Ons kamp al twintig jaar, en in dié tyd het ons nog nooit by die pragtige Stormsriviermond-kamp afgepak nie. Dit was tyd om iets aan dié netelige saak te doen. Ons het die deposito betaal, vir ons ’n Wild Card aangeskaf en die dae een vir een begin aftel.

Teen die einde van die winter het ons die woonwa uit sy bêreplek getrek, hom van hoek tot kant skoongemaak en alles gepak wat nodig is. Alles is noukeurig met ’n lysie nagegaan, net om seker te maak ons twee vyftigplussers het alles onthou.

Ons twee het onlangs vir ons bergfietse aangeskaf. Mense sê mos fietsry is goeie oefening én ’n uitstekende manier om van stres ontslae te raak. Om te sê ek was bitterlik opgewonde oor die vooruitsig om die Tsitsikamma-omgewing op my fiets te verken is om dit ligtelik te stel. Ons het selfs een van die wa se kaste spesiaal ingeruim vir ons fietsrytoerusting.

Die oggend vóór ons uit ’n warm Kimberley vertrek, moet ons net die fietse op die rak laai, die wa haak en in die pad val.

MAAR DIE VAKANSIE begin op ’n heel ander noot as wat ons beplan het. Die fietsrak pas nie lekker op die sakplaat by die haak nie. Ek probeer my man, Christo, oortuig dat ons ’n plan met die fietse moet probeer maak, maar ons is al 32 jaar getroud en ek weet wat die antwoord gaan wees. Die fietse gaan óf die wa óf die bakkie beskadig. En dis ’n splinternuwe Hilux Black Edition. Daarom is die enigste opsie dat die fietse by die huis bly.

Indien jy wonder hoekom ons die fietse nie sommer net in die wa gelaai het nie, verstaan jy nie vir Christo nie. Alles in die wa is netjies en op sy plek. Geen los goed word toegelaat nie. Klaar gepraat!

Daar hang ’n ongemaklike stilte tussen ons toe die wiele begin rol Tuinroete toe. My gedagtes hardloop heen en weer met my en die teleurstelling oor die situasie met die fietse lê vlak. Ek was só opgewonde oor ’n week se fietsry in een van die mooiste dele van ons land, maar nou het my hardkoppige man ’n baie selfsugtige stokkie daarvoor gesteek.

Terwyl ons ry, probeer ek al die emosies diep wegsteek, maar die kwaad, hartseer en teleurstelling steek meer as gereeld kop uit.

Ons ry in stilte in die bakkie. Simpel bakkie, dink ek so in die stilligheid. En simpel man. En simpel fietsrak.

ONS HOU STIL DUSKANT Drie Susters by ’n padstal en ek eet in stilte ’n heerlike plaasontbyt. Ek is ’n emosionele eter. Christo probeer sy bes om ’n geselsie aan te knoop, maar al sy vrae bly hang in die lug. Elke poging om te verduidelik en mooi te praat bly onbeantwoord.

Ons ry in stilte in die bakkie. Simpel bakkie, dink ek so in die stilligheid. En simpel man. En simpel fietsrak.

’n Rukkie later besef ek dit raak nou tyd om die lug ’n bietjie te suiwer. Ek wil darem nie hê ons langverwagte vakansie moet op só ’n suur noot afskop nie. Sê nou net ons beland in ’n ongeluk of iets. Teen die tyd dat ons Oudtshoorn binnery, praat ons al so effens met mekaar. En geleidelik vorder ons van eenwoord-antwoorde tot volsinne.

Die ander ding wat sedert ons vertrek al krap, is die wind. Dié waai al van Kimberley af onophoudelik en bederf omtrent ons sleepervaring. Boonop voel dit vir my die nuwe bakkie is besonder dors. Ons slaap oor en teen die tyd dat ons die volgende oggend in die pad val, is al die emosies mooi gerangskik, ons swakheid en sondigheid is bely en ons het ’n nuwe blaadjie omgeslaan.

Maar die wind los ons nie uit nie, en toe ons vroegmiddag by Stormsrivier aankom, waai hy ons omtrent deurmekaar. Ons hou stil by ons pragtige, geplaveide staanplek met die see op ons voorstoep. Al die kampeerders rondom ons het ook ’n seeuitsig, en as die wind hulle nie pla nie, dan is die Tsitsikamma-Kaap mos Hollands, dink ek by myself.

