Ek glo nie aan zombies, weerwolwe en spoke nie. Vir my is daai goed gelykstaande aan Marsmannetjies wat in vlieënde pierings rondrits. En tog was daar ’n paar angswekkende voorvalle in my lewe wat ek nou nog sukkel om te verduidelik.

Die eerste een was toe ek my fortuin in Londen, Engeland, gaan soek het toe ek in die twintig was. Ek het ’n klompie weke lank as ’n rondreisende sekerheidswag gewerk tot ek ’n meer lonende beroep kon vind.

Een van my skofte was in ’n kinderhospitaal uit die Victoriaanse era. Die hospitaal is ’n paar jaar tevore gesluit en ek was basies net daar om te keer dat vandale dié staatsgebou snags verniel. Ek het die pikdonker sale laatnag gepatrolleer.

My flouerige flitslig het ou kindersketse – vetkryt op geelgevlekte papier – teen die mure verlig. Leë bedjies het onaangeraak in netjiese rye onder geslote vensters gestaan. Iewers voor my in die donker het ek iemand oor die teëlvloer hoor trippel. Ek het my flits na die rigting van die klank geswaai, maar daar was niks nie.

Agter my het ek ’n kind hoor giggel. Vervlakste kwaaijongens! Ek het deur die waaksaal gemarsjeer, gereed om ’n tiener aan sy oor te gryp en sy blikkie spuitverf te konfiskeer, maar daar was niks nie. Die gegiggel het my deur die hospitaal gevolg.

Elke keer as ek stop, het die getrippel ook opgehou. As ek my patrollie hervat, was die giggel weer daar, en elke keer was daar kinderstemme meer. My mars het oorgegaan in ’n drafstap – en dié het sommer vinnig ’n naelloop geword.

As ek my patrollie hervat, was die giggel weer daar, en elke keer was daar kinderstemme meer.

Die getrippel het kort op my hakke gebly terwyl ek verby die wiegies in ’n babasaal laat spaander tot by die voordeur op die grondvloer... waar dit skielik opgehou het.

Ek het die res van my skof buite in die parkeerterrein voltooi. Was dit die rustelose geeste van ontslape kindertjies? Nee wat, ek besef vandag dis bloot my verbeelding wat op loop gegaan het. Daar was wel onlangs twee voorvalle, enkele dae uitmekaar, wat ek nié aan my verbeelding kan toeskryf nie. In 2016 is ek per motorfiets uit die Kaap op pad Lesotho toe.

Ek besluit om die eerste aand naby die grens te oornag en die hotel op Lady Grey lyk na ’n gawe slaapplek. Dis al donker toe ek die dorpie binnery, maar die hotel se ontvangsdame ontvang my gul met ’n aanbod van koffie en beskuit. Ek kan ook enige kamer in die hotel kies, want ek is die enigste gas.

Teen 9 nm. klop die ontvangsdame aan my kamerdeur: “Ek gaan nou huis toe, Meneer. Ek sluit die voordeur, maar ek is môreoggend vroeg weer terug om u uit te laat.”

“Wat?” proes ek. “Sluit jy my dan toe?”

“Ja, maar toemaar, u is die enigste mens hier en u is welkom om deur die hotel te stap nes u wil,” sê sy vriendelik.

Ek is doodmoeg – dit was ’n lang dag op my motorfiets en ek val flou in die bed eerder as om aan die slaap te raak. Kort ná middernag ontwaak ek... en voel dadelik onrustig. In die verte hoor ek voetstappe nader kom – nie die sluipklank van ’n slinkse dief nie, maar ook nie ’n onbekommerde mars van iemand wat in die gebou hoort nie.

Dis swaar voetstappe, soos dié van ’n man, ’n ritmiese voetval. Doef, doef, doef...

Die voetstappe kom nader en stop buite my kamerdeur. Ek roer nie. Sagte maanlig syfer deur die kantgordyne voor my kamervenster, net genoeg sodat ek kan sien hoe my kamerdeur beweeg. Iemand aan die ander kant druk en los daarteen, los en druk.

Die voetstappe kom nader en stop buite my kamerdeur. Ek roer nie. Sagte maanlig syfer deur die kantgordyne voor my kamervenster...

Die beweging laat my dink aan ’n slapende dier se borskas wat ritmies op en af beweeg.

Hy probeer darem nie die knop draai nie. “Hallo, kan ek help?” vra ek in ’n diep stem, maar dit kom ’n paar oktawe hoër uit as wat ek beplan het.

