In Amerika besoek meer as 60 miljoen toeriste jaarliks plekke soos stoetboerderye en wynkelders. Na raming verdien sulke bestemmings miljarde dollar uit agri-toerisme. In lande soos Brittanje en Italië maak heelwat boere méér wins uit agritoerisme as uit hulle tradisionele boerdery-aktiwiteite.

In Suid-Afrika is daar nog nie gesaghebbende syfers oor presies hoe groot die plaaslike agritoerismebedryf is nie. Farmstay (farmstay.co.za) bestaan al ’n dekade of drie, maar is nie alombekend in die kampgemeenskap nie. Farmstay lys net meer as 280 plaastuistes reg oor al nege provinsies, en vir die miljoene stedelinge in Gauteng is daar maar ’n skamele 22 opsies beskikbaar.

Daar is egter ’n markgaping vir stokperdjie-boere om ’n inkomste uit hulle naweekbedryf te verhoog en om hulle grondjie te herklassifiseer as een wat ook ’n bydrae tot toerisme maak.

Daar is ook min opsies vir kampering op Farmstay. My gevolgtrekking is dat die kampeersegment dalk nie spesifiek deur die Farmstay-lede geteiken word nie. Vir spys en drank is daar ’n wye reeks opsies – van selfsorg tot aansit-plaaskosetes.

Doendinge wissel van stoelsit om vars lug in te asem en die natuur se voortdurend veranderende skilderye te geniet, tot aktiewe stap of rustige ronddrentel om plaasaktiwiteite soos skaapskeer en die dip van beeste te aanskou.

Hengel, koeie melk, en diere voer is ook plek-plek moontlik.

Kampeerders kan ook deelneem aan spyskaartbeplanning vir die volgende dag se plaasetes.

Twee jaar terug is ’n meer omvangryke inisiatief as Farmstay van stapel gestuur, naamlik Agri-toerisme Suid-Afrika (ASA). Enige plaas of landbouproduk of diensteverskaffer wat toerismevriendelik is, word aangemoedig om by ASA aan te sluit.

Die groot verskil tussen Farmstay en ASA is dat AgriSA en die WWF laasgenoemde indirek ondersteun en dat dit ’n organisasie sonder winsbejag is. Volgens ASA kan slegs werkende plase as ’n agri-toerismebestemming bemark word. Die ideaal is dat so ’n bestemming hoogstens drie uur se ry van enige stad is.

Boere wat meer afgeleë is, kan saam werk om ’n agri-toerismeroete in ’n spesifieke streek te ontwikkel. ASA mik spesifiek om die sogenaamde plaaservaring te bevorder, om die gemeenskap in te lig oor wat boerdery alles behels en om die positiewe bydrae wat die plaasgemeenskap tot die volkshuishouding maak op die voorgrond te plaas.

ASA is dus die skakel, eerder as ’n besprekingsportaal, tussen sy lede (boere en hulle personeel) en toeriste. Boere word aangeraai om ’n eiesoortige toerismeproduk te vestig en kleinskaalse prosessering van plaasprodukte word aangemoedig om waarde toe te voeg.

Verkoop dus ’n mieliebrood eerder as net ’n mielie. Só word die waarde van die basiese produk wat geoes word, omskep in ’n produk met hoër waarde – soos konfyt of blatjang. Plaaswerkers leer addisionele vaardighede aan en die toeris (kampeerder) kan eerstehands deelneem aan die kook van konfyt, die inlê van groente en vrugte, en meer ingewikkelde voedselverwerking.

Kampeerders kan ook deelneem aan spyskaartbeplanning vir die volgende dag se plaasetes, én hulle kan resepte ontwikkel en bestanddele oes.

Gaan loer gerus op die webwerf (agritourismsouthafrica.com) wat ASA alles bied aan lede.

By elkeen van die amper vyftig geregistreerde bestemmings is ’n kort beskrywing van die verblyfopsies (veral hutte, tente, en boswastaanplekke), veiligheidsmaatreëls (sekerheidswagte, elektriese heinings, veldwagters) en vryetydsopsies.

Een so ’n bestemming is Verlorenkloof, wat beskryf word as ’n bedrywige bees- en suiwelplaas wat sy eie jogurt en kaas produseer. Besoekers word aangemoedig om deel te neem aan bedrywighede by die stalle en melkery.

Voorsiening word ook gemaak dat toeriste terugvoering kan gee op ASA se webtuiste. Hierdie terugvoering is beskikbaar sodat enige lid van die publiek dit kan lees.

As dit dus vir jou voel of kampering vervelig geraak het en of jy net van Paasnaweek tot Paasnaweek leef en skoolvakansies see toe jaag, is ’n kampbesoek aan ’n werkende plaas dalk iets wat jy deel kan maak van jou reisplanne vir die volgende jaar.