Illustrasie: Fred Mouton

Baie jare al is daar ’n huisrestaurant in Blaauwberg met die eienaardige naam Dog on the Roof. Ek het altyd gewonder hoe hulle by dié naam uitgekom het. Maar toe gebeur iets vreemds.

’n Volle 39 jaar was ons motors onder die veilige sambreel van ’n bekende korttermyn-versekeringsgroep. Toe ek aftree, besluit ons om ons plat stadskar, ’n getroue Audi A4, te verkoop en ’n voertuig aan te skaf waarin ons hoër kan sit en dus verder in die veld kan sien. Ons wou voortaan immers meer gereeld toer en wildreservate besoek.

Toe ons die nuwe motor – ’n spierwit Toyota RAV4 – wil verseker, word ons premie aangepas. Die premie van my vrou, Lynette, se twee jaar oue sportnutsvoertuig, ’n Ford EcoSport, word skielik dramaties verhoog en vir feitlik dieselfde bedrag aangeslaan as my nuwe voertuig wat meer as dubbel die waarde is! (Die verklaring: die Kuga, ouboet van die EcoSport, het ’n ruk lank ’n “warm” reputasie gehad...)

Mooipraat help nie, en ons besluit om by ’n nuwe versekeringsgroep aan te klop. Ons word met ope arms ontvang, want ons het slegs 3 klein eise in 39 jaar gehad en was in net een geval die skuldige party. Ons premie is sommer meer as die helfte minder as by die vorige versekeraar. Die nuwe versekeraar is hoogs in sy skik met die amperse ongeluksvrye kliënt en ons nóg meer met ons laer premie.

Dalk kan ons selfs ’n ekstra vakansie inwerk met al die geld wat ons gaan spaar aan versekering.

Ons eerste toer is na Port Elizabeth, Addo en Alexandria in die Oos-Kaap en verloop – soos altyd – ongeluksvry. Maar toe ons tuis kom, lê twee spoedboetes in die posbus. Ek kan dit nie glo nie! Daar is min landsburgers so gehoorsaam aan reëls en voorskrifte soos ek. Dit moet die nuwe RAV se spoedmeter wees!

Ons tweede toer met die RAV is na die Mokala- nasionale park duskant Kimberley en die Pilanesberg-wildreservaat in Noordwes.

Die reis is voorspoedig en ons was twee weke terug by die huis voor die spoedboete in die posbus land. Nou sal ons die motor beslis na die agentskap moet neem, want daai spoedmeter is definitief foutief! Maar dis toe nie die spoedmeter nie, maar die bestuurder – dit lyk my die RAV ry te lekker...

Nou sal ons die motor beslis na die agentskap moet neem, want daai spoedmeter is definitief foutief! Maar dis toe nie die spoedmeter nie, maar die bestuurder – dit lyk my die RAV ry te lekker...

Die derde tog is weer na die Oos-Kaap. Kort voor Swellendam op die N2 wei ’n klompie tarentale in die pad. Op een na maak almal hulle uit die voete, maar ’n laatslaper styg onverwags op en slaan ons buffer. Gelukkig is dit al skade en dit sal die nuwe versekeraar nie te veel uit die sak jaag nie, reken ons.

Toe ek egter later die kwotasie ontvang, raak ek ongemaklik. Ek sou in 1975, toe ek my eerste Kewer gekoop het, sés nuwe Kewers kon koop met die buffer se geld. Ek is werklik verleë dat ek my versekeraars soveel geld uit die sak jaag.

Maar die lewe gaan aan. In die stad ry ons meestal met Lynette se EcoSport. Op ’n dag, in die middel van die Kaapse somer, word ’n haelbui voorspel. Dis ongehoord so na aan die kus, maar ons is dankbaar dat ons voertuie in die motorhuis staan. Dit is toe net ’n erge wolkbreuk en toe ons klaar handdoeke uitgesit het (die huis se dak lek effe as dit reën), vat ons die pad in die EcoSport om by die kleinkinders te gaan kuier.

Maar, o, wee, ons was skaars tien minute daar, toe sak ’n haelbui uit met korrelgroottes wat wissel tussen ghoens en gholfballe. Ek hol uit en trek die motor onderdak. Die volgende dag doen ek halfhartig inspeksie, net om seker te maak of ’n ou korreltjie nie dalk die kar getref het nie. Daar is toe wraggies sewe duikies op die dak en drie op die enjinkap. Hierdie keer is die herstelkoste gelykstaande aan slegs drie nuwe 1975-Kewers!

