probeer sit terwyl ek in die ander hand ’n klomp roomyshorinkies vir die kerkbasaar vasgehou het. Ek het boonop op dieselfde tyd ook die motorhek probeer toemaak.

Die hangertjie moet daar êrens uit my hand geglip het, want ek het dit nooit weer gesien nie. ’n Hartverskeurende verlies.

Vir ’n tyd lank het dit goedgegaan en ek het gedink my verstrooidheid is iets van die verlede. Veral omdat ek nou ’n verantwoordelike volwassenne is wat positief probeer bydra tot die ekonomie en samelewing.

Maar ek is bevrees die gevreesde siekte het weer kop uitgesteek.

’n Ruk terug is ek in ’n Uber-taxi op pad werk toe. Ek kan onthou hoe ek my sak uitgepak en my sonbril van my kop afgehaal het. Ek het die bril later die dag nodig gehad, want ek sou ’n motor toetsbestuur, maar toe ek by die werk aankom, het ek besef ek het die bril net daar op die agtersitplek gelos.

Of altans, ek hoop so.

Dit wil vir my lyk asof dit iets is waaraan ons as ’n familie ly. Twee maande terug het my neef ’n kar verkoop en dit reggekry om die geld in die verkeerde bankrekening in te betaal. Ek het darem nog nie só ’n flater begaan nie, maar my lewensmaat het onlangs besluit om beheer oor die situasie te neem en sy het vir my ’n heupsak gekoop.

Ek besef dit is iets wat uit en uit deel is van die jare tagtig – saam met gebleikte jeans en lappiesleerbaadjies – maar ek hou eintlik nogal van my moon bag. Die enigste probleem is ek vergeet gedurig om hom soggens aan te sit. Haar frustrasievlakke met my het onlangs nuwe hoogtes bereik toe sy saam met my gaan kamp het.

Ons was in ’n natuurreservaat en het stadig aangekruie terwyl ek op my nuwe foon stemnotas maak – my oë gespits vir rooibokke, buffels of koedoes. Tussendeur moes ek ook stilhou om met die werk se kamera foto’s vir die artikel te neem.

Elke nou en dan moes ek uitspring om iets van nader te bekyk. Ons het stadig gevorder. Sowat ’n uur later besef ek die foon met al my notas oor die kampplekke, woonwa en kar is nie meer op my skoot nie. Ons het seker 40 km in alle rigtings gery terwyl ek probeer onthou waar ek die foon die laaste keer gebruik het.

Haar frustrasievlakke met my het onlangs nuwe hoogtes bereik toe sy saam met my gaan kamp het.

Om sake te vererger was daar nie selfoonsein in die reservaat nie.

Die foon was ’n geskenk van my lewensmaat, en natuurlik was sy briesend vir my. Nie net omdat ek ’n nuwe foon nodig sou kry nie, maar ook omdat my notas daarmee heen was en daarsonder sou ek nie my werk kon doen nie.

Haar humeur het later die oorhand gekry en ek is in geen onduidelike terme nie – gekrui met taal wat ’n matroos sal laat bloos – vertel wat sy van my agterlosigheid dink. Gelukkig het ons die foon gekry waar dit in die sand lê.

My artikel is veilig en ons verhouding het nóg ’n beproewing oorleef. Maar dit was my lewensmaat wat hom eintlik opgespoor het. En sy het my die dood voor die oë gesweer as ek ooit weer die huis sonder my heupsak verlaat. As ek net kan onthou waar ek die motorsleutels neergesit het…