In my dagboek was ’n oop week en in my bankrekening genoeg geld vir ’n vliegtuigkaartjie. Hoe benut ’n mens so ’n geleentheid? Vir my was die antwoord voor die hand liggend: Gaan Egipte toe, kyk na die piramides en ryloop sommer ’n bietjie.

Uhm, ekskuus?

Ja, dis reg: Sedert ek die eerste keer as tiener die pad gevat en my duim gebruik het om tussen vriende te reis op die Weskus se lang paaie, het die ryloopding gebly. Ek probeer dit doen oral waar ek reis, en sien só die plek uit ’n local se perspektief – al is dit net vir ’n kort rukkie.

Ná vier dae in Kaïro – wat drie besoeke aan die Sfinks en die Groot Piramides en een aan die Rooipiramide ingesluit het, bevind ek my 50 km buite die stad op die Asyut-woestynsnelweg. Die dorp Luxor – 600 km suid van hier – is my bestemming.

Sedert ek die eerste keer as tiener die pad gevat en my duim gebruik het om tussen vriende te reis op die Weskus se lang paaie, het die ryloopding gebly.

Ek staan en wag. Dis ’n bekende gevoel, hierdie begindeel, met net die snelweg as geselskap.

’n Man verskyn van agter die hopie bourommel op die woestynsand. Hy loop gebukkend en tel vullis op met ’n skerpgemaakte stok en sit dit in ’n sak. Hy sien my, beduie kwaai na die motors wat verby ry en skree – oor swak maniere, lei ek af.

Hy is woedend dat ek alleen in die hitte moet staan. Maar kort hierna hou ’n vragmotor by my stil en hy hinkepink tevrede weg.

Egiptiese vragmotorbestuurders reis twee-twee; iets wat elders in die wêreld ook algemeen is. Die een ou bestuur terwyl die ander een in die passasiersitplek sit en geselsies maak of agterin lê slaap, of sigarette aansteek en een vir sy pêl aangee terwyl die wêreld verby dryf.

Hierdie twee kyk uit hulle hoë sitplekke af na my. Geen Engels nie, geen Arabies nie, nie ’n enkele woord word gewissel nie. Maar dis nie ’n probleem nie – ek word aan boord genooi.

Ek word een met die pad se lang stilte. Die woestynwind waai warm deur die vensters. Die paneelbord is vol van dié twee: ’n Boks snesies, leë sigaretpakkies, helder serpe wat die voorruit versier om die son ’n bietjie te filtreer.

Ons ry verby verskeie polisiebeheerpunte en elke keer maak die bestuurder sy sitplekgordel met ’n sug vas as ’n nuwe groepie polisielede geklee in wit sigbaar word. (Hulle soek eers oortredings, en dan fooitjies).

Ons ry al ’n uur lank toe alles skielik verander. Nadat ons deur nog ’n beheerpunt gery het (dié een onder beheer van die weermag en mans in kamoefleerdrag), verloor die vragmotor spoed en begin die ou op die bed agterin sy hande in ’n woeste skêrbeweging voor hom swaai – soos ’n skeidsregter wat die einde van ’n boksgeveg aandui.

Hy is aan ’t beduie dat ek moet uitklim. Sy oë is vriendelik maar ferm. “Jy moet jou goed vat en loop,” sê hy… of so lyk dit vir my.

Agter ons staan die soldate en wag.

Daar is sewe van hulle, elkeen met ’n masjiengeweer. Een hou sy hand uit en ek gee my paspoort. Ek is nie té bekommerd nie: Tot nou toe was die Egiptenare vriendelik. Ek sien nie moeilikheid hier nie, net burokrasie. Hulle sê ek moet sit en wag. My vragmotor ry weg.

Ek kry ’n stoel naby die groepie en tuur oor die woestyn. Hoe sal ek maak as ek tronk toe gevat word, wonder ek. Nou begin die senuwees ’n bietjie knaag, maar ek weet dit maak nie eintlik saak hoe ek voel nie… Ek is nou in hulle hande.

Ek begin wonder of daar iets is wat ek kan doen om my saak te verbeter. Ek kyk na die groep – sommige praat op die foon, ander kyk na my paspoort of hulle drink tee en rook. Dit help nie ek probeer kommunikeer nie – die taalversperring is net te groot.

Abanoub! Skielik dink ek aan my gimvriend Abanoub by die huis in Kaapstad – hy is Egipties en was voorheen in die Egiptiese weermag! Ek maak WhatsApp oop en sien daar is een strepie sein waarmee ek kan bel. (Terloops: Egipte het uitstekende internet, en dis spotgoedkoop.) Ek bel.

Abanoub antwoord!

“Abanoub, ek is in Egipte. Ek’s op pad van Kaïro na Luxor en is pas by ’n beheerpunt voorgekeer.”

“Milton? Wat?”