Die deur hou op beweeg. Ek lê en wag vir ’n antwoord, maar niks nie. Ná ’n ruk besluit ek my verbeelding het weer eens op loop gegaan, en ek rol op my sy om verder te slaap. Die slaap wil egter nie kom nie en ek kyk elke dan en wan op my selfoon hoe laat dit is. Omtrent ’n halfuur later hoor ek sagte asemhaling buite die kamerdeur.

Dié slag is my nerwe skoon rou, en ek is reg om uit die bed te spring, die deur oop te ruk en wat ook al aan die ander kant is trompop te loop. Skielik kraak die vloer in die gang voor my kamerdeur, en die voetspore begin wegstap en vervaag in die verte.

Ek maak die deur stadig oop en loer in die donker gang af, maar daar’s niks nie. Die volgende oggend vra ek my gasvrou uit oor my nagtelike besoeker. Haar antwoord? “Nou weet u waarom ek nie hier slaap nie...”

Die volgende aand in die Sehlabathebe- nasionale park in Lesotho sien ek daarna uit om by die nuwe lodge te oornag. Maar toe ek daar aankom, is daar nie ’n enkele siel in sig nie.

Ek parkeer my motorfiets en stap na die lodge se hoofgebou toe. Die deure is gesluit. Ek loer deur die vensters na die leë eetsaal: Daar is tafels en stoele vir ’n menigte, maar geen gaste nie. Die rondawels en huisies is gemeubeleer, maar daar’s g’n mens in sig nie.

“Kan ek help, Meneer?” prewel ’n stem onverwags agter my.

Eers nadat ek my asem teruggekry en my kakebeen ontklem het, kon ek omdraai om te sien wie my so groot laat skrik het. ’n Basothoman in ’n rooi T-hemp en bruin langbroek staan skaars ’n meter van my af.

Hoe op dees aarde het hy so ná aan my gekom sonder dat ek hom hoor? Sy gesigsuitdrukking is lusteloos, sy rug effens krom en sy arms hang slap langs sy sye soos ’n marionet tussen vertonings. Ek vra hom of ek in die kampterrein kan tent opslaan, maar hy hou vol dis snags net té koud om te kampeer.

Ek moet eerder in ’n rondawel oornag. Nes op Lady Grey is ek wéér die enigste gas, maar met my skynbare onvermoë om ’n les te leer stem ek in. Terwyl ek my bagasie na my rondawel dra, staan die man met die krom rug en slap arms eenkant en gaap my aan.

Nes op Lady Grey is ek wéér die enigste gas, maar met my skynbare onvermoë om ’n les te leer stem ek in...

Later vat ek my kamera en gaan stap ’n ent in die berge om foto’s te neem van die pragtige park. Van ver af kan ek sien die man staan my steeds van die lodge af en aanstaar. Soms wanneer ek terugkyk, verander hy van posisie.

Dán is hy by die hoofgebou, dán by die rondawels, en soms iewers op die vlakte naby die lodge. Toe die son sak, begin ek terugdrentel na die lodge toe.

Die man is skoonveld. In my rondawel braai ek geblikte bone en Imana in ’n pan op my gasstofie. Toe ek opkyk, staan die man vlak voor die rondawel se kombuisvenster vir my en kyk.

“Hiert!” skree ek (goed, dit was eintlik ’n ander woord).

Die slap man draai houtgerus om en stap weg. Ná ete sluit ek die deur en kruip in vir die nag. Rondom drieuur die oggend skrik ek wakker en onthou my GPS is nog op my motorfiets se stuurstang.

Ek kan nie bekostig dat hy voete kry nie, want daar’s ontelbare bergpaadjies om te navigeer. In my longjohns en rystewels stap ek by die deur uit. Dis snerpend koud en die ryp knars onder my sole. Ek is maar te bly ek het afgesien van die tentplan. Daar staan die man met die slap arms... Deur die donker nag en ysige koue kyk ons ’n ruk lank stip na mekaar.

Ek haal stadig die GPS van my motorfiets af en begin lugtig retireer. Ek sluit die deur en begin inpak. Sodra die son kop uitsteek, is ek hier weg! Drie uur later, met eerste lig, hoor ek ’n voertuig se enjin dreun.

’n Bakkie met twee mans hou kort daarna voor die hoofgebou stil. Die slap man is nêrens te sien nie. Die bakkie se bestuurder stel hom voor as die lodge se opsigter. Saam met hom is ’n kok. Hulle was gister die heeldag weg om proviand in Qachasnek te gaan koop.

Ek verduidelik die nagwag het toestemming gegee dat ek in die rondawel oornag.

Hulle verslae reaksie laat my ril: “Watse nagwag?