Skets Fred Mouton

Ek wil nou nie grootpraat nie, maar ’n motorskrywer is waarskynlik aan die toppunt van die joernalistiekbedryf. Al moet ek dit nou self sê. Dit sit nie in sommer enigeen se broek om elke week ’n ander voertuig te ry en dan 600 woorde daaroor te skryf nie.

Jy moet ook elke week van voor af leer aan watter kant van die stuurwiel die flikkerarmpie sit. Gebruik jou toetsmotor petrol of diesel? Jy moet kophou oor dinge waaroor selfvoldane nuusjoernaliste hulle nooit hoef te bekommer nie.

Speurjoernaliste gaan protesteer dat motorskrywers se bydrae tot mensekennis lagwekkend is, maar kan Jacques Pauw onderskei tussen hidrouliese en elektriese kragstuur? Ek dink nie so nie.

Oorlogfotograwe gaan kerm dat niemand ooit op motorskrywers skiet nie, maar motorskrywers moet koel en kalm bly op ’n dinee met Toyota se grootbase waar jy gekonfronteer word deur ’n dosyn messe en vurke waarvan elkeen se doel jou heeltemal ontgaan.

Goed, ons lyk dalk soos aardige skepsels. Jy kan ons op ’n myl uitken: Ons drom gewoonlik verward saam in ’n lughawe se aankomssaal, elk met ’n kleresak geskenk deur Hyundai, ’n knoophemp met ’n ruitvlag en die woorde Simola Hillclimb op die hempsak, en ’n spoggerige Land Rover-baadjie – die duurste baadjie in ons besit.

Maar pik tog ’n traan vir ouens soos ons wat ondanks ons beste pogings nooit ’n Pulitzerprys gaan wen nie. Die enigste motorskrywer wat dit nog kon regkry, is Dan Neil van die Wall Street Journal se motorbylae.

Goed, ons lyk dalk soos aardige skepsels. Jy kan ons op ’n myl uitken: Ons drom gewoonlik verward saam in ’n lughawe se aankomssaal, elk met ’n kleresak geskenk deur Hyundai.

Sy naam word met priesterlike agting geprewel langs koffiemasjiene in kantoorkombuise. Enkele motorskrywers het die selfvertroue gehad om ’n roman te skryf, maar volgens boekresensente is Deon Meyer-vlakke van roem hulle nie beskore nie. Ja, vir sommige van ons voel dit soos om na ’n wit plafon te staar.

Dan is ons boonop mededingend onder mekaar. Die ou met die meeste Voyagermyle kan op ’n voertuigbekendstelling altyd eerste kies watter kleur motor hy wil bestuur.

Voertuigbekendstellings is nie altyd maklik nie. ’n Jaar of wat gelede is ek na die bekendstelling van ’n luukse Duitse sportnutsvoertuig in Mosambiek genooi. Ek kon ’n metgesel saamneem en kies toe my vrou sodat ek eens en vir altyd aan haar kan bewys dat ek hard werk en nie permanent op ’n betaalde vakansie is nie.

Dié voertuig moes ons met ’n ander paartjie deel: die redakteur van ’n bekende leefstyltydskrif en sy snoef vrou.

Iewers op ’n sandpad noord van Ponta do Ouro kry Mevrou Redakteur toe ’n dringende nood. Die naaste vulstasie is ure weg en sy weier volstrek om by ’n nedersetting aan te klop waar sy iemand se longdrop kan gebruik.

Ons trek agter ’n duin langs ’n meer af. Dit is ’n snikhete, bedompige dag en ons wil nie die voertuig se enjin afskakel nie, want die lugreëling is broodnodig en ons is effens bekommerd oor die seekoeie wat in die nabygeleë meer dobber.

Sy skoffel met hande wat klou aan haar rokspant na die agterkant van die voertuig. In haar angs vir ’n bietjie privaatheid aktiveer sy per ongeluk die parkeersensors en die trukamera. In die binneruim trek ’n harde “biep”-waarskuwing ons aandag na die reuseskerm op die instrumentepaneel.

Op die skerm pronk twee bleekwit mane, elk bespikkel deur meteorietkraters. Die motorskrywer in my maak ’n geestesnota dat ek moet onthou om te skryf oor die hoëresolusie-raakskerm se uitstekende beeld. Die redakteur plaas sy hand beleef oor die skerm om sy vrou se eer te beskerm terwyl die gonsers benoud skree oor ’n dreigende botsing.

Met die dak halfmas moes ek oor ’n besige kruising kruie terwyl ander motoriste vir my toeter en vinger wys.

Eers toe besef ek wat het ek gesien. ’n Doodse stilte heers in die kar, en nie eens Mevrou Redakteur se tevrede sug toe sy inklim, kan deur ongemaklike stilte sny nie.