NOU MOET ONS die stoeptent opslaan, en dít lewer omtrent ’n gespook en ’n gespartel af. Ek klou verbete aan die pale en toue. Dit voel vir my of ek én die wa enige oomblik in die woedende see gaan beland.

Met die vaskapslag besef Christo die plaveistene lê te styf teen mekaar en dit sukkel om die dik stormpenne tussen hulle ingewikkel te kry. Met elke kragwoord word nog ’n pen krommer en skewer gemoker... elke keer sonder welslae.

“Sal jy asseblief jou humeur beteuel? Die bure kyk vir jou,” prewel ek tussen my lippe deur wat ek in ’n dun glimlag saampers. Maar die wind waai my vermaning weg en ek kyk magteloos toe hoe my man sy opgekropte emosies oor sy moeilike vrou, die fietse, die wind en die bakkie se brandstofverbruik op die hamertjie en die harde klipperige grond uithaal.

Ek klou verbete aan die pale en toue. Dit voel vir my of ek én die wa enige oomblik in die woedende see gaan beland.

Drie uur later staan die stoeptent. Dis ’n nuwe rekord vir ons – dit het nog nooit só lank geneem nie. Nodeloos om te sê is ons doodmoeg en op ons eerste aand by dié droombestemming is ons teen agtuur al in die bed. Christo moet voor hy kom lê, twee pynpille drink vir sy seer gewrigte.

Die wind is genadeloos en los ons drie dae lank nie alleen nie. Uiteindelik besluit ons om die voorste staanplek te groet en ’n entjie verder terug te gaan opslaan waar ons meer beskut is. Ons kampervarings het tot dusver oorwegend glad verloop, maar in dié onophoudelike wind is dit nie meer vir ons lekker nie. Saam met die wind kom onweer, en dit voel of ons in die winter hier kamp. Ons kry van voor af koud. Ons merk ook op van ons bure het hulle wa vir ’n houthuisie verruil. Dit laat ons effens beter voel om te sien ons is nie die enigstes wat genoeg gehad het nie.

DIE AFSLAAN SORG vir nét soveel drama. Selfs die bure moet kom help vashou aan die tentseil. Ons skuif die wa sowat 50 m verder terug en begin weer met die omslagtige proses om die tent opgeslaan te kry. Dié slag staan ons darem op gras en die penne glip makliker in die grond.

Ons gaan slaap weer vroeg, maar die wind raak nie moeg nie. Van die ruskans waarna ons so lank uitgesien het, is daar nog geen sprake nie. Maar huis toe gaan? Nee! Ons is nie bang nie.

Ek en Christo het albei besef ons gaan ons fokus effens moet verplaas. Dinge is nou wel nie soos ons verwag het nie, maar dit beteken nié ons kan die vakansie nie geniet nie. Ons moet net ’n effense kopskuif maak.

Een winderige en koue middag maak Christo vir ons ’n heerlike paella en die volgende oggend strooi ek van die oorskiet op die gras voor ons wa. Kort voor lank kom proe ’n seemeeu, en daarna is hy ’n daaglikse gas. Soms bly hy lank in die lug hang voor die wind hom toelaat om te land, maar hy maak elke dag sy opwagting. Een laatmiddag, terwyl ons buite op uitskopstoele onder kombersies op die see uitkyk, kom die einste seemeeu aangevlieg om met sy nuwe meisie te kom spog. My kamera lê langs my en ek begin net betyds kiek om die tweetjies se liefdesritueel vas te vang.

Ek word bewus van die wonder van die natuur, van die liefdestaal van die voëls... en vergete is die gure weer. My dagboek pronk van al ons positiewe kampervarings, en terwyl ons huiswaarts keer – terloops, op ’n lieflike sonskyndag – besef ek daar was ’n hele klompie teleurstellings, maar daar was ook ’n hele klompie genotvolle oomblikke wat ’n ander betekenis kom voeg het by die hierdie koue en winderige kampervaring.

Ek word bewus van die wonder van die natuur, van die liefdestaal van die voëls... en vergete is die gure weer.

Ons het interessante mense en voëls ontmoet én ons bure sê seker dieselfde van ons. Later besef ek die fietse sou oorbodig gewees het, en die nuwe bakkie is toe darem nie té swaar op brandstof nie. Dit was alles die wind se skuld.

Intussen het ons weer aan- en afgehaak – en nou reis ons fietse saam.