Ek voel nou selfs jammerder vir ons versekeraar.

Maar, o, wee, ons was skaars tien minute daar, toe sak ’n haelbui uit met korrelgroottes wat wissel tussen ghoens en gholfballe.

Twee maande later is dit Paasnaweek en ons ry Struisbaai toe met die EcoSport. Duskant Grabouw, op die N2 en helder oordag, jaag iemand agter in ons vas. Dit kan net nie waar wees nie! Die arme versekering! Almal is genadiglik ongedeerd en albei motors kan verder ry. Pleks ons draai om, want 80 km verder skiet ’n lorrie se wiel ’n klippie op en ons windskerm kry ’n krakie. Niks kan sekerlik nou verder verkeerd loop nie...

Ons is nou al tien maande by ons nuwe versekeraar. Met hierdie keer se herstelkoste kon ek tien nuwe 1975-Kewers koop!

Toe ons ’n volle jaar by die nuwe versekeraar is, word ons premie uiteraard aangepas en dis nou amper R400 per maand méér. Nou kry ek hulle glad nie meer jammer nie; eintlik is ek sommer goed kwaad vir hulle. Maar dit is steeds laer as ons vorige versekeraar. En om wéér van versekeraar te verander kan ek nie nou nie – ek is ’n man met ’n (slegter wordende...) rekord!

Ek kom agter dat, wanneer ek bestuur, ek onrustig raak en knaend beweging in my truspieëltjie dophou.

Ek ontspan net wanneer ons motors in die motorhuis staan. Ja-nee, daar is hulle op hulle veiligste.

Een Sondagoggend is daar ’n geraas en geblaf by die bure. Ek gaan kyk en sien dat hulle ’n tuinwerker het vir die dag, én ’n omie wat blykbaar noodloodgieterswerk kom doen. Die bure het twee spierwit honde – ’n wolfhond en ’n bulterriër – en hulle is lus vir een of albei van die gawe manne wat hulle dienste kom lewer. Ek loer by die kombuisvenster uit en sien dat die honde trap-op gelei word, en raai dat hulle die honde vir ’n rukkie in die woonstel op die boonste verdieping gaan hou om te kalmeer.

Ons begin gereed maak vir kerk... en toe hoor ons ’n slag! Ons skrik ons boeglam. Toe ek in die motorhuis kom, sien ek die bure se wolfhond daar staan. Die deur is toe – hoe het hy ingekom? Ek is stomverbaas. Ek kyk rond, effe beangs, want ek is bang vir die wit hond wat homself op vreemde terrein bevind en nogal lus lyk vir my.

‘Ek is stomverbaas. Ek kyk rond, effe beangs, want ek is bang vir die wit hond wat hom op vreemde terrein bevind en nogal lus lyk vir my.’

Toe kyk ek op en sien blou lug en wit wolke! Daar's ’n yslike gat in die polikarbonaatligplaat wat ekstra lig in die motorhuis verskaf. En onder dié gat staan die RAV. En op sy dak is ’n hengse duik! Die hond het deur die dak op my kar geval! Watter versekeraar gaan dít glo?

Die wolfhond het blykbaar deur ’n oop venster in die bure se woonstel tot op hulle dak gespring. Van daar af kon hy tot op ons dak spring en dit was toevallig die ligplaat waarop hy gespring het. Dié het onder sy aansienlike gewig meegegee.

Ek het nie die moed om die eis by die versekeraar in te dien nie, en of die bure die skade gaan betaal, is te betwyfel (hulle glo dis hoekom ’n mens versekering het).

Ek ry dus maar nog met die duik in die dak. En ry ry ek min. Ek parkeer die motors deesdae meestal in die oprit, want dit voel vir my daar is hulle veiliger.

Ek het nog net vyf dae oor om die ongeluk aan te meld en ’n eis in te dien. As hierdie episode ’n gelukkige einde het, gaan ek en Lynette dit vier. Ons gaan in ons versekerde motor klim, kyk of daar honde of haelwolke in die lug is, en dan Blaauwberg toe ry en weglê aan ’n allemintige ete by Dog on the Roof.