Motorskrywers gaan gewoonlik sonder hulle gade na ’n motorbekendstelling toe (dis by sulkes waar ons so hard werk – of so sê ons vir ons lewensmaats). Hier kies jy ’n rymaat uit die trop motorskrywers wat saam met jou hierheen gevlieg het.

Dis óf iemand wat jy goed ken en op wie jy kan staatmaak om die stokke te vat as jy die vorige aand dalk te hard op die gratis drank gekuier het óf meer dikwels ’n nuwe gesig: ’n Jong outjie of meisie wat elke woord van die reklamepersoon ywerig in ’n notaboekie neerskryf.

Dis lekker om met die nuwelinge te gesels en te spog oor hoeveel lande, provinsies, renbane en hotelle jy al besoek het. Sommige ou hande hou daarvan om ’n nuweling bang te ry.

Soms ry die nuwelinge jóú bang, soos my kollega Kyle Kock ontdek het toe ’n bloedjong motorskrywer met hom in die passasiersitplek in ’n rivier injaag. Hulle moes land toe swem en die Italiaanse motorvervaardiger se base was glad nie beïndruk nie.

Maar ek is besig om my mond verby te praat. Motorskrywers het ’n leuse: “Wat gebeur by ’n bekendstelling, bly by die bekendstelling.” Wat toetsmotors betref, het ons dit ook soms moeilik. Soos die keer toe ’n Franse motorvervaardiger ’n ryding met ’n afslaandak by my werkplek laat aflewer.

Soms ry die nuwelinge jóú bang, soos my kollega Kyle Kock ontdek het toe ’n bloedjong motorskrywer met hom in die passasiersitplek in ’n rivier injaag.

Ek het terstond ’n draai deur die stad gaan ry en by ’n verkeerslig stilgehou. Langs my was ’n motor vol jeugdige vroue. Hulle het my ryding op en af gekyk en wimpers geflikker. Ek het die oomblik benut om hulle verder te beïndruk deur die afslaandak te laat sak.

Met die druk van ’n knoppie het die dak opgewip – tot groot opgewondenheid van my aantreklike toeskouers. Halfpad deur die proses haak die dak egter vas en bly net daar: Hy wil nie verder op óf af nie. Ek het die knoppie herhaaldelik gedruk, maar die Franse motortjie wou niks weet nie.

Die meisies het geskaterlag en die verkeerslig het groen geword. Met die dak halfmas moes ek oor ’n besige kruising kruie terwyl ander motoriste vir my toeter blaas en vinger wys.

Elke keer as ek ’n toetsmotor huis toe bring, loer my buurvrou deur die skrefies van haar sitkamergordyn. As dit iets soos ’n peperduur Mercedes-Benz GLS is, dan vra sy haar man sekerlik of die ou wat langsaan ingetrek het dalk ’n bankrower of dwelmsmokkelaar is, want hoe anders kan hy bekostig om elke week ’n ander kar te ry? As ’n Datsun Go in my oprit staan, fluister hulle seker: “Shame, hy’t verlede week seker te min tik verkoop.”

Die handjie vol mense wat wel weet dat ek ’n motorskrywer is, vra my soms wat my gunstelingryding is. My antwoord stel hulle altyd teleur, want dis nooit wat hulle wil hoor nie. Sien jy nou watter eensame en gevaarlike lewe ’n motorskrywer lei?

As dit iets soos ’n peperduur Mercedes-Benz GLS is, dan vra sy haar man sekerlik of die ou wat langsaan ingetrek het dalk ’n bankrower of dwelmsmokkelaar is.

Motorskrywers het darem ’n bietjie gesag, veral as jy lid is van die Suid- Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste.

’n Kollega het die spoedgrens met ’n Amerikaanse sportmotor oorskry, en toe die verkeersman hom aftrek, flits hy bloot sy lidmaatskapkaart en voer met ’n dik stem aan die gilde het spesiale vergunning om die spoedgrens te oortree. Die spietkop het hom jou wraggies geglo en die motorskrywer kon met ’n slaak van verligting wegry.

Waarom sou iemand dan ’n motorskrywer wil wees as daar soveel makliker beroepe in die joernalistiek is – beroepe soos oorlogkorrespondent, byvoorbeeld.

Dit gaan hoofsaaklik oor die liefde vir motors. Jy kan alles vóór en ná hierdie stelling met ’n knippie sout neem, maar jy hoef nooit te twyfel in ons toegewydheid tot motorjoernalistiek nie. Die gratis tenk petrol wat saam met elke toetsvoertuig kom en die lekkerte om met ’n ander man se kar rond te rits help natuurlik ook.