“Praat met dié ouens, broer!”

Ek spring op en stap na die leier toe.

“Praat, praat!” sê ek. Hy vat my foon met ’n frons en hou dit teen sy oor.

Ha! Ek kan hoor hoe die Arabies vloei. Almal raak betrokke – behalwe ek. Uiteindelik gee hulle die foon terug.

“Milton, luister nou mooi,” sê Abanoub. “Hulle gaan vir jou vervoer reël na Sohag en jou dan op die trein na Luxor sit. Moenie met enigiemand praat nie, oukei? As jy enige probleme teëkom, bel my net.”

“Dankie!”

Die wêreld is weer reg.

Kort voor lank doen die weermagouens wat Abanoub gevra het – hulle keer ’n arme drommel op pad na die naaste treinstasie voor en kommandeer hom op om my saam te vat met sy motor. “Ek werk vir British American Tobacco,” sê die bestuurder. Hy tik op die embleem op sy gholfhemp en bied my ’n Marlborough aan.

“Nee, ek hoes,” sê ek terwyl ek op my bors klop en hoesgeluide maak. Sy gesig plooi bekommerd. “Jammer! Jammer!” sê hy en sit die pakkie terug.

Ek is in Mina Noshi se kar, ’n klein Subaru-luikrug. Hy dra jeans en tekkies en ’n bril, sy hare is netjies gesny en hy glimlag maklik. Aanvanklik klink sy Engels heel goed, maar toe verdwyn dit. Ek dink hy was net so verras soos ek.

Ek wys na sy CD’s. “Lekker,” sê ek.

“Deep house-musiek?” vra hy en speel dan ’n paar pompende liedjies. Ons gly deur die Egiptiese platteland op pad na Sohag waar Mina bly. “Is jy getroud?” vra ek.

“Ja, ja, ek getroud. Jy getroud?”

“Nee, nie getroud nie, maar ek het een kind.”

Ek vind uit dat Mina Grieks-Ortodoks is en dat dit moeilik is vir iemand van sy gemeenskap om ’n vrygesel te wees. ’n Mens móét trou.

Mina hou stil by ’n padkafee en koop vir ons elkeen ’n bottel water en aartappelskyfies. Hy weier om geld daarvoor te aanvaar.

By elke beheerpunt speel ons ’n vreemde aflosspeletjie met die polisie. Ons word weer en weer deursoek en elke keer agtervolg, met Mina wat net telkens sê: “Glimlag net, dis die beste manier.” Uiteindelik kom ons by Sohag aan en drink wat Mina belowe het die “perfekte” koffie is.

By elke beheerpunt speel ons ’n vreemde aflosspeletjie met die polisie...

Die polisie wag buite – hulle stem saam dat ’n man wat saam met sy vriend reis, moet sit en koffie drink.

Later die aand is ek uiteindelik op die nagtrein na Luxor – betaal deur die staat, met die vereiste dat die polisie my vergesel. “Hoekom het hulle jou voorgekeer?” wou Mina se vriend weet terwyl ons vir die trein wag.

“Ek weet eintlik nie.”

Ek weet steeds nie. Abanoub sou later sê dis omdat hulle gedink het ek wil weg-hardloop en by ISIS aansluit. Ek dink dis omdat hulle toerisme wil beskerm – en nie voorvalle soek waar ’n oorsese toeris seerkry nie. Abanoub sê daar is gereeld terreuraanvalle in die land. Ek dink Egipte is besonder ontspanne, met min misdaad.

Die polisiebegeleiding is besonders. Hulle sit links van my in die eersteklasdeel van die trein – twee jong polisiemanne met gewere op hulle heup en staal in hulle arms. Die een langs die verste venster lyk soos Magnum PI, met ’n woeste snor, ’n lang, maer gesig, ’n wit glimlag en ’n stywe swart T-hemp. Hy lyk asof hy ’n bad guy met sy vuis kan bydam voordat hy sy geweer gebruik – en hy kry dit binne rekordtyd reg om by twee jong vroue aan te lê.

Soos die ure verbygaan en die Nyl buite verby vloei, vermaak hy hulle met sy glimlag. Hulle is vroeg in die twintig, netjies aangetrek en giggel onder sy manjifieke blik. 

Terwyl ek hulle dophou, word my indruk van Egipte en haar mense duideliker. Egiptenare is beginselvas. Daar is ’n waardigheid wat in byna almal sigbaar is, ’n gevoel dat hulle weet wie hulle is – en ’n bereidheid om hulle land met die wêreld te deel.

Dwarsdeur my kort ryloopavontuur, my tyd in Luxor ná die haakplek, en my kort verblyf terug in Kaïro voor my vlug huis toe, hoor ek weer en weer die klassieke Egiptiese groet, dikwels die enigste Engels wat die persoon ken:

“Jy is welkom.”